Tuis

Juffrou se kiekies

6 Kommentaar


Die beskrywings is sigbaar as daar op die foto’s gedruk word.

lees, leer en die ogies

17 Kommentaar


Visuele oefeninge speel ‘n groot rol tydens die leerproses. Daarom maak arbeidsterapeute en opvoedkundige sielkundiges spesifieke melding van die VMI – ‘n telling wat bepaal of die kind se visueel perseptuele ontwikkeling op die korrekte vlak is. Dit is ‘n goeie indikasie of die outjie sukkel of sal sukkel met sy werk.

Dikwels word ‘n spesifieke leesprobleem ook aan ‘n lae VMI gekoppel.  Indien die VMI onder die kind se kronologiese ouderdom is, word daar gewoonlik aanbeveel dat die kind terapie ontvang.

Kla jou kleintjie as hy moet lees? Is lees vermoeiend? Dan is daar ‘n moontlikheid dat die probleem by die ogies lê. Die oogspiertjies beweeg dalk nie egalig nie en veroorsaak spanning. Die ogies raak dus gou moeg en die leesproses bly ‘n pyn. Dit sal wenslik wees om die ogies te laat toets vir visie én vir onegalige oogbewegings.

Om die oogbewegings tuis te ontwikkel, kan jou kind Eye Can Learn se oefeninge volg. Die kop moet stil gehou word en slegs die ogies moet beweeg. ‘n Paar minute per week help reeds.

Indien jy herhaalde uitvalle soos die omkering vir syfers en getalle (bv. b/p/d, n/u, getalle in die spieëlbeeld) of die omruiling van posisie opmerk (bv. ou/uo, oe/eo), sou ‘n oogtoets wenslik wees om die oogbewegings en visie te toets.  Skakel ‘n paar oogkundiges en optometriste in jou omgewing voor jy ‘n afspraak maak.  Sommiges toets kinders jonger as 12 se oë gratis.

Jong lesers en nuwe boekies

2 Kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

Ek het gevind dat daar heelwat leerders is wat sukkel om woorde te klank en dan weer as ‘n woord te lees. Hulle kan die woord klank, maar haak vas by k-a-t. ‘n Idee wat nogal vrugte afwerp, is om die woord uit te rek – soos ‘n stadige “replay” aksie op televisie. Byvoorbeeld: k…a…t. Die woord word dan weer en weer gesê – elke keer ‘n bietjie vinniger. As die woord op hierdie manier herhaal word, kry die kind die geleentheid om die woord te hoor en om dit in sy / haar gedagtes saam te voeg. SCRABBLE (Junior Scrabble) teëls of los klank kaartjies kan gebruik word om die woorde te pak. Pak die klanke apart en skuif hulle nader terwyl die woord op die “uit rek manier” gelees word. Dit klink vreemd, maar die kinders sal dit geniet.

As u kind ‘n nuwe boek huis toe bring:

  • Blaai saam met u kind deur die boek. Wat sien julle alles?
  • Vra hom / haar oor die storie. Wat kan jy onthou van die storie wat jy in die klas gehoor het?
  • Lees die storie saam met u kind en praat oor interessante of nuwe woorde. Bv. klein het ‘n “ei” in. Watter ander woorde het so ‘n klankie in?
  • Speel “soek die woord”. Noem ‘n woord uit die boek en vra u kind om die woord te soek. Hoeveel keer verskyn die woord in die boek?
  • Skryf julle eie stories deur woorde uit die boek en ander bekende boeke te gebruik.
  • Maak woordmure deur nuwe woorde teen die muur aan te bring – voeg prentjies by indien moontlik. Hou die woorde sigbaar en oefen dit sommer terloops.

Sigwoorde of Hoë Frekwensie woorde

18 Kommentaar


sigwoorde

sigwoorde2

Sigwoorde vorm ‘n brug tussen die aanvanklike “klanklees” tot by vlotlees. Hoe vinniger die kind dus daardie “tussen-in” woorde kan herken, hoe vlotter sal hy lees en dus sal die leesbegrip ook sterker wees.

Sigwoorde is al die kleiner en meer algemene woorde wat in die meeste graadtoepaslike leesboeke voorkom.  Dit is woorde soos dae van die Week, maande van die jaar, tussenvoegsels, lidwoorde en voornaamwoorde.  (Vra gerus jou kind se juffrou vir voorbeelde van hierdie woorde of kyk na die lys uit Hauptfleish en Grové se gidse hieronder.)

‘n Tuisprogrammetjie om sigwoorde vas te lê:

  1. Slangetjies en leertjies:  Plak kaartjies met sigwoorde op die speletjie vas.  Lees sigwoorde by die leer se punt en slang se bek.
  2. Hou ‘n Skattejag met raaisels rakende sigwoorde – veral getalname, dae en maande.
  3. Bordspel:  Elke blok het ‘n sigwoord.  Lees woord waarop dobbelsteen land.  Plak sommer die woorde bo-oor ‘n bordspel soos Monopoly sy straatname…of trek julle eie blokke.
  4. Speel “snap” met flitskaarte van sigwoorde.
  5. Vang vis met Sigwoorde:  Skryf die woorde op kartonvisse en skuif ‘n skuifspeld oor die visse se lywe.  Tel die visse dan met magnete op.  Lees die sigwoord.
  6. Leer klim:  Sigwoorde is op die sporte en die leerder lees terwyl sy “klim”.
  7. Bou ‘n muur:  Lees flitskaarte een-vir-een en plaas ‘n flitskaart op elke steen op die prent – om ‘n muur te bou.
Drukbare dokumente verskyn onder. 

VB soektogtaak

sigwoorde hoë frekwensie woorde (Drukbaar)

Sigwoord soektog

dae-take

Sigwoorde

Aanlyn sigwoorde

Sigwoordjies

sight words 2015

Die Engelse sigwoorde.

sigwoord

sight words

sigwoordprentjies

Kinderstories op die internet

22 Kommentaar


kinderstories Ek is tans besig om na Afrikaanse kinderstories op die internet te soek. Dit is nogal moeilik om te kry.  Het jy al ‘n paar teë gekom? Kyk gerus ook op my tuisblad.  Aan die regterkant is die “blogroll” (nou skakellys) vol skakels na opvoedkundige webblaaie met stories.  Ek lys ‘n paar:

Indien jy ‘n slimfoon of tablet het, maak hierdie dokument oop en gebruik die QR Leser om  na die stories te kyk.

Loer gerus ook na die inskrywing in verband met rympies en die volgende boeke of leesstof:

Vir Kinderstories op jou Android of Apple toestel, loer gerus na die Geletterdheid/Taal– of Hulpmiddels-afdelings aan die regterkant.  Daar is ook skakels na staatmaker leesreekse.  Tik gerus voorts ook soekterme soos “e-boek, iPad, Android” by die soekblokkie aan die regterkant in.

‘n stukkie navorsing oor onderrigtaal

10 Kommentaar


Na aanleiding van Boendoe se navrae, gaan ek so ‘n stukkie plaas oor die taalkwessie.  Verskoon asseblief indien dit hoogdrawend is.  Dit was ‘n navorsingstuk en is dalk meer gemik op die etniese tale.  Praat gerus as dit Grieks klink.  Ek “vertaal” graag.

Wanneer ‘n leerder in ‘n tweede taal leer is hy / sy nie noodwendig leergestremd nie, maar eerder leergeremd ten opsigte van woordeskat, taalkennis en die belangrikste aspek seker – begrip.  ‘n Persoon wat nog nie die basiese strukture en vaardighede van ‘n taal teen die ouderdom van sewe jaar (die primêre vormingsjare) baas geraak het nie, sal in werklikheid altyd ‘n agterstand hê.  Taal vorm tog die belangrikste basis en medium van kommunikasie en is nodig om inligting oor te dra en ook om inligting in te neem en te verwerk.

Om die volle omvang van die akademiese vordering van ‘n kind te begryp, moet ‘n mens eers terug gaan na die leerder se agtergrond (en ook taal agtergrond) om die oorsake en invloede op die leerder se leerprosesse te bepaal.  In Suid-Afrika (soos in baie ander wêreldmoondhede) bepaal die Grondwet dat daar elf amptelike landstale moet wees, maar word baie leerders steeds in hul tweede taal (meestal Engels) geskool.  Hierdie besluit word aan die ouers oorgelaat en daar bestaan geen duidelike wetgewing wat ouers verplig om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig nie. Alle Suid-Afrikaners het egter ‘n grondwetlike reg om in ‘n moedertaal onderrig te word.

In baie gevalle waar leerders swak presteer, is die oorsaak dikwels dat hulle in ‘n tweede taal skool gaan.  Hierdie feit is seker nie genoeg rede om bekommerd te wees nie aangesien daar baie gevalle is waar leerders goed tweetalig is en dus goed in ‘n tweede taal presteer.  Die probleem ontstaan egter wanneer ‘n leerder in ‘n huis groot word waar daar meer as een taal gebruik word en waar die tale ook dikwels gemeng word.  As die kwaliteit van die woordeskat en grammatika veel te wense oorlaat, sal die leerder ‘n swak taalbasis hê en hom- / haarself nie goed kan handhaaf in enige van die tale nie.  Só ‘n kind ontwikkel dus ‘n leergeremdheid weens ‘n onderontwikkelde taal.

Volgens Rodriguez, benodig ‘n kind ‘n goeie selfbeeld om sukses te behaal en om sy / haar volle potensiaal te verwesenlik op skool.  ‘n Kind wat besef dat sy taalgebruik nie op dieselfde standaard as sy klasmaats s’n is nie, kan maklik selfbewus en minderwaardig voel en dus ook swakker presteer as sy maats.

As ‘n kind in beide sy moedertaal én tweede taal kan leer, verhoog dit die kind se selfbeeld en voel só ‘n kind trots daarop dat hy twee tale kan praat en in twee verskillende kulture kan funksioneer (i.e. die kultuur eie aan sy moedertaal en ook die kultuur eie aan die tweede taal).

Rodriguez sê ook dat ‘n persoon wat tweetalig is beter kognitiewe vermoëns het, respek by ander kulture afdwing, trots is op die spesiale talent en ook beter toegerus is vir die lewe buite die klaskamer.

Dis sou dus wenslik wees indien ‘n kind aan ‘n tweede taal bloot gestel kon word in ‘n klaskamer waar beide sy / haar moedertaal en tweede taal gebruik word.  Só word die kind stelselmatig aan die vreemde taal blootgestel en kry hy / sy die geleentheid om mettertyd genoeg selfvertroue op te doen om die tweede taal te gebruik.

Volgens die NAEYC (National Association for the Education of Young Children) in die VSA, behoort die ouers die kind se moedertaal te ontwikkel tesame met die tweede taal.  Die moedertaal word gekoppel aan die kind se kultuur, sosiale agtergrond en identiteit en daarom moet die fasiliteerder ook die kind se moedertaal en kulturele agtergrond in ag neem tydens onderrigtye

Net soos wat leerders teen verskillende tempo’s ontwikkel, beklemtoon die NAEYC dat tweede taal leerders hul tweede taal op dieselfde wyse bemeester volgens die individuele potensiale.  Sommige leerders sal vir ‘n ruk lank swyg, ander sal sinsnedes en woorde oefen, ander sal hul moedertaal en die tweede taal meng en ‘n vierde groep kan selfs die taal op ‘n geradbraakte wyse met vertroue gebruik.  Al hierdie voorbeelde vorm deel van die individuele ontwikkelingsfases van die onderskeie leerders se tweede taal.  Die fasiliteerder moet dit in gedagte hou dat dit normaal is om deur hierdie fases te gaan en die kind met begrip begelei tot die ontwikkeling van goeie taalgebruik.

Watter nadele is daaraan verbonde om ‘n leerder in ‘n tweede taal te onderrig?

Na aanleiding van navorsing het NAEYC bepaal dat jonger kinders groter probleme ondervind om die oorgang vanaf die huis na die skoolomgewing te maak as die taal vreemd is.  Die nuwe omstandighede en vreemde taal kan baie intimiderend wees en die kind emosioneel labiel (deurmekaar) laat.

‘n Kind wat uit ‘n vreemde kulturele agtergrond kom, kan soms deur sy klasmaats bespot word en dít kan daartoe lei dat die leerder selfs sy moedertaal kan prysgee om sodoende sosiaal aanvaarbaar te wees.  Dít sal weer daartoe lei dat die kind se band met sy / haar kultuur verbrokkel en dat gesinsverhoudinge ook kan skade lei.

Woordeskatontwikkeling

41 Kommentaar


woordeskatontwikkeling‘n Goeie algemene woordeskat is belangrik.  Dit vergemaklik die leesproses en verbreed die leerder se algemene kennis (verwysings raamwerk).

Hoe kan ek tuis help?

  • Verkeerde taalgebruik behoort reg gestel te word. Help jou kind subtiel reg indien hy byvoorbeeld ‘n item verkeerd benoem. “Ek wil sweets koop.” – “Watter soort lekkers gaan jy koop?”
  • PRAAT, PRAAT, PRAAT! Kinders leer baie deur die voorbeeld na te volg.
  • Praat soveel as moontlik oor dinge wat vir jou kind belangrik is en luister na wat jou kind sê.
  • Praat stadig en duidelik.
  • Leer jou kind om te luister na wat ander mense sê.
  • Werk daaraan om spraakprobleme reg te stel. As ‘n kind klanke of woorde verkeerd uitspreek, kan dit dalk later probleme veroorsaak wanneer hy / sy lees en skryf. (Dink aan die outjie wat “l” in plaas van “r” sê…Die lok is looi.)
  • Lees gunstelingstories voor en neem dit op ‘n kasset op. Dan kan jou kind oor en oor daarna luister.
  • Bou ‘n prentewoordeboek op of koop een. Dit sal van groot waarde wees. Skryf moeilike of nuwe woorde daarin en plak of teken ‘n prent daarby.
  • Skryf nuwe woorde
  • met kolletjies, sodat jou kind daaroor kan skryf. Bv. Soos… dot-to-dot
  • in verskillende kleure
  • met ‘n stokkie in nat sand
  • Soek klanke in tydskrif-opskrifte en bou die nuwe woorde met die los klanke.
  • Maak ‘n verspotte sin met die nuwe woorde.
  • Skryf ‘n sin met die nuwe woord. Kan die sin dalk uitgebrei word?

Bv. “Die man sing.”

“Die vriendelike man sing ‘n mooi liedjie.”

Belangrik:  Hou hierdie tipe aktiwiteite prettig en informeel…en kyk hoeveel sintuie jy kan betrek by hierdie tipe aktiwiteite…

Gaan lees gerus ook ‘n bietjie hier vir verdere oefeninge.

 

Indien julle opsoek is na take, flitskaarte of inkleurwerk, loer gerus hier.

Taal en spraakontwikkeling

85 Kommentaar


spraakDaar verskyn al hoe meer artikels in tydskrifte en koerante oor die dalende vlakke / standaarde van lees en skryf in skole. Sommiges meen dat Uitkomsgebaseerde Onderwys die sondebok is en ander meen dis te wyte aan die meer tegnologies gevorderde samelewing van vandag. Hoe dit ook al sy, taal en spraakontwikkeling (en ook lees) is iets waaraan elke ouer, onderwyser en kind moet aandag gee. Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid.

Interessanthede:

1.Die mens se brein weeg by geboorte byna ‘n kwart van dít wat dit by volwassenheid sal wees en dit ontwikkel binne die eerste jaar tot 70 % van die finale grootte. Deur dus met die jong kind of baba te praat, stimuleer ‘n mens hierdie brein om inligting in te neem en te verwerk.Voortdurende kontak en gesprek help dus om die verstand te ontwikkel.

2.Die basis van alles wat ‘n mens eendag moet en sal leer, word in die eerste vyf tot ses jaar gelê. Sosiale, emosionele en intellektuele ontwikkeling word tydens hierdie jare geweldig sterk beïnvloed en die aspek wat al hierdie dinge aanraak, is taal.

3.Taalvermoë beïnvloed die kind se

    1. selfbeeld,
    2. sosiale en emosionele ontwikkeling,
    3. leergierigheid,
    4. vlak waartoe hy sy intellektuele potensiaal sal ontwikkel,
    5. begrip van norme en morele waardes en vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei.

4.Om te leer praat, is net so belangrik vir die jong kind as om asem te haal.

5.In die ouderdomsgroepe van vier en vyf jaar, gebruik ‘n kind tussen 1 000 en 1 500 woorde. Die meeste woorde word reg uit gespreek en rympies of rymwoorde fasineer die kind. Ten minste vier tot ses kleure en die basiese vorms (kruise, sirkels, driehoeke, reghoeke, vierkante) kan benoem word. Begrippe soos tyd word aangeraak (“Ons gaan volgende week see toe.”) en die kind kan meerledige / lang opdragte onthou (“Gaan was gou asseblief die waslap in die badkamer en droog dit uit.”). Gebruik woorde soos “wie, waar, wanneer, wonder, wat, hoekom” en gebruik die meeste klanke korrek (behalwe die moeiliker klanke soos “tr”, “kr”, “gr” en “pl”).

6.Die vyf- tot sesjarige kind kan ongeveer 2 200 woorde gebruik en praat mooi duidelik. Sinne bestaan uit min of meer ses woorde en die teenwoordige, toekomstige en verlede tyd word gebruik. Verstaan woorde soos “vandat, totdat, nadat, voordat”. Verstaan en gebruik woorde soos “bo-op, voor, agter, ver, naby” en “maar, en, omdat”. Teenoorgesteldes soos groot en klein, is deel van algemene gesprekke en speletjies. Die kind kan ook nou voorwerpe uittel (borde, lepels, messe, vurke) en telefoonnommers onthou. Tot 24 000 woorde kan nou verstaan word.

7.Die sesjarige kind gebruik tot ongeveer 3 000 woorde en weet wanneer sy verjaarsdag is. Dae van die week en maande van die jaar word nou begryp en geleer. Tel tot tien voorwerpe uit en kan bv. ‘n selfoonnommer memoriseer.

Watter probleme kan voorkom in gesproke taal?

  • Gesinswoorde soos “stappies” vir skoene. Die gesin weet wat die woord beteken, maar ander mense verstaan dit nie.
  • As ‘n kind sukkel om ‘n woord uit te spreek, vervang hy die woord met “goeters, dinges, watsenaam”.
  • Die kind kan nie woorde en klanke herhaal wat voorgesê is nie.
  • Die kind praat te hard, te sag, te skril of onduidelik.
  • ‘n Woord kan reg uit gespreek word, maar nie in ‘n sin gebruik word nie.
  • ‘n Taal- of woordarmoede kan veroorsaak dat ‘n kind kort sinnetjies gebruik of glad nie wil praat nie.
  • Ritmeversteurings of uitspraakproleme soos stotter, hakkel, lispel en onduidelike spraak.
  • Sommige kinders laat klanke weg in woorde (peel vir speel, tein vir trein).
  • Sommige kinders vervang klanke met ander klanke (vam vir vang).
  • Die jong kind sukkel dikwels met tydsbegrip. Gelukkig het ons tyd om dit vas te lê, omdat dit eers op negejarige ouderdom voltrek word.

Hoe kan ek my kind se taal en spraakvaardighede ontwikkel?

  • PRAAT, PRAAT, PRAAT!
  • Praat soveel as moontlik oor dinge wat vir jou kind belangrik is en luister na wat jou kind sê.
  • Praat stadig en duidelik.
  • Moenie babataal praat nie.
  • Praat in ‘n eenvoudige taal en verduidelik moeiliker begrippe.
  • Leer jou kind om te luister na wat ander mense sê.
  • Verkeerde taalgebruik behoort reg gestel te word.(Herhaal net die regte sin.Die kind kan maar net luister.)
  • Werk daaraan om spraakprobleme reg te stel.As ‘n kind klanke of woorde verkeerd uitspreek, kan dit dalk later probleme veroorsaak wanneer hy leer lees.

Hoe kan ek my kind help om ‘n liefde vir lees te ontwikkel?

  • Lees soveel boeke as moontlik (in al die tale wat die kind verstaan ) voor.
  • Moedig jou kind aan om die stories oor te vertel aan ‘n boetie, sussie of maatjie.
  • Bespreek prentjies in storieboeke.
  • Gaan GEREELD biblioteek toe.
  • Wees ‘n voorbeeld en lees voor jou kind.
  • Luister na storiekassette/-opnames.
  • Help jou kind om sy naam te herken deur dit op al sy besittings te skryf (in skoolskrif).
  • Leer kinderrympies en -liedjies.  (Tik soekterme soos rympie en liedjie by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.)
  • Sorg dat daar altyd storieboeke in die huis is.As die biblioteek te ver en boeke te duur is, maak stories uit vrouetydskrifte (soos Liewe Heksie, Balkie, ens.) bymekaar en plak dit in ‘n ou skoolboek.
  • Lees die name van winkels voor (Checkers, Edgars, Shoprite, ens.) as julle daar verbystap.
  • Lees gunstelingstories voor en neem dit op ‘n kasset op.Dan kan jou kind oor en oor daarna luister.
  • Bou ‘n prentewoordeboek op of koop een.Dit sal van groot waarde in Graad 1 tot 3 wees.
Lees ook “Praat jou kind slim” en “Die klein kind in fokus”.

Spraakterapeut ‘spreek’ ook wyer reeks sake aan

Smoor spraakprobleme in die kiem

Newer Entries