Dis die einde van die jaar en ‘n mens wil die laaste rapport ekstra spesiaal maak. Indien jy baie tyd op hande het, kan jy self ‘n oulike koevert vir elke kind maak…indien jy ‘n onderwyseres is…kan die kinders dit maak 🙂
Jessica Jones het oulike idees oor koeverte. Ek gaan nog so ‘n paar idees noem…Gebruik A5 bruin of wit koeverte vir die volgende:
Teken die buitelyn van ‘n prent af op ‘n ou x-straalplaat – met ‘n permanente koki. Gebruik byvoorbeeld ‘n kenteken van jou klaskamer (‘n ster, dier of selfs die Graad – bv. 2, 1 of 3) of kersfeesprente (kersboom…) en sny dit uit. Indien jy ‘n lamineermasjien naby het, kan jy eenvoudige die prent lamineer en versigtig uitsny vir gebruik. Plaas dit bo op die koevert en plak liggies met wondergom vas . Nou kan jy kies wat jy met die sjabloon wil maak…
- doop ‘n sponsie (sommer ‘n sponsie uit ‘n ou pilbotteltjie) in tandepasta-dik verf en drup die meeste verf uit…droogspons nou liggies bo-oor die sjabloon en laat droog word…skryf die kind of ouers se naam in die oop spasies
- vul ‘n ou spuitbotteltjie met voedselkleursel – verdun effens – en spuitverf die koevert…hou egter die botteltjie hoog en ver weg sodat die koevert nie onnodige blertse kry nie…’n keelspuitjie het nogal baie woema
- as jy netjies kan sny, kan jy die karaktertjie uitsny en een kant bêre – sodat jy die groter raam kan gebruik. Spuitverf of spons dan die binnekant van die stensil op jou koeverte…
Neem ‘n foto van elke kind en druk dit op die koevert tesame met sy / haar naam. (Gebruik ‘n tema – bv. dra ‘n kersmus, poseer by die skoolwapen…)
Koop spesiale papier, druk die koevertraam daarop en sny uit.
Sny geskenkpapier (gewone, bruin of kerstema) in A4-velle. Druk die koevertraam daarop – met die kind se naam in die middel. Daarna kan jy die koevert self uitknip of vir die betrokke kind vra om dit te doen. Seël dit met ‘n bypassende satyn of organza lint. Jy kan die lint strik of met ‘n wasseël afrond.
Indien jy die buitekant van die koevert professioneel wil hou, kan jy die woord “Vertroulik” en die ouerpaar se name daarop druk. Versier die binnekant van die koevert met ‘n verrassingsmotief. Sny die randjie ietwat kleiner as die buiterand van die koevert se flap en plak die koevert toe met ‘n gepaste plakker – eerder as om dit toe te lek.
Rapportkommentaar:
- Afrikaans (blaai af na verskillende foto’s)
- Laerskool Onnies en Ouers: rapport-kommentaar
- ‘n Kommentaarskepper (om te help met Engelse voorbeelde)
- 100’e
- Verskeie
- Skryf kragtige kommentare
- Positiewe kommentaar
- English comments
Des 07, 2009 @ 21:47:39
Hallo, Juffrou.
Jy is seker ‘n laerskool juffrou en ek vermoed jou kinders is sommer baie lief vir jou.
Weet jy hoe wens ek ek kon mooi rapporte uitdeel hierdie jaar? Ek het vandag my voogklas se rapporte gekry, en uit ‘n klas van 28 kan ek op 2 hande tel hoeveel kom deur.
Kan ek nie maar Vrydag stokkies draai nie? Of moet ek dalk maar sit en sê, “Lekker, jou blikskottel! Jy wou mos!” Eish, daai dêng!
Geniet jou vakansie… darem nog net 4 slapies dan is ons daar.
LikeLike
Des 13, 2009 @ 20:55:30
My 9jarige dogtertjie se onderwyseres het ‘n pragtige kers-plakker met klokkie opgeplak, en elkeen een van daai gedraaide kersfees stokkie-lekkers gegee. Te pragtig gewees!!
Nou vir die vraag. Waar kan ek ou Laerskool-vraestelle kry om deur te werk? Ek het reeds die skoolprojekte se cd gekoop en die Wiskunde vraestelle was oulik maar die res was nie van baie hulp nie. Dankie en Lekker rus!
LikeLike
Des 14, 2009 @ 08:35:17
Hello, Boervrou.
Dis ‘n oulike idee…’n kollega het ook foto’s van elke leerder geneem en op ‘n 2010 kalender gelamineer. ‘n Ander het weer vir elke kind ‘n soetkoekiesakkie gegee…as ek net kon bak! 😆
Ongelukkig is daar nie juis werwe vir vraestelle nie, maar CNX.org is ‘n webwerf waar opvoeders lesse en idees plaas. Jy tik bloot die graad + … en die spesifieke konsepte in (in Afrikaans).
Vir wiskundige konsepte en hersiening, kan ‘n mens maar Engelse werkvelle druk en sommer met die hand vertaal. Kyk gerus ook onder die blogroll vir ‘n paar skakels. Wat ek wel kan voorstel vir die vakansie, is baie leeswerk en hersiening van konsepte wat in die vorige jaar behandel is. Tel baie vorentoe en terug (in ene en in veelvoude), oefen die kombinasies, maaltafels en al die onderskeie bewerkings. Stel sommer julle eie begripsvragies oor storieboekies op. Die LADYBIRD leesreeks is ‘n oulike reeks met verskillende vlakke. Baie sterkte!
LikeLike
Des 14, 2009 @ 09:29:33
Hi
Baie dankie. Ek het vreeslik baie Ladybird boeke omdat hulle so klein is en sommer in ‘n sak gedruk kan word as ons iewers heen gaan! My kinders is regtig baie lief vir lees, bestel gereeld by Lapa-uitgewers. Baie dankie vir die inligting, lekker vakansie hou.
LikeLike
Des 14, 2009 @ 20:21:24
Dis ‘n plesier 😉 Het jy die Lizmar Boekverkope webwerf beloer vir tweedehandse boeke? 😉
LikeLike
Des 14, 2009 @ 21:30:51
Jip!! By Andre in PTA. Ek het al 2 keer bestel, maar ek ruk dan bietjie hand uit, hy’t soveel kinderboeke teen redelike pryse, dat ek nie anders kan nie!
LikeLike
Des 15, 2009 @ 13:34:51
Jy klink soos ek in ‘n tweedehandse boekwinkel! 😆
LikeLike
Des 15, 2009 @ 13:58:51
Jy maak nou ‘n grap, maar my oudste is 12 en sy ‘verhuur’ haar reenboogrand-maats uit @ R5 ‘n boek! Dis eintlik erg dat mense eerder ‘n ipod of selfoon sal koop vir hulle kinders as boeke!
LikeLike
Des 16, 2009 @ 14:15:36
Nee, maar dis reg. Klein maar “getrain” 😆
LikeLike