nuwejuffrou

Onderwysers is amper soos die “hunter gatherers” van ouds. Ons is altyd opsoek na nuwe dinge en inligting en gooi min goed weg. Dis eintlik noodsaaklik om idees en hope papier te hou. Daarom is dit wenslik om dik ringlêers byderhand te hê waarin jy jou “oulike takies” en planne kan liaseer – volgens temas of kronologies vir die jaar. Op die ou einde kan jy twee tot drie lêers per kwartaal opbou. Indien die lêers (weens ‘n tekort aan spasie) nie werk nie, kan ‘n tweedehandse liaseerkabinet ingespan word. Soms verkoop winkels soos Game helderkleurige, plastiese trommels met liaseervakkies én ‘n deksel vir die stof. Wat jy ookal doen, sorg dat jy vir jou so ‘n mini-argief van idees opbou. Dis altyd handig – selfs al verander die kurrikulum.

Moet nooit ophou soek na nuwe inligting nie! Klop by kollega’s aan en loer in hul “argiewe”, deel jou eie idees met ander, gaan kuier by ander skole en fynkam die internet. Stoor die skakels van webwerwe wat jou interesseer en gaan weer terug.

Hou die klas georganiseerd en netjies. Sorg dat daar kapteine aangestel word om elke “stasie” of hoekie reg te pak en beloon hulle vir die werk. Dis egter onmoontlik om skoon en netjies te maak as daar nie pakplek of dinge soos lappe en besems is nie. Knip ‘n ou handdoek op in kleiner vierkante en stik dit om. Dan is daar genoeg stoflappe. Verdun skoonmaakmiddels en maak maar weekliks so ‘n Sunlight Liquid sousie in ‘n kleinerige botteltjie aan. Iets soos ‘n keelsproeibotteltjie het ‘n fyn spuitbuisie (nozzle) en mors dus nie te veel nie. Graad R en 1 dames is geneig om vreeslik aan die kant te maak en verbruik dus al juffrou se seep en dinge baie vinniger as wat jou beursie kan hanteer. Terloops, vra sommer of die ouers nie ‘n bottel Windowlene of Sunlight Liquid kan borg vir die jaar nie – al is dit ‘n kleintjie. Dan kan ‘n mens ordentlik skoon maak! (Die groot maat middels wat skole soms aanskaf is maar flou.)

Gee ‘n inligtingsbrief vir die ouers. Spesifiseer die skool se beleid en reëls rodom alles waaraan jy kan dink. Dit mag dalk oorbodig klink, maar is nie. Dinge wat jy in gedagte kan hou is goed soos

  • Skooltye
  • Waar en hoe kinders ontvang word (by die deur, in die klas, buite…)
  • Reëlings indien iemand anders die kind oplaai.
  • Verversings / Kosblik – Wat is vir jou aanvaarbaar? Mag die kosblik elke dag lekkers bevat?
  • Snoepgeld – elke dag of net een maal per week
  • Verduidelik hoe die dagprogram of rooster werk.
  • Kleredrag – verduidelik spesifikasies en dring aan op ‘n ekstra stelletjie “noodklere”. Veral aan die begin van die jaar is daar nog redelik angs oor al die nuwe dinge en gebeur glipsies gereeld.
  • Spesifiseer alle skryfbehoeftes en benodigdhede soos snesies (‘n doos per kind vir die klas se gebruik) of verskaf die bedrag wat dit sal kos as jy dit self wil bestel.
  • Vereis dat klere en persoonlike items gemerk word.
  • Speelgoed moet maar eerder tuis bly. Uit ondervinding werk dit beter as almal met die skool se speelgoed speel.
  • Verjaarsdae en partytjies. Wanneer, hoe…Koek? Geskenke? Gaste?
  • Verslaggewing: Hoe jy dit doen sodat daar nie verwarring ontstaan nie. Vra ook dat ouers (asseblief ) die skool op hoogte sal hou van eksterne ondersoeke, toetsings en terapie. Kopieë word in die kind se persoonlike lêer in die kluis bewaar.
  • Kunsuitstalling of uitstallings van die werk: Reël ‘n skemerkelkie later in die jaar en hou ‘n propperse geselligheid om die kleingoed se werke ten toon te stel. Maak kreatiewe rame (die kinders kan) en monteer die prente self.

Reël ‘n inligtingsaand en verduidelik al hierdie dinge aan die ouers (in Januarie nog!), sodat daar nie later onsmaaklikhede opduik nie. Moet egter nie militaristies wees nie en hou die trant van jou skrywe lig en vrolik.

Dis nou sommer so ‘n paar idees vir eers. Ek sal nog ‘n paar probeer onthou sodra die vakansieluim afval…

Loer sommer ook by hierdie skakels in vir ‘n paar oulike idees of tik soekterme soos “eerste dag” en “ken mekaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in: