Iemand het idees gevra vir aktiwiteite in verband met dinge wat ons nodig het om te lewe. Ons het oorwegend skoon lug (suurstof), kos (vrugte, groente, vleis, grane…), water, skuiling (behuising/beskutting) en klere nodig. Hiermee dan so ‘n paar idees om dit aan te spreek.
‘n Collage
Die agtergrond:
Berei die lae apart (oor dae) voor. Plak die grond onderaand die “lugvel” en die grasstrook bo-oor die die las in die middel.
Die Grond (Drukwerk): Gebruik die helfte van ‘n A3-bladsy (in die lengte verdeel). Stel verskillende skakerings bruin verf beskikbaar met ‘n sponsie in die bak. Die sponsies kan verskil in tekstuur (groot gate, fyn sponsies, ens.) en die verf werk beter as dit ‘n pasta-dikte is. Druk die boonste dele van die papier in die ligter skakerings en donkerder skakerings na die onderste rand. Laat dit drook word.
Die Gras (Skraapwerk): Stel ‘n lang strook papier en dik groen verf beskikbaar. Verf die strook met verskillende skakerings groen verf en gebruik ou kamme of plastiekvurke om lyntjies dwars oor die stroke te trek. Snipper die bladsy al teen die lang sye af om die gras voor te stel.
Die outjies kan vrugte bome maak deur kurkproppe in dik verf te doop (rooi: appels, oranje: lemoene of perskes, geel: suurlemoene) en bo-op droë bome druk. “Plant” die bome in die grond.
Die Lug (Druk- en smeerwerk): Knyp sponse en watte pluisies in ‘n wasgoedpennetjie vas. Laat die outjies verskillende skakerings ligte blou en wit verf oor die boonste helfte van ‘n A3-vel druk – lekker rond en bont. Om die proses te vergemaklik, kan ‘n mens aanvanklik die hele vel verf (bv. spirale / krulle) en dan die drukwerk doen om tekstuur te gee.
Opsies vir die voorgrond:
- Diere: Gebruik watte om ‘n skapie te help maak.
- Maak ‘n hout huis deur roomysstokkies uit ‘n vierkant en driehoek te bou.
- Maak ‘n mens wat ‘n woltrui en leer stewels dra. Prente uit ‘n tydskrif behoort genoeg te wees. Die persoon kan eenkant staan en vleis braai. Daar kan selfs ‘n tafel met ‘n vrugte bak of slaai op die tafel wees.
Ander idees:
Afhangende van die ouderdomsvlak, kan ‘n mens aandag aan elke aspek skenk:
- Skoon lug (suurstof): Maak muurprente om skoon lug te bevorder (luiervrye areas in die parkeerarea, rookvrye gebied…).
- Kos: Praat oor maniere om gesonde kos in te neem of te verbou. Werk as ‘n klas saam om ‘n komposhoop of -houer te begin en gebruik dit later as julle boontjies ontkiem vir die klastuin, ens. Maak saam slaai vir ‘n ete of leer hoe om ‘n gesonde dis te maak.
- Water: Waar kom dit vandaan? Hoekom is dit nodig? Hoe bespaar ons water? Wat gebeur as ons nie water het nie?
- Skuiling: Waarom het ons ‘n woning nodig? Waarteen beskerm dit ons? Hoekom moet ons dit skoon hou? Hoekom moet ons ‘n woonplek in stand hou?
- Klere: Watter tipe klere het ons nodig? Dra ons winterbaadjies in die somer? Hoekom of hoekom nie? Het jy baie klere nodig? Wat het jy die nodigste? Hoekom was ons klere?
‘n Oorlewingstema:
Omskep die klas in ‘n oorlewingstema of werk aan die tema in ‘n aparte boek. Skep ‘n scenario dat julle iewers op ‘n eiland uit gespoel (‘n boot, skip, kano…) of geland het (met ‘n vliegtuig, ‘n lugballon, ‘n valskerm). Skryf dan paragrawe of opstelle oor hoe julle ‘n skuiling sal maak (takke, blare, ‘n grot, dele van die voertuie…) of hulp sal soek (bv. boodskappe op die strand, briefies in ‘n bottel). Waar sal julle skoon water kry? Hoe sal julle dit opvang? Hoe gaan julle was?
Betrek kaartwerk. Waar het julle geland? Waarheen was julle oppad? Beskryf of teken die omgewing. Is daar berge, ‘n heuwel, ‘n kloof…?
Wie het geweet van julle reis? Wat sou die koerante gesê het? Skryf ‘n artikel voor en na die avontuur.
Lees boeke soos Robinson Crusoe en vra of die biblioteek meer opsies beskikbaar het (Cor Dirks se boeke, Trompie, ens.).
Hoe vergelyk die verbeeldingsvlug met wat julle het? Pas ons ons omgewing mooi op of is daar meer wat ons kan doen?
Tik gerus ook soekterme soos “besoedeling, herwin, groen, higiëne, vars vrugte…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.
Laat 'n boodskap