Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.
Tel elke dag: As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het. Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week.
Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies. Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer. Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.
Bespreek die getal: Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos: Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…). Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.) Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!) Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien). Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Kombinasies: Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23. Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).
Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?
Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?
Halveer: Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys nou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is. Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld.
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfer, maaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye. Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
R het vir my gevra om idees vir dubbelklanke te plaas. Ek het so ‘n tydjie gelede iets oor die vaslegging van klanke geskryf en gaan daarom slegs ‘n paar ekstra idees gee.
Maak groepe prente-kaartjies wat jy kan inkleur, oortrek en hou. Gebruik byvoorbeeld beet (ee-woorde), ‘n haas (aa-woorde), vuur (uu-woorde) en bome (oo-woorde). As jy die kaartjies permanent wil gebruik, kan jy die bostaande flitswoorde op die kaartjies plak en dit dan lamineer en uitknip. Vertel ‘n storie van die ‘n hasie wat graag beet eet voor hy langs ‘n vuurtjie – in die skadu van ‘n boom – aan die slaap raak. Verdeel die klas in vier groepe – een vir elke klankgroep. Elke groepie lees hul kaartjies en moet die woorde in sinne kan gebruik. Hulle skryf die sinne op ‘n groot vel ongedrukte koerantpapier – sodat die ander maats dit kan lees. Indien die outjies nog nie gereed is vir sinne nie, kan jy ‘n A4-vel papier in 8 groot blokke verdeel. Plaas die onderskeie woorde op aparte dele van die skryfbord of teen verskillende mure op. Die outjies moet dan elkeen 8 woorde kies, ‘n woord per blok skryf en probeer om ‘n gepaste prentjie te teken.
Graad 2- en 3-leerders kan egter al sinne skryf en moet probeer om skitter-sinne te skryf. Graad 2’s kan so 5 of 6 woorde per sin probeer, terwyl Graad 3’s 7 tot 9 woorde kan gebruik.
Die belangrikste deel van sinne is dat hulle daaraan herinner moet word dat ‘n sin met ‘n hoofletter begin en eindig met ‘n punt. Vra altyd dat die sin eers aan jou gesê moet word, sodat jy die sinsbou en -konstruksie kan korregeer indien nodig. Indien jy genoeg tyd het vir prentjies teken, kan jy vra dat die outjies 3 – 5 sinne skryf en een prentjie daarby teken. Maak selfs ‘n groot prent van elke klankkaart (‘n beet, ‘n haas, vuur en ‘n boom), vra dat die outjies die woorde self op elke prent oorskryf, verf met kleursel (rooipienk, geel, oranje en groen), knip uit en plak in die boeke. Dit is sommer ‘n alles-in-een takie en behoort ‘n lekker leer-hulpmiddel te wees vir die week se speltoets. (“Dink aan die woorde op die bloedrooi beet…”)
Indien jy die flitskaartjies apart van die prente gelamineer het (of oorgetrek het met breë kleeflint), kan jy dit skommel en vir die outjies flits. Jy kan selfs ‘n tweede vel van elke bladsy druk en vra dat die kleingoed die woorde bo-op hul maats pas…of lamineer die groot vel en sny dit in diagonale en krom lyne op sodat die kleingoed die “legkaarte” moet bou. Grawe gerus ook op kleuters.co.za rond vir lyste met klanke – indien jy nog woorde benodig. Onthou om altyd jou apparaat so te maak dat jy dit kan hou en hergebruik… Jy sal dit beslis vir dekades lank kan inspan!
Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik. Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie. Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.
Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm. Hy moet dit dan identifiseer.
Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin. Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind. Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys. Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken. Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot). Vra dat Grootman die klank soek en omkring. Tel die klanke. (Dalk kruip daar nog weg.)
Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf. Maak seker dat hy op die regte plekke begin. Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…). Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie. Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi. Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
Speel “name, vanne, diere, dorpe”. Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
Woordfamilies: Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig). Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os. Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.
Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is: ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik. Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk. Wys dit. Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”. Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”? Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris. Hy kan dan ‘n sin gee. Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken. As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groots skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”). Laat hom die s met gom “skryf”. Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand). As dit droog is, kan hy daaroor voel. So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.
Dubbel-, twee- en drieklanke:
Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie. Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer. Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat. Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek. Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat. Ruil die rolle om en maak beurte. Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.
‘n Mamma het onlangs ‘n navraag gerig oor die verwarring van tweeklanke. Hiermee dan so ‘n paar gedagtes vir die Graad 2- en 3-outjies wat sukkel met klanke soos oe, ou, eu…
Knip ‘n kolom uit ‘n tydskrif of koerant (in plaas van die hele artikel – wat oorweldigend kan wees) en skryf ‘n spesifieke klank bo-aan. Vra jou kleinding om dan byvoorbeeld net die oe-klank te omkring en om te sê hoeveel hy gekry het. Hy moet die woorde dan netjies oorskryf op ‘n oe-bladsy. Kyk of hy dalk ‘n woord gemis het. As hy almal gekry het en reg geskryf het, kan hy ‘n belonging of klein bederfie kry. (‘n DVD vir die naweek of iets…niks duurs of spandabelrigs nie.) Plak die papier teen ‘n deur vas of iewers waar hy gereeld verby sal stap. Toevallige lees verrig wondere. Skryf vir hom sinne met die woorde (bv. Ek moet die groen boek soek. Die koek lê op die handdoek.) en plak dit by die woorde op. Vra jou kleinding om dit neer te skryf. Julle kan dit sommer in ‘n werkboek doen en dan kan hy iets daarby teken. Boeta kan ook deur ou tydskrifte blaai, oe-woorde uitknip (gebruik opskrifte) en in die boek plak. Maak julle eie flitskaarte – sommer twee stelle. Flits net eers die woorde en speel dan “snap” of ‘n “memory game” (waar die karate onderste bo lê en jy die pare moet omdraai en pas).
Doen eers julle oe-ontwikkeling klaar (vir ‘n dag of drie) en pak dan ‘n heeltemal ander klank aan voordat julle die ou aandurf. Dit keer net dat ‘n mens deurmekaar raak.
‘n Seun wat ek help het sy eie assosiasies gemaak. Hy ken die oe-klank as die oe vir koek. Nou sê hy telkens “oe…koek” (soos een wie se mond water vir ‘n lekker stukkie koek) en ou-nou (“oh no” met ‘n sug) as hy die ou sien. Dit werk om die een of ander vreemde rede vir hom.
Baie kinders verwar die ee– en eu-klanke. Behandel die ee-klanke eers en dan op ‘n volgende keer die eu. ee is ‘n jong outjie en eu is sy ouboet met die diep stem. Ons spreek dit ook onderskeidelik met ‘n normale en ‘n diep stem uit. Die u in eu laat ‘n mens ook dink aan ‘n diep bakkie, daarom spreek ons dit dieper uit. Weereens werk dit nie vir almal nie. Toets dit gerus en probeer alternatiewe metodes. Laat weet ons asseblief as dit werk.
ui en ei…Ek teken prentjies of gebruik clip art. Weereens word die ui dieper uitgespreek as die ei. Behandel elkeen apart (en volg dit op met die y). Dit help om die woorde visueel voor te stel. Ek teken byvoorbeeld ‘n “bakkie” soos die u in ui vir woorde soos tuin en kruiwa. Ek kan suiker in ‘n bakkievormige koppie gooi. ‘n Kruiwa het ‘n bakkie-vorm en as ek ‘n boom wil plant, grawe ek ‘n bakkie-vorm in die tuin. Ek slaan ‘n duik in die deur met my vuis en druk ‘n bakkie-vorm in die modder met my duim. ei staan bekend as die “plat” ei, omdat dit ‘n plat strepie in het. Die trein moet op ‘n gelyke, plat spoor ry en lyk self ook ‘n bietjie plat. ‘n Eiland se waterlyn lyk soos die plat strepie in die e…en so gaan ‘n mens maar voort met jou eie idees.
As ons ei sê trek jou lippe styf of reguit soos die lyntjie in die “e”. As ons ui sê, gebruik ons ‘n dieper stem – wat so diep sak soos die “u” 🙂
‘n Paar lees-lusmakers vir lui lesers: Los gereeld notas op baie sigbare plekke. Bv. teen die kamerdeur: Ek wonder of Jannie sy kosblik in die wasbak gesit het…Ek is trots op jou netjiese kamer…in die kosblik: Ek hoop jy het ‘n lekker dag…Allerhande skriftelike dinge op snaakse plekke gee hom die geleentheid om alleen te lees – sonder die frustrasie van sukkel voor ander. As hy sukkel met sekere aspekte soos die oe-klank, kan jy ‘n koek liggies bokant die woord teken. As hy sukkel om bv. uu en ee as ‘n geheel te lees, kan jy dit onderstreep om die “eenheid” aan te dui. …en natuurlik is lees en leesstof ‘n vereiste, want Juffer sê so 😆 Koekeloer en soek vir ou Storieman-reekse, sodat die lui lesertjie kan luister en volg. Neem stories op – as daar reekse op die radio speel of sommer tuisgemaakte / eie stem opnames. ‘n Mens hoef nie vreeslik uitgawes aan te gaan nie… Laat weet gerus as hierdie idees kon help 😉
tweeklanke(Omkring die klanke, trek na en gebruik in oulike sinne.)
Janeen het onlangs gevra hoe ‘n mens kleintjies kan help om syfers korrek te skryf (veral syfers soos 2 en 3)…
Dis belangrik dat ‘n mens van die begin af die regte voorbeeld voorhou. Doen dieselfde aktiwiteite as wanneer jy letters aanleer – baie visuele diskriminasie, visuele geheue, posisie in die ruimte en lateraliteits oefeninge.
Maak ook assosiasies op…’n kollega gebruik ‘n swaan vir 2, ‘n beertjie wat sit vir 3 (die boonste krul is die kop en die onderste vorm die lyf en voete wat alles van die kant af gesien word)…Druk die syfers in die regte font en teken dan die prente om die swart syfer sodat dit nie toegeteken word nie.
Maak ook groot robotkaarte van die syfers: Druk die syfer groot in swart. Plak ‘n groen kol waar ons begin skryf en ‘n rooie waar ons stop. Trek dit oor met plastiek of lamineer die bladsy. Die kind kan nou na hartelus met die karretjie (vinger) hieroor “ry”.
Skryf die syfer met die vinger in los sand, in meel, in suiker (en lek sommer die soetigheid af), met ‘n nat kwas op sement, teer, ‘n skryfbord…
Skryf die syfer met gom en strooi poeier, sand, blinkertjies, poeierverf…daaroor. Gebruik gerus hierdie idees (betrek bv. klei).
Skryf die syfer liggies (of druk in grys of ‘n ligte kleur). Die kind kan nou die lyn met
stempeltjies druk of vol plakkertjies plak.
waterverf en ‘n dun kwassie / vinger volg (verf).
‘n dik vetkryt, pastel volg en met verdunde voedselkleursel verf.
Dis belangrik dat die kind nie net die syfer kan skryf nie, maar ook kan verstaan. As hy byvoorbeeld 2 skryf, moet hy 2 prentjies by teken. As hy 5 skryf, moet hy 5 prentjies byteken.
Doen slegs een syfer of getal per keer en moenie syfers wat byna eenders is direk na mekaar aanleer nie. 6 / 9, 4 / 7, 5 / 2 en 3 / 8 kan verwarring skep.
Die internet is vol taakkaarte, maar ‘n mens moet ook versigtig wees dat die syfers nie “verkeerd” is nie. Teachers Pet se skrif is die naaste aan korrek.
Loer gerus na die dokumente “syfers” en die robotkaarte (drukbare bladsye).
Die uitspraak van klanke gaan gewoonlik gepaard met ‘n assosiasie – a vir appel– en verskil van skool tot skool en van juffrou tot juffrou. Party skole gebruik Klanke Kalante – ‘n reeks wat prentjies op of om die klanke teken. Ander juffrouens gebruik geen spesifieke assosiasie nie. Hoe dit ookal sy – klanke en hul uitspraak is baie belangrik. Elke letter van die alfabet het ‘n naam en ‘n klank. Die naam vir “a” is A (“aa”). Die klank is die eerste klank en is die eerste geluid wat die stem maak wanneer die woord “appel” geuiter word (“a”). (Dink byvoorbeeld aan k-a-t = kat teenoor K-A-T. Ook: k-a-t = kat in plaas van kih-aah-tih.)
Wanneer jy die klanke sê moet jy dit baie saggies doen om die “uh” of “i” aan die einde te vermy. Die klank vir “k” is baie kort – net soos dit klink aan die einde van “rok”. Probeer om te vermy dat die klank na “ki” of “kuh” klink. Om die “i” of “uh” te vermy:
1. Sê die klank baie sag.
2. Stop byna onmiddellik nadat jy die klank begin uiter het.
Dit is baie belangrik dat jy die klanke reg sê – min of meer só:
‘n Interaktiewe video om te help. Laai die gratis TinyTap toep op jou foon of tablet en speel dan die bogenoemde video daarop (soek “klank” of kies die Suid-Afrikaanse vlag vir meer).
a soos die begin van appel
b soos in rob
c word in Engels uit gespreek C
d soos in dak
e soos in ek
f soos in fiets
g soos in gom
h soos in hoed
i soos in is
j soos in jas
k soos in kat
l soos in lepel
m soos in muis
n soos in hen
o soos in ot
p soos in pot
q soos die naam Q
r soos in roos
s soos in son
t soos in tand
u soos in rug
v soos in vis
w soos in water
x soos die naam X
y soos in ys
z soos in zet
Tik gerus ook soekterme soos “abc skryf, klanke, hersien, ouditiewe, handspier, fynspier, skrif, muurkaart” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of loer na die “drukbare bladsye”-hofie hier bo. ‘n Engelse weergawe is daar beskikbaar.
Ek is tans besig om na Afrikaanse kinderstories op die internet te soek. Dit is nogal moeilik om te kry. Het jy al ‘n paar teë gekom? Kyk gerus ook op my tuisblad. Aan die regterkant is die “blogroll” (nou skakellys) vol skakels na opvoedkundige webblaaie met stories. Ek lys ‘n paar:
Vir Kinderstories op jou Android of Apple toestel, loer gerus na die Geletterdheid/Taal– of Hulpmiddels-afdelings aan die regterkant. Daar is ook skakels na staatmaker leesreekse. Tik gerus voorts ook soekterme soos “e-boek, iPad, Android” by die soekblokkie aan die regterkant in.
Woorde