Tuis

November

2 Kommentaar


November is ‘n maand waartydens ons aandag aan boelieteenkamping skenk. In ander wêrelddele, word boelieteenkampingsweek vanaf die 10de tot die 14de of van die 17de tot die 21ste gevier. Ons kan oor die hele tydperk op die onderwerp fokus.

Praat gerus oor bullebakkery op die skoolgrond, op selfone en op die internet. Hoe lyk dit, hoe beskerm jy jouself en hoe kan ons ander help?

Op Wapenstilstandsdag onthou ons almal wat vir ons vryheid geveg het. Hou ‘n oomblik van stilte om 11:00vm op die 11de dag van die 11de maand.

Op die 13de dink ons aan idees om goedgesindheid aan ander to openbaar. Watter klein gebare of take kan ‘n glimlag veroorsaak of hulp bied? Daar is soveel gratis dingetjies wat ‘n mens kan doen, mooi woorde wat ‘n mens kan deel…Wat kan ‘n mens in die klas en in die skool doen om mekaar te ondersteun en wat kan ‘n mens in die gemeenskap doen? Oulike kindertekeninge en ‘n handgeskrewe kaartjie is altyd ‘n wenner.

Op Kinderdag fokus ons op alles wat kindwees lekker maak. Loop kaalvoet, eet roomys, eet lekkers, teken springblokke buite (hop scotch), sing saam, spring tou, speel speletjies, knap die speelterrein op, haal ekstra speelgoed uit vir pouse en herinner die outjies aan hul regte. Vanjaar se tema is ”my dag, my regte”.

Kort na hierdie spesiale dag, vier ons die 16 dae van aktivisme teen geweld (op vroue en kinders). Dra ‘n wit lint tydens hierdie tydperk (25ste November tot die 10de Desember) of kies ‘n spesifieke dag waarop die hele skool wit klere dra ter bewusmaking van die 16 dae.

Vir diegene wat idees in verband met assesserings soek, loer gerus na studietegnieke hier en voorbeelde van assesserings hier. Mag dit ‘n mooi maand wees.

Oktober

Lewer kommentaar


Tydens Oktober vier ons steeds Oogsorgmaand. Dit is ook Soktober – ‘n maand waartydens ons sokkies insamel vir minderbehoeftiges.

‘n Gelukkige Onderwysersdag aan al die opvoeders. Mag die volgende kwartaal baie suksesvol wees.

Oktober is ‘n maand waartydens ons ekstra aandag aan ons kennis van Disleksie (‘n spesifieke lees- en spelprobleem) skenk. Afhangende van waar jy woon, word daar beraam dat 10% tot 20% van samelewing ‘n vorm van ‘n lees- of spelprobleem het. Dra rooi om jou ondersteuning op die 8ste te wys.

Probeer gerus om met ‘n toep soos Google Lens ‘n foto van ‘n bladsy te neem en gebruik dan die vertalingsopsie om na die teks in Afrikaans te luister. Ek leer nog hoe om die spoed van die stem te verstel, want dit klink vreemd 😊

Oktober is ook die maand ter bewusmaking van Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie vorme. Dit word in verskillende gevalle gebruik – veral wanneer die outjies sukkel met kommunikasie. In my geval, is ‘n iPad met toeps soos Proloque2Go of TouchChat ‘n vorm waarmee sommige outjies met Outisme met meer gemak kommunikeer.

Daar is onlangs Afrikaanse woorde by die Suid-Afrikaanse toeps gelaai. Lees gerus meer daaroor.

Onthou om jou Oupa en Ouma op die eerste Sondag te bel en indien jy vergeet het, skakel sommer weekliks.

Op die 10de kyk ons ‘n bietjie dieper na Geestesgesondheid en kyk ons ook net so ‘n bietjie beter na ons eie gemoedsrus. Neem ‘n blaaskans en probeer om iets te doen wat jou gelukkig maak.

Samel gerus geld nie vir nuwe woordeboeke of stof die oues af vir klas gebruik. Alle voorspoed met die nuwe maand ☺️

Mei gedagtes

Lewer kommentaar


Geniet die ekstra ruskans te midde van al die vakansiedae.

Afrikaans is vanjaar amptelik 100 jaar oud. Dit is waarskynlik baie ouer, maar word tans 100 jaar amptelik erken. Loer gerus na die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument se inligting en ook na die SBA, Afrikaans100 en die Afrikaanse Taalraad. Kan julle (as ‘n skool) 100 verskillende idiome voorstel, soos 100 verskillende storieboekkarakters aan trek, 100 nuwe Afrikaanse boeke aanskaf of 100 Afrikaanse boeke lees? Kan julle 100 nuwe woorde in die woordeboek ontdek? Hoeveel R100’e kan ons aan woordeboeknavorsing en -uitbreiding skenk?

Moedersdag word op Sondag, 11 Mei, gevier. Maak gerus spesiale kaartjies of kunswerk om Vrydag huis toe te stuur.

Op die 18de, vier ons Museumdag. Reël gerus ‘n uitstappie en hoor of daar spesiale toelatingsfooie op hierdie besonderse dag is. Leer oor die museums in jul dorp of stad en deel brosjures met die klas.

Wêreld Bye Dag word op die 20ste gevier. Hoekom wil ons bye beskerm? Het jul skooltuine genoeg blomme of kan ‘n mens blomme plant om by (en ander bestuiwers) te lok?

Afrikadag is ‘n dag om alles wat mooi is aan ons kontinent te vier. Die diere, die natuur, die klimaat (die aardrykskundige aspekte), die weer en die mense.

Op die 28ste gaan ons Speeldag vier deur soveel as moontlik te speel.

Ons vier Hemelvaart op die 29ste Mei. Loer gerus hier na velerlei werksvelle en les idees.

Dra jou pantoffels op die 30ste ten bate van siek kinders en Reach for a Dream.

Kinderbeskermingsweek duur van die 29ste Mei tot die 5de Junie en ons word aangemoedig om iets groens te dra. Hersien gerus die noodnommers en kinderregte.

Maart

Lewer kommentaar


Versier t-hemde met boekvoorblaaie of gunstelingboekkarakters.

Spandeer op die 8ste Maart ‘n bietjie meer tyd om die dag vir die vroue (of meisies) in jou lewe interessant en lekker te maak. Nooi iemand vir koffie, deel blomme uit of gaan kuier by iemand wat soms eensaam is.

Fokus op velerlei wiskundige konsepte op Wêreld Wiskunde Dag. Skep stasies waar die outjies met sakrekenaars, vorms, werksvelle, tablette (toeps/apps), ensovoorts hul kennis kan verbreed.

Op die 20ste, dink ons aan mense, dinge en oomblikke wat ons gelukkig maak. Hoe kan jy ander se dag ophelder?

Dra op Downsindroomdag prettige sokkies of geel en blou klere. Leer ‘n bietjie meer en lees stories aan die klas voor.

Hersien vandag die verskillende Menseregte en bespreek die Kinderregte (Engels) ook. Waarom is Kinderregte so belangrik?

Hoe bespaar julle water by die skool en by die huis? Hoe kan ‘n mens ander help wat met watersnood worstel?

Ons vier Earth Hour op die 22ste Maart. Beplan ‘n speletjiesaand of ‘n braai by kerslig 😊

Biblioteekweek val so saam met die einde van die eerste kwartaal – ‘n ideale tyd om assesseringsdae met leeswerk af te wissel. Is dit tyd om julle biblioteek op te knap of ‘n fondsinsameling te hou? Skep dalk ‘n tema vir Biblioteekweek. Hou dan inkleurkompetisies, stal boeke oor die tema uit, versier die gange en deure volgens die tema en trek volgens boekkarakters aan.

Dra pers op die 26ste Maart en kom meer te wete oor Epilepsie – veral die soorte wat in jou skool voor kom.

Februarie

2 Kommentaar


Luidleesdag is om die draai. Haal gerus interessante leesstof byderhand (bv. storieboeke, advertensies, tydskrifte, gedigte, lirieke, flitskaarte, opskrifte, ens.). Wat is die oudste boek op die rak? Het julle nog plate, kasette of kompakskywe met lirieke in die omhulsels? Lees ou verjaarsdagkaartjies, poskaarte en briewe. Skryf ons nog so? Lees boodskappe op boekmerkies, stal voorblae (afskrifte of die los omslae) uit of plak die leesstof teen die dak en mure in die skool se gange. Hoe het ‘n spesifieke storie se omslae deur die jare verander? Dink sommer net aan boeke soos ”Heidi”.

Die Biddag vir Onderwys en Opvoeding is vanjaar op die 9de Februarie. Bid gerus voor of na die dag by die skool.

Op Internetveiligheidsdag kan ons die skool se internet opknap en ook met die kinders oor internetveiligheid gesels. Waarom beskerm en verander ‘n mens wagwoorde gereeld en hoe kan ‘n mens jouself en jou toestelle beveilig? Het jul skool selfoonreëls en is daar ‘n beleid vir die veilige gebruik van die internet by die skool?

Die Internasionale Dag vir Vroue in die Wetenskappe word op die 11de Februarie gevier. Ken jy van hierdie dames en hoeveel artikels of boeke kan jy oor dames in die veld lees? Deel gerus jou kennis met ander.

Fokus op vriendskap en mooi wense op Valentynsdag.

Dink aan idees om iemand anders se dag op te helder. Hoe kan ‘n mens medemenslikheid of buurmanskap betoon? Loer gerus hier na velerlei idees.

Op Moedertaaldag vier ons die tale wat ons elkeen in die skool praat. Kan jy iemand in sy of haar moedertaal groet?

Die eerste Disney Pinocchiorolprent is op die 23ste Februarie 1940 bekend gestel. Ken jy die Afrikaanse reeks of Mynie Grové se temaliedjie?

Op die 26ste dra baie lande pienk hemde om ‘n bewusmakingsdag teen bullebakkery te ondersteun. Dit word gedoen na aanleiding van ‘n seun wat gespot is omdat hy ‘n pienk hemp gedra het.

Stal sprokiesboeke uit, trek soos karakters uit ‘n sprokiesverhaal aan en spandeer oomblikke gedurende die dag om na sprokiesverhale in Afrikaans en Engels te luister.

Januarie 2025

2 Kommentaar


Winnie the Pooh dag word op die outeur, AA Milne, se verjaarsdag gevier: die 18de Januarie. Luister gerus na ‘n luisterboek, kyk ‘n storie, kleur prente in of lees ‘n Winnie boek.

Skrifdag word elders op die 23ste Januarie gevier. Oefen gerus hoe om patrone te trek, hoe om ‘n goeie potloodgreep te hê of hoe om afsonderlike letters (lopende skrif, drukskrif) en syfers te vorm. Loer gerus na idees in verband met fynspier of handspier ontwikkeling. Meer idees is hier aan die regterkant (onder die verkorte inhoudsopgawe) gelys.

Op die 28ste vier ons Lego dag. Soek gerus na al die blokkies in jou kas en speel soveel as wat jy wil.