Dit is amper Kersfees en die kleingoed sal een van die dae kla dat hulle verveeld is. Hier is dan ‘n paar idees om die outjies mee besig te hou en om gereed te maak vir die Feestyd.
- Maak “bunting” (vlaggies) of kersversierings met sneeumannetjies wat hande vas hou.
- Maak “bunting” deur sterre op verskillende kleure papier te druk, uit te sny en met tou of linte in te ryg. ‘n Mens kan die sterre ook vas stik.
- Maak sneeuvlokkie kersversierings: Spuit gewone wit lym (gom) in ‘n stervorm (asterisk *) op waspapier en sprinkel fyn blinkertjies daaroor. Sodra dit droog is behoort dit skitterende sneeuvlokkies te maak. Indien jy dit nie aan die boom wil hang nie, kan ‘n mens die etenstafel of geskenke daarmee versier.
- Gebruik dieselfde wit lym om drie sirkels vir ‘n sneeuman op waspapier te maak. Knip ‘n hoedjie uit swart papier en pons gate uit die swart papier om knope mee te vorm.
- Maak sneeumanne uit twee verskillende grootte knope en vilt.
- Maak ‘n kersvader uit soutklei (handafdruk en verf).
- Maak ‘n kersversiering met die gesinslede se vingerafdrukke (soutklei, vingers en spuitverf). ‘n Mens kan elke jaar ‘n nuwe stelletjie maak – met die datum in die middel.
- Kies plantmateriaal (soos varingblare) of doilies om bo-op die soutklei te plaas voordat julle dit heeltemal uit rol. Rol liggies totdat die blaar ‘n patroon gedruk het, verwyder en druk dan jou vorms (koekiedrukkers) uit. Onthou om ‘n gat vir die toutjie te pons voordat jy die versierings bak.
- Knip ‘n spiraal uit en versier dit soos ‘n sneeuman.
- Knip sneeuvlokkies uit koffiefilters.
- Smelt kleurvolle kraletjies in ‘n metaal koekiedrukker. Versier geskenke daarmee of hang dit aan die kersboom.
- Smelt kleurvolle kraletjies en maak sonvangers daarmee.
- Draai sjokolade (slabs) in spesiale geskenkpapier toe. Druk kleurvolle engele, kersvaders, rendiere, en dies meer vir spesiale verrassings.
- Maak naamkaartjies vir geskenke deur verskillende stroke oorskiet papier (soos “scrap book” papier) van lank na kort in ‘n kersboom-/driehoekvorm te rangskik. Die kleingoed behoort dit self te kan maak. (Gebruik selfs stukkies lint as jy het.)
- Druk gekleurde naamkaartjies (uil tema).
- ‘n Ander gedagte is om ‘n kersvader te bou deur vorms soos ‘n ovaal en driehoek uit te knip. Laat die kleingoed dan repies papier styf om sosatiestokkies of potlode krul om die baard te vorm.
- Versamel al die legkaartstukkies van halwe legkaarte. Spuitverf dit met groen, silwer of goue verf en maak kersboompies vir kerskaartjies.
- Maak kersversierings uit die rugkante van legkaartstukkies, bv. hartjies.
- Laat die kleingoed broodsakkiekaartjies in sneeumannetjies omskep om geskenksakkies mee toe te bind.
- Maak malvalekkers in verskillende vorms.
- Maak verskeie kers-eetgoed vir die kleinspan.
- Trek kougompakkies oor vir vinnige geskenke. ‘n Mens kan ook die afsonderlike “blasies” uit knip, versier en na ete uitdeel.
Soutklei resepte:
1/2 koppie sout
1/2 koppie water
1 koppie meel
of
1 koppie sout
1 koppie meel
1/2 koppie water
Meng en knie tot glad soos speelklei.
of
1 koppie sout
1 koppie louwarm water
2 koppies meel
Laat staan die vorms tot droog of bak.
Nog Kersfees en kersversiering idees…
Woorde