Iemand het inligting oor die lewensiklus van ‘n padda (vir ‘n multi-graad klas, Graad R – 3) gevra. Hiermee dan ‘n paar idees.
Padda prente
Padda se lewensiklus en basiese bou
As ‘n mens ‘n visbak met paddavisse in die klas kan aanhou, sou dit wonderlik wees. Die kinders sou dan kon sien hoe paddas ontwikkel, beweeg en lewe.
‘n Mens kan die heel kleintjies vra om “soos ‘n paddavis” te swem of soos ‘n padda te hop. Betrek dit tydens liggaamlike opvoeding – waar die outjies die bewegings van baken tot baken maak.
Maak groot lelieblare vir die outjies om deur die klas of in die gang te hop. Sing hoë note soos ‘n jong padda en lae note soos ‘n groot padda.
Tydens kleispel, kan hulle padda eiers rol of paddavissies en paddas maak.
Ouer kinders kan na verskillende bewegings van ‘n padda kyk (foto’s, prente…) en dit probeer na-aap.
Vergelyk verskillende paddas met mekaar. Lees feite oor verskillende paddasoorte. Watter een is die grootste, kleinste, gevaarlikste, weeg die minste of meeste…? Meet die lengte van ‘n uitgestrekte padda (terwyl hy spring) en vergelyk dit met die lyfie as hy sit. Maak ‘n grafiek om die verskillende paddas se mates, spronge, ens. te vergelyk. Wat maak die een soort gevaarlik en die ander nie? Watter paddasoorte kry ons in Suid-Afrika?
Graad 1 kan deur boeke, ens. blaai om ‘n pamflet met bv. 3 dele te maak. Die eerste strook/flap het byvoorbeeld ‘n prentjie van ‘n padda eier in die water, die tweede het ‘n prentjie van ‘n paddavis in die water en die derde het ‘n prent van die padda op ‘n lelieblaar. Voeg opskrifte van elke fase bo-aan die flappe by.
Graad 2s kan muurprente maak en ‘n beskrywing van onderskeie aspekte (woonplek, kos, lewensduur, interessante feite) in aparte sinne beskryf en illustreer om op die muurkaart aan te bring (soos ‘n geheuekaart).
Graad 3 kan navorsing doen en paragrawe oor drie lewensfases skryf, bv. Waar word die padda eiers gelê? Hoe lank neem dit om uit te broei? Hoe ontwikkel die padda eier in ‘n paddavis? Hoe lyk die paddavis? Hoe verander die paddavis in ‘n padda? Wat gebeur en hoe lank neem dit? Gebruik dalk blaaie uit ‘n natuurwetenskapboek, sodat die outjies elke skryfstuk kan illustreer. Bind dit in ‘n boekie – met ‘n kunswerk op die voorblad.
Druk, vou en maak jou eie paddaprins of vou ‘n padda wat spring. Trek uitgerekte paddasprongpatrone met bordkryt op die speelgrond/mat of op velle papier. Beskerm die papier met breë verpakkingskleeflint, plaas dit in ‘n lêersakkie of lamineer. Laat die kinders die roete met die papierpadda loop of gee ‘n witbordveselpen om die lyne mee na te trek. Watter letters hop ook so?
Maak ‘n muurcollage, sodat elke graadvlak ‘n ander fase in die lewensiklus kan skep, bv. Graad R – eiers, Graad 1 – ‘n jong paddavis, Graad 2 – ‘n groter paddavis en Graad 3 – ‘n volwasse padda. Gebruik papier-mâché om die onderlae met ballonne, stroke koerantpapier en muurpapiergom te maak. Bou die pote en oë (met bv. groot krale, styrofoam balletjies…) by die struktuur in en gebruik dalk dun geskenkpapier (tissue paper) vir die paddavisse se sterte. Sodra dit droog is, kan die kleure geverf of met sponse gedruk word. Hang die onderskeie paddas aan toutjies voor die muurcollage (teen ‘n muur) op of rol die prent soos ‘n buis op, sodat ‘n mens om dit kan stap en die aaneenlopende siklus kan sien.
Trek twee stelle hande op groen velle af en plak dit onder en weerskante van ‘n paddakop vas, sodat dit soos pote lyk. Vou lang stroke groen papier in ‘n sig-sag wyse op en plak dit agter/onder die eerste stel hande vas. Rond dit af deur die sig-sag stroke elk op ‘n oorblywende hand te plak.
Vou ‘n papierbord in die helfte. Verf die buitekant groen, die binnekant wit in die middel en pienk om die riffelrand. Plak twee groot wit sirkels as oë buite-op die bord of gebruik enorme wikkel ogies. Maak ‘n gat in die middel van die vou (middel van die mond) om ‘n raasblasertjie deur te steek. As die outjies daarop blaas, lyk dit asof die tong uit skiet. As jy nie van die blasertjies kan kry nie, rol ‘n strokie rooi of pienk papier op, plak die punt in die vou vas en steek ‘n kort stukkie strooitjie bokant dit deur. As jy daarop blaas, rol die tong dus oop.
Plak ‘n kop bo-aan ‘n papierbord vas en pote wat bo en onder weerskante van die bord uitsteek. Teken prente van die lewensiklus binne-in die bord en kleur in.
Afhangende van die ouderdomsgroep, kan die outjies prente van elke fase uitknip en op stroke papier plak. Maak dan kettings van die stroke en heg die begin-/eindpunte aan mekaar vas.
Ou Juffrou Padda
Paddatjie, Paddatjie
Hoogmoed
Laat 'n boodskap