Wapenstilstand- of Herinneringsdag word op die 11de November gevier. Dis ‘n manier om respek aan oorlogsoldate te betoon. Ons hou ‘n oomblik van stilte om 11:00vm op die 11de dag van die 11de maand.
Elders fokus die week van 11 tot 15 November boelie gedrag en op maniere om dit teen te staan.
Op Wêreld Goedgesindheidsdag dink ons aan ander wat tans ‘n bietjie bemoediging en goedgesindheid nodig het. Deel ‘n boodskap, ‘n kaartjie, blomme of ‘n eetdingetjie. ‘n Klein gebaar kan baie beteken.
Wat maak kind wees lekker in jou kontrei? Kaalvoetdae, roomys, lang pouses of ‘n speletjiesdag? Bring komberse skool toe en lees stories onder koelte bome of hou ‘n pienkniek tydens klastyd. ‘n Mens mag kind wees so ‘n bietjie meer op die 20ste geniet.
Tussen die 25ste November en die 10de Desember, vier ons 16 dae van aktivisme teen geweld. Hoe kan ons geweld teen vroue en kinders voorkom of hoe kan ons diegene help wat daarin vas gevang is?
So aan die begin van ‘n nuwe (en laaste) kwartaal vier ons Wêreld Onderwysersdag. Onthou om mekaar ‘n bietjie meer te waardeer en te ondersteun.
In Suid-Afrika vier ons Oupa en Ouma dag op die eerste Sondag in Oktober, maar ‘n mens kan die datum beslis aanpas of meer gereeld waardering toon.
Disleksie word soms as ‘n spesifieke spel- en leesprobleem in verslae beskryf. Wat kan ‘n mens doen om te help wanneer iemand (ten spyte van al die lees- en spellesse) steeds worstel? Maak beurte om stories hardop voor te lees, speel stemopnames van voorlesings (oudioboeke/luisterstories), toets Google Lens se voorlesings opsie deur ‘n slimfoonfoto van die teks te neem en toets Immersive Reader (‘n Google Chrome aanvulling) of Microsoft se Read Aloud moontlikhede. As ‘n mens navorsing op Wikipedia doen, kan jy die teks na byvoorbeeld Afrikaans vertaal en selfs ‘n vereenvoudigde Engels (Simple English) kies om met die ontleding te help. Help jou skool met alternatiewe assessering (konsessies)?
Elders word Soktober gevier om sokkies vir minderbevoorregte mense aan te skaf. Begin op ‘n kleiner skaal en samel sokkies vir kinders in die skool of naburige tehuise in. Dra dalk oulike sokkies as deel van ‘n fondsinsamelingspoging en laat die klas wat die meeste insamel iets prettigs doen.
Op Geestesgesondheidsdag, skenk ons ‘n bietjie meer aandag aan ander en onsself. Gesels ‘n bietjie meer en wys ‘n bietjie meer belangstelling. Soms is die kleinste gebaar genoeg om ander se dag beter te maak.
Voorspoed met die eksamen wat eersdaags begin. Mag al die harde werk en voorbereiding vrugte afwerp. Loer gerus hier na vorige of voorbeelde van vraestelle.
Koop ‘n nuwe woordeboek, vergelyk verskillende soorte woordeboeke of borg ‘n woord as ‘n skool of klas.
Voorspoed met laaste kwartaal se uitdagings en geleenthede. Mag dit mooi begin en mooi bly.
September is My Klaskamer se verjaardagmaand en vanjaar word My Klaskamer 16 jaar oud! Baie dankie vir jou getroue ondersteuning.
In September, skenk ons aandag aan gehoorverlies en kyk ons hoe ons meer kan doen om mense met gehoorverlies te ondersteun. Gesels met kundiges en win ‘n bietjie kennis in.
Ons vierLente Dag op die eerste en Boomplantweek van die 29ste Augustus tot die 4de September. Samel gerus kompos of kunsmis vir die skool se plante in of kikker die skool se beddings op. Saai blom-, kruie en groente sade wat ‘n mens later by funksies, ens. kan gebruik. Maak ‘n projek daarvan om uit te vind wat die beste in jul tuine sal aard en wat die beste moontlikhede kan wees. Stem en saai.
Die witpeer is die skaars boomsoort van die jaar en die karee of rooikaree is die meer algemene boom van die jaar.
Sekretaresse Dag word vanjaar op die 4de September gevier. Bederf gerus al die administratiewe personeel so ‘n bietjie.
Loslitdag/Casual Day, is ‘n dag waarop ‘n mens fondse kan insamel om mense met alle soorte gestremdhede te ondersteun. Sommige mense is so gebore en sommige mense het die gebruik van sintuie of liggaamsdele mettertyd verloor. Ondersteun gerus organisasies of skole in jou omgewing en vind uit hoe julle verskillende leerders kan insluit.
Die Paralimpiese Spele vind vanaf die 28ste Augustus tot die 8ste September plaas en daar is vanjaar 26 Suid-Afrikaanse atlete om te ondersteun.
Internasionale Geletterdheidsdag word op die 8ste September gevier en Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de September. Spandeer ‘n bietjie meer tyd om deur die klas se leesboeke te blaai en om boeke te lees wat julle gewoonlik vermy of vergeet.
Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. ‘n Mens kan heelwat van sy boeke in Afrikaans en Engels kry. Lees gerus.
Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan jy ‘n betekenisvolle merkie of spikkel in die samelewing maak?
Op die 19de praat ons soos seerowers. Dit is die ideale dag om die Engelse ”ar” in woorde te hersien.
Oogsorgmaand begin teen die einde van die maand. Praat gerus oor verskillende maniere om die ogies op te pas, doen visuele oefeninge en moedig oogtoetse aan. Is daar oogkundiges in jul omgewing wie gratis oogtoetse doen? Vra gerus.
Vou en plant gerus waaiertjies vir vrede in die voortuin. Skryf jou wense op die waaiers en deel dit met ander.
Op die 22ste leer ons oor Renosters en oor die bewaring van hierdie wonderlike diere. Maak Erfenisdag, op die 24ste, ekstra spesiaal. Spandeer die dag saam met spesiale mense en eet iets uniek aan jou erfenis 🙂 Mag jy ‘n besonderse mooi September hê.
Terwyl ons hierdie naweek die einde van die Olimpiese Spele geniet, vier ons ook Leeudag. Maandag ondersteun ons die bewaring van olifante.
Op die 13de vier ons almal wat linkshandig is en kyk hoe ons ‘n bietjie meer ondersteuning kan bied of begrip kan betoon. Hoe kan ‘n mens die tafels skuif om almal te help?
Taaldagword op die 14de Augustus gevier – tesame met die Lees-‘n-Boek, Koop-‘n-Boek, Gee-‘n-Boek…tradisie. Loer gerus na vorige plasings vir ‘n paar gratis werksvelle.
Heuningbydag word vanjaar op die 17de gevier. Onthou om blomsade of -plantjies gereed te kry vir die lente seisoen en om ons bye te ondersteun.
Vrouedag is hier. Rus ‘n bietjie meer, sit ‘n bietjie langer, glimlag eerder as om jouself te vervies en gee mekaar ‘n bietjie meer grasie tot volgende week. Mag dit ‘n mooi naweek wees.
Op die 18de Julie help of dink ons aan ander. Loer gerus na die lysie omgee idees hier onder of maak jou eie. Gesels met die tannies in die kantoor of die teedame. Hulle mag dalk van mense weet wat jul hulp benodig.
Ons vier Internasionale Vrouedag op die 8ste Maart. Geniet ek ‘n ekstra ruskansie, ‘n ekstra blokkie sjokolade of lees oor vroue in jul omgewing wat ander inspireer.
Pi en Wiskunde Dag is om die draai. Loer gerus hier na verskeie vorige plasings.
Ons word op die 20ste daaraan herinner om die mooi in die lewe raak te sien. Wat maak jou gelukkigen hoe kan jy ander laat glimlag?
Op Downsindroomdag dra ons blou en geel of interessante sokkies ter bewusmaking van die dag.
Hersien of herinner mekaar aan Menseregte en Kinderregte (met die gepaardgaande verantwoordelikhede).
Waterdag is amper hier. Hoe kan ‘n mens water bespaar? Drup daar krane in die badkamers of buite op die skoolgronde? Melt dit aan om reg gemaak te word en dink aan maniere om water gebruik te verminder waar moontlik. Hoe kan reënwater benut word en op die skoolgronde gestoor word?
Hoe het Earth Hour begin en waarom vier ons dit? Dink aan maniere om ‘n bietjie meer omgewingsvriendelik te lewe en om bewaring aan te moedig.
Ons vier Sprokiesdag op die 26ste Februarie. Trek soos ‘n sprokieskarakter aan of lees ‘n storie in meer as een taal. Hoe verskil die weergawes en hoe kom dit ooreen?
Op die sewende Maart, is dit Wêreld Boeke Dag en op die 23ste April is dit Wêreld Boeke Nag. Lees boeke oor ‘n spesifieke tema of boeke wat deur ‘n spesifieke outeur geskryf is. Kies ‘n bekende storie en kyk of julle dieselfde storie in ander lande kan opspoor. Hoe lyk Rooikappie se voorblaaie in verskillende wêrelddele of hoe lyk die tale (bv. Afrikaans, Engels, Spaans, ens.).
Trek die gordyne toe om die vertrek donkerder te maak en versier die klas met sterre. Bou ‘n fort in die klas en lees met behulp van flitsligte of lampies.
Biblioteekweek duur van die 18de tot die 24ste Maart. Lees ‘n boek of luister gerus na ‘n storie. Herrangskik julle leeshoekie, samel geld in vir ‘n nuwe boek of vra gerus vir skenkings. Lekker lees!
Luidleesdag is om die draai. Loer gerus hier na idees vir Luidleesdag (in Afrikaans en in Engels). Loer gerus na die verkorte inhoudsopgawe aan die regterkant vir skakels na flitskaarte, sigwoorde, rympies, e-boeke en gratis leesboeke. Dis ‘n heerlike dag om saam wees, saam te leer en saam te lees. Wie gaan vanjaar die aankondiginge lees en kan julle ‘n rekord opstel om almal op dieselfde tyd te lees?
Woorde