20 Maart 2014
Juffer
afrikaans
biblioteek, boek, lees
23 April is Wêreld Boeke Nag.
- Hou ‘n Gesinsaand. Nooi gesinne na die biblioteek met die belofte van sagte kussings, koffie, warm sjokolade en malvalekkers. Hou uitstallings van die skool se nuutste biblioteekboeke en lees vir mekaar.
- Nooi die ouers om saam na nuwe moontlikhede te kyk en om saam om oulike boeke vir die klas of biblioteek te besluit. Los kleingeld kan dan aangewend word om boeke names die klas aan te skaf en aan die biblioteek te skenk.
- Skryf ‘n klasboek met behulp van die kinders en ouers. Neem foto’s ter illustrasie en bind die boek.
- Verf, versier en organiseer die boekrakke.
Moontlike…
Boekmerkies om te druk:


Plak in geskenkte boeke:


boeknag
Tik ook soekterme soos boek, biblioteek, lees, boekmerk…by die bruin soekblokkie in vir soortgelyke idees.
5 Maart 2014
Juffer
afrikaans
biblioteek, fonds, fondsinsameling, lees

- Hou ‘n muntlegging om boeke vir die biblioteek te kan aankoop. Pak dit in vorms, rye, patrone, letters, woorde of embleme. Skryf die vorms of simbole met bordkryt op teer of maak los papierweergawes. Kies ‘n spesifieke munttipe (soos 5c of 10c) om te versamel vir die dag en pak dit.
- Betaal 50c om te raai hoeveel boeke daar in die skool se biblioteek is. Koop boeke met die fondse en gee vir die wenner(-s) ‘n boekprys.
- Maak advertensies en prente van die klas se gunstelingboeke.
- Gee vir die kinders karton om boodskappe, reëls en flitskaarte vir die leeshoek of boekrak te skryf (bv. Gunstelinge, Nuut, Mees genotvolle boeke, Engels, Afrikaans).
- Vir Graad R en 1
- Ek het nog ‘n boekmerk wat ons in Graad R gemaak het – rafia en ‘n geruite iets met groot gate. Ons het groot, stomp naalde gebruik. Gebruik verskillende kleure en help die kinders om die rafia te ryg. ‘n Lekker lang boekmerk sal goed in kinderboeke werk.
- Ek hou nogal van die idee om volgens ‘n spesifieke beginklank te werk. Dalk kan ‘n mens klinkerprente maak. Gebruik akkerdoppies of halwe appels om verfdrukwerk op ‘n A4-vel papier te maak (patrone van herhalende kleure). Trek bv. ‘n groot a op ‘n x-straalplaat af en laat die kinders dit aftrek en uitknip. Plak die a dan bo-op die agtergrond. Herhaal met ander klanke en versier die aansteekbord met al die letters. (Sien die alfabetrympies vir idees.)
- Doen drukwerk met magneetletters (soek die korrekte Graad 1-letters). Gebruik dikkerige bont verf op bruin of swart papier of selfs bleikmiddel (gebruik groot, plastiek voorskote) op suikerpapier. Gebruik dit vir ‘n agtergrond, die kennisgewingbord of as die buiteblad van ‘n self gemaakte boekie.
- Maak soutklei en laat die outjies self ‘n stukkie plat druk (nie te dun nie). Gebruik hoofletter- en kleinlettermagnete as drukkers of soek alfabet koekiedrukkers om die kleingoed se name uit te druk. Gee voorbeelde van die name op papier, sodat die spelling korrek is. Druk die drukkers/magnete eers op ‘n inkkussing en dan in die klei. Só, gee dit ‘n mooi effek. Pons ‘n gat in een hoek of beide en hou dit as ‘n geskenk vir Moedersdag.
- Gee ‘n basiese alfabetkaartjie (plak op die tafel) en ‘n bak vol los letters op die kleispeltafel. Die outjies sal dan self met die klanke en letters kan speel. Die alfabetkaartjie sal help om te verseker dat die letters reg geplaas word.
- Bak en brou:
- Kies ‘n eenvoudige koekieresep. Druk letters, name of “boek” in die deeg en bak.
- Kies ‘n eenvoudige koekieresep. Druk ‘n koekie met enige koekiedrukker uit. Plaas die koekiedrukkerletter (waarmee die outjie se naam begin) liggies bo-op en vul met “hundreds and thousands“. Druk dit liggies met ‘n stomp voorwerp vas en lig die vormpie af. Bak soos normaal.
- Doen drukwerk met lapverf op ‘n tafeldoek, lapsakke of kussings vir die klas. Gebruik die sponsletters in “matteëls” of magneetletters.
This slideshow requires JavaScript.


2 Maart 2014
Juffer
afrikaans
lees, luidlees

This slideshow requires JavaScript.
5 Maart is Luidleesdag. Lees stories, nuus en rympies vir mekaar…dalk op Skype?
23 Februarie 2014
Juffer
afrikaans
boeke, Boekedag, lees

6 Maart is Wêreld Boekedag en vanjaar is daar vele ekstra idees om in die klas te probeer.
- Verdeel die klanke wat reeds aangespreek is (hetsy enkel-, dubbel-, twee- of drieklanke) en laat die kinders volgens die klanke aan trek – bv. a vir appel, akkers, anker, aartappel, b vir bal, bok, ballonne. Sien alfabet rympies vir inspirasie.
- Kies ‘n boek per klas. Elke klas trek dan volgens die boekkarakters aan en versier die klasdeure. Neem foto’s en versier die gangmure, biblioteek of kennisgewingborde om die boeke aan ander bekend te stel. Onthou om die titel by te voeg.
- Druk of maak boekmerkies om uit te deel.
Kies en spasieer verskeie boekmerkies op ‘n A4-bladsy.


1 September 2013
Juffer
afrikaans
boek, lees

Gebruik hierdie week om die mooiste rympies en storieboeke te lees.
- Soek spesifieke klanke in die storie of rympie (bv. woorde met ‘n oo of ‘n oe) en skryf dit neer. Hoeveel woorde kan julle kry? Kan julle sinne met dié woorde maak? Plak die lyste teen die muur op en kyk of julle dit later in speletjies soos Junior Scrabble kan gebruik.
- Skryf nuwe of onbekende woorde uit die stories en rympies neer. Vind uit wat dit beteken.
- Skryf kort beskrywings oor jou gunstelingboeke neer en illustreer dit. Stal die boeke dan saam met die beskrywings uit, om die ander klasmaats te interesseer.
- Neem foto’s van kinders saam met hul gunstellingboeke. Druk dit (selfs swart op wit) en stal dit in die gange uit. Gebruik slagspreuke soos “Ja! Dié boek is in ons biblioteek.”
- Stel leeslyste vir verskillende graadgroepe op en plak dit in die biblioteek op. Só kan die leerders boeke op hul eie graadvlak soek.
- Maak boekmerke vir ander klasse en deel dit as Lenteweek geskenke uit.
- Maak ‘n leesfoontjie sodat die outjie na sy eie stemtoon en uitspraak kan luister. ‘n Mens kan ‘n toestel aanskaf of self maak.
Tik gerus soekterme soos lees en boek by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees. Probeer klank, hersien, abc, sigwoord, dubbelklank…vir taal idees.
18 Augustus 2013
Juffer
afrikaans
Geletterdheidsdag, klanke, lees

Internasionale Geletterdheidsdag word op 8 September gevier, maar omdat dit vanjaar op ‘n Sondag val gaan ons dit ook op die 9de vier.
Lees ‘n bietjie meer op dié dae, hersien die klanke of speel woordspeletjies.
Loer gerus na Lees 1, Leeslyste, Biblioteek idees, Motivering, klanke, hersien klanke, flitskaarte…

5 Maart 2013
Juffer
afrikaans
lees, luidlees

6 Maart 2013 is Luidleesdag en ‘n mens kan dié dag gebruik om lees aan te moedig. Kyk hoe wys hierdie onderwyser nuwe boeke aan sy leerders en hul ouers. Sou dit moontlik wees om ‘n soortgelyke opname vir jou skool se webtuiste te maak?
- Staan 20 minute vroeër op om ‘n gediggie of ‘n kort storie voor te lees.
- Lees die begin van ‘n nuwe storie vroeg oggend voor en los die lekkerste deel vir die 10 minute voor huis-toe-gaan-tyd.
- Laat die kinders vir mekaar lees (paarlees).
- Lees of speel ‘n storie oor die interkomstelsel.
- Maak ‘n skoolopname van ‘n gunstelingboek. Só sal ‘n mens kort-kort wil loer na bekendes se opnames.
- Laat die outjies buiteblaaie vir ‘n boek teken (ontwerp) en uitknip of knip ‘n prent uit. Neem ‘n foto van elkeen met ‘n boek en plaas die foto agter die boek. As jy nie foto’s wil neem nie, kan die outjies selfportrette teken.
Tik gerus soekterme soos lees by die bruin soekblokkie aan die regterkant in – vir nog idees.
20 Desember 2012
Juffer
afrikaans
Graad 6, Graad 7, Grondslagfase, kompetisie, lees, vakansie

Is die kleingoed al verveeld en soek jy nog ‘n laaste geskenkie vir die Kerskous? Loer gerus na hierdie leeslyste vir verskeie storieboeke.
9 Desember 2012
Juffer
afrikaans
Ander, biologie, engels, kuns, lees, natuurwetenskap, supernova, tegnologie, tieners, vakansie, wetenskap

Dis die einde van die jaar en die begin van ons sonskyn vakansie. Indien jy van nuuskierige navorsertjies weet, kan hierdie tydskrif dalk net die regte leesstof bied.
Supernova is ‘n engelse tydskrif – gemik op kinders van sowat 9 tot 14 jaar oud. Dit is ‘n kleurvolle tydskrif – gedruk op papier wat nie sommer sal frommel nie en behoort in leeshoekies en skoolbiblioteke te hou. Die twee uitgawes wat ek onder oë gehad het, bevat oulike inligtingstukkies oor omgewingsake (soos herwinning en klimaatsveranderinge), artikels oor die ruimte, strokiesprente, die kunste (bv. ballet en kunsbewegings) en biologie (bv. parasiete, simbiose). Dan is daar verskeie “maak jou eie” en “hoe om ‘n … te maak” inskrywings vir outjies wat graag dinge wil maak en boonop kan skole én leerders pryse in die kompetisies wen.
Gaan loer gerus na Supernova se webtuiste vir verdere besonderhede.
26 Julie 2011
Juffer
afrikaans
Ander, lees, tuis, tuisonderwys, wiskunde

Die Rots Reeks is ‘n program wat julle tuis kan volg om aandag aan lees en wiskunde te gee. Besoek gerus hulle webtuiste vir meer inligting.
2 Mei 2011
Juffer
afrikaans
aanmoedig, beloon, lees, luister, motiveer, oefen

Iemand het idees gevra om luierige lesers te motiveer om meer te lees. Vir lui lesers kan ‘n mens ‘n beloningskaart maak – ‘n basiese almanak-uitleg met groterige blokke (tik “kalender” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in). Op Grondslagfasevlak kan boekies redelik vinnig gelees word. Maak ‘n kolletjie vir elke boek wat klaar gelees is – nadat julle ‘n paar begripsvragies gevra het – en besluit op ‘n prys. As die outjie byvoorbeeld 10 boekies gelees het, kry hy / sy ‘n plakkerboekie, ‘n mooi skryfblok of kan julle ‘n DVD huur.
- Skryf kort notatjies vir die kosblik.
- Plaas ‘n bestelling vir ‘n toebroodjie en skryf die bestanddele neer (as dit iets soos ham en tamatie bevat, kan jy die snye vooraf in bakkies bêre om die proses makliker te maak).
- Webwerwe soos TwistyNoodle het inkleurprente waarby jy jou eie sinne en woorde kan tik en druk. Maak ‘n inkleurboekie vol sinne om “toevallig” te lees. As ‘n paar vriendinne sulke boeke saam stel, kan ‘n mens weekliks ‘n ander boekie maak en uitruil.
- Bak en brou saam of besluit op ‘n ete. Gaan dan saam deur die koskaste en stel ‘n inkopielys saam. By die winkel kan die outjie die benodigdhede lees en tuis kan hy / sy die resep ‘n paar maal nagaan om seker te maak dat julle alles gebruik het en dat die stappe reg gevolg is.
- Soek telefoonnommers in ‘n telefoongids op. Maak dit op die regte bladsy oop en vra vir hom / haar om ‘n oom of tannie se nommer op te soek. Julle kan dalk ‘n paar nommers in die huis se eie telefoonboekie nagaan – om “seker te maak dat alles nog reg is”.
- Blaai deur foto-albums en lees sommer so saam-saam die byskrifte. Die inligting is relevant tot die outjie se familielewe en behoort hom / haar te interesseer.
- ‘n Koppie koffie of “hot chocolate” kan ‘n lekker verskoning wees om te lees terwyl die beker afkoel.
- Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet waarin daar gelees word. As die outjie regtig teësinnig is, kan julle die wekker stel en saam lees. Maak beurte – een bladsy vir jou en een vir my.
- Soek gerus na ou luister- en leesboekies in die biblioteek. Ladybird het soms sulke kombinasies Storieman is selfs nou op Storierak beskikbaar.
- Maak julle eie storiekassette. Neem stories of gediggies op bandjies, die rekenaar of ‘n selfoon op. (Stuur gerus vir my. Ek luister graag!)
- Gebruik selfs die lirieke van liedjies en neem die outjie op terwyl hy / sy sing – so op ‘n kamma Idols-manier.
- Maak ‘n klein, spesiale leeshoekie met ‘n sagte kussing, ‘n leeslig en ‘n houer vir boeke. Die beste opsie sal altyd natuurlike lig (na aan ‘n venster) wees.
Sterkte met die res van die kwartaal!
19 Maart 2011
Juffer
afrikaans
biblioteek, boeke, Dewey, lees, mediasentrum

Biblioteekweek is weer hier en duur van 22 tot 26 Maart.
- Doen ‘n bietjie boek opvoeding, spreek die versorging van boeke aan en kyk na aspekte soos die “regte en verantwoordelikhede” van ‘n leser. Noem aspekte soos die Dewey-stelsel en verduidelik aan die outjies dat die boeke in afsonderlike groepe gepak word om navorsing te vergemaklik. Dalk kan die outjies in groepe verdeel en kaartjies maak om die verskillende Dewey-afdelings aan te dui. Dit kan ‘n lekker kleurvolle muur-collage word. Gebruik sommer swart veselpenne (koki’s), pastelle en helderkleurige voedselkleursel om die vaal syfers op te kikker.
- Maak ook boekmerkies met die Dewey-stelsel daarop en versier dit met oulike inkleurprentjies. Dit kan sommer saam geneem word biblioteek toe en help met die kies van boeke.
(dewey-boekmerk-uitleg)
12 Oktober 2010
Juffer
afrikaans
Boet en Saartjie, Goue Reeks, lees, leesreeks, Nasou, Nasou via Afrika

Ek het al vergeet van die GOUE REEKS totdat iemand my weer daaraan herinner het. Die boeke is aanlyn beskikbaar.
17 September 2010
Juffer
afrikaans
Ander, Boek Buddies, drama, lees, opvoedkundige teater

Lizé Crouse van Boek Buddies het vir my die volgende inligting gestuur. Lees dit gerus en kontak haar direk indien jy of jou skool belangstel. (lizecrous@hotmail.com)
Boek Buddies Produksie is geskep n.a.v die behoefte om lees in Afrikaans te bevorder. Die feit dat kinders minder lees is egter ‘n groot kommer vir talle ouers en onderwysers.
Hoe kan ons dan weer die belangstelling vir lees by kinders kweek? Boek Buddies beeld boeke fisies uit deur middel van drama!
Boek Buddies bestaan uit ‘n groepie professionele akteurs wat kinders d.m.v. drama aanmoedig om meer te lees. Ons neem uittreksels uit verskillende ATKV-kinderboektoekennings boeke en voer dit in ‘n interessante en energieke manier op wat die leerlinge se belangstelling sal prikkel. Ons voer egter nie die hele boek op nie, want ons wil die leerlinge aanspoor om self die boeke klaar te lees. Boek Buddies laat die karakters in die boeke lewendig word en die leerders kan met die karakters identifiseer wanneer hulle die boeke weer op hul eie lees. Ons wil ook graag die leerlinge en skole aanmoedige om aan die ATKV-Kinderboektoekennings deel te neem. So bemark ons nie net die Afrikaanse taal nie, maar ons wys vir kinders dat lees lekker kan wees!
5 Augustus 2010
Juffer
afrikaans
afrikaans, boeke, Boekedag, lees, onderrig, onderrigmedium, onderrigtaal, taal, taaldag
Die 14de is Koop-‘n-boek-dag. Doen asseblief iets om ‘n liefde vir lees en vir tale aan te moedig.

- Hou ‘n leesuur. Laat almal toe om ‘n kussing of kombers te bring en lees die kleingoed se gunstelingboeke voor…of
- kry iemand uit die gemeenskap om die boeke te lees.
- Laat die kleingoed kreatiewe stories skryf en bind dit in groot boeke. Maak ‘n paar afskrifte, versier met kleurvolle kinderkuns en skenk dit aan gemeenskapsentrums (wagkamers, ouetehuise…). Tydskrifte is mos tog te vervelig! 😉
- Laat die kleingoed ekstra oulike stories skryf, versier die blaaie en plak dit in die gang op sodat ander maats dit in die verbygang kan lees.
- Vra die opvoeders om stories te skryf en bind dit in ‘n klein boekie (‘n A4-vel voor en agter , wat in ‘n A5-grootte gevou word is voldoende).
- Vra die Intersen personeel om vir die kleintjies te lees en die Grondslagfasepersoneel om vir die ouer kinders te lees. Die groottes verlang mos na die juffrouens en die kleintjies sal “groot” en “belangrik” voel as meneer so-en-so vir hulle kom lees.
- Kies ‘n tema per klas, skryf kreatiewe stories daaroor, versier die klas volgens die tema en trek daarvolgens aan. Kies een storie per klas om vir die ander klasse voor te lees. Volg dan die Vrydag, die 13de, ‘n leesprogram waar die klasse vir mekaar lees – binne die graad of fase. Die “gehoor” luister na ‘n leser terwyl die hele klasse op die verhoog is vir ondersteuning.
- Hou ‘n muntlegging vir nuwe biblioteekboeke…of
- verkoop Milo by die leesuur.
- Besoek ‘n literêre instelling soos die Taalmuseum.
- Kry ‘n spreker soos ‘n skrywer van kinderboeke om te gesels oor die lekkerte van lees.
8 Maart 2010
Juffer
afrikaans, inkleur + aktiwiteite, kinders, klaskamer, lees, ouers, skool, storie
biblioteek, boeke, lees, lees is lekker, leesgenot, motiveer

Dit is Biblioteekweek vanaf 15 tot 19 Maart. Wat kan jy doen om hierdie week te vier?
- Indien jou skool ‘n biblioteek het, kan jy individuele foto’s van die kleingoed (veral Graad R of 1) neem. Die gedagte is dat jy die foto in of voor die biblioteek neem – met ‘n boek of lidmaatskapkaartjie in die hand.
- Druk dit dan op ‘n A4-vel uit (“print” in die middel) en help die outjies om ‘n raam rondom te teken met helder uitdraaikryte of pastelle. Maak letterpatrone, skryf woorde of ‘n slagspreuk (bv. “Ek kan lees.” “Lesers is oulik.”) in die raam. Verf ‘n verdunde voedselkleursel lagie bo-oor en siedaar! Nou kan jy ‘n uitstalling in die gang maak om te wys hoe oulik jou lesertjies is. Blok dit op ‘n aansteekbord of maak ‘n lang lyn (op die outjies se ooghoogte), sodat die ander maats die slim lesers kan raak sien.
- Reël ‘n ouer, ‘n ouma of iemand uit die gemeenskap om oulike kinderboeke vir die kleingoed te kom lees. Die persoon moet darem so ‘n bietjie met gevoel kan lees en weet hoe om met kleingoed te kommunikeer. Wat van ‘n Graad R-juffrou? Die kinders sal dit geniet om hul ou juffrou weer te sien en om met hul uniforms te spog. Dalk kan een van die groter grade se juffrouens kom inloer of selfs die skoolhoof.
- Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n spreker reël. Dalk is daar ‘n kinderboekskrywer of –illustreerder in jou omgewing. Lees van die persoon se boeke en doen ‘n bietjie navorsing. Stel ‘n paar vrae op wat die kinders tydens ‘n onderhoud of vraag-antwoord sessie moet beantwoord.
- Maak julle eie boeke en plaas dit in die klas se leeshoekie / bibliotekie – vir die hele klas se leesgenot. (Bv. My boekie oor vorms. My boekie oor sjokolade. My boekie oor die skoolhoof. Juffrou se boekie oor dinge waarvan sy hou.) Kry dan ‘n ander opvoeder om die boekies te lees. Dit behoort ‘n aardigheid te wees vir die kleingoed 😉
- Ouer grade kan vir die kleintjies gaan lees of tydens ‘n leesles vir die kleingoed help met hulle leeswerk…
- Wat van ‘n biblioteek “make over”? Die moontlikhede is legio.
27 Desember 2009
Juffer
afrikaans, kind, kinders, klaskamer, lees, skool
boekmerk, lees

‘n Mens is mos altyd op soek na oulike idees – om te maak of om te laat maak. Hoekom dan nie boekmerkies nie?! Dis mos iets om aan die begin van die jaar te maak – om die jaar met ‘n lekker lees gees te begin.
- National Geographic het ‘n oulike webprogrammetjie waar die kind (of juffrou) self ‘n boekmerkie kan maak. Jy kan die prentjie, agtergrond en raampie kies en jou eie boodskap tik.
- Highlightkids het ‘n soortgelyke program. Ontwerp jou eie oulike boekmerkies deur gesiggies, koppe, lywe en voete te pas. Jy kan sommer lekker laf raak as jy wil. Al wat jy dan nodig het is ‘n drukker, ‘n skêr en ‘n lamineermasjien (of ‘n rol breë deursigtige kleeflint).
- Maak boekmerke met ‘n spesiale foto en boodskap daarop.
- DLTK is altyd ‘n wenner en daar kan jy regtig kreatief raak. Ek het die Spongebob merkie daar geskep. Dan is daar ‘n paar oulike merkies op die Family Fun webwerf.
- Kids Kreate het ‘n paar oulike boekmerkies in kleur. Wees kreatief.
- boekmerkbasis
- Boekmerk (drukbaar) – gebruik apart of plak twee merkies rug-teen-rug.
- Engelse boekmerkies is beskikbaar onder “drukbare“-hofie.
- books are magical


14 Desember 2009
Juffer
afrikaans, flitskaarte, huiswerk, inkleur + aktiwiteite, kind, kinders, lees, leesvlotheid
flitskaart, fonemiese bewustheid, hoë frekwensie woorde, klanke, komponente van lees, lees, leesbegrip, sigwoorde, vlotheid

Soos wiskunde, het lees ook verskeie aspekte of boublokke om die leser se vaardighede te versterk. Dit sluit fonemiese bewustheid, leesbegrip, klanke, vlotheid en woordeskat ontwikkeling in.
Fonemiese bewustheid dek die begrip dat ‘n woord uit verskillende dele bestaan. Ek hoor die begin-, middel- en eindklanke…Ek kan ‘n woord verskaf wat rym met…
Klanke is die dele waaruit woorde gebou word: klinkers / vokale, medeklinkers, klanksamevloeiings (br-, -ng, sw-…), dubbelklanke (aa, ee, oo, uu), tweeklanke (ui, oe, eu…) en drieklanke (aai, eeu…). As die leser nie sy klanke ken nie, kan hy nie die woord ontsluit (lees of spel) nie. Dus is ‘n goeie kennis van klanke belangrik.
Vlotheid het te make met die vloeiendheid van lees. Dit steun nogal sterk op die leser se vermoë om dele van woorde en hele woorde met die eerste blik of oogopslag te herken. ‘n Groot hoeveelheid woorde val onder die konsep sigwoorde of hoë frekwensie sigwoorde. Hoe vinniger en hoe meer akkuraat hierdie woorde gelees word, hoe meer vloeiend lees die kind. Vlotheid neem egter hande met sigwoorde én leestekens. Die kennis van leestekens en hul gebruike, maak die leesproses ‘n outomatiese proses. Dink maar net aan jou bestuursvernuf. Jy weet hoe om verkeerstekens en padaanwysings te gebruik sonder om twee maal te dink.
Woordeskat ontwikkeling is ‘n lekker en spesiale oefening wat deurgaans kan plaasvind en sonder veel “stres”.
Gebruik die vakansie om spelenderwys en op ‘n ontspanne manier aandag aan die konsepte van lees te skenk en lees, lees, lees 😆 Koop ‘n boek of ruil uit met ‘n vriendin.
Time4learning is ‘n Amerikaanse webwerf wat ook hier en daar verklarings oor leesontwikkeling oulik voorstel. Gaan loer gerus…
Tik voorts soekterme soos “lees, leeslys, sigwoord, woordeskat, abc, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits…ouditiewe, visuele, ogies, rympies, engels” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in vir verskeie idees.
22 Augustus 2009
Juffer
afrikaans, Graad 1, Graad 2, Graad 3, huiswerk, lees, ouers
ei, eu, klanke, lees, oë, ou, spel, sukkel, tweeklanke, ui

This slideshow requires JavaScript.
‘n Mamma het onlangs ‘n navraag gerig oor die verwarring van tweeklanke. Hiermee dan so ‘n paar gedagtes vir die Graad 2- en 3-outjies wat sukkel met klanke soos oe, ou, eu…
Knip ‘n kolom uit ‘n tydskrif of koerant (in plaas van die hele artikel – wat oorweldigend kan wees) en skryf ‘n spesifieke klank bo-aan. Vra jou kleinding om dan byvoorbeeld net die oe-klank te omkring en om te sê hoeveel hy gekry het. Hy moet die woorde dan netjies oorskryf op ‘n oe-bladsy. Kyk of hy dalk ‘n woord gemis het. As hy almal gekry het en reg geskryf het, kan hy ‘n belonging of klein bederfie kry. (‘n DVD vir die naweek of iets…niks duurs of spandabelrigs nie.) Plak die papier teen ‘n deur vas of iewers waar hy gereeld verby sal stap. Toevallige lees verrig wondere. Skryf vir hom sinne met die woorde (bv. Ek moet die groen boek soek. Die koek lê op die handdoek.) en plak dit by die woorde op. Vra jou kleinding om dit neer te skryf. Julle kan dit sommer in ‘n werkboek doen en dan kan hy iets daarby teken. Boeta kan ook deur ou tydskrifte blaai, oe-woorde uitknip (gebruik opskrifte) en in die boek plak. Maak julle eie flitskaarte – sommer twee stelle. Flits net eers die woorde en speel dan “snap” of ‘n “memory game” (waar die karate onderste bo lê en jy die pare moet omdraai en pas).
Doen eers julle oe-ontwikkeling klaar (vir ‘n dag of drie) en pak dan ‘n heeltemal ander klank aan voordat julle die ou aandurf. Dit keer net dat ‘n mens deurmekaar raak.
‘n Seun wat ek help het sy eie assosiasies gemaak. Hy ken die oe-klank as die oe vir koek. Nou sê hy telkens “oe…koek” (soos een wie se mond water vir ‘n lekker stukkie koek) en ou-nou (“oh no” met ‘n sug) as hy die ou sien. Dit werk om die een of ander vreemde rede vir hom.
Baie kinders verwar die ee– en eu-klanke. Behandel die ee-klanke eers en dan op ‘n volgende keer die eu. ee is ‘n jong outjie en eu is sy ouboet met die diep stem. Ons spreek dit ook onderskeidelik met ‘n normale en ‘n diep stem uit. Die u in eu laat ‘n mens ook dink aan ‘n diep bakkie, daarom spreek ons dit dieper uit. Weereens werk dit nie vir almal nie. Toets dit gerus en probeer alternatiewe metodes. Laat weet ons asseblief as dit werk.
ui en ei…Ek teken prentjies of gebruik clip art. Weereens word die ui dieper uitgespreek as die ei. Behandel elkeen apart (en volg dit op met die y). Dit help om die woorde visueel voor te stel. Ek teken byvoorbeeld ‘n “bakkie” soos die u in ui vir woorde soos tuin en kruiwa. Ek kan suiker in ‘n bakkievormige koppie gooi. ‘n Kruiwa het ‘n bakkie-vorm en as ek ‘n boom wil plant, grawe ek ‘n bakkie-vorm in die tuin. Ek slaan ‘n duik in die deur met my vuis en druk ‘n bakkie-vorm in die modder met my duim. ei staan bekend as die “plat” ei, omdat dit ‘n plat strepie in het. Die trein moet op ‘n gelyke, plat spoor ry en lyk self ook ‘n bietjie plat. ‘n Eiland se waterlyn lyk soos die plat strepie in die e…en so gaan ‘n mens maar voort met jou eie idees.
As ons ei sê trek jou lippe styf of reguit soos die lyntjie in die “e”. As ons ui sê, gebruik ons ‘n dieper stem – wat so diep sak soos die “u” 🙂
‘n Paar lees-lusmakers vir lui lesers: Los gereeld notas op baie sigbare plekke. Bv. teen die kamerdeur: Ek wonder of Jannie sy kosblik in die wasbak gesit het…Ek is trots op jou netjiese kamer…in die kosblik: Ek hoop jy het ‘n lekker dag…Allerhande skriftelike dinge op snaakse plekke gee hom die geleentheid om alleen te lees – sonder die frustrasie van sukkel voor ander. As hy sukkel met sekere aspekte soos die oe-klank, kan jy ‘n koek liggies bokant die woord teken. As hy sukkel om bv. uu en ee as ‘n geheel te lees, kan jy dit onderstreep om die “eenheid” aan te dui. …en natuurlik is lees en leesstof ‘n vereiste, want Juffer sê so 😆 Koekeloer en soek vir ou Storieman-reekse, sodat die lui lesertjie kan luister en volg. Neem stories op – as daar reekse op die radio speel of sommer tuisgemaakte / eie stem opnames. ‘n Mens hoef nie vreeslik uitgawes aan te gaan nie… Laat weet gerus as hierdie idees kon help 😉
Tik gerus soekterme soos “hersien, klanke, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits” by die soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.
Older Entries
Newer Entries
Woorde