Tuis

Oogsorgmaand

Lewer kommentaar


Dit is een van die dae Oogsorgmaand.  Herinner die outjies aan gesonde eetgewoontes en veiligheid.  Tik gerus ook soekterme soos oogsorg of visuele by die bruin soekblokkie aan die regterkant in en loer ook na die Oog- en Fokus oefeninge wat help met die egalige beweging van ogies (oor die leesstuk).   Watter oogkundiges in jou dorp/area gee gratis oogtoetse aan jong leerders?  Stel gerus ‘n lysie op om met die ouers te deel om moontlike probleme uit te skakel.

oogsorg

Lewer kommentaar


oogsorgmaandDit is oogsorgmaand en hierdie maand kan ons besondere aandag aan visie, oogbewegings en visuele persepsie skenk.

Loer gerus na hierdie skrywes en hou die pers dop vir gratis oogtoetse vir die jongspan:

  1. oogsorg
  2. lees, leer en die ogies
  3. Wat is ‘n “VMI”?
  4. visuele persepsie
  5. Oogprobleme en leerprobleme
  6. Oog- en fokus oefeninge
  7. Oogsorgmaand
Klik op die prent, “open image in new tab” en druk uit.

Oogsorg

Lewer kommentaar


Screen Shot 2015-09-16 at 6.44.26

Dit is Oogsorgmaand.  Fokus hierdie maand op visuele persepsies, deur verskeie takies en speletjies beskikbaar te stel, reël ‘n optometris as spreker of verskaf inligtingstukke aan ouers oor die belangrikheid van oogsorg en oogtoetse.  Bv.

Visuele geheue:

  • Teken of pak 4 tot 6 prente in ‘n ry. Die kind kyk vir vyf tellings daarna en dan word dit geskommel. Die kind moet dit weer in die regte volgorde pak.
  • Teken of pak 4 tot 6 prente in ‘n ry. Die kind kyk vir vyf tellings daarna en dan word dit bedek. Die kind moet sê / noem wat hy gesien het.
  • Skryf ‘n klank of syfer neer. Tel tot drie en hou toe. Die kind moet dit herroep en skryf.
  • Voeg telkens ‘n klank by totdat die hele naam geskryf word.

Visuele diskriminasie:

  • Speel met enige tipe domino.
  • Teken ‘n klomp prente van verskillende tema’s op ‘n bladsy. Die kind moet nou bv. al die kosprente omkring, ens. Dieselfde kan met klankies (kleinletters) gedoen word.
  • Skryf ‘n klomp klanke rond en bont op ‘n bladsy neer. Die kind kan nou klanke soek wat in sy naam voor kom.

Aanlyn oefeninge:

  1. Visuele Diskriminasie
  2. Visuele Geheue
  3. Visuele Opeenvolging
  4. Ruimtelike Oriëntasie
  5. Visuele Voorgrond-Agtergrond
  6. Sluiting
  7. Vormkonstantheid
  8. Visual Learning
  9. Visual Learning 2
  10. Verskeie oefeninge
  11. Letter- of klankdoolhowe
  12. Woordvorms of vormkonstantheid
  13. Oefeninge

Wat is ‘n “VMI”?

Lewer kommentaar


VMI

Dié van julle wat al ‘n verslag van ‘n arbeidsterapeut of ‘n opvoedkundige sielkundige onder oë gehad het, sou ‘n verwysing na die kind se VMI gesien het. Dit staan vir Visual-Motor Integration en het te make met die kind se vermoë om beelde te interpreteer en weer te gee.  As die outjie se VMI telling baie laag is teenoor die kronologiese ouderdom, beteken dit dat hy ‘n bietjie gaan klei trap met dinge soos skrif en afskryf van die bord af.  Daarom beveel die kundiges hulp soos arbeidsterapie aan…en dit wérk

Baie outjies se prestasies styg as die VMI styg.  Hulle is dus nie net eenvoudig oorgelaat aan ‘n “swak uitslag” op ‘n verslag nie.  Daar is ‘n uitweg.

Tesame met die kundige raad en hulp van ‘n arbeidsterapeut, is daar ‘n paar oefeninge om tuis te probeer. Probeer baie oefeninge wat die Visuele Persepsies, Middellynkruising en Fynmotoriek ontwikkel.

Eye can learn gee aanlyn oefeninge en oulike idees.

Speelgoed

1 Kommentaar


Jessica het gevra of ek kan help met idees i.v.m.  speelgoed (Graad R-vlak as ek reg kyk).  Wat van die volgende?

speel

Kry gemorspos met speelgoed daarop.  Plak dit teen die muur op.

Perseptueel…

  • Visuele diskriminasie:  Soek al die speelgoed vir dogtertjies en die speelgoed vir seuntjies.  Waarmee sal beide geslagte graag speel.
  • Ouditiewe persepsie:  Watter speelding begin met ‘n m?  Die motor!  Watter speelding begin met ‘n p?  Die pop!
  • Ouditiewe diskriminasie:  As jy speelgoed het wat geluide maak – bespreek die speelgoed en maak die geluide.  Die kind maak sy ogies toe en moet dan na ‘n geluid luister…Watter speelding het so gemaak?  Die beertjie!
  • Visuele geheue:  Pak enige 3 speelgoed op die tafel.  Die kind noem dit op. Bedek of skommel.  Vra die kind om dit reg te pak soos tevore.
  • Patrone:  Pak speelgoed in ‘n ry (bv. pop, beer, motortjie) en vra die outjie om voort te gaan met die patroon (pop, beer, motortjie, pop, beer, motortjie)…

Buitespel…

  • Maak ‘n motortjie by die houtwerktafel.  Kap 4 doppies weerskante van ‘n blokkie hout vas en siedaar.  Dit verg oog-hand koördinasie en toesig.
  • Waterspel – Watter speelgoed dryf en watter speelgoed sink? Vir ‘n sekondêre aktiwiteit, buig en draai die kleingoed self ‘n pap draad in ‘n seepbelblaser (dalk soldeer draad). Dan kan hulle hul blaasvaardighede buite ten toon stel.
  • Fantasiespel…Versier ‘n klimraam of houthuis soos ‘n speelgoedtrommel of -winkel.  Vertel ‘n storie van ‘n speelgoedtrommel of -winkel.  Plaas klere, pruike en maskers in die houthuis of klimraam en laat die kinders oor aan ‘n paar minute van fantasiespel.
  • Sandspel – plaas spesifieke speelgoed in die sandput.  Watter speelgoed kan skep? Watter speelgoed kan torings, kastele of huise bou?

Bespreek dalk…

  • Speelgoed van toeka tot nou…vra die ouers om van hul eie speelgoed te stuur.  Waarvan is die speelgoed gemaak?  Waarvan is jou speelgoed gemaak? Hoe is dit eenders?  Hoe is dit anders?  Besoek ‘n speelgoedmuseum…
  • Hoe werk die speelgoed op jou besprekingstafel? skarniere, wiele…toutjies…
  • Sorteer jou speelgoed – volgens grootte, volgens kleur, volgens die materiaal waarvan die gemaak is (hout, rubber, lap…).  Hoe voel jou speelding?  sag, hard, wollerig, glad…Kan jou speelding ‘n geluid maak of is dit stil?  Waarmee speel ‘n baba? Waarmee speel jy?  Hoe verskil die speelgoed?

Skeppend…

  • Maak ‘n Sponge BOB speelding (soortgelyk aan hierdie outjie)…Laat die kleingoed vooraf (‘n dag vooraf) een bladsy bruin en een bladsy geel verf. Gebruik dalk sponsdrukwerk of maak patrone in die nat verf.  Jy kan natuurlik ‘n gekleurde styselpap mengsel op ‘n skinkbord plaas en die kinders vra om sirkels te teken.  Druk ‘n bladsy liggies bo-op om die patroon af te ets.  Oefen ‘n dag voor die tyd – anders flop jou krit les.
  • ‘n Ou papboks kan nou met skeur en plak werk versier word in ‘n geel deel bo en ‘n bruin deel onder. Verskaf plakbare ogies (materiaalwinkels het verskeie) en rooi gekleurde pypskoonmakers vir die mond. Gebruik toiletrolle vir die arms en bene of dalk kurkproppe.

amper in die groot skool

14 Kommentaar


skoolgereedDit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!