Tuis

Die ontwikkeling van wiskundige aspekte in Graad 1

32 Kommentaar


 

Hier is ‘n paar konsepte waaraan die Graad 1-sillabus aandag gee.  Veral in die eerste ses maande doen die kleintjies somme met tellers (koeldrankdoppies, knope, krale…).  Hulle moet die apparaat fisies vashou en die som so uitwerk…

Mamma’s kan gerus met hierdie lysie na die juffrou gaan en vir ‘n paar gedagtes vra om dit aan te spreek tuis.  Juffrou sal baie beïndruk wees.

TEL MET BEGRIP

· Aftel in ene tot 5 (…10…20) Tel fisiese goed soos knope, klippe, ens.

· Skat, neerskryf / teken, tel en bespreek (Ek skat dis 5, tel…ja, ek was reg…of nie…)

· Aantel (5, tel drie aan….5…6,7,8 )

· Terugtel

· Tel in spronge (2e, 3e, 5e, 10e)


WERK MET GETALPATRONE

· Bv. 5 10

15 20

25 30

· 2, 4, 6, 8

12, 14, 16, 18 (sien die ooreenkoms in die eindgetal)


LEER KEN DIE GETAL

· Hoeveel?

· Getalnaam (Hoe skryf ek dit?)

· Getalsimbool (1 – 5, 6 – 10) (Hoe lyk dit?

· Ewe / onewe (Kan ek dit uitdeel sodat Ma en ek ewe veel lekkers het?)

· Behoud van die getal (Maak nie saak hoe die patroon lyk nie, 7 kolle bymekaar beteken 7)

· Subitering (tot 6) (Kyk na ‘n items bymekaar en “raai” of “weet instinktief” dat dit 3, 4, 5 ensovoorts is.)


POSISIE VAN DIE GETAL

· Ongelykheid en gelykheid (afparing)

· (= teken)

· Ordening van getalle (1 – 5, 6 – 10)

· Stygend én dalend (leer ken ‘0’ as getal)

· Rangorde

· Posisiewoorde (voor, na, tussen)

· Rigtingwoorde (links, regs, ens.)

· Rangtelwoorde (eerste, tweede…)

· Kwantiteitswoorde (is groter as…)

· Vergelyking van getalle

· Begrippe: hoeveel, meer as, minder as, net soveel as, is gelyk aan.


DIE VIER HOOFBEWERKINGS

· +

· Saamvoeg ( + teken)

· Verdubbel

· Oop getalsinne 1 + 2 = c

· Multistap probleme 2 + 3 + 1 = c

·

· Skei ( – teken)

· Halveer

· Oop getalsinne

· Multistap probleme

· Vermenigvuldiging (slegs prakties / mondeling)

· Deling (slegs prakties / mondeling)


GETALFEITE

· + en – tot 10

· Voorbereidende werk vir tafels :(2x, 10x)

· Versnelde tel            (2, 4 ,6 ,8, 10)

· Herhaalde optelling (2+2+2+2+2+2…)

Hipotonie of erge lae spiertonus

22 Kommentaar


Baie kinders met ‘n lae spiertonus kompenseer baie goed daarvoor en steek dit goed weg.

*Kenmerke:

·Eet slordig

·Loop op tone

·Laat mylpale – sit, kruip of loop later as ouderdomsgroep

·Die kind kom ooglopend lomp voor en sukkel met aksies soos sit, kruip, loop en hardloop.As baba skuif hierdie outjies eerder op die sitvlak rond.

·Probleme met nekbeheer.

·Kan nie maklik sywaarts of vorentoe rol nie.

·Indraai-tone, knik-knieë, stamp tone gereeld, val oor eie voete, loop op binnerande van voete.

·Tekeninge, letters en syfers word nie voldoende gevorm nie.

·Soms woelig en reaksies is relatief stadig by kinders wat oorkompenseer vir “slapper” spiere.

·Beweeg eerder aanhoudend as om spiere in te span.Die kind konsentreer dus om aanhoudend te beweeg en dit kan sy werkstempo benadeel.As die outjie ophou beweeg, is die spiere geneig om te verslap en sak hy inmekaar.Sy rug vertoon skeef en die ruggraat toon ‘n sywaartse kromming.Die inspanning om regop te bly, verg baie energie en dié outjies raak gou moeg en gefrustreerd.

·Sit kierts regop of heeltemal slap.

·Bang vir vreemde en onbekende aktiwiteite (bv. fietsry).

·Hiperaktiwiteit, konsentrasieprobleme, swak geheue en ‘n stadige werkstempo is kenmerke.Hulle word ook dikwels verkeerdelik as hiperaktief of kriewelrig bestempel.

·Hansford noem dat kinders met ‘n lae spiertonus ook dikwels gespanne is in die skool, speletjies en tydens sportdeelname.

Oefeninge:

  1. Sit op voorste punt van ‘n kussing of lae bankie vir ‘n beter ewewig.
  2. Staan op knieë by ‘n lae tafel wanneer speel of inkleur.Dit help met balans en die arms en hande is vry om te beweeg (inkleur, blokkies bou, pop speel).
  3. Wanneer die outjie lees, moet die gesig parallel met die boek wees en die neus is ongeveer in die middel van die bladsy.Die kop en boek is ± 20 – 30 cm uitmekaar.
  4. Sit-sit-so:heupe, knieë en enkels is almal in hoeke van 90° geknak en die voete is gemaklik op die vloer.Die lyfie lyk dus soos blokkies of trappies.
  5. Hierdie outjie moet kort-kort ‘n afleiding hê (soos kleispel) om te ontspan.
  6. Balanseer ‘n opgerolde sokkie (paar) op die kop en probeer daarmee loop.
  7. Neem ‘n tennisbal (of opgefrommelde stuk koerant), tel dit met die knieë op en spring soos ‘n kangaroo.Spring stadig, lang spronge of sywaarts.
  8. Loop op stelte.Gebruik klein, leë koffieblikke en ‘n ou tou.
  9. Skop ‘n bal na ‘n teiken (in ‘n ou doos in) na aanleiding van opdragte (soos Simon Says).
  10. Trek ‘n tou en die kind moet dit probeer raak trap.Eers met een voet en dan die ander.
  11. Balanseer ‘n boontjiesakkie of ‘n sakkie vol sand bo-oor die enkel en kyk hoe hoog die been/voet gelig kan word.
  12. Pak hoepels, buitebande of springtoue (in ringe) in ‘n kring, vierkant, ry, perdeskoen, ens. Spring dan met beide voete in aangeduide rigtings of volgens opdrag (blou hoepel, groen hoepel of nommer 1, nommer 3, nommer 2…)
  13. Wipplankry

* Hierdie inligting is slegs idees.  Die raad van en evaluasie deur ‘n Arbeidsterapeut is steeds nommer een as dit by spiertonus kom.

 

Vaardighede om te ontwikkel met die oog op Graad 1

14 Kommentaar


GROOT SKOOL

Hierdie vaardighede is belangrik in die gereedmaking vir die GROOT SKOOL.  Dis ook dinge waarna die Graad 1-juffrou spesifiek kyk tydens die eerste paar weke van die jaar.  Veral mamma’s van Graad R-kinders kan hierdie doelwitte in gedagte hou vir die einde van die jaar.  Vra gerus vir Juffrou vir ‘n paar oefeninge om die vaardighede te verbeter.

OUDITIEWE ONTWIKKELING
• Kan geluide herken (wat raas so? watter geluid maak die koei? )
• Kan tussen geluide onderskei (Is dit ‘n motor of ‘n lorrie wat so dreun? )
• Kan ooreenkomste herken (Sannie sê sy sal…al die woorde begin met ‘n “s”)
• Kan instruksies uitvoer (Tel op jou sak, hang dit op en was jou hande.)
• Ouditiewe geheue (onthou wat gehoor is – bv. telefoonnommer)
• Kan rympies en stories memoriseer (Oorvertel)

VISUELE ONTWIKKELING
• Kan verskille raaksien (Soek die verskille tussen twee eenderse prente)
• Kan ooreenkomste raaksien
• Kan legkaarte voltooi (bou sommer baie! 24, 50, 80, 100 stukke)
• Kan kleure identifiseer (swart, wit, bruin, primêr en sekondêr)
• Kan vorms herken (sirkel, vierkante, reghoek, driehoek)
• Visuele geheue: Kan eie naam herken
• Herken ander se name
• Herken logo’s, handelsname en advertensies (Checkers, Dettol, Edgars, Kellogs)

GROOT EN KLEINSPIERVAARDIGHEDE
• Kan groot voorwerpe hanteer – gooi van bal
• Voet-oog koördinasie – skop van bal
• Hand-oog koördinasie
• Ritme en beweging (aksies)
• Kan ‘n verfkwas hanteer
• Kan kryte hanteer
• Kan prente teken
• Kan prente voltooi
• Kan ‘n skêr hanteer (Knip)
• Kan ‘n potlood hanteer
• Kan kolletjies volg (dot-to-dot)
• Kan ‘n eenvoudige prentjie inkleur

GELETTERDHEID
• Kan sy/haar eie naam sê
• Kan sy/haar naam skryf (eerste letter is ‘n hoofletter en die res is kleinletters)
• Gebruik voldoende woordeskat (geen “babataal” meer nie)
• Gebruik logiese woordorde
• Kommunikeer vrylik
• Ken woorde van liedjies en rympies
• Vertel stories
• Kan prente interpreteer
• Kan liggaamstaal interpreteer
• Kan liggaamsdele benoem
• Links na regs oogbeweging
• Praat duidelik
• Kan uitdrukking gee aan opinies en idees
• Kommunikeer in volsinne
• Kan boeke, tydskrifte hanteer

SYFERKUNDIGHEID
• Kan rympietel 1 – 10
• Herken syfers 1 – 5
• Konsepte: tyd (vandag, gister), grootte, lengte, massa, kapasiteit, geld, posisie (voor, agter, eerste)

LEWENSVAARDIGHEDE
• Ken ouderdom
• Ken telefoonnommer
• Ken adres
• Kan saamwerk met ‘n maat
• Kan onafhanklik werk
• Goeie aandagspan
• Kan probleme oplos
• Leierskap
• Selfvertroue
• Respekteer ander

Kosblik gedagtes

8 Kommentaar


Voor ons aan die kosblik raak, net eers ‘n paar belangrike gedagtes… Veral jonger kinders raak gou moeg en verloor konsentrasie as hulle nie gereeld ‘n versterkinkie neem nie. Baie outjies eet ontbyt voor 7-uur en eet dan eers weer om ongeveer 10:20 (pouse) en 13:00. Dis ‘n vreeslike lank tyd om honger te wees. Sommige juffrouens gee egter kleintjies in Graad 1 en 2 die geleentheid om ‘n “power bite” te neem om weer woema te kry.  Sorg dus dat daar altyd ietsie is om te hap wanneer die nood druk.  ‘n Klein koelsakkie is dalk ‘n goeie idee vir nasorg-kinders of in areas waar die sonnetjie warm kan bak.

Sorg dat die eetgoed maklik hanteerbaar is en nie vol fieterjasies is nie. Dikwels kan die outjie nie self ‘n sapbotteltjie, skyfiepakkie of selfs ‘n energiestafie oopmaak nie en is daar nie iemand naby om te help nie.  Sny dus die pakkie oop en knyp dit met ‘n klampie toe.  Verf en versier die klampie met kraletjies om dit ekstra spesiaal te maak (wasgoedpennetjies werk ook goed).  Hoe minder moeite dit is om die kospakkie oop te maak, hoe vinniger word daar geëet en dan gespeel.

In plaas daarvan om ‘n toebroodjie (twee snye) of ‘n groot vrug in te pak, meet neute en rosyntjies in klein porsies af en verpak dit in klein bakkies of sakkies.  Droë vrugte is ‘n gunsteling happie by baie kinders.  Sny ‘n Snackertipe stafie in hapgroottes op of bak sommer jou eie Oatspap koekies.

Indien jy wel toebroodjies wil maak, gebruik oulike koekiedrukkers om prentjies uit die toebroodjie te druk.  Dan is die porsies reeds afgemeet en vrolik.  Die orige stukkies brood kan vir viskoekies of frikkadelle gevries word.  Jy kan ook prentjies uit velle koue vleis of kaas druk en in lae pak.  Kan ‘n mens nie sommer frikkadelle met die vormpies afmeet en dan gaar maak nie?

Hou die kosblik gesond en pak eerder water as gaskoeldrank in.  Te veel suiker kan die aandagspan heeltemal omver gooi…

…en om die skooldag ekstra spesiaal te maak, kan ma ‘n briefie bo-op die broodjie pak/plak.

PS:  Jessica Seinfeld (Jerry se vrou) het ‘n resepteboek uit gegee vir mamma’s van kieskeurige eters.

kosblik boodskappies

…by ‘n Spar gesien…

ABC’s – skryf

58 Kommentaar


abcskryf

This slideshow requires JavaScript.

Die voorlopers vir formele skrif is gewoonlik in verskeie dele verdeel.  (Dit sluit skribbel in.)  Om ‘n kind gereed te maak vir skrif, word verskeie handspieroefeninge gedoen.  Ure en ure word spandeer aan patrone en die kind maak later patrone in elke prentjie wat geteken word.  Dit is alles belangrik om te “oefen” vir die “groot” skryfproses.

Dinge om te onthou:

  1. begin gewoonlik met ‘n groot, dik kryt of verfkwas en ‘n groot vel papier (koerantpapier werk goed)
  2. dik vetkryte en dik veselpenne (koki’s) kan volg
  3. driehoekige potlode en vetkryte volg – daarom gebruik baie Graad 1-klasse uitdraaikryte (MonAmi)
  4. potlode volg eers baie later
  5. gebruik aanvanklik net kleinletters
  6. hoofletters kan vir name gebruik word

Vorming van letters en patrone:

a, d, g, c, o, q, s begin by ‘n denkbeeldige “twee uur” op die horlosie en die hand beweeg anti-kloksgewys om die letter te vorm.  Moenie die hand lig voordat die hele letter voltooi is nie.  Maak ‘n groen kolletjie waar die letter begin en ‘n rooie waar die skryfaksie (karretjie se roete) moet stop.  Die brandertjie patroon (soos ‘n “c” in lopende skrif) word gewoonlik hier gebruik.

v, w en k se patroon is die wolftand patroon (zig-zag).

h, p, b, m, n, r se patroon is die hasie hop (lyk soos ‘n klomp n’e teen mekaar).

u, y, g se patroon is die Tarzan patroon (lyk soos ‘n klomp u-klanke teen mekaar).

a = om die piering, op en af(ek gebruik ‘n ou CD teen die bord)

b begin bo, b – vir bal:  Los die bal…die bal bons, rol en lê.

d begin in die draai, d – vir draai:  om die piering, op en óp en af

e = Die motor ry reguit en stop by die stopstraat.  Moenie jou hand lig nie, want ‘n motor kan nie vlieg nie.  Draai dan links om die piering en stop.

f = Staan op ‘n duikplank en duik met ‘n boog tot onder in die swembad.  ‘n Voëltjie vlieg van links na regs verby.

g = Om die piering, op en af…en swaai die stert.

h = Los die bal. Die bal hop en gaan lê.

i = Die man staan regop soos ‘n reguit liniaal en sit ‘n hoed op sy kop – ‘n dotjie – nie ‘n donga nie!

j = Lyk soos i, maar glip verby en krul sy stert.

k = In die Kaap:  Twee droë stokkies word opgetel.  Die een lê ons reguit neer en die ander een knak ons met ‘n “k”-geluid sodat dit soos ‘n “v” lyk.  Sit nou die hoekie teen die langbeen.  Reguit af… lig die hand…skuins af, skuins af en op.

l = reguit en lank soos ‘n liniaal

m en n = Die haas hop met ‘n boog (af, hop, hop en af, hop)

o = om en om die piering

p = aaaaf, ôôôp en om

r = af, hop en hang

s = begin by twee uur – sê “ssss” terwyl dit gemaak word – soos ‘n slang

t = ‘n sambreel se steel kan geteken word – af, krul en ‘n voëltjie vlieg verby

u = af, om, op en af

v + w = skuins af, skuins op en stop / skuins af, skuins op, skuins af, skuins op en stop

y (Die Kaap gebruik die geronde een – ‘n kruising tussen “u” en “g”.) = af, om, op en af en krul die stert

Tik gerus soekterme soos “tuis idees, abc, skryf, skrif, klanke, syfers, patrone, potloodgreep, font, perseptuele, knip, robotkaart, Teacha” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke idees.

 

Newer Entries