Tuis

September

Lewer kommentaar


Lente is hier! Maak gerus blomkrone en kranse. Maak groot blomme om die ingang of die gange te versier. Plak ‘n raam met saadpakkies (al om die koesyn) en saai of skenk die sade. Hoeveel saadpakkies kan julle insamel vir hierdie projek? Snuffel gerus deur vorige jare se idees vir werskvelle en aktiwiteite.

Vir Boomplantweek, kan ‘n mens die skool se bome bemesting of kompos gee of bome plant. Vanjaar se bome is die witmelk- of melkbessie- en die tambotiebome. Sou hierdie bome in julle omgewing aard?

My Klaskamer word 17 jaar oud! Baie dankie vir elkeen se inloer, geselsies en ondersteuning. Dit is altyd lekker om ander te kan help.

September fokus op Gehoorverlies of die bewustheid van Doofheid. Hoe kan ‘n mens ander help? Is daar iemand in die skool wat hul ervaring kan deel? ‘n Goeie begin is om te verseker dat daar goeie beligting is en dat ‘n mens na die persoon draai wanneer jy praat. Is die gehoorstukkies se batterye voldoende en aan die FM-stelsel gekoppel (indien van toepassing)? Hoe dra ‘n mens die FM-sisteem se mikrofoon en watter goeie gewoontes kan ‘n mens kweek om outjies met gehoorverlies altyd in te sluit?

Ons vier Sekretaressedag op die derde September. ‘n Lekker bederfdag is ideaal. Wat doen jul skool om dankie te sê? Dink aan ‘n geskenkbewys of ‘n spesiale geskenk en bederfies (bv. eetgoed, rome, ens.).

Loslitdag word op die 5de gevier. Trek volgens ‘n kleur, ‘n tema of ‘n konsep aan of hou ‘n muntlegging. Is daar ‘n langer pouse vir die klas wat die meeste insamel? (Onthou om jou plakker te dra.)

Internasionale Geletterdheidsdag word wêreldwyd op die 8ste gevier. Lees gerus ‘n verskeidenheid boeke, rympies, lirieke, berigte, opskrifte en elektronies boeke. Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de. Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. Hoeveel van sy boeke is daar en hoeveel het julle gelees? Skryf gerus ‘n paragraaf om ander van die boeke te vertel.

Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan julle spikkels of kolle by verskillende lesse betrek? Tel byvoorbeeld verskillende versamelings kolle, skep prente met behulp van dotjies (pointillisme) of kyk hoeveel kolleplakkers teen die lengte en breedte van ‘n boek of bladsy sou in pas…

Dra ‘n bandana of ‘n kopdoek en ‘n oogklap op die 19de. Kan jy soos ‘n seerower praat? Dis ‘n goeie geleentheid om jul Engels te oefen.

Versier papier met ‘n vredestema (bv. duiwe) en maak waaiers om uit te deel of in die gras te steek.

Waarom moet renosters beskerm word en hoe word dit gedoen? Wat maak hierdie diere so spesiaal?

Aan die einde van September fokus ons op oogsorg tydens Oogsorgmaand. Nooi gerus ‘n spreker of reël ‘n uitstappie na ‘n oogkundige praktyk. Deel artikels met die ouergemeenskap en vind gerus uit watter oogkundiges gratis oogtoetse doen (vir kinders).

Leer gerus meer oor die nasionale simbole vir Erfenisdag. Druk groot simbole uit, kleur dit in of teken jul eie en knip die prente uit. Versier die lengte van die gang in patroonformaat (bv. bloukraanvoël, protea, galjoen…) of maak rame om die deurkoesyne en vensterrame.

Ek het onlangs kinders met ‘n skaars tipe spierdistrofie (LGMD) leer ken. Die outjies ervaar pyn in die bo-arms en bene. Hierdie spiere word stelselmatig swakker soos hulle ouer word en kan hul beweeglikheid aansienlik verminder wanneer hulle in hul 20s is.

In die laerskool, probeer ons om daagliks strek oefeninge te doen en om versigtig te wees met die tipe oefeninge wat hulle tydens liggaams opvoedingsklasse doen. Strawwe oefening kan skade veroorsaak. Skryfwerk, kan tot uitputting lei. Ons leer hulle tans om soms hulle skryfwerk te dikteer en help ook met die skryfwerk.

Dra gerus lemmetjie groen klere of linte op die 30ste ter bewusmaking van een van die vele skaars diagnoses.

September

Lewer kommentaar


September is My Klaskamer se verjaardagmaand en vanjaar word My Klaskamer 16 jaar oud! Baie dankie vir jou getroue ondersteuning.

In September, skenk ons aandag aan gehoorverlies en kyk ons hoe ons meer kan doen om mense met gehoorverlies te ondersteun. Gesels met kundiges en win ‘n bietjie kennis in.

Ons vier Lente Dag op die eerste en Boomplantweek van die 29ste Augustus tot die 4de September. Samel gerus kompos of kunsmis vir die skool se plante in of kikker die skool se beddings op. Saai blom-, kruie en groente sade wat ‘n mens later by funksies, ens. kan gebruik. Maak ‘n projek daarvan om uit te vind wat die beste in jul tuine sal aard en wat die beste moontlikhede kan wees. Stem en saai.

Die witpeer is die skaars boomsoort van die jaar en die karee of rooikaree is die meer algemene boom van die jaar.

Sekretaresse Dag word vanjaar op die 4de September gevier. Bederf gerus al die administratiewe personeel so ‘n bietjie.

Loslitdag/Casual Day, is ‘n dag waarop ‘n mens fondse kan insamel om mense met alle soorte gestremdhede te ondersteun. Sommige mense is so gebore en sommige mense het die gebruik van sintuie of liggaamsdele mettertyd verloor. Ondersteun gerus organisasies of skole in jou omgewing en vind uit hoe julle verskillende leerders kan insluit.

Die Paralimpiese Spele vind vanaf die 28ste Augustus tot die 8ste September plaas en daar is vanjaar 26 Suid-Afrikaanse atlete om te ondersteun.

Tradisioneel, het ons Bandana of Sonneblomdag in die middel van September gevier om ‘n bewusmakingveldtog vir bloedkanker te loods (Leukemiebestryding). Dit verg steeds ons aandag en is beslis iets om mee te help.

Internasionale Geletterdheidsdag word op die 8ste September gevier en Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de September. Spandeer ‘n bietjie meer tyd om deur die klas se leesboeke te blaai en om boeke te lees wat julle gewoonlik vermy of vergeet.

Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. ‘n Mens kan heelwat van sy boeke in Afrikaans en Engels kry. Lees gerus.

Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan jy ‘n betekenisvolle merkie of spikkel in die samelewing maak?

Op die 19de praat ons soos seerowers. Dit is die ideale dag om die Engelse ”ar” in woorde te hersien.

Oogsorgmaand begin teen die einde van die maand. Praat gerus oor verskillende maniere om die ogies op te pas, doen visuele oefeninge en moedig oogtoetse aan. Is daar oogkundiges in jul omgewing wie gratis oogtoetse doen? Vra gerus.

Vou en plant gerus waaiertjies vir vrede in die voortuin. Skryf jou wense op die waaiers en deel dit met ander.

Op die 22ste leer ons oor Renosters en oor die bewaring van hierdie wonderlike diere. Maak Erfenisdag, op die 24ste, ekstra spesiaal. Spandeer die dag saam met spesiale mense en eet iets uniek aan jou erfenis 🙂 Mag jy ‘n besonderse mooi September hê.

Lente en Boomplantweek is om die draai

Lewer kommentaar


Boomplantweek duur vanjaar van die 29ste Augustus tot die 4de September. Die Kannabasboom (Pompontree) is die algemene Boom van die Jaar en die Swartwattel is die skaarser boomsoort vir 2022. Vind gerus uit hoe hierdie boomsoorte lyk en kyk of daar van hierdie bome in jul omgewing groei. Kan ‘n mens afdrukke (met kryt en papier) van die bas maak? Gebruik dit om julle eie bome te skeur en plak vir ‘n lente collage.

Loer gerus hier na velerlei idees in verband met Lente dag (op die eerste September) en boomplantdag of –week. Watter tradisies volg julle?

Boomplantweek en Lentedag

Lewer kommentaar


Tradisioneel vier ons Boomplantdag op die 1ste September.  Vanjaar se Bome van die Jaar is die Essenhout (Ekebergia Capensis Cape Ash) en die Kremetart Bome (Adansonia Digitata).

Vanjaar gaan dit dalk moeilik wees om fisies self blomme te plant en bome te versorg.  Neem gerus ‘n organisasie wat die natuur versorg in ag vir ‘n fondsinsamelingsprojek.  Loer gerus hier na idees in verband met Lente.

Mag September met warmer en meer kleurryke dae begin.

Boomplantweek

Lewer kommentaar


1 September is Boomplantdag en Boomplantweek duur van 1 tot 7 September , maar bome en bosbou word reg deur September gevier.  Vanjaar se boom is die Geelhoutboom en natuurlik is dit ook ons nasionale boom.

Hoeveel Geelhoutbome is daar in julle buurt?  Gaan stap gerus en tel die bome. Hoe lyk die blare en die stam?

Neem ‘n vetkryt en papier saam om die tekstuur van die bas af te vryf (trek die kryt plat oor die bladsy).  Gebruik verskillende kleure en hou die bladsye as ‘n agtergrond vir ander kunswerk of knip ‘n boom daarop uit.  Sny dan blare uit verskillende skakerings groen bladsye en maak jou eie boom.

Het die skool ‘n Geelhoutboom?  Samel fondse daarvoor in en plant een op ‘n spesiale plek in die tuin.  Onthou ook om al die bome op die skoolgrond ekstra kos en water te gee.

Boomplantweek

2 Kommentaar


boomplant

Boomplantweek word van 4 tot 10 September gevier.  Die wildepietersielie die gewone witbos, die Bosvaderlandswilg en die Knoppiesboontjieboom word as die bome van die jaar genoem.

Waarom vind ons bome belangrik?

Bome verhoed erosie, verskaf suurstof en skaduwee, word gebruik om papier te maak en hout word in meubels, geboue en bote gebruik.  Boomplantweek is ‘n gulde geleentheid om ‘n nuwe boom te plant, een te borg of om voeding en kompos by bestaande bome te voeg.

ou boom rympie

http://www.youtube.com/watch?v=DvAU7RuWS50

http://www.youtube.com/watch?v=9Kt5dHMBvYM

Lente en Boomplantweek

1 Kommentaar


Lente

Lentedag word tradisioneel op die 1ste September gevier – al skyn die sonnetjie nog nie heeltemal so skerp nie.  Om voorbrand vir die nuwe seisoen te maak, kan ‘n mens die volgende idees in die klas probeer…

 1.  Indien jy ‘n rol rekenaar- of ongedrukte koerantpapier het, kan jy lengtes vir jou kennisgewingsborde of ‘n ruit afmeet.  Trek ‘n golwende kurwe lengte-gewys deur die middel of in die onderste derde van die papier, sodat die kurwe soos ‘n heuwellandskap lyk.  Ouer kinders kan die boonste helfte blou (waterverf of verdunde voedselkleursel) en die onderste helfte groen verf.

As jy met die kleintjies werk, kan jy die bladsy op die golwende lyn deursny en apart laat spuitverf.  Gee vir hulle verskillende soorte spuitbottels met verdunde voedselkleursel (verskillende skakerings van blou of groen) om die fynspiertjies te ontwikkel.  Die maklikste sal wees om die papier bo-op plastiek te plaas en om dan vir elkeen ‘n sekere aantal spuite toe te staan.  Hou ‘n ogie sodat die papier nie te nat word nie.

‘n Mens kan ook verskillende vlak bakkies (met skakerings van pastadikte wit en blou of geel en groen verf) en sponsies (bv. dié wat jy in pille botteltjie kry) verskaf, sodat die outjies die velle kan bedruk.  Herinner hulle daaraan dat ‘n mens die spons afvee of uitdruk voordat jy die sponsie op die papier kan druk.

2.  Gebruik ‘n basiese blom ontwerp of blomblare.   Trek ‘n templaat of patroon op ‘n ou x-straalplaat (of dik karton) af en sny uit.  Só kan jy meer as een patroon hê en versprei.  Gebruik ou papier of sny ‘n paar lae snesiepapier van ‘n eenderse kleur (soos dié wat ‘n mens in geskenksakkies sien) per blom.  Die idee is om die blare met muurpapiergom (‘n klein koevertjie strek ver) te smeer en lagie-vir-lagie te verdik of te versterk.  Laat die blare op ‘n rakkie droog word.

Trek ‘n sirkelvorm af en doen dieselfde smeer- en plakwerk vir die binnekant van die blom.  Sodra die dele droog is, kan ‘n mens die blomblare met houtlym aan die -kelk vasplak.  ‘n Mens kan ook die nat of klam dele met behulp van ekstra kolletjies muurpapiergom heg.

Verf die blomme met helder kleure en plak dit teen jou geverfde agtergrond.

3.  As julle nie so baie tyd het om aan die gomblomme te spandeer nie, kan ‘n mens steeds blomme aftrek op karton en dan met pastelle of verf versier.  Los dit net so of heg ‘n klein plastieksakkie (selfs ‘n ballon) met blomsade daarin aan.  As julle die blomme klaar uitgestal het, kan die outjies die sade huistoe neem of in ‘n spesiale bak/bedding by die skool saai.

4.  Versier die vensterbanke of ingang:  Gebruik ou speelgoed (emmertjies, ens.) of buitespeltoerusting vir julle eie herwinbare blombakke.  Samel herwinbare plastiekbakke in (verkieslik groot), kap dreineringsgate daarin en vul met blompotgrond.  Plant blomplantjies, saai sade of plant julle papierblomme (op stokkies geplant) daarin.  Die natleiwerk kan ‘n ekstra werkie word (verskaf dalk eerder net spuitbotteltjies met fyn gate eerder as ‘n gieter).

5.  Berei ou koeldrankdoppies voor deur dit te spuitverf (bv. wit).  Gee dan ‘n verskeidenheid permanente veselpenne (koki’s), sodat die outjies sonneblomme, tulpe, madeliefies, ens. binne-in die doppies kan teken.  Plak dan ‘n borsspeldjie agterop en dra die lapelblommetjies op Lentedag.

6.  Knip eenvoudige blomme uit viltlap en plak dit op die borsspeldjie vas.  Heelwat borsspeldjies het gate sodat ‘n mens dit aan die lap kan vas werk (ouer kinders).

boom

Aangesien Lentedag en die begin van Boomplantweek/-maand (1 – 7 September) saam val, kan ‘n mens die twee in dieselfde week vier.  Vanjaar se boomsoort is die Bosvaderlandswilg en die skaars soort is die Wildepieterseliebos.  Indien julle kan, soek jong boompies om op die skoolgrond te plant en maak beurte (leiertjies, klasse, grade, ens.) om die bome nat te lei.

Indien die skool genoeg skadubome het, kan ‘n mens skenkings aan organisasies of tehuise maak om bome elders te plant.  ‘n Mens kan ook as klasgroepe spesifieke bome bemes en beddings opknap.  Reël ‘n gesinsdag en kry ouers om te help indien die hande tydens skooltyd beperk is.

Wat van ‘n uitstappie na ‘n plaaslike natuurtuin, park of kwekery?  Nooi ‘n boomkundige (dendroloog) om die klas toe te spreek – selfs ‘n knap, plaaslike tuinier.

Hoe dit ook al sy, September is die maand vir groei, vernuwing en laf wees.  Geniet dit as ‘n klas saam.

*Tik ook soekterme soos “boom, lente, boomplantdag” by die bruin soekblokke regs bo-aan dié bladsy in vir ouer idees.