Dit is Sondag Valentynsdag en alhoewel die kinders nog nie die romantiese sy van Valenstynsdag ken nie, kan ‘n mens die dag op ‘n spesiale manier vier. Vier die liefde en dinge soos vriendskap en dankbaarheid.
- ‘n Mens hoef nie die hele dag te spandeer aan Valentynsdag nie, maar kan dalk die volgende idees gebruik…
- As deel van die Bybelles, kan jy oor aspekte soos liefde (Kor. 13?) praat. Tydens die Skrifles kan ons groot harte (met behulp van ‘n stensil / sjabloon) op ‘n bladsy trek en binne die hart skryf. Juffrou kan dalk ‘n oulike gediggie kies of “liefdessinne” skryf. Na die tyd knip die kinders die harte uit (fynspier oefeninge) en knyp dit met wasgoedpennetjies aan ‘n lang tou vas. Vir ‘n bietjie variasies kan ‘n mens die papier met verdunde rooi kleursel verf…
- Kyk gerus na die Wiskunde sommetjies wat all kids network beskikbaar stel…As jy die kinders vra om tydens die geletterdheidsbeen stories te skryf, kan julle dít op ekstra groot harte skryf en met tou aan ‘n boom hang. Elkeen wat verby stap, sal wil loer en dit wakker nogal ‘n nuuskierigheid (en leesgierigheid) aan. Indien jy bang is vir die moontlikheid van reën, kan jy die liefdesharte aan kersboomliggies vasknyp en in die gange laat flonker.
- As jy lus het, kan julle harte uit “filt” lappe sny – so twee verskillende groottes. Werk dit dan met growwe rygsteke al om die rand vas…
- – om op ‘n kaartjie te plak…
- – om aan ‘n doekspeld te heg (borsspeld)…
- – om op ‘n magneet te plak (yskas magneet)…
- – om op ‘n boekmerk te plak…
- Bak eenvoudige koekies en druk harte met ‘n koekiedrukker uit. Elke kind versier dan die klaar gebakte koekies…Verpak dit in ‘n spesiale sakkie.
- Dra jou hart op jou mou: Maak vriendskaps-armbande uit papier, papierrolletjies en ou linte. Jy hoef nie noodwendig ‘n hartjie te sny nie, maar kan met enige stensilpons werk. Plak ‘n breë stukkie lint aan die binnekant van die “venstertjie” en herhaal dit as die “gespe”. Ouer kinders kan gewone kartonstroke gebruik en oortrek met pienk, rooi of blommetjieslap.
- Druk ‘n hartjiemotief op kardoessakkies en vul dit met lekkers of ‘n kaartjie.
- Maak ‘n skoenlapper – met ‘n stokkielekker as die middelpunt. Kyk ook na die knooprygwerk op dieselfde bladsy.
Verskeie werkvelle en dinge:
- All kids network
- animal jr
- homeschooling (blaai deur 10)
- kunsvlyt
- versierings
- speletjie
Gelukkige Valentynsdag!
Feb 12, 2010 @ 09:06:53
More Juffer,
Ek is rerig moedeloos, ek weet nie meer watter kant toe en watse raad om alles te vra nie, ek wil graag weet, sy het mos nie haar domineerende kant gekies nie, toe het ek haar mos laas jaar by ‘n arbeidsterapeut gehad, hul het op die ou einde gesê dat sy altwee kante sterk is maar sy verkies links so ons moet dat sy links skryf, kan hul verkeerd gewees het, want ek weet nie.
Party keer dink ek dit moet omgeruil wees, want sy kleur baie sleg in, sy skryf moeilik, dit is asof sy nie van inkleur hou nie, want dit is ‘n gekrap, so ek het toe gedink of dit nie miskien kan wees dat sy nie eintlik links is nie, ek weet nie ek kan verkeerd wees, maar dit is asof sy agter die ander kinders is. Haar Juffrou sê sy is stadig in die klas.
Ek wil nie net iets doen nie, want ek weet dit gaan haar dan weer baie deurmekaar maak, ek is rerig raadop, hoe kan ek haar stimileer om op te let in die klas, sy is mos aandag afleibaar, so sy is op Bio Strath, maar partymal sit ek met my hande in my hare want dit voel of dit nie werk nie.
Hoop jy het raad vir my, want ek sal enige iets in my vermoë doen om haar op standaard te hou. Ek weet nie of ek weer ‘n terapeut moet gaan sien nie, want laas jaar met haar evaluering het hul gesê dat sy reg is en dat terapie gestop kan word.
Groete
Christelle
LikeLike
Feb 12, 2010 @ 15:34:35
Ai, Christelle…Ek kan dink dat dit ‘n groot frustrasie moet wees. Goed kom ons kyk…
‘n Belangrike “onthouding” van aandagafleibare kinders is dat hulle soms oorweldig word deur verskeie impulse. Dis amper asof hulle ‘n groot hoeveelheid sensors, stofsuiers of satelietskottels het wat die hele tyd op soek is na iets om in te neem. Die outjies wat fisies opspring, kriewelrig is en rond loop – is dikwels die hiperaktiewe klompie (dink aan ‘n drommer in ‘n punk band). Die dromertjies is jou “soet” of “droom” kinders, want hulle is nie stout nie en pla niemand nie. Hulle is egter altyd in ‘n droomwêreld en moet aangemoedig word om te fokus.
Daar is verskeie natuurlike middels / vitamienaanvullings wat vir sommige kinders werk. Dit gee hulle daardie “boost” om die dag te oorleef en verrig wondere – saam met ‘n gesonde (“onnodige suikers”-vrye) dieet. (Vra die apteker.) Nie almal reageer dieselfde op hierdie middels nie…
Ongelukkig het party kinders ander middels nodig om die oorbodige stofsuiers af te skakel en om te fokus op een onderwerp / voorwerp / aktiwiteit. Dit is nogal algemeen (in my veld). Die middel stimuleer die outjie om dus rustiger of wakkerder te raak. Daarvoor is ‘n hele proses nodig. Die juffrou hou vir min of meer 5 dae rekord van die kind se gedrag om te kyk of dit regtig problematies is. Indien wel, kan die juffrou dit aan die kleinding se pediater stuur en die dokter sal dit bestudeer. Indien die dokter saam stem, sal ‘n volledige ondersoek (luister na die hart, weeg, meet die lengte…) gedoen word voordat die besluit geneem kan word.
Indien daar ‘n middel voorgeskryf word, word die kind gereeld deur die dokter ondersoek om te verseker dat dit nie negatiewe effekte het nie. Die juffrou hou dikwels weer ‘n Connors-rekord om te kyk na die kind se gedrag / vordering. Dikwels noem die ouers nie eens aan die juffrou dat die kind medikasie gebruik nie en kan ‘n mens dan sien of die outjie werklik goed reageer of nie 😉
‘n Heeltemalle ander opsie is dat die kleinding langs ‘n maat sit wat haar kan help as sy vasdraai. Sy kan dalk naby juffrou sit of juffrou kan meer gereeld met haar praat om te hoor of sy nog die instruksies verstaan. Dit kan net ‘n terloopse “Ek gaan dit opdrag nog een keer verduidelik. Kan almal my sien? Skryf jou naam bo-aan die bladsy met ‘n rooi kryt. Johan…Emma…” en so met die naam noemery, kan die kind net sy kop knip of skud en juffrou kan nader stap vir individuele hulp.
Voor ‘n mens iets soos ‘n skool met kleiner klassies oorweeg, sou ek egter eers die kleinding wou laat toets het. Ek kan nie onthou of jou dogtertjie al ‘n skolastiese / psigometriese evaluasie gehad het nie…Dis die volledige toetsing deur ‘n sielkundige (opvoedkundige sielkundige) wat die IK en emosionele welstand evalueer. So ‘n toetsing kyk na die onderskeie afdelings van taal (wat die kind verstaan en weergee), wiskunde en algemene ontwikkeling. Hulle sal vir jou presies kan sê of jou kleinding groot leemtes toon of nie EN BAIE BELANGRIK…hulle wys vir jou die ligte aan die einde van ‘n tonnel! 😉 Die kans is goed dat ondersteuning (ekstra hulp van die juffrou en huis se kant…of dalk ekstra klassies) of arbeidsterapie voorgestel kan word. Arbeidsterapie is een van daardie terapieë wat ‘n groot impak op ‘n klein mensie kan hê. Omdat die kleinding voortdurend groei en ontwikkel, is die eerste 9 / 10 jaar ‘n proses van terapie…terapie staak…6 maande later opvolg (check up)…dalk terapie …of geen terapie nodig…
Jou dogtertjie is baie oulik met beide hande, maar worstel as sy geforseer word om met een spesifieke hand te skryf. Dit vererger met ander woorde die skrif en dinge…Die twee handigheid en aandagafleibaarheid het oulike artikels opgelewer (sien bo). Kyk ook na hierdie video en hierdie webwerf (http://www.thoughtwaves.co.za/index.html). Dit handel oor neurofeedback.
Moenie tou opgee nie…loer eers ‘n bietjie rond en neem dán ‘n besluit…’n Mens moet egter nie te lank wag nie – anders gaan die sneeubal dalk groter word. Probeer eers al die opsies 😉
BAIE sterkte en ‘n STYWE druk van Juffrou af 😉
LikeLike