skoolgereedDit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!