Cecile het ‘n onderwerp geopper wat destyds in my studentejare ook bespreek is. Baie Graad R-juffrouens en -skole hou nie van inkleurprente nie en raai die gebruik daarvan af. Soos daar aan ons vertel is, beperk dit die kreatiwiteit van leerders en maak dit hulle lui om self na te dink oor vorms en figure. Die gebruik van inkleurboeke word as ‘n “besig-hou” aktiwiteit beskou om die tyd te verwyl eerder as ‘n leersame tydverdryf. Ander voel weer dat kinders minderwaardig voel as hulle nie soos die prentjie in die boek kan teken nie. Kyk gerus na die skrywes van John Funk en Victor Lowenfeld. Lowenfeld is ‘n kundige wat in die vroeë tot middeld 1900’s navorsing oor die ontwikkeling van kinderkuns gedoen het.
Hoekom word inkleurboeke ontmoedig?
November 18, 2010
afrikaans Graad R, inkleur, inkleurboeke, kinderkuns, Lowenfeld, ontwikkeling van kuns, ontwikkeling van teken 2 Kommentaar
Mar 23, 2011 @ 13:24:16
My meisiekind is in graad1 en sukkel verskriklik om te teken, is daar enige raad hoe om haar daarmee te help.
LikeLike
Mar 24, 2011 @ 18:23:06
Hello, Janette 😉 ‘n Mens moet aanvanklik baie gesels saam met die tekeninge en baie voorbeelde teken. Gebruik kennis wat sy reeds op gebou het soos Watter vorm is ‘n kop? ovaal. Teken die ovaal. Nou kan ‘n mens die lyfie seker as ‘n geronde reghoek teken. Bou ‘n nekkie tussen die kop en lyf in en maak die bene lekker lank. Onthou dat bene soos pypies is om die vleisies en die bloed in te hou. Hoe teken ek dit? Maak twee lyne. Dieselfde gebeur met die arms. Hoeveel vingers en tone het jy.? Hoe lyk jou hand? Trek sommer die hande iewers op ‘n bladsy af om die verskille aan te dui. Die hele tekenproses kan ‘n bespreking wees. In Graad R en 1 blaai ons nog baie deur tydskrifte en knip die prente uit. Soms teken ons net die kop – met al die dele daaraan. Jy eet met jou mond en jou mond het twee lippe. Die lippe is breed genoeg vir lipstiffie. Die ogies lyk amper soos die amandels in die ontbytkos en die pupille is rond met swart kolle daarin. Trek ‘n spieël nader en kyk na die oulike kleure van elkeen se oë. Soek groot voorbladfoto’s en plak dit iewers teen ‘n muur op. Hou teken papier en interessante kryte naby. Dalk is daar ‘n ouer maatjie wat hou van teken. Maats is dikwels goeie voorbeelde en leermeesters.
Is die tekeninge onbeheersd, sonder detail of soms net te klein? Dit kan op perseptuele uitvalle dui en kan met oefening verbeter. Praat met die juffrou en hoor by haar waar die fout presies lê. Dit kan dalk die handspiertjies wees of dalk is dit heeltemal iets anders.
Laat weet gerus hoe dit gaan en of ek met nog iets kan help 😉
LikeLike