Tuis

Mei gedagtes

Lewer kommentaar


Geniet die ekstra ruskans te midde van al die vakansiedae.

Afrikaans is vanjaar amptelik 100 jaar oud. Dit is waarskynlik baie ouer, maar word tans 100 jaar amptelik erken. Loer gerus na die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument se inligting en ook na die SBA, Afrikaans100 en die Afrikaanse Taalraad. Kan julle (as ‘n skool) 100 verskillende idiome voorstel, soos 100 verskillende storieboekkarakters aan trek, 100 nuwe Afrikaanse boeke aanskaf of 100 Afrikaanse boeke lees? Kan julle 100 nuwe woorde in die woordeboek ontdek? Hoeveel R100’e kan ons aan woordeboeknavorsing en -uitbreiding skenk?

Moedersdag word op Sondag, 11 Mei, gevier. Maak gerus spesiale kaartjies of kunswerk om Vrydag huis toe te stuur.

Op die 18de, vier ons Museumdag. Reël gerus ‘n uitstappie en hoor of daar spesiale toelatingsfooie op hierdie besonderse dag is. Leer oor die museums in jul dorp of stad en deel brosjures met die klas.

Wêreld Bye Dag word op die 20ste gevier. Hoekom wil ons bye beskerm? Het jul skooltuine genoeg blomme of kan ‘n mens blomme plant om by (en ander bestuiwers) te lok?

Afrikadag is ‘n dag om alles wat mooi is aan ons kontinent te vier. Die diere, die natuur, die klimaat (die aardrykskundige aspekte), die weer en die mense.

Op die 28ste gaan ons Speeldag vier deur soveel as moontlik te speel.

Ons vier Hemelvaart op die 29ste Mei. Loer gerus hier na velerlei werksvelle en les idees.

Dra jou pantoffels op die 30ste ten bate van siek kinders en Reach for a Dream.

Kinderbeskermingsweek duur van die 29ste Mei tot die 5de Junie en ons word aangemoedig om iets groens te dra. Hersien gerus die noodnommers en kinderregte.

Mei dae

Lewer kommentaar


Museumdag word op die 18de Mei gevier. Sommige museums bied gratis toegang op die 18de – wat beslis die moeite werd is. Doen gerus navrae by die plaaslike museums.

Wêreld Bye Dag word op die 20ste gevier. Het julle ‘n blomtuin by die skool? Kan ‘n mens een skep om bye te lok (van die speelgrond verwyder)?

Afrikadag is op die 25ste Mei.

Wat kan ‘n mens alles op Speeldag speel? Speletjies buite, sport, bordspeletjies, TV-speletjies, waterspel, fantasiespel, musiek, musiek instrumente, ens. Waar kan ‘n mens speel? In die klaskamer, buite, by die huis, op die sportveld of op ‘n -baan, ens. Betrek gerus verskillende sportsoorte, speletjies en instrumente. Dit kan mos net lekker wees.

Pantoffeldag (ter ondersteuning van Reach for a Dream) word op die 31ste gevier.

Speeldag

2 Kommentaar


Wêreld Speeldag kan gebruik word om die kennis van speletjies uit te brei, om vaardighede op te skerp en om aspekte soos wen en verloor aan te spreek.  Hou die spelery goedkoop en genotvol…

  1. Verf* spring- of speelblokke met duursame padverf op die speelgrond (dink aan “Hop Scotch”, honderdblokke, groot skrifpatrone om oor te stap).
  2. Verf* ‘n rybaan vir fietse, skopfietse of speelgoedkarretjies.
  3. Druk prettige foto’s van klasmaats op A5- of A4-grootte uit en sny dit in stukke op om as legkaarte te gebruik.
  4. Nooi die klas om elkeen ‘n gunstelingspeelding te bring.  Verduidelik mooi wat jy verwag (bv. geen tablette of TV-speletjies nie) en laat hulle dan in klein groepies daaroor praat.  Bv. Dit is my pop. Sy is my grootste pop en haar naam is Lana.  Wat wil julle graag weet?  Die maats kan dan elkeen ‘n vraag vra soos “Waar het jy haar gekry?  Hoe lank het jy al jou pop?”
  5. Maak handpoppe:   Vorm die koppe en hande met koerantpapier en styselpap**.  Sny hemde of rokke uit ou lap en gom die nate.  Verf die kop en hande.  Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit aan die klere vas gom.  Hou ‘n poppekas.
  6. Maak poppe:  Volg dieselfde idee as met die handpoppe, maar stop die klere op en voeg bene of voete by.  Dink aan verskeie storiekarakters of superhelde om na te boots.
  7. Maak motortjies uit herwinbare materiale.  Gebruik botteldoppies, draad, blokkies, dosies, ens.  Wie se karretjie kan ‘n entjie op sy eie reis (stoot en laat los)?
  8. Maak bootjies uit herwinbare materiale.  Wie se bootjie kan die langste dopper of dryf?
  9. Ouer kinders kan selfs ‘n stel dominoes ontwerp.
  10. Gebruik ‘n gewone stel speelkaarte:  Speel “snap” of ‘n geheuespel met die syfers.  Maak twee hopies, trek ‘n kaart van elke hopie om ‘n optel- of ‘n aftrekkingsom te maak.  Ouer kinders kan hul maaltafels oefen.  Indien iemand ‘n Joker optel, moet die tweede getal verdubbel word.  ‘n Prins beteken dat die outjie in 3 veelvoude van die tweede getal moet tel.  ‘n Koningin beteken dat die tweede getal af gerond word tot die naaste 10.  ‘n Koning beteken dat die som van die twee getalle verdubbel moet word.
  11. Gebruik ‘n dobbelsteen: Rol en tel in 5 tot 10 veelvoude van daardie getal.
  12. Vra ouers om ou lakens, kussings, ens. te skenk/stuur om ‘n fort in die klas te bou.  Doen matwerk in die fort of hou dit as ‘n leeshoekie.  Verras die outjies met ou klere of speelgoed vir ‘n beloningstyd.  Versierings (soos liggies) kan dit ekstra spesiaal maak.
  13. Deel leerders uit Intermediêre of Senior Fase klasse by die Grondslagfase in om speletjies en spesifieke vaardighede aan te leer (bv. touspring, bal vang, Aan-Aan, ens.).  Wys dele van die veld of saal vir die onderskeie groepe aan en ruil stasies.
  14. Nooi onderwysers uit die InterSen Fase om een pouse speletjies saam met die Grondslagfase klasse te speel.  Ruil dalk die speelareas en laat die InterSen kinders aan die Grondslagfasekant speel.
  15. Vra ouer kinders om ‘n bordspeletjie te ontwerp – as ‘n klas, in groepe of as individue.  Hou ‘n speletjiesmiddag met ‘n jonger graad of by ‘n skool wat min geleenthede het.
  16. Ontwerp speelkaarte op herwonne karton (gebruik byvoorbeeld ou papbokse, ens.).
  17. Verskaf ‘n groot houer bottelproppies en vra dat die outjies patrone vorm en nateken.  Hou die ontwerpe as voorbeelde vir later.
  18. Sny ou “pool noodles” in kort stukkies op.  Gee besemstokke of stukkie tou sodat die outjies kleurvolle patrone kan ontwerp en ryg.
  19. Vra donasies van groot verpakkingsdose (vir stowe, yskaste, ens.).  Ontwerp en maak eenvoudige huise of geboue vir ‘n speelhoekie.
  20. Trek teikens met bordkryt op ‘n muur en gooi boontjiesakkies.
  21. Halveer “pool noodles” in die lengte om albasterresies te hou.
  22. Gom lang kartonbuise, pype, gesnyde plastiekbottels, toiletrolletjies, ens. teen ‘n karton sy sye vas.  Plaas dit in die sandput (met bekertjies en glasies).
  23. Nooi ouers of personeel om saam te speel.  Haal die blokkies, rygwerk, “looms“, vingerbreiwerk, skaakbord, ens. uit.
*Gebruik bordkryt indien permanente verf nie wenslik is nie.
**Los poeier muurpapiergom in louwarm water op.  Die proses neem ‘n dag of drie.

 

Wat speel die kinders in jou klas of skool graag?