Druk dit op stywe wit, rooi, groen of selfs gewone bruin karton.
‘n Mens kan ook die kaartjies op wit papier druk, dit bo-op karton spasieer – met ‘n kleur randjie of raampie – en dan ‘n gat bokant die wit papier pons.
Knoop die kaartjie met gewone verpakkingstou of laplint om die geskenk vas.
Vir ander Kersfees idees kan jy soekterme soos “Kersfees” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in tik.
Dit is oogsorgmaand. Hoe ingelig is jou klas se ouers? Kry ‘n spreker of ‘n uitdeelstuk om beide ouers en opvoeders beter in te lig. Daar is oogkundiges wat kinders se oë gratis toets. Maak ‘n lysie en voeg die besonderhede by.
Die laaste kwartaal het aangebreek! Ek hoop jy kry verrassings soos ‘n dankie aan die einde van ‘n lang skooldag, ‘n verrassingsblom of -briefie, ‘n pouse met ‘n paar minute ekstra, ‘n stroopsoet klas, nuwe hulpbronne vir die klas, ‘n verrassingsbesoek van iemand wat stories kom lees of die kinders iets leersaams kom vertel…of ‘n lekker koppie koffie sommer net. 😉 Mag die laaste kwartaal gladder verloop.
Gebruik hierdie week om die mooiste rympies en storieboeke te lees.
Soek spesifieke klanke in die storie of rympie (bv. woorde met ‘n oo of ‘n oe) en skryf dit neer. Hoeveel woorde kan julle kry? Kan julle sinne met dié woorde maak? Plak die lyste teen die muur op en kyk of julle dit later in speletjies soos Junior Scrabble kan gebruik.
Skryf nuwe of onbekende woorde uit die stories en rympies neer. Vind uit wat dit beteken.
Skryf kort beskrywings oor jou gunstelingboeke neer en illustreer dit. Stal die boeke dan saam met die beskrywings uit, om die ander klasmaats te interesseer.
Neem foto’s van kinders saam met hul gunstellingboeke. Druk dit (selfs swart op wit) en stal dit in die gange uit. Gebruik slagspreuke soos “Ja! Dié boek is in ons biblioteek.”
Stel leeslyste vir verskillende graadgroepe op en plak dit in die biblioteek op. Só kan die leerders boeke op hul eie graadvlak soek.
Maak boekmerke vir ander klasse en deel dit as Lenteweek geskenke uit.
Maak ‘n leesfoontjie sodat die outjie na sy eie stemtoon en uitspraak kan luister. ‘n Mens kan ‘n toestel aanskaf of self maak.
Tik gerus soekterme soos leesen boekby die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees. Probeer klank, hersien, abc, sigwoord, dubbelklank…vir taal idees.
Hoe kan ‘n mens Graad 1’s met getallyne help? Ongelukkig is daar min getallyn voorbeelde in Afrikaans beskikbaar. Loer egter gerus na die Engelse opsies.
‘n Belangrike aspek om te onthou is dat die outjie moet kyk na die rigting waarin die getalle styg of daal. Loop die getallyn van links na regs? af? op? (Dink aan ‘n termometer.) Begin by ‘n gegewe getal en tel dan terug/aan (plus/minus). Speletjies soos “slangetjies en leertjies” help om hierdie konsep te ontwikkel en dan kan ‘n mens natuurlik ‘n liniaal inspan as plaasvervanger as die regte opsie ontbreek. Kyk na ‘n kalender en probeer om dit as ‘n getallyn te gebruik.
Wanneer ‘n mens na vrugte en groente kyk, kan ‘n mens dit bespreek en sorteer volgens hoe hulle groei (aan ‘n boom, ‘n rank, in die grond, aan ‘n bos…), hoe dit geëet word (gaar, rou, in ‘n slaai, wiggies, gedroog…), kleur, grootte…
Watter tipe vrugte kry ‘n mens? (bv. tropies, sitrus, bessies…)
Kan jy ‘n reënboog vol kleure eet? Watter vorms is die vrugte? Sommige vrugte lyk soos druppels – ander soos sterre. Party het punte – ander het stekelrigheid. Watter vorms sien ek in die vrugte as ek dit oop sny? (driehoekige wiggies/segmente, ronde sade/korrels, ovaalvormige sade)
‘n Mens speel nie met jou kos nie, maar watter kreatiewe idees kan jy gebruik om ‘n gesonde bord te skep? Gee vir die outjies opsies op ‘n vrugtebord en ‘n lappie om die hande skoon te hou.
Sny vrugte soos druiwe lengtegewys in die helfte om wurms te bou op die bord. As die outjies klein is, kan jy ‘n gidslyn op die papierbord teken – waarop die outjie kan bou.
‘n Mens die halwe korrels as blare in bome gebruik en takke van pretzel- of vrugtestokkies maak.
Maak vrugteslaai volgens die tipe vrugte van die dag.
Maak vrugtedrankies (smoothies).
Sny die vrugte in kleiner stukkies en sorteer dit op ‘n groot bord…of gee koekdrukkers om vorms uit te druk. Maak sosaties volgens patrone.
Kan ‘n tannie of ‘n mamma vir die outjies wys hoe om ‘n eenvoudige konfyt te maak? Eet dit later saam met klein panne- of plaatkoekies.
Maak vrugte-ysies. Skryf die outjie se naam op ‘n roomysstokkie, steek die roomysstokkie in ‘n houertjie met sap en bessies van sy/haar keuse. Vries en bedien teen die einde van die dag.
Sny dun skywe of snye vrugte. Knyp dit aan ‘n vislyn of gespande tou vas. Laat die outjies na die verskillende teksture en kleure loer. As jy wil, kan ‘n mens ‘n lig agter die vrugte skyn. Dit mag gou verlep, dink dus aan ‘n plan om die vrugte koel te hou.
Maak verskillende kleure klei. Watter tipe vrugte kan ‘n mens met daardie kleur (bv. pienk, rooi, groen, oranje, geel, pers) maak?
Woorde