Janeen het onlangs gevra hoe ‘n mens kleintjies kan help om syfers korrek te skryf (veral syfers soos 2 en 3)…

 

Dis belangrik dat ‘n mens van die begin af die regte voorbeeld voorhou.  Doen dieselfde aktiwiteite as wanneer jy letters aanleer – baie visuele diskriminasie, visuele geheue, posisie in die ruimte en lateraliteits oefeninge.

Maak ook assosiasies op…’n kollega gebruik ‘n swaan vir 2, ‘n beertjie wat sit vir 3 (die boonste krul is die kop en die onderste vorm die lyf en voete wat alles van die kant af gesien word)…Druk die syfers in die regte font en teken dan die prente om die swart syfer sodat dit nie toegeteken word nie.

Maak ook groot robotkaarte van die syfers:  Druk die syfer groot in swart.  Plak ‘n groen kol waar ons begin skryf en ‘n rooie waar ons stop.  Trek dit oor met plastiek of lamineer die bladsy.  Die kind kan nou na hartelus met die karretjie (vinger) hieroor “ry”.

Skryf die syfer met die vinger in los sand, in meel, in suiker (en lek sommer die soetigheid af), met ‘n nat kwas op sement, teer, ‘n skryfbord…

Skryf die syfer met gom en strooi poeier, sand, blinkertjies, poeierverf…daaroor.  Gebruik gerus hierdie idees (betrek bv. klei).

Skryf die syfer liggies (of druk in grys of ‘n ligte kleur).  Die kind kan nou die lyn met

  • stempeltjies druk of vol plakkertjies plak.
  • waterverf en ‘n dun kwassie / vinger volg (verf).
  • ‘n dik vetkryt, pastel volg en met verdunde voedselkleursel verf.

Dis belangrik dat die kind nie net die syfer kan skryf nie, maar ook kan verstaan.  As hy byvoorbeeld 2 skryf, moet hy 2 prentjies by teken.  As hy 5 skryf, moet hy 5 prentjies byteken.

Doen slegs een syfer of getal per keer en moenie syfers wat byna eenders is direk na mekaar aanleer nie.  6 / 9, 4 / 7, 5 / 2 en 3 / 8 kan verwarring skep.

Die internet is vol taakkaarte, maar ‘n mens moet ook versigtig wees dat die syfers nie “verkeerd” is nie.  Teachers Pet se skrif is die naaste aan korrek.

Loer gerus na die dokumente “syfers” en die robotkaarte (drukbare bladsye).

Muurkaarte (syfers en enkelklanke)

Syferkaarte (sien prente)

Syfers

Robotkaarte

Spikkelskrif

‘n Syfer video. [Op die Tiny Tap toep/app]

Screen Shot 2015-03-23 at 19.33.12