Gebruik jou kennis van veelvoude, maaltafels, klanke, vorms, rym, woordsoorte en kleur.
Rym
21 Julie 2015
afrikaans Graad 1, Graad 2, Graad 3, klanke, kort woorde, ouditiewe persepsie, rym, rymwoorde, woordfamilies 4 Kommentaar

Rym en rymende sinne, is ‘n heerlike manier om ouditiewe vaardighede op te skerp en om taalontwikkeling te doen. Die kleintjies geniet rympies en kan dikwels onsinrympies spontaan voltooi. Byvoorbeeld: Vandag is dit baie koud…Ek dra ‘n serp van …goud.
Soos met die jong huistaalleerders, kan ‘n mens ook rymwoorde gebruik om die taal vir tweede taal leerders interessant te maak.
- Kies ‘n woord en kyk hoeveel onsin en/of sinvolle rymwoorde julle kan kry.
- Skryf die woorde neer en sorteer dit in onsin en sinvolle woorde.
- Maak muurprente of rymwoordlyste per rymgroep – om teen die muur op te plak. Sodoende, kan ‘n mens vinnig die maats op spoor.
- Maak sinne met die sinvolle woorde.
- Weet julle wat die woorde beteken? Vind gerus uit.
- Skryf julle eie rympies. Onthou dat die rymwoorde gewoonlik aan die einde van ‘n versreël staan.
- Maak ‘n afskrif van die klas se rympies en bind dit in ‘n klasbundel (vir die leeshoekie).
Afhangende van die outjies se vaardigheidsvlakke, kan ‘n mens die rymwoorde tot kort woorde (een lettergreep) – met ‘n klinker, dan dubbelklanke, tweeklanke en drieklanke beperk. Vir uitdagings, kan ‘n mens dan aan woorde met meer lettergrepe dink.
rymprent/muurkaart
rym pakket
Sien ook: Flitswoorde/Woordfamilies
Fondsinsameling
20 Julie 2015
afrikaans fondsinsameling, fund raiser Lewer kommentaar
Goue oues en ‘n paar nuwes…
- Hou ‘n dans: Verskaf die tafels, stoele en musiek en verkoop die tafels of kry lede van die komitee om gasheer/-vrou per tafel te wees. Gee pryse vir die kreatiefste tafel, ens. Verkoop ‘n beperkte verskeidenheid eet- en drinkgoed soos koppies sop, water, koeldrank, skyfies of eenvoudige hamburgers. Verskaf ys teen donasies.
- Hou ‘n pretloop/-draf.
- Sekere maatskappye neem hande met skole.
- Verkoop speserye.
- Verkoop sandale.
- Verkoop plante.
- Verkoop plakkers.
- Verkoop deeg.
- Reël ‘n boekverkoping by die skool.
- Smelt kooksjokolade en giet in vormpies. Koel af en verkoop dit een-een.
- Smelt skywe glycerin seep (1 – 2 cm vir 30 sekondes op ‘n slag) in ‘n beker in die mikrogolfoond. Giet in vormpies en plaas in die vrieskas. Sodra geset, kan jy dit met kleefplastiek oortrek en verkoop.
- Plaas ‘n 10c-stuk of plastiese speelding in die vorm voordat jy die seep giet.
- Reël ‘n musikant om by die skool op te tree.
- Doen navorsing oor fondsinsamelingsprojekte wat aan herwinning gekoppel is.
- Hou ‘n muntlegging en pak embleme en woorde wat aan die doel (bv. sporttoer) of skool gekoppel is.
- Sekere eetplekke hou spesiale aande (shadow evenings). Doen gerus navrae.
- Sluit aan by My School.
- Doen navorsing oor fondsinsamelingswebwerwe.
Watter idees werk vir julle?
Julie Huiswerk
20 Julie 2015
eksperimente
20 Julie 2015
afrikaans eksperiment, wetenskap 4 Kommentaar
Verskuif water (kapillêre werking)
Benodigdhede:
2 glase 
Water
‘n Servet of handdoekrol
Voedselkleursel (jou keuse)
Veselpen
Proses:
- Vul een glas met water en hou die ander een leeg.
- Maak ‘n merkie by die borand van die vol glas en voeg kleursel by die water (indien verkies).
- Rol of vou die servet op en knak in die middel.
- Plaas een “been” van die servet in leë glas en die ander been in die vol glas.
- Los dit so vir ‘n uur of twee en kyk wat gebeur!
Skei soutwater en sien hoe die water verkleur
Benodigdhede:
1K Warm Water
1/4K Sout
9V-battery
2 Vurke
Glasbak
Proses:
- Vul die bak met water en sout. Meng totdat die sout oplos. Ons het dit vir ‘n minuut in die mikrogolfoond geplaas.
- Hou die vurke regop in die oplossing en plaas die pole van die battery op/teen elkeen. Wat gebeur? Wat gebeur na sowat 5 minute? en 10?
Vulkaan of Bruis-aksie
Benodigdhede:
Wit asyn
Koeksoda
Glas fles (een met ‘n nouer nek of ‘n wyer een – soos ‘n groter Purity bottel)
Kommetjie of ‘n wasbak.
Proses:
- Kies ‘n dieperige fles en giet sowat ‘n ½ koppie asyn daarin.
- Skep ‘n eetlepel bakpoeier en voeg dit by die asyn.
- Plaas die fles in die kommetjie.
- Staan terug en kyk hoe dit bruis.
- Vir ‘n beter effek, kan ‘n mens voedselkleursel byvoeg.
Lawa: Olie en Water
Benodigdhede:
Kookolie
Water
Bruistablette (bv. Panado – selfs 1 teelepel Eno)
Voedselkleursel
Plastiekbottel of fles
Kommetjie of ‘n wasbak.
Proses:
- Vul die bottel halfpad met olie en voeg dan water by tot net onder die nek.
- Drup voedselkleursel by.
- Plaas die bottel in die kommetjie.
- Voeg die bruistablet by en kyk hoe die vloeistowwe vloei. Vir veiligheid kan ‘n mens die tablet in kwarte verdeel en stuk-stuk byvoeg.
- Draai die prop op, skud en kyk hoe lank dit sal neem totdat die vloeistowwe weer skei.
- ‘n Mens kan nog tablette by voeg.
Pofferige Verf
Benodigdhede:
Voedselkleursel
1E Bruismeel
1E Sout
Water
Kwas of skoon oorstokkies.
Dikkerige papier of karton.
Proses:
- Meng die droë bestandele en drup water bietjies-bietjies by. Begin met ¼ t water en wissel af met druppels voedselkleursel. Meng dit totdat dit ‘n pasta vorm.
- Skryf jou naam en spelwoorde of verf ‘n prentjie.
- Plaas die kunswerk op ‘n bord in die mikrogolfoond. Verhit vir 30 sekondes en sien hoe die verf rys.
- Dit behoort dadelik te set. Sodra die papier koel genoeg is, kan ‘n mens die prente en woorde uitknip en op ‘n groter karton plak.
Skrikkerige Peper
Benodigdhede:
1 teelepel fyn peper
Piering of bakkie
Water
Skottelgoedwasseep
Proses:
- Skink genoeg water in die piering om die bodem te bedek.
- Sprinkel die peper oor die oppervalkte van die water.
- Doop ‘n vinger in die middel van die piering. Wat gebeur?
- Smeer nou ‘n bietjie seep een jou vinger en doop dit weer in die water. Wat gebeur?
Reën in ‘n fles
Benodigdhede:
Fles
Skeerroom of spuitroom
Water
Blou voedselkleursel
Medisynedruppertjie of ‘n strooitjie
Proses:
- Spuit die room in ‘n dik laag bo-op ‘n halwe fles water.
- Suig die voedselkleursel in die druppertjie of strooitjie op en drup bietjies-bietjies deur die room.
Stel suurstof uit ‘n aartappel vry
Benodigdhede:
Aartappelskywe
Waterstofperoksied (Hydrogen Peroxide)
‘n Glas of glasbak
Proses:
- Pak aartappelskywe in ‘n glasbak of in ‘n glas.
- Giet sowat 125ml waterstofperoksied bo-oor die aartappel. Wat sien jy?
Blaas ballonne op
Benodigdhede:
Koeksoda
Asyn
‘n Ballon
‘n Tregter
‘n Plastiek bottel
‘n Kommetjie
Proses:
- Werk binne-in die kommetjie.
- Trek die ballon oor die tregter se pypgedeelte en vul met koeksoda.
- Vul die bottel halfpad met asyn.
- Span en trek die nek van die ballon oor die opening van die bottel, maar moenie die ballon lig nie.
- As die ballon netjies pas, kan jy die ballon lig. Wat gebeur?
Eier in ‘n bottel
Benodigdhede:
1 hardgekookte, afgedopte eier
‘n klein kersie (soos op verjaarsdagkoeke)
vuurhoutjies
‘n bottel met ‘n nek wat effens nouer/smaller as die eier is
Proses:
- Steek die kers aan en gly dit versigtig binne-in, teen die kant van die bottel af.
- Plaas die eier regop in die opening van die bottel. Wat gebeur?
Flubber
Benodigdhede:
3/4K Koue water
1K wit gom (soos houtlym)
Voedselkleursel (eksperimenteer met kleure)
1/2K Warm water
1t Boraks
Twee bakke en ‘n teelepel
Proses:
- Bak 1: Meng die koue water, gom en kleursel.
- Bak 2: Los die Boraks in die warm water op.
- Voeg die gommengsel stadig by die Boraksoplossing by en meng goed.
- Gooi die oortollige water af en meng die flubber met die hand totdat dit geset het.
- Hou die flubber in ‘n plastieksakkie of ‘n lugdigte houer.
67 minute
17 Julie 2015
afrikaans 67 minute, Madibadag, Nelson Mandela Lewer kommentaar
Madibadag het begin met 67 minute gemeenskapsdiens of -hulp op die 18de Julie, maar ‘n mens hoef dit nie tot een dag en ‘n paar minute te beperk nie.
- Maak “Omgee”-pakkies (saam met jou ouers) op om by tehuise (bv. ouetehuise), gemeenskapsdienswerkers (bv. maatskaplike dienste, brandweer, polisie, verpleegsters, weermag…) uit te deel. ‘n Motiverende boodskap is dikwels skaars en beteken baie.
- Help vir Mamma of Pappa by die huis. Probeer dit meer gereeld.
- Maak die badkamer of kombuis netjies.
- Vou die skoon wasgoed op.
- Dek die tafel en dek dit na ete af.
- Help hulle om inkopies te doen.
- Help iemand in jou woonbuurt.
- Skakel jou Oupa en Ouma of skryf vir hulle ‘n brief.
- Maak jou kamer aan die kant en versamel ou speelgoed, kryte, inkleurboeke en krale om by ‘n skooltjie, ‘n nasorgsentrum of die kerk af te gee.
- Lees ‘n boek vir ‘n boetie of sussie.
- Hou jou ou flitskaarte en skoolwerk om vir ‘n maat, ‘n boetie of sussie te gee.
- Kuier by bekendes en onbekendes in die hospitaal of ouetehuis.
- As jy oulike vaardighede het (bv. rekenaarvaardighede, handwerk, kunstig), kan jy dit inspan om iets vir ander te skep of om vir iemand te help.
- Bied aan om die rekenaaronderwyser te help – al is dit net om die rekenaars af te skakel aan die einde van die skooldag.
- Brei of hekel lappies om ‘n wêreldkombers te skep.
- Brei komberse in samewerking met jou klas of familie.
- Ontwerp en stuur serpe vir Story Scarves.
Onthou dat jy nie noodwendig geld hoef te spandeer nie. Hulpvaardigheid en ‘n glimlag is gratis.

Engels: Aanleer en Vaslegging
14 Julie 2015
afrikaans, engels, English, Graad 1, Graad 2, Graad 3, huiswerk EAT, engels, Phonics 2 Kommentaar
Klik op die skakels in die skrywe om na enkele dokumente te gaan. Die prente is voorbeelde daarvan.
Hoe spreek ‘n mens die klanke uit? Kan die outjie die klanke uitken deur na die woorde te luister? Kan hy/sy eenvoudige woorde ontsluit en met die meegaande prente verbind?
Hersien die Engelse sigwoorde deur dit te lees en in sinne te gebruik. Kies ‘n flitskaartgroep en gebruik die woorde saam met die verskillende sigwoorde in beskrywende sinne. Skryf sinne met die kleurwoorde (of selfs hoeveelhede en dae) in die spesifieke kleure. Speel “snap” of ‘n geheuespel indien jy twee stelle van die woorde (flitskaarte) gedruk het. Indien jy die stippelsigwoorde gebruik, kan jy die woorde natrek wat jy reeds gebruik het om sodoende rekord te hou.
Hersien die klinker kombinasies (vowel blends/digraphs) en voltooi sinne met die onderskeie woorde. Bespreek die moontlike vangplekke. Kan die outjie ‘n persoonlike inligtingsvorm in Engels voltooi? Hersien die skrif tesame met Engelse letterrympies.
Loer in die biblioteek na reekse soos Letterland – ‘n goue oue wat stories en liedjies vir elke letter of klank het. Die storieboeke (ABC, Beyond ABC en Far Beyond ABC) sluit dikwels ‘n liedjie CD in en is ook in skryfbehoefte winkels beskikbaar. Daar is heelwat gratis toeps (apps) vir selfone en tablette beskikbaar – wat aktiwiteite en luisterstories insluit. Indien jy hierdie aspekte wil ondersoek, tik gerus soekterme soos iPad, Android, Leesreeks, e-boek, Engels…Teacha…by die bruin soekblokkie regs bo-aan dié blad in of loer na die lysie skakels onder die “Geletterdheid”-hofie aan die regterkant.
Phonics Stories
Letterland Teacher’s Guide
Jolly Phonics
Loer gerus hier na nog opsies.
Traditional-Alphabet-Names
‘n Vinnige waterspel aktiwiteit
8 Julie 2015
afrikaans Graad R, jelliekrale, sensories, water babies, water beads, waterspel Lewer kommentaar
“Water babies”, “water beads” of Jelliekrale vir sensoriese/waterspel:
- Plaas in ‘n (deursigtige) plastiekbak – ‘n groter oppervlakte speel lekkerder – en vul met water. Voeg kort-kort water by totdat die krale lekker vet is.
- Gebruik ‘n plat bak en vul die bak met opgepofde krale. Versteek magneetletters en syfers op die bodem en vra dat die outjie sekere letters of syfers soek en uitlig. Gebruik die tone indien julle lus het.
- Indien jy bont kleure het, gee ‘n bakkie vir elke kleur en merk die bakkies met daardie kleure (kolle of woorde). Sorteer dan die kleure.
- Smeer ‘n laag skeerroom op ‘n vlak skinkbord en bou prente, syfers, vorms of klanke in die room.
- Kyk of die krale kan bons – in ‘n bak of bad.
- Tap ‘n bietjie water in ‘n bad of klein swembadjie. Skep die krale met ‘n klein netjie of ‘n lepel uit.
- Indien julle kleurlose krale het: Verflou verskillende kleure voedselkleursel (of waterverf) met water – in verskillende bakkies – en kyk hoe dit die krale in die onderskeie bakke verander.
- Indien die skool ‘n ultravioletlig (black light) het: Breek highlighters (veral heldergeel verligters) oop en sny die inkveselkussing oop. Laat dit in ‘n bak dreineer en voeg ‘n paar jelliekrale daarin. Voeg ‘n bietjie water by, skyn die lig daarop en kyk hoe die krale gloei. Maak seker dat die verligter veilig is om te gebruik (non toxic). Hierdie eksperiment kan dalk beter werk as ‘n mens ‘n deursigtige bak bo-op ‘n glas of draad tafel plaas – met die lig onder.
- Voeg ‘n paar vet krale in ‘n plastiekglasie (of in ysbakkies) en vries. Voeg die gevriesde blokkies in ‘n waterbak en speel daarmee totdat dit smelt. Kyk wat sal gebeur as ‘n mens die krale in ballonne laat swel en vries.
Lekker speel!
Vadersdag
11 Junie 2015
afrikaans geskenk, vadersdag Lewer kommentaar
Maak vir Pa drupmatjies met bekende embleme. ‘n Mens kan sommige embleme op die internet kry (bv. Castrol), maar ‘n mens kan ook advertensies of die ware Jakob gebruik.
- Haal die etiket liggies van die spesifieke blikkie af of skeur die dosie versigtig oop. Meet en pas ‘n kurkmatjie op die logo, sodat jy nie te veel sal afsny nie. Indien dit makliker is om eers ‘n vorm op die logo af te trek, kan julle ‘n voorwerp soos ‘n wye glas of ‘n kosblikkie gebruik. Trek die ring, knip uit, lamineer, knip uit, smeer ‘n dun lagie wit houtlym (of modge podge) agter-op die papier en plak dit in die middel van die kurkmatjie. Herhaal met nog embleme van Pa se gunstelinge. Vir ‘n permanente weergawe, kan ‘n mens die embleme lamineer sonder die kurk.
- ‘n Mens kan ook foto’s of tekeninge (met veselpenne) probeer. Maak net eerder ‘n afskrif as om die oorspronklike foto te gebruik.
Versier bekers of koppies met warm water en naellak.
- Koop unieke kleure naellak vir Pa (loer by die goedkoop winkels) en ‘n skoon beker of bakkie (verwyder plakkers). Tap warm water in ‘n 2l roomysbak en drup die naellak in die middel van die bak. Die kleure gaan begin vloei of versprei, maar dit gaan die ontwerp beslis interessant maak. Hoe groter die item, hoe meer naellak sal nodig wees om die oppervlakte van die water te bedek.
- Doop die bak of beker so diep as moontlik in die bak en lig uit. Indien julle dit ‘n tweede keer wil doen, moet ‘n mens weer naellak drup.
- Laat die beker of bak drupdroog en “set” die kleure in die mikrogolfoond (1 – 2 minute) of oond. Indien naellak binne-in die bak of beker beland het, kan julle dit met naellakverwyderaar uitvee. Was met die hand.
- Vul die beker of bakkie met lekkernye en draai toe.
Tik gerus ook “vadersdag” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees en vorige skrywes.
eksamentyd
2 Junie 2015
Dit is sulke tyd. Gebruik hierdie boodskappies in e-posse, briewe of op die kennisgewingsbord. Tik ook soekterme soos “vraestel”, “boodskap” of “eksamen” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of loer na die hofies wat met “vraestel”, “wiskunde” en “geletterdheid” gemerk is vir meer idees.
[Klik om te vergroot.]
Eksamengedig
Junie Huiswerk, Vaslegging of Intervensie
1 Junie 2015
afrikaans Graad 2, Graad 3, huiswerk 2 Kommentaar
Junie Huiswerk (drukbaar)
Tik “f en v”, “e klink soos i”, “klanksamevloeiing” of “Vadersdag” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in, om skrywes te kry wat sommige van hierdie huiswerk aktiwiteite sal ondersteun. Die huiswerk strek vir die volle maand, maar kan gekombineer word soos verkies.
Kinderbeskermingsweek
20 Mei 2015
afrikaans beskerm, kinderbeskermingsweek 2 Kommentaar
Om Kinderbeskermingsweek te vier, gaan ons groen linte dra of ‘n groen lint deur ‘n boekmerk knoop. Herinner die outjies net aan die simboliek of betekenis daarvan.
- Maak julle eie wasbare, tydelike tatoëermerke. Tik die boodskap (ouer se kontakbesonderhede) in die spieëlbeeld en druk uit. As jy op Power Point werk, kan jy die teks tik en “rotate” gebruik om die blokkie te draai. Seël die boodskap met 2nd Skin, Liquid Bandage of kleurlose naellak.
- Jy het nie altyd spesiale papier nodig nie, skryf die besonderhede direk op die vel en seël dit soos bo of gebruik kleurlose naellak.
- Maak ‘n Kinderbeskermingsboekmerk met moontlike noodnommers daarop. Hou dit in ‘n spesiale boek of maak meer boekmerke om in die skool uit te deel. Druk die boekmerk op groen karton of lamineer dit indien julle groen papier verkies. Pons ‘n gat in die middel van die breedte en knoop ‘n groen lint daar deur.
Sien ook:
-
Die Christelike Maatskaplike Raad noem tekens van moontlike mishandeling.
-
Childline se kontakbesonderhede.
-
‘n Vorige inskrywing.
-
‘n Inskrywing met riglyne en noodnommers.
moedersdag
5 Mei 2015
afrikaans moedersdag 2 Kommentaar
Ek het voorheen ‘n paar Moedersdag idees geplaas en het nog een of twee om by te voeg:
- Verklein ‘n Bybelvers op A5-karton (kaartjie formaat) of hou dit op ‘n A4-grootte. Laat die kinders die woorde natrek en versier. (knap vrouens – veelvuldige opsies)
- Plekmatjies: Druk glasmatjies of bordmatjies uit om in te kleur en te versier. Kleur dit in met uitdraaikryte (druk hard) en verf met ‘n lagie effens verdunde voedselkleursel. Lamineer die matjies apart en bind ‘n lintjie daarom.
- Die plekmatjie en versies kan ook tot magneetgrootte verklein word. Plak ‘n dun yskasmagneet agterop en siedaar. [Moedersdagkleurvol, Mother’s Day]
- ‘n Ander idee vir ‘n magneet is om ‘n kleurfoto van elke outjie te neem en dan op ‘n magneet te plak. ‘n Mens kan die foto’s ook in klein sleutelhouers skuif, maar moet dan verseker dat dit perfek sal pas.
- Versier teeligkersies met ‘n smal strokie washi tape. Sny ‘n vierkantige strokie deursigtige (of gewone) materiaal en bind die kers daarin toe. Die maklikste sou wees om vir elkeen ‘n “loom”-rekkie te gee om die lap se punte bymekaar te bind. Daarna kan ‘n mens ‘n bypassende lintjie om die rekkie bind. Voeg ‘n lekkertjie of twee as ‘n verrassing by.
- Indien die kinders hul eie epos adresse by die skool het, kan julle die kleurvolle Moedersdagboodskappe as ‘n dokument aan elke mamma stuur.
Watter oulike idees het julle al gebruik?
Vir nog idees en drukbare hulpmiddels, tik die soekterme “moeder” of “moedersdag” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
Hoezit se kaartjies.
Pikkewyn
25 April 2015
afrikaans diere, pikkewyn, see, storie, wilde dier 1 Kommentaar
Vandag is Pikkewyndag. Die Bril- of Afrika-pikkewyn kom aan die Suid-Westelike kus van Afrika voor en lewe ongeveer 10 – 15 jaar. Daar is egter ook baie ander soorte pikkewyne. Ken jy die spesies? Kan jy soos ‘n pikkewyn waggel (of swem)?
- Watter stories kan julle lees?
- Kan jy die werkwoorde invul?
- Les
- Doolhof
- Kleur in
- Luister na pikkewyn geluide.
- Ondersteun SANCCOB – wat seevoëls beskerm en red.
- Diere geluide
Wêreld Boeke nag
23 April 2015
afrikaans boek, boeke nag, lees Lewer kommentaar
- Pak vanaand die boekrak reg,
- rangskik dit op ‘n interessante manier (bv. volgens kleur),
- maak boekmerkies vir elke gesinslid,
- begin ‘n boeke spaarblikkie,
- besoek die biblioteek,
- raam oulike leesprente of aanhalings vir die leeshoekie,
- lees vir mekaar,
- maak opnames van voorlesings en luister daarna wanneer julle ‘n aftydjie het en
- neem ‘n “selfie” met jou gunstelingboek. Druk die foto’s uit maak ‘n muurcollage. Indien jy dit in jou klas se leeshoekie wil begin, neem maandeliks foto’s en inspireer mekaar.
- Indien julle boeke het om te skenk, plaas ‘n boodskappie voor-in.
Lekker lees!
Tik ook soekterme soos “boek, biblioteek, taaldag, lees, eboek, leeslys, leesreeks” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.
robotkaarte
11 April 2015
afrikaans abc, afrikaans, alfabet, engels, klanke, letters, skrif, skryf, syfer 4 Kommentaar
Robotkaarte werk soos ‘n verkeerslig. Jy kan ‘n groen kol by die beginpunt van syfers of letters plaas en ‘n rooi kol by die eindpunt. Sodoende weet die kleingoed waar om te begin en te eindig.
robotkaarte abc syfers (een simbool per bladsy)
Wat kan jy met hierdie kaarte doen?
- Gebruik dit as muurkaarte (voorbeelde of herinnering). Gebruik dit net so of druk op helderkleurige karton.
- Liaseer dit in lêersakkie. Skryf daarop met witbord veselpenne.
- Oefen skrif deur met elke kleur in die krytpakkie daarop te skryf (reënboogskrif). Verf met effens verdunde voedselkleursel.
- Skeur en plak fyn stukkies gekleurde papier (bv. uit ‘n tydskrif) daarop.
- Skryf die letter en oefen die letter op die wit agtergrond.
- Skryf die syfer en plak soveel soortgelyke prente rondom. Bv. 6 eiers, 2 skoene.
- Plak prente wat met die letter begin, op die wit agtergrond. Versigtig: Die klinkers moet soos ‘n klinker (a vir appel, e vir emmer, i vir in, o vir op, u in die middel van bus) en nie soos ‘n dubbelklank (aa, ee, oo, uu) klink nie.
- Hou die kaarte in lêersakkies of lamineer. Rol klei in lang wurms en vorm die letters of syfers daarmee bo-op die sakkies.
- Smeer gom binne-in die simbole om sand, sout, poeier, blinkertjies, ens. bo-oor te strooi.
Vir soortgelyke idees, tik gerus soekterme soos “abc, skrif, skryf, alfabet, syfer, klanke, fynspier, handspier… tuis idees” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in en loer na die “Drukbare Bladsye”-hofie.
Paasfees
3 April 2015
afrikaans Paasfees, Paastyd Lewer kommentaar
Hiermee so ‘n paar kunsvlyt idees om as gesin te probeer…
- ‘n Paas-sonvanger: ‘n Eenvoudige, maar effektiewe ruit-versiering is om ‘n son uit snesie-papier (tissue paper) te sny. Plaas ‘n paar lae (oranje en geel) bo-op mekaar en plaas dan ‘n groot sirkelvormige voorwerp bo-op. ‘n Stukkie van die bak kan oor die rand skuif om die horison te maak. Trek af en sny uit. Hou die res van die papier steeds op mekaar en sny die strale uit. Doop ‘n sponsie of watte in kookolie en smeer dit bo-oor. Die papier absorbeer die olie en laat die lae aanmekaar kleef. Dit laat die son ook aan die ruit kleef (lekker morsig, maar mooi). Jy kan die strale se lae afsonderlik (of in die pakkie) om die son versprei en dan kruise, woorde of selfs ‘n versie om of op die son plak. ‘n Mens sal net die letters afsonderlik moet uitknip en plak. Die mooiste deel van hierdie versiering is dat hierdie son gloei wanneer die sonstrale daarop val.
- Kleur eiers met mooi patrone: Gebruik ‘n stukkie sylap (bv. gesnyde ou serpe of dasse) – groot genoeg om styf om die eier te bind – en ‘n stukkie katoen (bv. gesnyde, ou t-hemp). Plaas die sylappie bo-op die katoen en die eier bo-op die materiaal. Vou die lap so glad en styf as moontlik oor die eier en bind die punt met ‘n rekkie vas. Bedek die eier(s) met water en drie eetlepels asyn. Kook vir sowat 20 – 30 minute en haal die eiers uit om af te koel. Die patrone behoort dan netjies agter te bly en die eiers kan as versierings op die tafel dien.
- ‘n Mens kan ook oulike, wasbare tatoeërmerke koop en op eiers afets.
- Los ‘n bietjie muurpapiergom (beskikbaar in klein koevertjies) op en verf die eier daarmee (of houtlym). Rol die eier in blinkertjies om ‘n dik lagie te maak en laat dit op ‘n ou borsel, naelborsel of ‘n speldekussing stelasie* droog word. (*Steek spelde in rytjies of blokkies op ‘n stuk spons of oase in.)
- Verf die eiers met swartbordverf en laat op die speldekussing stelasie droog word. Skryf die gaste se name op elkeen.
- Prik ‘n eierdop met ‘n speld en hang dit aan ‘n effens oop gebuigde skuifspeld. Gebruik verskeie kleure ou naellak en drup dit bo-op water in ‘n klein weggooibare glasie totdat die hele oppervlakte met naellak bedek is. Trek ‘n tandestokkie daardeur om patrone te maak en doop die eier daarin. ‘n Mens sal die eier dalk meer as een keer moet doop en die proses moet herhaal. Hang die skuifspelde aan die wasgoedlyn op totdat die eier droog is.
Vir nog Paasfees of Bybelles idees, kan julle soekterme soos “Paasfees” en “Sondagskool” by die bruin soekblokkie regs-bo in tik.
inkleurprente
Outisme
30 Maart 2015
afrikaans asd, asperger, outisme 2 Kommentaar
2 April is Outisme Bewustheidsdag. Die statistieke wissel, maar tans is die skatting dat ongeveer 1 uit 86 kinders deur die Outisme Spektrum geraak word. Dit kom vier keer meer in seuns as in dogters voor en in ander wêrelddele is dit meer algemeen. Wat sê die kundiges?
Indien julle blou gloeilampe het, verlig die skool of voorhuis daarmee en om die dag te ondersteun, dra gerus blou. Kontak ook een van die spesialis skole om meer oor ondersteuningsgeleenthede in jul area te wete te kom.
-
Outisme ASA lys skole
-
Outisme (skool in Pretoria)
-
Outisme en Asperger Sindroom SNAP
-
Outisme – ASAP (Somerset-Wes)
-
Outisme – Boland Autism (Paarl)
-
Outisme – The Dream Tree (Somerset-Wes)
-
Outisme: Vera Skool
- Riglyne
























































Woorde