Tuis

boekmerkies

2 Kommentaar


boekmerke

‘n Mens is mos altyd op soek na oulike idees – om te maak of om te laat maak. Hoekom dan nie boekmerkies nie?!  Dis mos iets om aan die begin van die jaar te maak – om die jaar met ‘n lekker lees gees te begin.

  • National Geographic het ‘n oulike webprogrammetjie waar die kind (of juffrou) self ‘n boekmerkie kan maak.  Jy kan die prentjie, agtergrond en raampie kies en jou eie boodskap tik.
  • Highlightkids het ‘n soortgelyke program.  Ontwerp jou eie oulike boekmerkies deur gesiggies, koppe, lywe en voete te pas. Jy kan sommer lekker laf raak as jy wil. Al wat jy dan nodig het is ‘n drukker, ‘n skêr en ‘n lamineermasjien (of ‘n rol breë deursigtige kleeflint).
  • Maak boekmerke met ‘n spesiale foto en boodskap daarop.
  • DLTK is altyd ‘n wenner en daar kan jy regtig kreatief raak. Ek het die Spongebob merkie daar geskep. Dan is daar ‘n paar oulike merkies op die Family Fun webwerf.
  • Kids Kreate het ‘n paar oulike boekmerkies in kleur.  Wees kreatief.
  • boekmerkbasis
  • Boekmerk (drukbaar)  –  gebruik apart of plak twee merkies rug-teen-rug.
  • Engelse boekmerkies is beskikbaar onder “drukbare“-hofie.
  • books are magical

Boekmerk wit

 

boekmerkfoto                    boekmerkmaker

oulik

2 Kommentaar


komponente van lees

1 Kommentaar


Soos wiskunde, het lees ook verskeie aspekte of boublokke om die leser se vaardighede te versterk.  Dit sluit fonemiese bewustheid, leesbegrip, klanke, vlotheid en woordeskat ontwikkeling in.

Fonemiese bewustheid dek die begrip dat ‘n woord uit verskillende dele bestaan.  Ek hoor die begin-, middel- en eindklanke…Ek kan ‘n woord verskaf wat rym met…

Klanke is die dele waaruit woorde gebou word:  klinkers / vokale, medeklinkers, klanksamevloeiings (br-, -ng, sw-…), dubbelklanke (aa, ee, oo, uu), tweeklanke (ui, oe, eu…) en drieklanke (aai, eeu…).  As die leser nie sy klanke ken nie, kan hy nie die woord ontsluit (lees of spel) nie.  Dus is ‘n goeie kennis van klanke belangrik.

Vlotheid het te make met die vloeiendheid van lees.  Dit steun nogal sterk op die leser se vermoë om dele van woorde en hele woorde met die eerste blik of oogopslag te herken.  ‘n Groot hoeveelheid woorde val onder die konsep sigwoorde of hoë frekwensie sigwoorde.  Hoe vinniger en hoe meer akkuraat hierdie woorde gelees word, hoe meer vloeiend lees die kind.  Vlotheid neem egter hande met sigwoorde én leestekens.  Die kennis van leestekens en hul gebruike, maak die leesproses ‘n outomatiese proses.  Dink maar net aan jou bestuursvernuf.  Jy weet hoe om verkeerstekens en padaanwysings te gebruik sonder om twee maal te dink.

Woordeskat ontwikkeling is ‘n lekker en spesiale oefening wat deurgaans kan plaasvind en sonder veel “stres”.

Gebruik die vakansie om spelenderwys en op ‘n ontspanne manier aandag aan die konsepte van lees te skenk en lees, lees, lees 😆 Koop ‘n boek of ruil uit met ‘n vriendin.

Time4learning is ‘n Amerikaanse webwerf wat ook hier en daar verklarings oor leesontwikkeling oulik voorstel.  Gaan loer gerus…

Tik voorts soekterme soos “lees, leeslys, sigwoord, woordeskat, abc, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits…ouditiewe, visuele, ogies, rympies, engels” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in vir verskeie idees.

nog ‘n kans

Lewer kommentaar


kansDie aspekte wat in ag geneem word om ‘n kind terug te hou in ‘n graad, is baie omvattend.  ‘n Opvoeder sal nie sommer ‘n kind terug hou tensy dit nie in die spesifieke kind se beste belange sal wees nie.

Wat maak ek as my kind met die rapport tuis kom?

Die skool het jou reeds voorberei vir die moontlikheid van ‘n meer tyd aanbeveling.  Probeer om die goeie aspekte raak te sien.  “Sjoe! Jou skrif is baie goed en jy het ‘n goeie punt vir Lewensvaardighede gekry.  Baie geluk.  Ons sal volgende jaar aan die ander dingetjies werk.”  Oor-en-verby en roomystyd. Bêre die rapport en moet dit nie vir ander mense wys nie. Met die aanvangs van die nuwe jaar kan ‘n mens die hulp van kundiges in roep om aan die probleemareas te werk.  Die vakansie is kort en kwaliteit familietyd is belangrik.  As die outjie oor die rapport wil gesels kan ‘n mens luister.  ‘n Houding van “ek weet dat jy jou beste probeer het, maar volgende jaar gaan die werk meer bekend wees en sal jy nog ‘n kans kry”…is meer geskik as ‘n uittrapsessie.  Vir ‘n jong leerder kan ‘n mens vertel dat sy juffrou hom graag as ‘n leier vir die nuwe maats wil inspan…dink aan ‘n gepaste (positiewe) verklaring…Indien die nuus regtig moeilik is om te verwerk, kan ‘n mens ‘n gesprek met ‘n berader (sielkundige, spelterapeut, ens.) probeer.  ‘n Kind gesels dikwels met meer gemak met ‘n buite mens as met sy eie maats of ouers.

Hiermee verdere inligting oor ‘n Meer Tyd-jaar.

Herhaling van Graad 1-leerders

Herhalingsjaar en adolosente

Slaagvereistes

die rapport en rapportkommentaar

11 Kommentaar


rapport

Dis die einde van die jaar en ‘n mens wil die laaste rapport ekstra spesiaal maak.  Indien jy baie tyd op hande het, kan jy self ‘n oulike koevert vir elke kind maak…indien jy ‘n onderwyseres is…kan die kinders dit maak 🙂

Jessica Jones het oulike idees oor koeverte.  Ek gaan nog so ‘n paar idees noem…Gebruik A5 bruin of wit koeverte vir die volgende:

Teken die buitelyn van ‘n prent af op ‘n ou x-straalplaat – met ‘n permanente koki.  Gebruik byvoorbeeld ‘n kenteken van jou klaskamer (‘n ster, dier of selfs die Graad – bv. 2, 1 of 3) of kersfeesprente (kersboom…) en sny dit uit.  Indien jy ‘n lamineermasjien naby het, kan jy eenvoudige die prent lamineer en versigtig uitsny vir gebruik.  Plaas dit bo op die koevert en plak liggies met wondergom vas .  Nou kan jy kies wat jy met die sjabloon wil maak…

  • doop ‘n sponsie (sommer ‘n sponsie uit ‘n ou pilbotteltjie) in tandepasta-dik verf en drup die meeste verf uit…droogspons nou liggies bo-oor die sjabloon en laat droog word…skryf die kind of ouers se naam in die oop spasies
  • vul ‘n ou spuitbotteltjie met voedselkleursel – verdun effens – en spuitverf die koevert…hou egter die botteltjie hoog en ver weg sodat die koevert nie onnodige blertse kry nie…’n keelspuitjie het nogal baie woema
  • as jy netjies kan sny, kan jy die karaktertjie uitsny en een kant bêre – sodat jy die groter raam kan gebruik.  Spuitverf of spons dan die binnekant van die stensil op jou koeverte…

Neem ‘n foto van elke kind en druk dit op die koevert tesame met sy / haar naam. (Gebruik ‘n tema – bv. dra ‘n kersmus, poseer by die skoolwapen…)

Koop spesiale papier, druk die koevertraam daarop en sny uit.

Sny geskenkpapier (gewone, bruin of kerstema) in A4-velle.  Druk die koevertraam daarop – met die kind se naam in die middel.  Daarna kan jy die koevert self uitknip of vir die betrokke kind vra om dit te doen.  Seël dit met ‘n bypassende satyn of organza lint.  Jy kan die lint strik of met ‘n wasseël afrond.

Indien jy die buitekant van die koevert professioneel wil hou, kan jy die woord “Vertroulik” en die ouerpaar se name daarop druk. Versier die binnekant van die koevert met ‘n verrassingsmotief. Sny die randjie ietwat kleiner as die buiterand van die koevert se flap en plak die koevert toe met ‘n gepaste plakker – eerder as om dit toe te lek.

Rapportkommentaar:

einde van die jaar

3 Kommentaar


Wat maak ‘n mens aan die einde van die jaar? Eindig ‘n mens die jaar met ‘n vinnige wuif by die deur of maak jy iets spesiaals daarvan?

Ek het ‘n paar oulike idees teë gekom om veral by die jonger grade in te span. Weereens is die meeste gediggies en idees in Engels. Wie kan aan iets ouliks (in Afrikaans) dink?

Maak ‘n hele tema om die jaar mee af te sluit en hou ‘n uitstalling van die jaar se lekkerste gebeure. ‘n Goeie manier om die klas te versier is om foto’s en prente aan ‘n tou vas te knyp en om dit van hoek tot kant bo-oor die leerders te span. Plaas die gebeure in kronologiese volgorde en vra die kinders om kortliks die gebeure te beskryf. Bv. Jana het in Januarie verjaar. Ons het ‘n swembad-partytjie gehou en het lekker gespeel… Ons klas het die meeste geld ingesamel vir die skool se nuwe vlagpaal. Dít was nou ‘n goeie spanpoging!…Maak ‘n punt daarvan om iets oor elke leerder te plaas.

Indien daar muurruimte is, kan ‘n mens ‘n spesiale kleurvolle uitstalling aanbring. Wat van ‘n tema soos “Mooi dinge om te onthou uit my Graad 2-jaar”? Indien ‘n mens die kans het (of ‘n helpende mamma of twee), kan die oulike stories en prente op CD’s geskandeer word en as ‘n afskeidsgeskenk uitgegee word. Indien die CD’s ‘n bietjie duur is, kan ‘n afgerolde boekie gebind word vol herinneringe…met ‘n prettige klasfoto op ‘n kleurvolle voorblad 😉 Wees gerus kreatief en maak die herinneringe ekstra spesiaal.

Kersfees as tema

Lewer kommentaar


Iemand (dankie T!) het vandag vir my gevra oor idees vir ‘n Kersfees-tema.  Ek plaas solank ‘n paar idees hier en sal uitbrei so tussen die punte en rapporte deur 😉

  1. Allkidsnetwork
  2. Inkleurprente
  3. Inkleurwerk
  4. Kunsvlyt
  5. Kinderhelper – verskeie temas
  6. Animal Junior
  7. DLTK verskeie werkvelle en aktiwiteite
  8. abcteach verskeie aktiwiteite
  9. Oulike idees vir geskenksakkies en kaartjies
  10. verskeie
  11. Skryf vir Kersvader…en ander
  12. kunsvlyt
  13. doolhof
  14. naamkaartjies vir geskenke
  15. sneeuvlokkies
  16. nog sneeuvlokkies
  17. kersboomversierings uit herwinde kaartjies
  18. Kabouterprent
  19. Kwaaitjie Kabouter (ou omie)
  20. Blomruiker kabouter
  21. Dawie die Kabouter en nog Dawie prente
  22. Kabouterkoekies
  23. Verskeie kabouters
  24. Kous doolhof
  25. Kersboom
  26. GROOT verskeidenheid prente

Lekker snuffel!

Loer ook hier vir skakels na Bybelverhale.

Tik soekterme soos “Kersfees” en “soutklei” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir soortgelyke skrywes.

voorspoed

2 Kommentaar


oulike gedagte - onlangs ontvang
onlangs ontvang – oulike gedagte

Voorspoed aan al die opvoeders wat besig is met die laaste stuiptrekkings van nog ‘n besige jaar.  Die departement het reeds begin met besoeke aan skole – om te verseker dat die kleingoed mooi vorder.  Sommige skole het al met die finale eksamen begin.   Baie voorspoed aan elke ouer, opvoeder en kleinding – veral met die groot opgewondenheid en angste wat met die assesserings gepaard gaan.  Juffer hou duim vas 😉

amper in die groot skool

14 Kommentaar


skoolgereedDit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!

medemens

Lewer kommentaar


engelkind

20 Oktober is Suid-Afrika se eie dag vir ons engelkinders.  Dit is die Nasionale Dag vir die Bewustheid van Down-Sindroom en die tema is “It’s all in the Genes”. Dra ‘n denim en betaal jou “boete” aan die naaste tak van DDSA.

onderwysersdag

1 Kommentaar


teacher day
Maandag, 5 Oktober, is Onderwysersdag. Bederf so ‘n bietjie 😉

Eenvoudige inkleurprente en aktiwiteite

52 Kommentaar


EnkelklankeEk merk op dat daar verskeie soeke na inkleur- en aktiwiteitsboeke is. Hiermee dan so ‘n paar skakels vir die vakansie:

 


Jy sal verskeie werksvelle, kunsvlyt en les-idees kry, wanneer jy tema’s soos “liggaamsdele, die see, weer, lente, somer, winter, herfs, karnivore, wildtuin, troeteldier, plaasdier, vervoer, padveilig, grond, water, moedersdag, vadersdag… tuis idees, olimpiese spele, collage…” of konsepte soos “robotkaart, knip, flits, sigwoord, 
klanke, abc, hersien, syfer, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiing, Engels, vorms, kleur, oefen self…hulpmiddels”   by die bruin soekblokkie aan die regterkant in tik.  Meer hulpmiddels is onder die “Drukbare Bladsye”-hofie gelys. 
Volg die “Mandjie”-hofie vir nog gratis, drukbare hulpmiddels.
 
 
 
 

bazoo

Lewer kommentaar


bazooJuffer het onlangs ‘n oulike tydskrif raak gelees – vir die jongspan.  Gaan kyk gerus…

September

Lewer kommentaar


Vra vir enige en menige opvoeder – teen September voel almal so

teach

oefen self

55 Kommentaar


Klik op die skakels onder die prente vir nog voorbeelde.

Ek het onlangs hierdie “stilspeletjie” herontdek.  Dit is eenvoudig om op te stel en is ‘n handige huiswerk hulpmiddel – veral as Ma en Pa gou iets anders moet doen.

Ek maak my raamwerk gewoonlik op MS Powerpoint – bloot omdat ek die prentjies makliker kan manipuleer.  Jy kan natuurlik Word of enige ander program gebruik.  Trek ‘n reghoek en gebruik die “lines“-skakels (onder die AutoShapes-gids) om die lyne te manipuleer.  Jy kan jou skeidslyne verander om elke reghoek uniek te maak.  Sodra jy die bladsy vol uniek rame getrek het, kan jy met die text box funksie somme, klanke, woorde en selfs sinne op die kaartjies tik.  Die doel van die unieke skeidslyne is dat jou kind die twee dele bymekaar kan pas en hom- of haarself kan korregeer.  As die rande nie pas nie, staan die foutjie duidelik uit en moet die kleingoed self die regte antwoord soek.

Druk gerus so ‘n paar stelle, knip die reghoekige kaartjies uit, plak breë deursigtige kleeflint bo-oor en knip die skeidslyn deur.  Siedaar! Jou eie stel opvoedkundige speelkaarte.  Die kleeflint kan voor en agter geplak word om die kaartjies te beskerm en behoort vir ‘n kind of twee te hou.  Jy kan die kaartjies byvoorbeeld in klanke op deel:  ‘n bladsy vir a-woorde, ‘n bladsy vir b-woorde, ens.  As jou kleinding die oe-klankie geleer het, kan jy sommer dieselfde aand ‘n stelletjie maak en vir die res van die week die woorde oefen.  Na ‘n dag of twee kan jou kleinding die speletjie onafhanklik aanpak terwyl jy kos maak of jou aandag moet verdeel.

legkaartraam

Self-correcting puzzles

Legkaarte

Afrikaans / Engels

Skriflegkaarte

*Hou die legkaarte heel en gebruik dit as flitskaarte.

tweeklanke

4 Kommentaar


tweeklanke

This slideshow requires JavaScript.

‘n Mamma het onlangs ‘n navraag gerig oor die verwarring van tweeklanke. Hiermee dan so ‘n paar gedagtes vir die Graad 2- en 3-outjies wat sukkel met klanke soos oe, ou, eu…

Knip ‘n kolom uit ‘n tydskrif of koerant (in plaas van die hele artikel – wat oorweldigend kan wees) en skryf ‘n spesifieke klank bo-aan. Vra jou kleinding om dan byvoorbeeld net die oe-klank te omkring en om te sê hoeveel hy gekry het. Hy moet die woorde dan netjies oorskryf op ‘n oe-bladsy. Kyk of hy dalk ‘n woord gemis het. As hy almal gekry het en reg geskryf het, kan hy ‘n belonging of klein bederfie kry. (‘n DVD vir die naweek of iets…niks duurs of spandabelrigs nie.) Plak die papier teen ‘n deur vas of iewers waar hy gereeld verby sal stap. Toevallige lees verrig wondere. Skryf vir hom sinne met die woorde (bv. Ek moet die groen boek soek. Die koek lê op die handdoek.) en plak dit by die woorde op. Vra jou kleinding om dit neer te skryf. Julle kan dit sommer in ‘n werkboek doen en dan kan hy iets daarby teken. Boeta kan ook deur ou tydskrifte blaai, oe-woorde uitknip (gebruik opskrifte) en in die boek plak. Maak julle eie flitskaarte – sommer twee stelle. Flits net eers die woorde en speel dan “snap” of ‘n “memory game” (waar die karate onderste bo lê en jy die pare moet omdraai en pas).

Doen eers julle oe-ontwikkeling klaar (vir ‘n dag of drie) en pak dan ‘n heeltemal ander klank aan voordat julle die ou aandurf. Dit keer net dat ‘n mens deurmekaar raak.

‘n Seun wat ek help het sy eie assosiasies gemaak. Hy ken die oe-klank as die oe vir koek. Nou sê hy telkens “oe…koek” (soos een wie se mond water vir ‘n lekker stukkie koek) en ou-nou (“oh no” met ‘n sug) as hy die ou sien. Dit werk om die een of ander vreemde rede vir hom.

Baie kinders verwar die ee– en eu-klanke. Behandel die ee-klanke eers en dan op ‘n volgende keer die eu. ee is ‘n jong outjie en eu is sy ouboet met die diep stem. Ons spreek dit ook onderskeidelik met ‘n normale en ‘n diep stem uit. Die u in eu laat ‘n mens ook dink aan ‘n diep bakkie, daarom spreek ons dit dieper uit. Weereens werk dit nie vir almal nie. Toets dit gerus en probeer alternatiewe metodes. Laat weet ons asseblief as dit werk.

ui en ei…Ek teken prentjies of gebruik clip art. Weereens word die ui dieper uitgespreek as die ei. Behandel elkeen apart (en volg dit op met die y). Dit help om die woorde visueel voor te stel. Ek teken byvoorbeeld ‘n “bakkie” soos die u in ui vir woorde soos tuin en kruiwa. Ek kan suiker in ‘n bakkievormige koppie gooi. ‘n Kruiwa het ‘n bakkie-vorm en as ek ‘n boom wil plant, grawe ek ‘n bakkie-vorm in die tuin. Ek slaan ‘n duik in die deur met my vuis en druk ‘n bakkie-vorm in die modder met my duim. ei staan bekend as die “plat” ei, omdat dit ‘n plat strepie in het. Die trein moet op ‘n gelyke, plat spoor ry en lyk self ook ‘n bietjie plat. ‘n Eiland se waterlyn lyk soos die plat strepie in die e…en so gaan ‘n mens maar voort met jou eie idees.

As ons ei sê trek jou lippe styf of reguit soos die lyntjie in die “e”. As ons ui sê, gebruik ons ‘n dieper stem – wat so diep sak soos die “u” 🙂

‘n Paar lees-lusmakers vir lui lesers: Los gereeld notas op baie sigbare plekke. Bv. teen die kamerdeur: Ek wonder of Jannie sy kosblik in die wasbak gesit het…Ek is trots op jou netjiese kamer…in die kosblik: Ek hoop jy het ‘n lekker dag…Allerhande skriftelike dinge op snaakse plekke gee hom die geleentheid om alleen te lees – sonder die frustrasie van sukkel voor ander. As hy sukkel met sekere aspekte soos die oe-klank, kan jy ‘n koek liggies bokant die woord teken. As hy sukkel om bv. uu en ee as ‘n geheel te lees, kan jy dit onderstreep om die “eenheid” aan te dui. …en natuurlik is lees en leesstof ‘n vereiste, want Juffer sê so 😆 Koekeloer en soek vir ou Storieman-reekse, sodat die lui lesertjie kan luister en volg. Neem stories op – as daar reekse op die radio speel of sommer tuisgemaakte / eie stem opnames. ‘n Mens hoef nie vreeslik uitgawes aan te gaan nie… Laat weet gerus as hierdie idees kon help 😉

Tik gerus soekterme soos “hersien, klanke, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits” by die soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.

taaldinge

9 Kommentaar


Dit is vandag Taaldag…

Lbgbookshelf3

Studentejuffrou het my laat wonder oor watter organisasies vir ons kan help om oulike boeke te kies en te koop.  IBBY SA is een van hulle. Hierdie groep skryf kort resensies van kinderboeke en kan dalk waardevol wees vir ouers én opvoeders.

Vir die outjies wat met Engels sukkel, is daar oulike blogs soos HLTA STAFFROOM. Dit is regtig oulik en propvol interessante idees. Het jy dalk ‘n oulike webwerf teë gekom? Laat weet my gerus.

pienk en blou

Lewer kommentaar


sticker
Op 12 Augustus is dit die Tygerbeer se Pienk en Blou Kinderbewustheidsdag.  Gaan loer gerus in om te sien waaroor die dag gaan.

slaag

3 Kommentaar


duckrowa

Die slaagvereistes het verander in die Wes-Kaap.  Wees asseblief bedag daarop dat die rapport van nou af ‘n bietjie anders gaan wees.  Volgens omsendskrywe 18/2009 gaan die kleingoed nou ‘n bietjie meer skouer aan die wiel moet sit. 

Vind gerus by julle skool uit of dit jou kinders ook sal raak.

woordsomme

12 Kommentaar


Screen Shot 2015-11-22 at 10.26.09.png

This slideshow requires JavaScript.

Begin deur die probleem te lees.

Watter getalle / hoeveelhede kry ons in die som?  Bv. ‘n drie, ‘n tien, ens.

Wat dink jy moet ons doen?

Bymekaar tel / plus / optel…wegneem / aftrek / minus…meer maak…minder maak?

Bespreek die woordeskat in die probleem.

Bv. Jan spaar R2 elke dag.  Hoeveel geld spaar hy in 5 dae?  Wat beteken spaar?

“Teken” die som:

sien prent 1

Pak dan boontjies, knope of ander tellers bo-op elke blokkie:

sien prent 2

Tel die tellers een vir een, m.a.w. 1, 2, 3, 4…9, 10!  Hoeveel rand het Jan gespaar? R10!

Is daar nie ‘n makliker manier om die geld te tel nie?  Kom ons tel weer (sê nou die ewe getalle harder as die onewe getalle): 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10 en ‘n laaste keer:  2, 4, 6, 8, 10!

Aanvanklik moet ‘n mens maar oor en oor werk en stelselmatig vir die outjies wys hoe om dinge makliker te maak.

Gebruik dan ook ‘n volgende / verdere voorbeeld soos hierdie:

Mia bêre elke dag twee lekkers vir die naweek.  Hoeveel lekkers sal sy na vyf dae oorhê?

sien prent 3

Twee en twee en twee en twee en twee.  Daar is vyf dae – dus het Mia vyf twee’s bymekaar gemaak.  As ons in tweë tel (druk op elke prentjie of blokkie soos jy tel) kry ons twee, vier, ses, ag, tien!  Tien lekkers!

Belangrik:

Hou die getalgebied klein.  Graad 1’s werk meestal in die gebied van 1 tot 10 en later tot by 20.  Graad 2’s werk aanvanklik in die gebied van 1 tot 20 en later tot by 34.  Die Graad 3’s werk dan verder – in dekades (tiene) en honderde (tot by 1004).  Maak by die juffrou seker in watter getalgebied jou kleinding moet werk en moet nooit vooruit hardloop nie.  ‘n Motor sukkel as jy van eerste na vyfde rat spring – so sal die kinders ook vas val as die ratte nie deur die regte prosesse gaan nie.

Werk met tellers as wiskunde en woordprobleme ‘n groot probleem is en hou dit altyd byderhand.  Daar moet ook altyd rofwerkpapier wees om prentjies te teken en om rofwerk op te doen.

Probleemtipes:

Hierdie is voorbeelde van woordsomtipes.  Gebruik die basiese strukture om jou eie probleme te skep.

1. Groepering:

Tom verkoop balle in sakkies van 2 elk.  Hy het 7 balle.  Hoeveel sakkies met 2 balle elk kan hy verpak?

Bly daar balle oor?  Hoeveel balle bly oor?

Jana se ma koop ‘n pakkie lekkers.  Daar is 18 lekkers in die pakkie.  Jana kry elke dag 3 lekkers.  Hoeveel dae sal die pakkie lekkers hou?

2. Verdeel / Uitdeel:

Verdeel 15 lekkers tussen 5 maats sodat al die maats ewe veel lekkers kry.

3. Deling wat tot ‘n breuk lei:

Verdeel 12 worsies tussen vier honde sodat elkeen ewe veel kry en sodat daar niks oorbly nie.

4. Nog deling (proporsioneel):

Tim en Jan werk saam.  Tim werk drie ure lank en Jan werk slegs vir ‘n uur.  Hulle kry saam R90.  Hoe gaan hulle nou die geld verdeel?

5. Herhaalde optelling:

Hoeveel wiele het 3 motors?

Hoeveel pote het 5 honde?

Hoeveel wiele het 2 driewiele?

6. Koers:

Mila eet elke dag twee koekies.  Hoeveel koekies eet sy in ‘n week?

Hoeveel dae is daar in ‘n week?

7. Roosters:

Dink hier aan ‘n “grid” of rooster.

Oom Daan plant beet.  Daar is drie rye beet en ses plante in elke ry.  Hoeveel beetplantjies is daar altesaam?

8. Kombinasies:

Ousus pak ‘n tas vir die naweek.  Sy het 4 verskillende toppies en 3 broeke.  Hoeveel verskillende uitrustings kan sy aantrek?

9.  Optelling en Aftrekking:

Saamvoeg

  • Tim het 3 penne. Tom gee vir hom nog 4 penne.  Hoeveel penne het Tim altesaam?
  • Tim het 3 penne.  Hoeveel meer penne het hy nodig om altesaam 7 penne te hê?

Skei

  • Tim het 7 penne.  Hy gee 4 penne vir Tom.  Hoeveel penne het Tim oor?
  • Tim het 7 penne gehad.  Hy gee van die penne vir Tom.  Nou het hy 3 oor.  Hoeveel penne het Tim vir Tom gegee?

Voorbeelde en werksvelle:

Klik op die skakel – ook in die aparte venster.

woordsom vb

  1. Woordsom 1 – 10 optel
  2. Woordsom 1 – 10 optelling
  3. Woordsom 1 – 10 aftrek
  4. Woordsom 1 – 10 aftrekking
  5. Woordsom optelling 1 -20
  6. Woordsom 1 – 20 aftreksom
  7. Woordsom 1 – 20 aftrekking
  8. Woordsom 1 – 20 aftreksom woordsom
  9. Woordsom 10 – 20 optel
  10. Woordsom 10 – 20 aftrek
  11. Verskeie woordsomme pakket
  12. Verskeie somme in groter getalgebiede

Aflaaibare werkkaarte is in die departementele werkboeke beskikbaar.  Kyk gerus ook na die volgende skakels:

Woordsom 1

Woordsom 2

Wenke

Older Entries Newer Entries