
Luidleesdag is om die draai. Haal gerus interessante leesstof byderhand (bv. storieboeke, advertensies, tydskrifte, gedigte, lirieke, flitskaarte, opskrifte, ens.). Wat is die oudste boek op die rak? Het julle nog plate, kasette of kompakskywe met lirieke in die omhulsels? Lees ou verjaarsdagkaartjies, poskaarte en briewe. Skryf ons nog so? Lees boodskappe op boekmerkies, stal voorblae (afskrifte of die los omslae) uit of plak die leesstof teen die dak en mure in die skool se gange. Hoe het ‘n spesifieke storie se omslae deur die jare verander? Dink sommer net aan boeke soos ”Heidi”.


Die Biddag vir Onderwys en Opvoeding is vanjaar op die 9de Februarie. Bid gerus voor of na die dag by die skool.

Op Internetveiligheidsdag kan ons die skool se internet opknap en ook met die kinders oor internetveiligheid gesels. Waarom beskerm en verander ‘n mens wagwoorde gereeld en hoe kan ‘n mens jouself en jou toestelle beveilig? Het jul skool selfoonreëls en is daar ‘n beleid vir die veilige gebruik van die internet by die skool?
Die Internasionale Dag vir Vroue in die Wetenskappe word op die 11de Februarie gevier. Ken jy van hierdie dames en hoeveel artikels of boeke kan jy oor dames in die veld lees? Deel gerus jou kennis met ander.

Fokus op vriendskap en mooi wense op Valentynsdag.

Dink aan idees om iemand anders se dag op te helder. Hoe kan ‘n mens medemenslikheid of buurmanskap betoon? Loer gerus hier na velerlei idees.

Op Moedertaaldag vier ons die tale wat ons elkeen in die skool praat. Kan jy iemand in sy of haar moedertaal groet?

Die eerste Disney Pinocchiorolprent is op die 23ste Februarie 1940 bekend gestel. Ken jy die Afrikaanse reeks of Mynie Grové se temaliedjie?

Op die 26ste dra baie lande pienk hemde om ‘n bewusmakingsdag teen bullebakkery te ondersteun. Dit word gedoen na aanleiding van ‘n seun wat gespot is omdat hy ‘n pienk hemp gedra het.

Stal sprokiesboeke uit, trek soos karakters uit ‘n sprokiesverhaal aan en spandeer oomblikke gedurende die dag om na sprokiesverhale in Afrikaans en Engels te luister.







































Woorde