‘n Student het idees gevra om tydens buitespel te gebruik – as fantasiespel nie gebruik mag word nie:

As die skool ‘n rybaan en skopfietsies het, kan jy verkeersligte en padtekens maak sodat hulle die paaie veilig kan gebruik. Tydens sandspel kan jy kleiner padtekens en voertuie uit houtblokkies en bottelproppe neersit. Die outjies moet dan hulle eie veilige paaie bou en die verkeerstekens gebruik. Dosente hou van selfgemaakte speelgoed en apparaat. Maak dus items uit “herwonne” materiaal.

Jy kan aandag skenke aan rigting, posisie in die ruimte en lateraliteit, byvoorbeeld: Draai na links of draai na regs. Ons ry aan die linkerkant en gaan regs verby. Gee “geboue” en “huise” sodat die outjies die strate tussendeur kan uitlê. As jy dit in verskillende kleure verf, kan jy kleur-vaslegging doen.

As jy padtekens maak of selfs jou opdragte in padtekenformaat wil aanbied, kan jy sommer die kleure op die borde en die vorms daarvan bespreek.

Vir ‘n hindernisbaan kan ‘n mens seker ‘n roete uitlê en ‘n “padkaart” (soos ‘n skattejagkaart) teken. Meng dit met stasie-opdragte (soos in die Amazing Race). Pak byvoorbeeld 4 – 6 motorbande plat neer (bymekaar of in ‘n ry). As hulle by die band kom, is daar ‘n “padteken” met ‘n illustrasie van iemand wat spring. Dan moet hulle van band tot band spring. By ‘n ander punt moet hulle ‘n veiligheidsgordel vasmaak (dalk het ‘n motorhawe vir jou ou gordels – of jy kan ‘n babastoeltjie en pop inspan). Laat bande regop staan en die outjies daardeur kruip. Op ‘n ander punt moet hulle balanseer en oor die regopstaande bande loop. Gee vir die outjies glimbande of frokkies om te dra as jy hulle in spanne wil verdeel. Dalk kan ‘n mens ‘n uitdagingspunt hê waar die outjies ‘n groot padtekenbord uit los stukke moet bou (legkaartformaat) of waar hulle ‘n glimstrook op ‘n skopfiets moet plak. Jy sal net die lengte korrek moet afsny, die punt van die strokie moet los maak en om vou sodat dit makliker kan los trek.  Trek ‘n pop of mannekyn met “veilige” klere aan om in swak lig te stap.  Gee dan ‘n hoop donker en ligte klere – met ‘n glimband of twee.  Wat van ‘n uitrusting van ‘n fietsryertjie?

Dink voortdurend aan perseptuele ontwikkelingsaspekte, terminologie en leermateriaal wat jy kan inspan. As jy die les vooraf aanbied of die onderwerp bespreek, kan jy aandag gee aan al die veiligheidsmaatreëls wat jy vir die buitespelles in gedagte het. Dit maak die les soveel makliker.

Iemand het prente van padtekens gesoek:

Stal ook die boeke uit wat leerlingbestuurders gebruik.

vervoer