Tuis

September

Lewer kommentaar


Lente is hier! Maak gerus blomkrone en kranse. Maak groot blomme om die ingang of die gange te versier. Plak ‘n raam met saadpakkies (al om die koesyn) en saai of skenk die sade. Hoeveel saadpakkies kan julle insamel vir hierdie projek? Snuffel gerus deur vorige jare se idees vir werskvelle en aktiwiteite.

Vir Boomplantweek, kan ‘n mens die skool se bome bemesting of kompos gee of bome plant. Vanjaar se bome is die witmelk- of melkbessie- en die tambotiebome. Sou hierdie bome in julle omgewing aard?

My Klaskamer word 17 jaar oud! Baie dankie vir elkeen se inloer, geselsies en ondersteuning. Dit is altyd lekker om ander te kan help.

September fokus op Gehoorverlies of die bewustheid van Doofheid. Hoe kan ‘n mens ander help? Is daar iemand in die skool wat hul ervaring kan deel? ‘n Goeie begin is om te verseker dat daar goeie beligting is en dat ‘n mens na die persoon draai wanneer jy praat. Is die gehoorstukkies se batterye voldoende en aan die FM-stelsel gekoppel (indien van toepassing)? Hoe dra ‘n mens die FM-sisteem se mikrofoon en watter goeie gewoontes kan ‘n mens kweek om outjies met gehoorverlies altyd in te sluit?

Ons vier Sekretaressedag op die derde September. ‘n Lekker bederfdag is ideaal. Wat doen jul skool om dankie te sê? Dink aan ‘n geskenkbewys of ‘n spesiale geskenk en bederfies (bv. eetgoed, rome, ens.).

Loslitdag word op die 5de gevier. Trek volgens ‘n kleur, ‘n tema of ‘n konsep aan of hou ‘n muntlegging. Is daar ‘n langer pouse vir die klas wat die meeste insamel? (Onthou om jou plakker te dra.)

Internasionale Geletterdheidsdag word wêreldwyd op die 8ste gevier. Lees gerus ‘n verskeidenheid boeke, rympies, lirieke, berigte, opskrifte en elektronies boeke. Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de. Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. Hoeveel van sy boeke is daar en hoeveel het julle gelees? Skryf gerus ‘n paragraaf om ander van die boeke te vertel.

Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan julle spikkels of kolle by verskillende lesse betrek? Tel byvoorbeeld verskillende versamelings kolle, skep prente met behulp van dotjies (pointillisme) of kyk hoeveel kolleplakkers teen die lengte en breedte van ‘n boek of bladsy sou in pas…

Dra ‘n bandana of ‘n kopdoek en ‘n oogklap op die 19de. Kan jy soos ‘n seerower praat? Dis ‘n goeie geleentheid om jul Engels te oefen.

Versier papier met ‘n vredestema (bv. duiwe) en maak waaiers om uit te deel of in die gras te steek.

Waarom moet renosters beskerm word en hoe word dit gedoen? Wat maak hierdie diere so spesiaal?

Aan die einde van September fokus ons op oogsorg tydens Oogsorgmaand. Nooi gerus ‘n spreker of reël ‘n uitstappie na ‘n oogkundige praktyk. Deel artikels met die ouergemeenskap en vind gerus uit watter oogkundiges gratis oogtoetse doen (vir kinders).

Leer gerus meer oor die nasionale simbole vir Erfenisdag. Druk groot simbole uit, kleur dit in of teken jul eie en knip die prente uit. Versier die lengte van die gang in patroonformaat (bv. bloukraanvoël, protea, galjoen…) of maak rame om die deurkoesyne en vensterrame.

Ek het onlangs kinders met ‘n skaars tipe spierdistrofie (LGMD) leer ken. Die outjies ervaar pyn in die bo-arms en bene. Hierdie spiere word stelselmatig swakker soos hulle ouer word en kan hul beweeglikheid aansienlik verminder wanneer hulle in hul 20s is.

In die laerskool, probeer ons om daagliks strek oefeninge te doen en om versigtig te wees met die tipe oefeninge wat hulle tydens liggaams opvoedingsklasse doen. Strawwe oefening kan skade veroorsaak. Skryfwerk, kan tot uitputting lei. Ons leer hulle tans om soms hulle skryfwerk te dikteer en help ook met die skryfwerk.

Dra gerus lemmetjie groen klere of linte op die 30ste ter bewusmaking van een van die vele skaars diagnoses.

September

Lewer kommentaar


September is My Klaskamer se verjaardagmaand en vanjaar word My Klaskamer 16 jaar oud! Baie dankie vir jou getroue ondersteuning.

In September, skenk ons aandag aan gehoorverlies en kyk ons hoe ons meer kan doen om mense met gehoorverlies te ondersteun. Gesels met kundiges en win ‘n bietjie kennis in.

Ons vier Lente Dag op die eerste en Boomplantweek van die 29ste Augustus tot die 4de September. Samel gerus kompos of kunsmis vir die skool se plante in of kikker die skool se beddings op. Saai blom-, kruie en groente sade wat ‘n mens later by funksies, ens. kan gebruik. Maak ‘n projek daarvan om uit te vind wat die beste in jul tuine sal aard en wat die beste moontlikhede kan wees. Stem en saai.

Die witpeer is die skaars boomsoort van die jaar en die karee of rooikaree is die meer algemene boom van die jaar.

Sekretaresse Dag word vanjaar op die 4de September gevier. Bederf gerus al die administratiewe personeel so ‘n bietjie.

Loslitdag/Casual Day, is ‘n dag waarop ‘n mens fondse kan insamel om mense met alle soorte gestremdhede te ondersteun. Sommige mense is so gebore en sommige mense het die gebruik van sintuie of liggaamsdele mettertyd verloor. Ondersteun gerus organisasies of skole in jou omgewing en vind uit hoe julle verskillende leerders kan insluit.

Die Paralimpiese Spele vind vanaf die 28ste Augustus tot die 8ste September plaas en daar is vanjaar 26 Suid-Afrikaanse atlete om te ondersteun.

Tradisioneel, het ons Bandana of Sonneblomdag in die middel van September gevier om ‘n bewusmakingveldtog vir bloedkanker te loods (Leukemiebestryding). Dit verg steeds ons aandag en is beslis iets om mee te help.

Internasionale Geletterdheidsdag word op die 8ste September gevier en Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de September. Spandeer ‘n bietjie meer tyd om deur die klas se leesboeke te blaai en om boeke te lees wat julle gewoonlik vermy of vergeet.

Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. ‘n Mens kan heelwat van sy boeke in Afrikaans en Engels kry. Lees gerus.

Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan jy ‘n betekenisvolle merkie of spikkel in die samelewing maak?

Op die 19de praat ons soos seerowers. Dit is die ideale dag om die Engelse ”ar” in woorde te hersien.

Oogsorgmaand begin teen die einde van die maand. Praat gerus oor verskillende maniere om die ogies op te pas, doen visuele oefeninge en moedig oogtoetse aan. Is daar oogkundiges in jul omgewing wie gratis oogtoetse doen? Vra gerus.

Vou en plant gerus waaiertjies vir vrede in die voortuin. Skryf jou wense op die waaiers en deel dit met ander.

Op die 22ste leer ons oor Renosters en oor die bewaring van hierdie wonderlike diere. Maak Erfenisdag, op die 24ste, ekstra spesiaal. Spandeer die dag saam met spesiale mense en eet iets uniek aan jou erfenis 🙂 Mag jy ‘n besonderse mooi September hê.

Langnaweek

Lewer kommentaar


Erfenisdag

Lewer kommentaar


Daar is ongelooflik baie om op trots te wees en baie dinge wat ons kan vier en herdenk op Erfenisdag.

Watter museums of monumente is daar in jul omgewing?  Hoe het die dorp of stad ‘n honderd, twee honderd of selfs drie honderd jaar gelede gelyk?  Wat het intussen by gekom?  Hoe lyk die oudste wonings in julle omgewing en waarom is dit so gebou?  Het julle van die nasional embleme sigbaar in die skool of in die dorp waar julle woon?

Wie het met die stigting van jul skool gehelp en waarom het hulle die prentjies op die skoolwapen gekies?  Wat maak hierdie stukkie geskiedenis en erfenis so uniek?

Wie is jou voorgangers en voorsate?  Waarom hou julle gereeld op sekere plekke vakansie?  Wie het hierdie tradisies begin?  Watter geregte geniet julle as gesin en as familie?  Deel gerus die resepte met die klas of klasmaats.

Teken gerus prente van die dinge wat vir jou spesiaal is of skryf daaroor.

Mag julle ‘n mooi Erfenisdag hê 🙂

Erfenisdag Woordsoek 1
Erfenisdag Woordsoek 2