Ons kry dikwels kinders van ander lande en kulture in ons klas. Hoe gemaak as die kind nie die skool se tale (LOLT) kan praat nie?
Dis beslis ‘n baie moeilike situasie. ‘n Mens skuif nie sommer na die onbekende nie en dus moet ‘n mens die leerder (en ouers) met baie deernis benader. Spreek die gesin se name so bes moontlik uit en vra of dit korrek is. Werk baie visueel en wys dokumente of voorbeelde van boeke as jy na ‘n konsep verwys. Verwoord jou stelwyses op verskeie maniere of nooi ‘n tolk indien moontlik. Reël meer gesprekke om te verseker dat almal verstaan.
Kyk of jy vir die leerder ‘n tweetalige woordeboek kan opspoor of betrek toeps soos Speak and Translate waar moontlik. Indien daar rekenaartoegang is, kan ‘n mens Google se vertalings opsies probeer. Teken prentjies waar moontlik en gebruik geïllustreerde woordeboeke of flitskaarte om te verduidelik wat jy bedoel. Nie al hierdie tegnologiese hulpmiddels werk 100% korrek nie. Behou ‘n goeie humorsin indien ‘n foutjie inglip.
Beveel individuele remediërende onderrig aan of gereelde taal- en leessessies. Indien die skool ‘n nasorgsentrum het, kan die ekstra blootstelling aan die nuwe taal (tale) waardevol wees. Dieselfde geld vir sport en kulturele groepe.
Moedig makkerleessessies aan – waar klasmaats die outjies kan help lees of stories kan voorlees (sit langs mekaar en volg saam). Sing liedjies of lees rympies oor die klanke. Gee eenvoudige, soortgelyke take – waar die outjie die patroon kan optel en sukses kan ervaar. As jy oulike leiertjies in die klas het, plaas hulle naby of langs die nuwe leerder en vra hulle om aanvanklik voor skool en tydens pouses met die maat te speel. Daardie informele speeltye help baie.
Die slaagvereistes word in hierdie dokument omskryf (Hoofstuk 2, Punt 4: Konsessies). Praat vroeg reeds met die departementele raadgewers oor die assesseringsproses.
Watter ander idees volg julle?
Aug 28, 2018 @ 20:32:38
Hi daar
Ek help ‘n Sotho sprekende seuntjie wat nou in gr 4 is, maar reeds gr 1 herhaal het.
Ons werk baie hard!
Vandag sê hy egter die kinders in sy klas vra : Hoekom lees jy nog ‘n gr 2 leesboek? My antwoord aan hom was…… sê vir hulle ten minste lees jy. Gesin se samestelling…..?
Wil nie daarop uitbrei nie. Ons werk egter baie hard aan al sy vakke……. hy leer, ek vra verskillende vrae en 80% van die kere is die antwoorde reg, maar kom dit by toetse is dit moeilik vir hom om altyd te verstaan wat van hom verwag word.
Geld vir hulp is daar nie. Hy is al aangemeld by hulpdienste, maar niks het nog gebeur nie.
Wat moet ek doen? Vorige kwartale se punte is so swak dat hy reeds op lys is van moontlike druipelinge.
LikeLike
Aug 28, 2018 @ 21:11:34
Hallo, Sonja 😉
Ek hou van jou aanslag 🙂
Het die skool ‘n leerondersteuningsopvoeder? ‘n Mens sal baie ondersteuning en ekstra werk moet gee – dalk selfs intervensieklassie saam met jonger grade.
Vra gerus die hoof, HOD of leerondersteuningsopvoeders om kontak met die skoolsielkundige te maak. Indien die outjie ‘n spesifieke leerbehoefte of leesprobleem het, kan ‘n mens aansoek om alternatiewe assessering doen (bv. mondelinge toetse/hulp).
‘n Mens kan ook uitvind of die outjie binnekort die korrekte ouderdom sal wees om dalk na ‘n vaardigheidskool te skuif – indien moontlik.
Ek hoop dit kan dalk help.
LikeLike
Aug 29, 2018 @ 08:08:56
Hi.
Ek het nog ân vraag.
Een van my personeel kry ân kontant salaris.
Hoe wys ons daai aftrekkings en hoe gemaak met die oorbetaal?
Almarie
LikeLike
Aug 29, 2018 @ 13:36:18
Hallo, Almarie 😉
Ek werk ongelukkig nie met salarisse nie, maar is seker dat die finansiële sekretaresse/beampte by ‘n laerskool of jul rekenmeester ‘n korrekte antwoord sal hê.
LikeLike