Tuis

Kosblik gedagtes

8 Kommentaar


Voor ons aan die kosblik raak, net eers ‘n paar belangrike gedagtes… Veral jonger kinders raak gou moeg en verloor konsentrasie as hulle nie gereeld ‘n versterkinkie neem nie. Baie outjies eet ontbyt voor 7-uur en eet dan eers weer om ongeveer 10:20 (pouse) en 13:00. Dis ‘n vreeslike lank tyd om honger te wees. Sommige juffrouens gee egter kleintjies in Graad 1 en 2 die geleentheid om ‘n “power bite” te neem om weer woema te kry.  Sorg dus dat daar altyd ietsie is om te hap wanneer die nood druk.  ‘n Klein koelsakkie is dalk ‘n goeie idee vir nasorg-kinders of in areas waar die sonnetjie warm kan bak.

Sorg dat die eetgoed maklik hanteerbaar is en nie vol fieterjasies is nie. Dikwels kan die outjie nie self ‘n sapbotteltjie, skyfiepakkie of selfs ‘n energiestafie oopmaak nie en is daar nie iemand naby om te help nie.  Sny dus die pakkie oop en knyp dit met ‘n klampie toe.  Verf en versier die klampie met kraletjies om dit ekstra spesiaal te maak (wasgoedpennetjies werk ook goed).  Hoe minder moeite dit is om die kospakkie oop te maak, hoe vinniger word daar geëet en dan gespeel.

In plaas daarvan om ‘n toebroodjie (twee snye) of ‘n groot vrug in te pak, meet neute en rosyntjies in klein porsies af en verpak dit in klein bakkies of sakkies.  Droë vrugte is ‘n gunsteling happie by baie kinders.  Sny ‘n Snackertipe stafie in hapgroottes op of bak sommer jou eie Oatspap koekies.

Indien jy wel toebroodjies wil maak, gebruik oulike koekiedrukkers om prentjies uit die toebroodjie te druk.  Dan is die porsies reeds afgemeet en vrolik.  Die orige stukkies brood kan vir viskoekies of frikkadelle gevries word.  Jy kan ook prentjies uit velle koue vleis of kaas druk en in lae pak.  Kan ‘n mens nie sommer frikkadelle met die vormpies afmeet en dan gaar maak nie?

Hou die kosblik gesond en pak eerder water as gaskoeldrank in.  Te veel suiker kan die aandagspan heeltemal omver gooi…

…en om die skooldag ekstra spesiaal te maak, kan ma ‘n briefie bo-op die broodjie pak/plak.

PS:  Jessica Seinfeld (Jerry se vrou) het ‘n resepteboek uit gegee vir mamma’s van kieskeurige eters.

kosblik boodskappies

…by ‘n Spar gesien…

ABC’s – skryf

58 Kommentaar


abcskryf

This slideshow requires JavaScript.

Die voorlopers vir formele skrif is gewoonlik in verskeie dele verdeel.  (Dit sluit skribbel in.)  Om ‘n kind gereed te maak vir skrif, word verskeie handspieroefeninge gedoen.  Ure en ure word spandeer aan patrone en die kind maak later patrone in elke prentjie wat geteken word.  Dit is alles belangrik om te “oefen” vir die “groot” skryfproses.

Dinge om te onthou:

  1. begin gewoonlik met ‘n groot, dik kryt of verfkwas en ‘n groot vel papier (koerantpapier werk goed)
  2. dik vetkryte en dik veselpenne (koki’s) kan volg
  3. driehoekige potlode en vetkryte volg – daarom gebruik baie Graad 1-klasse uitdraaikryte (MonAmi)
  4. potlode volg eers baie later
  5. gebruik aanvanklik net kleinletters
  6. hoofletters kan vir name gebruik word

Vorming van letters en patrone:

a, d, g, c, o, q, s begin by ‘n denkbeeldige “twee uur” op die horlosie en die hand beweeg anti-kloksgewys om die letter te vorm.  Moenie die hand lig voordat die hele letter voltooi is nie.  Maak ‘n groen kolletjie waar die letter begin en ‘n rooie waar die skryfaksie (karretjie se roete) moet stop.  Die brandertjie patroon (soos ‘n “c” in lopende skrif) word gewoonlik hier gebruik.

v, w en k se patroon is die wolftand patroon (zig-zag).

h, p, b, m, n, r se patroon is die hasie hop (lyk soos ‘n klomp n’e teen mekaar).

u, y, g se patroon is die Tarzan patroon (lyk soos ‘n klomp u-klanke teen mekaar).

a = om die piering, op en af(ek gebruik ‘n ou CD teen die bord)

b begin bo, b – vir bal:  Los die bal…die bal bons, rol en lê.

d begin in die draai, d – vir draai:  om die piering, op en óp en af

e = Die motor ry reguit en stop by die stopstraat.  Moenie jou hand lig nie, want ‘n motor kan nie vlieg nie.  Draai dan links om die piering en stop.

f = Staan op ‘n duikplank en duik met ‘n boog tot onder in die swembad.  ‘n Voëltjie vlieg van links na regs verby.

g = Om die piering, op en af…en swaai die stert.

h = Los die bal. Die bal hop en gaan lê.

i = Die man staan regop soos ‘n reguit liniaal en sit ‘n hoed op sy kop – ‘n dotjie – nie ‘n donga nie!

j = Lyk soos i, maar glip verby en krul sy stert.

k = In die Kaap:  Twee droë stokkies word opgetel.  Die een lê ons reguit neer en die ander een knak ons met ‘n “k”-geluid sodat dit soos ‘n “v” lyk.  Sit nou die hoekie teen die langbeen.  Reguit af… lig die hand…skuins af, skuins af en op.

l = reguit en lank soos ‘n liniaal

m en n = Die haas hop met ‘n boog (af, hop, hop en af, hop)

o = om en om die piering

p = aaaaf, ôôôp en om

r = af, hop en hang

s = begin by twee uur – sê “ssss” terwyl dit gemaak word – soos ‘n slang

t = ‘n sambreel se steel kan geteken word – af, krul en ‘n voëltjie vlieg verby

u = af, om, op en af

v + w = skuins af, skuins op en stop / skuins af, skuins op, skuins af, skuins op en stop

y (Die Kaap gebruik die geronde een – ‘n kruising tussen “u” en “g”.) = af, om, op en af en krul die stert

Tik gerus soekterme soos “tuis idees, abc, skryf, skrif, klanke, syfers, patrone, potloodgreep, font, perseptuele, knip, robotkaart, Teacha” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

 

‘n stukkie navorsing oor onderrigtaal

10 Kommentaar


Na aanleiding van Boendoe se navrae, gaan ek so ‘n stukkie plaas oor die taalkwessie.  Verskoon asseblief indien dit hoogdrawend is.  Dit was ‘n navorsingstuk en is dalk meer gemik op die etniese tale.  Praat gerus as dit Grieks klink.  Ek “vertaal” graag.

Wanneer ‘n leerder in ‘n tweede taal leer is hy / sy nie noodwendig leergestremd nie, maar eerder leergeremd ten opsigte van woordeskat, taalkennis en die belangrikste aspek seker – begrip.  ‘n Persoon wat nog nie die basiese strukture en vaardighede van ‘n taal teen die ouderdom van sewe jaar (die primêre vormingsjare) baas geraak het nie, sal in werklikheid altyd ‘n agterstand hê.  Taal vorm tog die belangrikste basis en medium van kommunikasie en is nodig om inligting oor te dra en ook om inligting in te neem en te verwerk.

Om die volle omvang van die akademiese vordering van ‘n kind te begryp, moet ‘n mens eers terug gaan na die leerder se agtergrond (en ook taal agtergrond) om die oorsake en invloede op die leerder se leerprosesse te bepaal.  In Suid-Afrika (soos in baie ander wêreldmoondhede) bepaal die Grondwet dat daar elf amptelike landstale moet wees, maar word baie leerders steeds in hul tweede taal (meestal Engels) geskool.  Hierdie besluit word aan die ouers oorgelaat en daar bestaan geen duidelike wetgewing wat ouers verplig om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig nie. Alle Suid-Afrikaners het egter ‘n grondwetlike reg om in ‘n moedertaal onderrig te word.

In baie gevalle waar leerders swak presteer, is die oorsaak dikwels dat hulle in ‘n tweede taal skool gaan.  Hierdie feit is seker nie genoeg rede om bekommerd te wees nie aangesien daar baie gevalle is waar leerders goed tweetalig is en dus goed in ‘n tweede taal presteer.  Die probleem ontstaan egter wanneer ‘n leerder in ‘n huis groot word waar daar meer as een taal gebruik word en waar die tale ook dikwels gemeng word.  As die kwaliteit van die woordeskat en grammatika veel te wense oorlaat, sal die leerder ‘n swak taalbasis hê en hom- / haarself nie goed kan handhaaf in enige van die tale nie.  Só ‘n kind ontwikkel dus ‘n leergeremdheid weens ‘n onderontwikkelde taal.

Volgens Rodriguez, benodig ‘n kind ‘n goeie selfbeeld om sukses te behaal en om sy / haar volle potensiaal te verwesenlik op skool.  ‘n Kind wat besef dat sy taalgebruik nie op dieselfde standaard as sy klasmaats s’n is nie, kan maklik selfbewus en minderwaardig voel en dus ook swakker presteer as sy maats.

As ‘n kind in beide sy moedertaal én tweede taal kan leer, verhoog dit die kind se selfbeeld en voel só ‘n kind trots daarop dat hy twee tale kan praat en in twee verskillende kulture kan funksioneer (i.e. die kultuur eie aan sy moedertaal en ook die kultuur eie aan die tweede taal).

Rodriguez sê ook dat ‘n persoon wat tweetalig is beter kognitiewe vermoëns het, respek by ander kulture afdwing, trots is op die spesiale talent en ook beter toegerus is vir die lewe buite die klaskamer.

Dis sou dus wenslik wees indien ‘n kind aan ‘n tweede taal bloot gestel kon word in ‘n klaskamer waar beide sy / haar moedertaal en tweede taal gebruik word.  Só word die kind stelselmatig aan die vreemde taal blootgestel en kry hy / sy die geleentheid om mettertyd genoeg selfvertroue op te doen om die tweede taal te gebruik.

Volgens die NAEYC (National Association for the Education of Young Children) in die VSA, behoort die ouers die kind se moedertaal te ontwikkel tesame met die tweede taal.  Die moedertaal word gekoppel aan die kind se kultuur, sosiale agtergrond en identiteit en daarom moet die fasiliteerder ook die kind se moedertaal en kulturele agtergrond in ag neem tydens onderrigtye

Net soos wat leerders teen verskillende tempo’s ontwikkel, beklemtoon die NAEYC dat tweede taal leerders hul tweede taal op dieselfde wyse bemeester volgens die individuele potensiale.  Sommige leerders sal vir ‘n ruk lank swyg, ander sal sinsnedes en woorde oefen, ander sal hul moedertaal en die tweede taal meng en ‘n vierde groep kan selfs die taal op ‘n geradbraakte wyse met vertroue gebruik.  Al hierdie voorbeelde vorm deel van die individuele ontwikkelingsfases van die onderskeie leerders se tweede taal.  Die fasiliteerder moet dit in gedagte hou dat dit normaal is om deur hierdie fases te gaan en die kind met begrip begelei tot die ontwikkeling van goeie taalgebruik.

Watter nadele is daaraan verbonde om ‘n leerder in ‘n tweede taal te onderrig?

Na aanleiding van navorsing het NAEYC bepaal dat jonger kinders groter probleme ondervind om die oorgang vanaf die huis na die skoolomgewing te maak as die taal vreemd is.  Die nuwe omstandighede en vreemde taal kan baie intimiderend wees en die kind emosioneel labiel (deurmekaar) laat.

‘n Kind wat uit ‘n vreemde kulturele agtergrond kom, kan soms deur sy klasmaats bespot word en dít kan daartoe lei dat die leerder selfs sy moedertaal kan prysgee om sodoende sosiaal aanvaarbaar te wees.  Dít sal weer daartoe lei dat die kind se band met sy / haar kultuur verbrokkel en dat gesinsverhoudinge ook kan skade lei.

Newer Entries