Tuis

dubbelklanke

15 Kommentaar


dubbelklanke

Screen Shot 2014-12-28 at 8.48.43 R het vir my gevra om idees vir dubbelklanke te plaas. Ek het so ‘n tydjie gelede iets oor die vaslegging van klanke geskryf en gaan daarom slegs ‘n paar ekstra idees gee.

Maak groepe prente-kaartjies wat jy kan inkleur, oortrek en hou. Gebruik byvoorbeeld beet (ee-woorde), ‘n haas (aa-woorde), vuur (uu-woorde) en bome (oo-woorde). As jy die kaartjies permanent wil gebruik, kan jy die bostaande flitswoorde op die kaartjies plak en dit dan lamineer en uitknip. Vertel ‘n storie van die ‘n hasie wat graag beet eet voor hy langs ‘n vuurtjie – in die skadu van ‘n boom – aan die slaap raak. Verdeel die klas in vier groepe – een vir elke klankgroep. Elke groepie lees hul kaartjies en moet die woorde in sinne kan gebruik. Hulle skryf die sinne op ‘n groot vel ongedrukte koerantpapier – sodat die ander maats dit kan lees. Indien die outjies nog nie gereed is vir sinne nie, kan jy ‘n A4-vel papier in 8 groot blokke verdeel.  Plaas die onderskeie woorde op aparte dele van die skryfbord of teen verskillende mure op.  Die outjies moet dan elkeen 8 woorde kies, ‘n woord per blok skryf en probeer om ‘n gepaste prentjie te teken.

Graad 2- en 3-leerders kan egter al sinne skryf en moet probeer om skitter-sinne te skryf.  Graad 2’s kan so 5 of 6 woorde per sin probeer, terwyl Graad 3’s 7 tot 9 woorde kan gebruik.

Die belangrikste deel van sinne is dat hulle daaraan herinner moet word dat ‘n sin met ‘n hoofletter begin en eindig met ‘n punt.  Vra altyd dat die sin eers aan jou gesê moet word, sodat jy die sinsbou en -konstruksie kan korregeer indien nodig.  Indien jy genoeg tyd het vir prentjies teken, kan jy vra dat die outjies 3 – 5 sinne skryf en een prentjie daarby teken.  Maak selfs ‘n groot prent van elke klankkaart (‘n beet, ‘n haas, vuur en ‘n boom), vra dat die outjies die woorde self op elke prent oorskryf, verf met kleursel (rooipienk, geel, oranje en groen), knip uit en plak in die boeke.  Dit is sommer ‘n alles-in-een takie en behoort ‘n lekker leer-hulpmiddel te wees vir die week se speltoets.  (“Dink aan die woorde op die bloedrooi beet…”)

Indien jy die flitskaartjies apart van die prente gelamineer het (of oorgetrek het met breë kleeflint), kan jy dit skommel en vir die outjies flits.  Jy kan selfs ‘n tweede vel van elke bladsy druk en vra dat die kleingoed die woorde bo-op hul maats pas…of lamineer die groot vel en sny dit in diagonale en krom lyne op sodat die kleingoed die “legkaarte” moet bou.  Grawe gerus ook op kleuters.co.za rond vir lyste met klanke – indien jy nog woorde benodig. Onthou om altyd jou apparaat so te maak dat jy dit kan hou en hergebruik… Jy sal dit beslis vir dekades lank kan inspan!

dubbelklanke

Take:  aa, oo, ee, uu

Sien ook “Drukbare Bladsye” heel bo of tik “flits” by die soekblokkie in.

Slide1

Slide2

Slide3

Slide4aaeewoordeooflitspakket

Leer speel-speel

2 Kommentaar


 

Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry.  Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies.  Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie.  Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.

Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer.  Is daar ‘n parkie naby?

  • Probeer gerus die wipplank.  Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
  • Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm.  Laat Poplap daarop loop.  Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans.  Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
  • Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop.  Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
  • Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…

Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.

  • Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak.  Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
  • Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is).  Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal).  Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai!  ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
  • Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
  • Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas.  Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak.  ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.

Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.

  • Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
  • Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het.  Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
  • Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val.  Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
  • Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant.  Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie.  Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
  • Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies.  Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas.  Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies.  Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel.  Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne.  Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken.  Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
  • Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek.  Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs.  ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
  • Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet.  Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies.  Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi.  Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi.  As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel.  ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen.  Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9.  Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken.  Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4).  Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord.  Ons moet die breinratte darem geolie hou… 😉

Bal vang…Begin eers met ander items.

  • Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar.  Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie.  Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm.  Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie.  ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels.  Dit is sag en gryp maklik vas.
  • Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang.  Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref.  Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
  • Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan.  Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak.  Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.

“Skolerige / Akademiese dinge”

Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed.  Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed.  Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek.  As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis.  Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees.  Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker).  Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand.  Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik.  ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel.  As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken.  Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou.  Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by.  Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”.  Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.

Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…

Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan.  Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.

Hou inventaris of sensus.  Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes.  Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense.  Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby.  Drie mensies =  3.  ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit.  Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6.  Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam.  Hoeveel messe is op die tafel?  Hoeveel blompotte is in die son?  Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…

Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).

Lekker speel!

Kom ons hersien die klanke…

32 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

[Dubbel-, twee- en drieklank muurkaarte]

Spel oefeninge

Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik.  Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie.  Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.

Screen Shot 2015-09-01 at 15.57.39Screen Shot 2016-05-30 at 13.31.46

  • Enkelklanke:
    • Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm.  Hy moet dit dan identifiseer.
    • Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin.  Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind.  Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
    • Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys.  Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken.  Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
    • Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
    • Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot).  Vra dat Grootman die klank soek en omkring.  Tel die klanke.  (Dalk kruip daar nog weg.)
    • Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf.  Maak seker dat hy op die regte plekke begin.  Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken  (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…).  Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie.  Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi.  Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
    • Speel “name, vanne, diere, dorpe”.  Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
    • Woordfamilies:  Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig).  Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os.  Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.  
    • Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is:  ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik.  Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk.  Wys dit.  Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”.  Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”?  Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris.  Hy kan dan ‘n sin gee.  Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken.  As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groot s skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”).  Laat hom die s met gom “skryf”.  Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand).  As dit droog is, kan hy daaroor voel.  So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.

  • Dubbel-, twee- en drieklanke:
    • Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie.  Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
    • Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer.  Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat.  Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
    • Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek.  Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat.  Ruil die rolle om en maak beurte.  Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank”  by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.