Screen Shot 2015-08-30 at 13.30.46Op 8 September vier ons Internasionale Geletterdheidsdag en van 7 – 13 September is dit Nasionale Boekweek in Suid-Afrika.

  1. Stel hope ou tydskrifte en koerante beskikbaar sodat die outjies die opskrifletters in nuwe woorde en sinne kan gebruik.  Bou slagspreuke of idiome en laat die outjies hul eie prente daaroor teken.  Plak dit in die gange op, sodat ander ook kan leer.
  2. Maak soutklei of speelklei.  Gebruik ‘n verskeidenheid letterkoekiedrukkers om letters uit te druk en bou woorde daarmee.  Andersins kan ‘n mens die deeg uitrol en met gewone stempels woorde uitdruk.  As julle soutklei gebruik, kan ‘n mens die stempel eers op die inkkussing druk.  Sodra die deeg droog is, glasuur dit met deursigtige vernis of spuitverf dit.
  3. Gebruik koekiedeeg om woorde of letters soos bo te pons/druk en bak dit vir ‘n pouse happie.
  4. Neem die onderskeie leesgroepe (groeplees) op en speel die opnames later terug as daar ‘n ruskans is.
  5. Speel stories op die rekenaar – waar die outjies kan saam lees.
  6. Indien jou skool die gratis Kindle toep gebruik om stories op die rekenaar of ander toestelle te lees, stel dit beskikbaar.
  7. ‘n Mens kry gratis storie toeps om op Android en op Apple toestelle (fone, tablette, ens.) te laai.
  8. Indien jou skool nie allerhande duur toerusting het nie, kan ‘n mens stories op jou selfoon of ‘n ou bandopnemer opneem.  Die kinders kan dan na stories luister.  As die klank te sag is, kan hulle in klein groepies kom luister.
  9. Skryf gesamentlik ‘n klas storie en maak aantekeninge of sketse op die bord om later oor te tik.  Tik byvoorbeeld een sin per A4-bladsy (bo-aan) en laat ruimte vir illustrasies.  Herinner die outjies om hul name op die voorblad te plaas (langs “illustreerder”) en stal die boekies uit.  Hierdie aktiwiteit sal oulik by boekopvoeding en biblioteekkennis in pas.  Deel die boekies met ‘n ander skool of instansie.
Tik gerus soekterme soos “lees, leeslys, e-boek, biblioteek, boek” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.