spraakDaar verskyn al hoe meer artikels in tydskrifte en koerante oor die dalende vlakke / standaarde van lees en skryf in skole. Sommiges meen dat Uitkomsgebaseerde Onderwys die sondebok is en ander meen dis te wyte aan die meer tegnologies gevorderde samelewing van vandag. Hoe dit ook al sy, taal en spraakontwikkeling (en ook lees) is iets waaraan elke ouer, onderwyser en kind moet aandag gee. Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid.

Interessanthede:

1.Die mens se brein weeg by geboorte byna ‘n kwart van dít wat dit by volwassenheid sal wees en dit ontwikkel binne die eerste jaar tot 70 % van die finale grootte. Deur dus met die jong kind of baba te praat, stimuleer ‘n mens hierdie brein om inligting in te neem en te verwerk.Voortdurende kontak en gesprek help dus om die verstand te ontwikkel.

2.Die basis van alles wat ‘n mens eendag moet en sal leer, word in die eerste vyf tot ses jaar gelê. Sosiale, emosionele en intellektuele ontwikkeling word tydens hierdie jare geweldig sterk beïnvloed en die aspek wat al hierdie dinge aanraak, is taal.

3.Taalvermoë beïnvloed die kind se

    1. selfbeeld,
    2. sosiale en emosionele ontwikkeling,
    3. leergierigheid,
    4. vlak waartoe hy sy intellektuele potensiaal sal ontwikkel,
    5. begrip van norme en morele waardes en vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei.

4.Om te leer praat, is net so belangrik vir die jong kind as om asem te haal.

5.In die ouderdomsgroepe van vier en vyf jaar, gebruik ‘n kind tussen 1 000 en 1 500 woorde. Die meeste woorde word reg uit gespreek en rympies of rymwoorde fasineer die kind. Ten minste vier tot ses kleure en die basiese vorms (kruise, sirkels, driehoeke, reghoeke, vierkante) kan benoem word. Begrippe soos tyd word aangeraak (“Ons gaan volgende week see toe.”) en die kind kan meerledige / lang opdragte onthou (“Gaan was gou asseblief die waslap in die badkamer en droog dit uit.”). Gebruik woorde soos “wie, waar, wanneer, wonder, wat, hoekom” en gebruik die meeste klanke korrek (behalwe die moeiliker klanke soos “tr”, “kr”, “gr” en “pl”).

6.Die vyf- tot sesjarige kind kan ongeveer 2 200 woorde gebruik en praat mooi duidelik. Sinne bestaan uit min of meer ses woorde en die teenwoordige, toekomstige en verlede tyd word gebruik. Verstaan woorde soos “vandat, totdat, nadat, voordat”. Verstaan en gebruik woorde soos “bo-op, voor, agter, ver, naby” en “maar, en, omdat”. Teenoorgesteldes soos groot en klein, is deel van algemene gesprekke en speletjies. Die kind kan ook nou voorwerpe uittel (borde, lepels, messe, vurke) en telefoonnommers onthou. Tot 24 000 woorde kan nou verstaan word.

7.Die sesjarige kind gebruik tot ongeveer 3 000 woorde en weet wanneer sy verjaarsdag is. Dae van die week en maande van die jaar word nou begryp en geleer. Tel tot tien voorwerpe uit en kan bv. ‘n selfoonnommer memoriseer.

Watter probleme kan voorkom in gesproke taal?

  • Gesinswoorde soos “stappies” vir skoene. Die gesin weet wat die woord beteken, maar ander mense verstaan dit nie.
  • As ‘n kind sukkel om ‘n woord uit te spreek, vervang hy die woord met “goeters, dinges, watsenaam”.
  • Die kind kan nie woorde en klanke herhaal wat voorgesê is nie.
  • Die kind praat te hard, te sag, te skril of onduidelik.
  • ‘n Woord kan reg uit gespreek word, maar nie in ‘n sin gebruik word nie.
  • ‘n Taal- of woordarmoede kan veroorsaak dat ‘n kind kort sinnetjies gebruik of glad nie wil praat nie.
  • Ritmeversteurings of uitspraakproleme soos stotter, hakkel, lispel en onduidelike spraak.
  • Sommige kinders laat klanke weg in woorde (peel vir speel, tein vir trein).
  • Sommige kinders vervang klanke met ander klanke (vam vir vang).
  • Die jong kind sukkel dikwels met tydsbegrip. Gelukkig het ons tyd om dit vas te lê, omdat dit eers op negejarige ouderdom voltrek word.

Hoe kan ek my kind se taal en spraakvaardighede ontwikkel?

  • PRAAT, PRAAT, PRAAT!
  • Praat soveel as moontlik oor dinge wat vir jou kind belangrik is en luister na wat jou kind sê.
  • Praat stadig en duidelik.
  • Moenie babataal praat nie.
  • Praat in ‘n eenvoudige taal en verduidelik moeiliker begrippe.
  • Leer jou kind om te luister na wat ander mense sê.
  • Verkeerde taalgebruik behoort reg gestel te word.(Herhaal net die regte sin.Die kind kan maar net luister.)
  • Werk daaraan om spraakprobleme reg te stel.As ‘n kind klanke of woorde verkeerd uitspreek, kan dit dalk later probleme veroorsaak wanneer hy leer lees.

Hoe kan ek my kind help om ‘n liefde vir lees te ontwikkel?

  • Lees soveel boeke as moontlik (in al die tale wat die kind verstaan ) voor.
  • Moedig jou kind aan om die stories oor te vertel aan ‘n boetie, sussie of maatjie.
  • Bespreek prentjies in storieboeke.
  • Gaan GEREELD biblioteek toe.
  • Wees ‘n voorbeeld en lees voor jou kind.
  • Luister na storiekassette.
  • Help jou kind om sy naam te herken deur dit op al sy besittings te skryf (in skoolskrif).
  • Leer kinderrympies en -liedjies.  (Tik soekterme soos rympie en liedjie by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.)
  • Sorg dat daar altyd storieboeke in die huis is.As die biblioteek te ver en boeke te duur is, maak stories uit vrouetydskrifte (soos Liewe Heksie, Balkie, ens.) bymekaar en plak dit in ‘n ou skoolboek.
  • Lees die name van winkels voor (Checkers, Edgars, Shoprite, ens.) as julle daar verbystap.
  • Lees gunstelingstories voor en neem dit op ‘n kasset op.Dan kan jou kind oor en oor daarna luister.
  • Bou ‘n prentewoordeboek op of koop een.Dit sal van groot waarde in Graad 1 tot 3 wees.
Lees ook “Praat jou kind slim” en “Die klein kind in fokus”.

Spraakterapeut ‘spreek’ ook wyer reeks sake aan

Advertisements