Dit is die verhouding van die voorwerp tot die waarnemer (eie liggaam). Die kind neem voorwerpe waar as agter, voor, bo, onder en aan sy kante. Wanneer ‘n kind probleme ondervind met posisie in die ruimte is sy wêreld verwronge, hy is lomp en huiwering om bewegings uit te voer. Hy vind dit moeilik om die woorde in, uit, op, af, voor, agter, links en regs te verstaan.
So kan ons dié persepsie ontwikkel…Onthou dat ons eers in die laer rat wegtrek (Konkreet) en dan die outjies ontwikkel om die semi-konkrete en abstrakte “ratte” te probeer. Dis ‘n geleidelike proses.
Konkreet:
Opdragte: staan in die sirkel, op die sirkel, langs die sirkel…gebruik ‘n hoepel of teken ‘n sirkel met bordkryt op sement.
Boontjiesakkies: Sit die boontjiesakkie bo-op jou kop/onder jou voet, ens. (Gooi sommer boontjies in ‘n plastieksakkieen knoop toe.)
Simon sê: Staan in die blok, langs die kas, ens. Beweeg slegs as “Simon sê”.
Opdragte: Sit die voorwerp langs/ op/ in die sirkel.
“Simon sê” m.b.v. ‘n voorwerp. Simon sê: Sit die boontjiesakkie links van jou tas neer.
“Simon sê” m.b.v. ‘n voorwerp én liggaamsdele. Simon sê: Sit die boontjiesakkie links van jou tas neer – met jou tone!
Uitwys: Waar is jou ken / regterhak, ens?
Bou ‘n toring: Plaas die blokkie regs voor jou. Sit die uitveër bo-op die blokkie.
Opdragte: Sit die bal bo-op, langs die tafel met jou regter-/linkerhand.
Sorteer voorwerpe: Blou blokkies* voor, rooi regs en geel links van kind. (*Spuitverf sommer wynproppe of gebruik sapbottelproppe.)
Volg rigtings wat fasiliteerder wys met ledemate. (Swaai die arms en bene in rigtings. Kind volg.)
Semi-konkreet:
Volg rigting met ledemate wat die pyltjiekaart aandui. (wys groot pyltjiekaart)
Skattejag: Gee kaarte met leidrade tot by die “skat”. (Teken byvoorbeeld ‘n stoel met die woord “onder” daarby. Die volgende raaisel lê dan onder die stoel…op die ou einde wen ons ‘n storietyd of ander lekkertes.)
Bou ‘n legkaart van mense, diere, ens. Vra vrae oor posisies van figure, ens. (Waar is die hond?)
Bo- en sy-aansig. Sit los voorwerp langs/bo-op, ens. van voorwerp neer. Gebruik ‘n skoendoos en bou ‘n vertrek daarin. Waar gaan ons die pop sit? Sit die tafel langs die stoel. Pak die kussings regs van die bank.
Kind geteken op papier. Plaas skyfie/plakker voor/onder/bo-op,ens. v/d kind.
Bou ‘n legkaart van ‘n toneel. Vra vrae oor die posisies van figure tot mekaar.
Skaakbord. Skuif skuiwer telkens een blokkie in gegewe rigting. Een blokkie links, een blokkie op…
Brainyblocks: Bou prentkaart na.
Penbord: Pak die geel pennetjie regs van die bloue en die rooi pen bo die gele. Plekke soos die Crazy Store het soms baie goedkoop penborde.
Abstrak:
Papier met ± 3 letters. Identifiseer (ID) die posisie van gekleurde letter (bo/voor,ens.). Vra waar die letter staan en die kind antwoord “in die middel, eerste, laaste”…
Opdragte: Skryf jou naam regs onder op die bordjie/in die middel, ens.
Skryf die alfabetletters volgens opdragte op papier (a – in die middel en onder-aan jou bladsy, ens.).
ID posisie van die figure tot mekaar (2D) in ‘n prent. (Kyk sommer in ‘n inkleur- of storieboek vir idees.)
Teken voorwerpe in ‘n 9-blok rooster na aanleiding van opdragte. Teken ‘n sirkel in die middelste blok. Teken ‘n ster links van die sirkel. Teken ‘n driehoek bo die ster. Skryf jou naam onder die sirkel.
Teken voorwerpe in verhouding tot bv. ‘n boom op ‘n papier.
Omkring die item links van die stoel, bo-op die tafel, ens.
Soek ‘n item op die besige prent en omkring. Benoem posisie. (beskryf waar). Gebruik “Where is Waldo?”-tipe boeke.
Woensdag is Internasionale Wiskunde Dag. Tel ekstra lekker en doen ekstra interessante wiskunde werkies. Wat van ‘n paar wiskunde of hoofreken uitdagings by die skool of om die koffietafel?
By Superkids kan jy jou eie werkvelle opstel om spesifieke velde te dek (vir jonk en oud).
Dan is daar ook die Math Worksheet Generator waar jy selfs werksvelle oor tyd, meting en honderdblokke kan maak.
Ek het gemerk dat ouers soms inligting oor vorms soek. Ek het ‘n paar oulike webwerwe ontdek wat oor vorms praat. Ongelukkig is die taakkaarte in Engels en sal ‘n mens maar moet knip, spoeg en plak om jou eie werkvel daaruit te bou.
Die eerste vorms wat ‘n kind gewoonlik leer ken is die driehoek, vierkant en sirkel. Reghoeke, ruite (diamante), vlieërs en harte volg gewoonlik – tesame met die ovaal. Behandel die vorms een-een. Dit is belangrik om die eienskappe van elkeen te noem. Byvoorbeeld:
Gooi verskillende karton vorms in ‘n sak of kussingsloop. Die kind steek dan sy hand in en haal die regte een uit. Vra byvoorbeeld: “Haal asseblief ‘n driehoek uit.”
Teken die vorm in sand (met ‘n vinger).
Teken die spesifieke vorm met gom en strooi sand, meel, kraletjies… daaroor. Voel nou bo-oor die droë vorm. NB: Dit help nie om die vorms nou weg te steek nie. Skryf die vorm se naam onder aan en plak dit teen die muur of teen die yskasdeur vas.
Knip vorms uit en bou ‘n prentjie soos ‘n huis, stokkielekker, ens.
Opdrag: soek ‘n spesifieke vorm in ‘n tydskrif (bv. sirkel), knip uit en plak op ‘n mini-plakaat (A4).
Kyk of jy die vorm met jou lyf kan vorm.
Soek items in die huis wat ‘n sirkel, vierkant, driehoek…in het (horlosie, oond, stoofplate…). Teken die items op ‘n bladsy: Al die sirkels op ‘n bladsy, al die reghoeke op ‘n bladsy…
Tel hoeveel van elke vorm daar is. Watter vorm kry ons die meeste in die kombuis, badkamer, slaapkamer? Watter vorm kry ons die minste in die vertrekke?
Maak dominoes waar die kind net eenderse vorms bymekaar moet pas.
Maak dominoes waar die kaartjie ‘n vorm aan die een kant en ‘n item aan die ander kant het. Hy moet dus die vorm in ‘n alledaagse voorwerp (‘n driehoekige, halwe toebroodjie, die son, ‘n bal) kan raaksien en die assosiasie maak.
Gee ‘n patroonkaart en los vorms. Die kind moet nou die patroon naboots en pak (rooi driehoek, geel driehoek, blou sirkel, groen sirkel).
Strooi versiersuiker op ‘n skoon skinkbord. Die kind doop nou sy vinger in ‘n bietjie water en teken die vorm in die suiker (en lek dan die vinger af).
Sodra drie dimensionele vorms in die klas behandel word, kan jy items soos tandepastabokkies, roomyshorinkies, rubik cubes en balle begin nader trek en bekyk.
As julle in die winkel of in die straat stap – vra sommer so terloops watter vorms die kleinding raak sien. “Watter vorm is die wiel? Watter vorm is die padteken?”
Runel het vir my foto’s van haar kinders se huiswerkkamer gestuur. Dit is waar hulle elke dag ‘n spesifieke tydjie inruim om aandag aan die dag se huiswerk te skenk en om saam te leer. Dit is baie belangrik om ‘n spesifieke hoekie in die huis te kry waar kinders hul huiswerk kan doen. Maak seker dat die tafel genoeg (verkieslik natuurlike) lig kry en dat daar nie steurnisse soos ‘n televisie is nie. Ek en Runel het so ‘n bietjie gesels oor al die idees wat ‘n mens vir die klaskamer tuis (huiswerk hoekie) kan gebruik. Die gedagte is om sakpas apparaat te maak wat jou nie bankrot sal maak nie.
Ek het gewonder of Runel nie gaan moeilikheid kry met al die wondergom teen die mure nie.‘n Mens kan ‘n slootjiekaart probeer.Ons gebruik gewoonlik ‘n een kleurige karton, waarop plastiek gevou word om rakkies / slootjies te maak.Ek rol die hele rolletjie (boek oortrek plastiek) oop en kram die een breedte vas.Dan vou jy ‘n lus en kram dit op die kante vas.Die proses word herhaal totdat die plastiek óf die karton se lengte op is.Jy kan dalk ‘n ou papboks op sy las oopmaak en oopvou hiervoor.Knip net die flappies af.As jy die kaart klaar het, kan jy ‘n ou hanger aan die bopunt vas maak en die hanger aan ‘n hak, vensterknip of agter die deur ophang.Nou kan jy die flitskaarte in die slootjies sit en skoon hou agter die plastiek.Sodra die Graad eentjie begin sinne bou, kan die sinne binne-in die slootjies gebou en uitgestal word. (Dan kan daar later by pappa gespog word.)
‘n Ander “bewaringsgedagte” is om ‘n rol breë, deursigtige kleeflint (amper soos dié waarmee kartondose geseël word) by die supermark te koop (kos so R5 – R8).Nou hoef jy net die regte lengtes te knip om jou flitskaarte oor te trek.Weereens hou die flitskaarte langer en maak dit makliker skoon.
Al die flitskaarte of woorde kan ‘n ‘n lêer of in ou venstertjiekoeverte gestoor word vir jonger boeties en sussies of om later hersien te word. (Dan kom daar darem iets positiefs uit die orige koeverte!) ‘n Mens kan altyd later terug gaan na die argief vir ‘n lekker vasvra speletjie.
Runel vertel dat hulle klanke op die muur skryf en dan later mag aflek (gekleurde versiersuiker, suiker of sout werk goed). ‘n Groot stuk plastiek teen die muur kan die lekker lek oefeninge minder moeite te maak. ‘n Mens kan die plastiek net skoonvee met ‘n lappie. Gewone oortrekplastiek of ‘n plastiek tafeldoek (die dunnetjies is in verskillende kleure by die piekniek afdeling van supermarkte verkrygbaar) behoort lig genoeg te wees om op te plak. Die plastiek kan ook as ‘n skryfbord gebruik word as jy met ‘n witbord veselpen daarop skryf. Vee ekstra lekker skoon met ‘n dettollappie.
Saterdag-oggend was daar ‘n insetsel op Nigella se kookprogram oor koekies bak.Dalk kan ‘n mens klanke uit koekiedeeg rol of sny.Die kinders kan dit dan met gekleurde versiersel versier en later eet. Sny byvoorbeeld ‘n “p” en verf dit pienk of pers, ‘n “r” kan rooi geverf word en “g” geel of groen. Hierdie aktiwiteit integreer sommer die proe-, voel- en sien-aspekte! (…en natuurlik die heerlike reuk van vars gebak…)
Stuur asseblief julle idees. Dis lekker om te sien hoe kreatief ‘n mens kan wees…
Tik gerus soekterme soos “klanke, abc, uitspraak, skryf, skrif, dubbelklank, tweeklank, drieklank, klanksamevloeiing, flits, sigwoord, syfer, vorm, wiskunde huiswerk, hulpmiddels, Teacha…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.
Jammer vir die Engels. Ek het dit vir ‘n kollega vertaal. Kyk gerus ook na die Brain Gym oefeninge op YouTube, EyeGym en lees oor die impak van die “lui 8“-simbool.
NB:Keep the head still. Writing movements should be done from the shoulder (arm relatively straight).
Integrated or coordinated eye movements
One eye or both. Arm movements (rotations) should be done “from the shoulder”. Head is kept still and upright.
1.Stand in front of writing board* and keep the eye focused on the tip of the chalk whilst making 5 crosses with the right and left hand.
2.Repeat the above-mentioned exercise – drawing shapes such as triangles, squares, rectangles and “lazy eights” (∞).
Left or right eye separately
Cover one eye with a pirate eye patch or with an old envelope.
Cover the left eye whilst drawing 5 big circles with the right hand on the board. Keep the eye focused on the tip of the chalk. Repeat with the right eye.
Repeat the exercise – drawing different shapes.
Draw two lines parallel to each other – to use as writing guides. Cover the left eye – drawing waves (rounded zigzag pattern) between the lines and touching the lines at the top and bottom. Repeat with the right eye. Try other patterns as well.
Crossing the middle
Cover the right eye. Draw 5 big circles with the right hand on the left side (approximately opposite the left shoulder). The head should be facing the board and the eye should be kept on the tip of the chalk.
Do the same exercise as above. Cross the one leg in front of the other. E.g. if the right hand is writing, the right foot is doing the crossing. The body should be kept upright.
-JAP Nel, 1999 [Visuele geskiktheid en doeltreffendheid, Tygerberg Kollege]
* gebruik ‘n stuk plastiek wat teen die muur opgeplak word en skryf met ‘n skoon (nat) kwas of met ‘n witbord koki
* use a plastic square to write on – using a clean (wet) paint brush or a whiteboard koki
Patrone is ‘n belangrike opwarmingsproses vir skrif en kan gerus daagliks gedoen of geoefen word.
Patrone kan van die kantlyn tot aan die einde van ‘n bladsy gemaak word of in korter stukkies (bv. raak drie keer bo, drie hoppe, ens.). Onthou dat dit ‘n ritmiese aksies is en dat die hoppies daarom ewe wyd en ewe groot moet wees.
Die perdjiespring– of wolfpatroon is een van die eerste patrone wat kleintjies kan maak. Dit is die voorloper vir drukskrifletters soos “w” en “v”. Begin bo en beweeg skuins af na regs, skuins op na regs, ensovoorts. Dit is belangrik om bo en onder aan die lyne te raak en om die tande of spronge ewe wyd te spasieer. Eindig weer bo.
Die hasie hoppatroon is die voorloper vir drukskrifklanke soos “m”, “n” en “r”. Begin bo, beweeg reguit af en op dieselfde lyn op. ‘n Derde of ‘n kwart van die boonste lyn af weg, begin die draai na regs, af en op en oor, af en op en oor. Die hasie “spring” oor die klippies en eindig weer onder (“want ‘n haas kan nie in die lug hang nie”).
Die swaai– of “Tarzan”patroon is die voorloper vir klanke soos “u” en “y”. Begin bo en beweeg of tot so ongeveer ¾ van die spasie en swaai na regs en beweeg reguit op. Beweeg op dieselfde lyn af en draai op dieselfde plek na regs. Herhaal die swaai-aksie en eindig deur die lyn af te beweeg tot teen die lyn (soos ‘n “u”).
Die brander– of seepatroon is al ‘n groot stap in die rigting van lopende skrif. Dit word gebruik tydens die aanleer van klanke soos “c”, “o”, “a”, “e”, “s” en “d”. Begin onder en trek die lyn skuins op (teen ‘n hoek van ongeveer 45°) tot net voor die boonste lyn en begin draai. Stop die ronding daar waar die twee-uur op ‘n horlosie se gesig sal wees en keer op dieselfde lyn terug om die “c”-ronding teen die onderste lyn te vorm. Herhaal en stop deur die skuins-op lyn tot teen die boonste lyn te verleng.
In gekleurde styselpap op ongedrukte koerantpapier (trek later bv. visstensils daarop af en maak visse).
Teken ‘n groot wolf met ‘n oop bek en vra die kind om die wolf se tand in te teken (patron).
Teken groot seepatrone op ‘n A3-papier. Teken en knip ‘n seilbootjie uit en heg ‘n skuifspeld aan die mas. Die kind hou dan ‘n magneet onder die papier en skuif die boot in die “skryfaksie” van die patroon van links na regs.
Maak verskeie kolletjiepatrone (dot-to-dot) wat die kind kan natrek (rol ‘n klomp af vir later).
Handwriting in the Junior Primary Classes, MC Grové en HMAM Hauptfleisch, is ‘n stok-ou boek wat ook die volgende assosiasies gee:
Die sig-sag patroon (wolf-) is ‘n groot horlosie wat tik-tok klop.
Die hasie kan met ‘n padda vervang word.
Die Tarzanpatroon kan die frilletjies onder-aan ‘n dogtertjie se rok wees.
As die lopende skrif se “e” en “l” geoefen word, kan dit rook wees wat bo by ‘n trein se skoorsteen uit borrel.
Ek het hier onder vir jou skakels geplaas waar daar “skrifferige” dinge bespreek word. Afhangend van die ouderdomsgroep kan jy ook die volgende doen as alternatiewe of as deel van die skrifles:
Oefen skrif op groot ongedrukte koerantpapier – in gekleurde styselpap. Die kinders smeer die papier met ‘n dun lagie stysel en doen die patrone en skryfwerk met ‘n wysvinger. As dit droog is, kan dit teen die muur op geplak word. …of jy kan na aanleiding van jou tema (bv. Die see) groot vorms (bv. visse, seesterre…) op x-straalplate afteken en uitknip. Die kinders kan dan op dag 2 die vorms op hul droë stysel-oefening aftrek en uitknip! Maak een groot muur collage teen die einde van die week van almal se skrif!
Verf met ‘n skoon kwas en water op die bord of plaveisel om die letterformasies te oefen (Gr. 1).
Skeur blaaie uit ‘n ou telefoongids en plaas twee voor elke kind. Hy moet dan eers die een hand in die middel sit, terwyl die voorarm plat op die tafel lê. Dan word net die handspiere en vingers gebruik om die papier nader te trek en te frommel in ‘n balletjie. As die balletjie gereed is, mag die outjie vanaf ‘n gegewe punt “doel skiet” na die drom. Doen met beide hande as opwarmingsoefening.
Speel kamma klavier in die lug, op die maat langsaan se rug, op die tafel, ens. Gebruik spesifieke opgeruimde musiek om almal gefokus te hou op ‘n ritme – anders is dit nag
Druk ‘n groot letter alleen op die bladsy. Sit ‘n magneet onder die papier en ‘n metaalskyfie bo-op. Die kind moet dat die letter “oefen” deur die skyfie rond te skuif met die magneet. Dit help ook met die aandagspan en hand-oog koördinasie.
Knip die letters uit gekleurde karton en druk gaatjies reg rondom (mooi gespasieerd). Laat die kind ‘n veter daardeur ryg om die klankie te versier.
Die internet is vol webwerwe (Engelses) waar kinders hul maaltafels kan oefen. Van die maniere waarvolgens dit oorgedra word, is ‘n storie assosiasie, ‘n Grafiek, outomatiese flitskaarte, die drukbare vorm en prentjies. ‘n Vroeë stadium van maaltafels is om in veelvoude te tel. Dít word ingelei deur normaalweg in ene te tel en om die spesifieke veelvoude harder te sê terwyl die tellers aangeskuif word: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8 Skuif die krale een-een, maar as jy die getal hardop sê vat jy die laaste twee krale saam om te wys dat jy begin om in groepe te tel. Hoe meer dit gebeur, hoe makliker begin die kind die voorbeeld volg. Gebruik ‘n honderdblok – dit lyk soos ‘n slangetjies en leertjiesbord sonder al die prente en kleure. Vra dan die kind om elke tweede blokke in te kleur binne ‘n bepaalde getalgebied (bv. 1 tot 20). Is daar ‘n patroon. Ja, al die getalle eindig op ‘n 2, 4, 6, 8 of 0. As ek hierdie getalle tussen my en ‘n maat uit deel, kry ons ewe veel lekkers! Tel (lees) die getalle ritmies terwyl julle aksies doen soos hande klap, knieë tik, ens. Belewing help baie… Tel weer soos bo (op dieselfde ritme) terwyl jy tellers twee-twee van een posisie of houer na ‘n ander skuif. Dis goed as ouer en kind elkeen sy eie honderdblok en tellers het, sodat julle albei aktief besig is. ‘n Getallyn is ‘n ander manier om die skuif of aantellery aan te dui. Gebruik ‘n knoop of Monopoly-skuifstuk en hop na die getalle soos julle tel (Ma se maatband werk baie goed hier). Nou ‘n stappie verder: 2 x 3 = … 2 maal 3 beteken 2 keer 3…of 2 groepies van drie Pak nou krale in 2 groepe van 3. Tel: 1, 2, 3 en 4, 5, 6 Herhaal die proses en vat dan saam. “3 en 3 maak 6” 2 keer 3 gee vir ons (maak ‘n gebaar van samevatting of groepering bo-oor die krale)…6 krale. 2 x 3 is dus 6 Op die honderdkaart wat reeds die veelvoude wys, druk ons op die eerste “3” en dan op die volgende “3”. Waarop druk jy? 6! Ek het gevind dat ‘n verskeidenheid honderblokke – elk ingekleur volgens ‘n afsonderlike veelvoud (2, 3, 5, 10…selfs 4, 6, 7) ‘n goeie visuele hulpmiddel is en ‘n goeie verwysingsbron is – teen die muur. Oefen ook eers die patroon van: 2×1=2 2×2=4 2×3=6 en wys die kind daarop die antwoorde telkens “2 meer” is. Hou maar eers by ‘n spesifieke veelvoud per lessie en moenie die tafels sommer net meng nie. ‘n Mens moet darem die bult eers in ‘n laer rat op kruie voordat jy die langpad teen ‘n hoër rat aandurf!
Hier is ‘n paar konsepte waaraan die Graad 1-sillabus aandag gee. Veral in die eerste ses maande doen die kleintjies somme met tellers (koeldrankdoppies, knope, krale…). Hulle moet die apparaat fisies vashou en die som so uitwerk…
Mamma’s kan gerus met hierdie lysie na die juffrou gaan en vir ‘n paar gedagtes vra om dit aan te spreek tuis. Juffrou sal baie beïndruk wees.
TEL MET BEGRIP
· Aftel in ene tot 5 (…10…20) Tel fisiese goed soos knope, klippe, ens.
· Skat, neerskryf / teken, tel en bespreek (Ek skat dis 5, tel…ja, ek was reg…of nie…)
· Aantel (5, tel drie aan….5…6,7,8 )
· Terugtel
· Tel in spronge (2e, 3e, 5e, 10e)
WERK MET GETALPATRONE
· Bv. 5 10
15 20
25 30
· 2, 4, 6, 8
12, 14, 16, 18 (sien die ooreenkoms in die eindgetal)
LEER KEN DIE GETAL
· Hoeveel?
· Getalnaam (Hoe skryf ek dit?)
· Getalsimbool (1 – 5, 6 – 10) (Hoe lyk dit?
· Ewe / onewe (Kan ek dit uitdeel sodat Ma en ek ewe veel lekkers het?)
· Behoud van die getal (Maak nie saak hoe die patroon lyk nie, 7 kolle bymekaar beteken 7)
· Subitering (tot 6) (Kyk na ‘n items bymekaar en “raai” of “weet instinktief” dat dit 3, 4, 5 ensovoorts is.)
POSISIE VAN DIE GETAL
· Ongelykheid en gelykheid (afparing)
· (= teken)
· Ordening van getalle (1 – 5, 6 – 10)
· Stygend én dalend (leer ken ‘0’ as getal)
· Rangorde
· Posisiewoorde (voor, na, tussen)
· Rigtingwoorde (links, regs, ens.)
· Rangtelwoorde (eerste, tweede…)
· Kwantiteitswoorde (is groter as…)
· Vergelyking van getalle
· Begrippe: hoeveel, meer as, minder as, net soveel as, is gelyk aan.
Baie kinders met ‘n lae spiertonus kompenseer baie goed daarvoor en steek dit goed weg.
*Kenmerke:
·Eet slordig
·Loop op tone
·Laat mylpale – sit, kruip of loop later as ouderdomsgroep
·Die kind kom ooglopend lomp voor en sukkel met aksies soos sit, kruip, loop en hardloop.As baba skuif hierdie outjies eerder op die sitvlak rond.
·Probleme met nekbeheer.
·Kan nie maklik sywaarts of vorentoe rol nie.
·Indraai-tone, knik-knieë, stamp tone gereeld, val oor eie voete, loop op binnerande van voete.
·Tekeninge, letters en syfers word nie voldoende gevorm nie.
·Soms woelig en reaksies is relatief stadig by kinders wat oorkompenseer vir “slapper” spiere.
·Beweeg eerder aanhoudend as om spiere in te span.Die kind konsentreer dus om aanhoudend te beweeg en dit kan sy werkstempo benadeel.As die outjie ophou beweeg, is die spiere geneig om te verslap en sak hy inmekaar.Sy rug vertoon skeef en die ruggraat toon ‘n sywaartse kromming.Die inspanning om regop te bly, verg baie energie en dié outjies raak gou moeg en gefrustreerd.
·Sit kierts regop of heeltemal slap.
·Bang vir vreemde en onbekende aktiwiteite (bv. fietsry).
·Hiperaktiwiteit, konsentrasieprobleme, swak geheue en ‘n stadige werkstempo is kenmerke.Hulle word ook dikwels verkeerdelik as hiperaktief of kriewelrig bestempel.
·Hansford noem dat kinders met ‘n lae spiertonus ook dikwels gespanne is in die skool, speletjies en tydens sportdeelname.
Oefeninge:
Sit op voorste punt van ‘n kussing of lae bankie vir ‘n beter ewewig.
Staan op knieë by ‘n lae tafel wanneer speel of inkleur.Dit help met balans en die arms en hande is vry om te beweeg (inkleur, blokkies bou, pop speel).
Wanneer die outjie lees, moet die gesig parallel met die boek wees en die neus is ongeveer in die middel van die bladsy.Die kop en boek is ± 20 – 30 cm uitmekaar.
Sit-sit-so:heupe, knieë en enkels is almal in hoeke van 90° geknak en die voete is gemaklik op die vloer.Die lyfie lyk dus soos blokkies of trappies.
Hierdie outjie moet kort-kort ‘n afleiding hê (soos kleispel) om te ontspan.
Balanseer ‘n opgerolde sokkie (paar) op die kop en probeer daarmee loop.
Neem ‘n tennisbal (of opgefrommelde stuk koerant), tel dit met die knieë op en spring soos ‘n kangaroo.Spring stadig, lang spronge of sywaarts.
Loop op stelte.Gebruik klein, leë koffieblikke en ‘n ou tou.
Skop ‘n bal na ‘n teiken (in ‘n ou doos in) na aanleiding van opdragte (soos Simon Says).
Trek ‘n tou en die kind moet dit probeer raak trap.Eers met een voet en dan die ander.
Balanseer ‘n boontjiesakkie of ‘n sakkie vol sand bo-oor die enkel en kyk hoe hoog die been/voet gelig kan word.
Pak hoepels, buitebande of springtoue (in ringe) in ‘n kring, vierkant, ry, perdeskoen, ens. Spring dan met beide voete in aangeduide rigtings of volgens opdrag (blou hoepel, groen hoepel of nommer 1, nommer 3, nommer 2…)
Wipplankry
* Hierdie inligting is slegs idees. Die raad van en evaluasie deur ‘n Arbeidsterapeut is steeds nommer een as dit by spiertonus kom.
Onderwysers is amper soos die “hunter gatherers” van ouds. Ons is altyd opsoek na nuwe dinge en inligting en gooi min goed weg. Dis eintlik noodsaaklik om idees en hope papier te hou. Daarom is dit wenslik om dik ringlêers byderhand te hê waarin jy jou “oulike takies” en planne kan liaseer – volgens temas of kronologies vir die jaar. Op die ou einde kan jy twee tot drie lêers per kwartaal opbou. Indien die lêers (weens ‘n tekort aan spasie) nie werk nie, kan ‘n tweedehandse liaseerkabinet ingespan word. Soms verkoop winkels soos Game helderkleurige, plastiese trommels met liaseervakkies én ‘n deksel vir die stof. Wat jy ookal doen, sorg dat jy vir jou so ‘n mini-argief van idees opbou. Dis altyd handig – selfs al verander die kurrikulum.
Moet nooit ophou soek na nuwe inligting nie! Klop by kollega’s aan en loer in hul “argiewe”, deel jou eie idees met ander, gaan kuier by ander skole en fynkam die internet. Stoor die skakels van webwerwe wat jou interesseer en gaan weer terug.
Hou die klas georganiseerd en netjies. Sorg dat daar kapteine aangestel word om elke “stasie” of hoekie reg te pak en beloon hulle vir die werk. Dis egter onmoontlik om skoon en netjies te maak as daar nie pakplek of dinge soos lappe en besems is nie. Knip ‘n ou handdoek op in kleiner vierkante en stik dit om. Dan is daar genoeg stoflappe. Verdun skoonmaakmiddels en maak maar weekliks so ‘n Sunlight Liquid sousie in ‘n kleinerige botteltjie aan. Iets soos ‘n keelsproeibotteltjie het ‘n fyn spuitbuisie (nozzle) en mors dus nie te veel nie. Graad R en 1 dames is geneig om vreeslik aan die kant te maak en verbruik dus al juffrou se seep en dinge baie vinniger as wat jou beursie kan hanteer. Terloops, vra sommer of die ouers nie ‘n bottel Windowlene of Sunlight Liquid kan borg vir die jaar nie – al is dit ‘n kleintjie. Dan kan ‘n mens ordentlik skoon maak! (Die groot maat middels wat skole soms aanskaf is maar flou.)
Gee ‘n inligtingsbrief vir die ouers. Spesifiseer die skool se beleid en reëls rodom alles waaraan jy kan dink. Dit mag dalk oorbodig klink, maar is nie. Dinge wat jy in gedagte kan hou is goed soos
Skooltye
Waar en hoe kinders ontvang word (by die deur, in die klas, buite…)
Reëlings indien iemand anders die kind oplaai.
Verversings / Kosblik – Wat is vir jou aanvaarbaar? Mag die kosblik elke dag lekkers bevat?
Snoepgeld – elke dag of net een maal per week
Verduidelik hoe die dagprogram of rooster werk.
Kleredrag – verduidelik spesifikasies en dring aan op ‘n ekstra stelletjie “noodklere”. Veral aan die begin van die jaar is daar nog redelik angs oor al die nuwe dinge en gebeur glipsies gereeld.
Spesifiseer alle skryfbehoeftes en benodigdhede soos snesies (‘n doos per kind vir die klas se gebruik) of verskaf die bedrag wat dit sal kos as jy dit self wil bestel.
Vereis dat klere en persoonlike items gemerk word.
Speelgoed moet maar eerder tuis bly. Uit ondervinding werk dit beter as almal met die skool se speelgoed speel.
Verjaarsdae en partytjies. Wanneer, hoe…Koek? Geskenke? Gaste?
Verslaggewing: Hoe jy dit doen sodat daar nie verwarring ontstaan nie. Vra ook dat ouers (asseblief ) die skool op hoogte sal hou van eksterne ondersoeke, toetsings en terapie. Kopieë word in die kind se persoonlike lêer in die kluis bewaar.
Kunsuitstalling of uitstallings van die werk: Reël ‘n skemerkelkie later in die jaar en hou ‘n propperse geselligheid om die kleingoed se werke ten toon te stel. Maak kreatiewe rame (die kinders kan) en monteer die prente self.
Reël ‘n inligtingsaand en verduidelik al hierdie dinge aan die ouers (in Januarie nog!), sodat daar nie later onsmaaklikhede opduik nie. Moet egter nie militaristies wees nie en hou die trant van jou skrywe lig en vrolik.
Dis nou sommer so ‘n paar idees vir eers. Ek sal nog ‘n paar probeer onthou sodra die vakansieluim afval…
Loer sommer ook by hierdie skakels in vir ‘n paar oulike idees of tik soekterme soos “eerste dag” en “ken mekaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in:
Na aanleiding van Boendoe se navrae, gaan ek so ‘n stukkie plaas oor die taalkwessie. Verskoon asseblief indien dit hoogdrawend is. Dit was ‘n navorsingstuk en is dalk meer gemik op die etniese tale. Praat gerus as dit Grieks klink. Ek “vertaal” graag.
Wanneer ‘n leerder in ‘n tweede taal leer is hy / sy nie noodwendig leergestremd nie, maar eerder leergeremd ten opsigte van woordeskat, taalkennis en die belangrikste aspek seker – begrip. ‘n Persoon wat nog nie die basiese strukture en vaardighede van ‘n taal teen die ouderdom van sewe jaar (die primêre vormingsjare) baas geraak het nie, sal in werklikheid altyd ‘n agterstand hê. Taal vorm tog die belangrikste basis en medium van kommunikasie en is nodig om inligting oor te dra en ook om inligting in te neem en te verwerk.
Om die volle omvang van die akademiese vordering van ‘n kind te begryp, moet ‘n mens eers terug gaan na die leerder se agtergrond (en ook taal agtergrond) om die oorsake en invloede op die leerder se leerprosesse te bepaal. In Suid-Afrika (soos in baie ander wêreldmoondhede) bepaal die Grondwet dat daar elf amptelike landstale moet wees, maar word baie leerders steeds in hul tweede taal (meestal Engels) geskool. Hierdie besluit word aan die ouers oorgelaat en daar bestaan geen duidelike wetgewing wat ouers verplig om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig nie. Alle Suid-Afrikaners het egter ‘n grondwetlike reg om in ‘n moedertaal onderrig te word.
In baie gevalle waar leerders swak presteer, is die oorsaak dikwels dat hulle in ‘n tweede taal skool gaan. Hierdie feit is seker nie genoeg rede om bekommerd te wees nie aangesien daar baie gevalle is waar leerders goed tweetalig is en dus goed in ‘n tweede taal presteer. Die probleem ontstaan egter wanneer ‘n leerder in ‘n huis groot word waar daar meer as een taal gebruik word en waar die tale ook dikwels gemeng word. As die kwaliteit van die woordeskat en grammatika veel te wense oorlaat, sal die leerder ‘n swak taalbasis hê en hom- / haarself nie goed kan handhaaf in enige van die tale nie. Só ‘n kind ontwikkel dus ‘n leergeremdheid weens ‘n onderontwikkelde taal.
Volgens Rodriguez, benodig ‘n kind ‘n goeie selfbeeld om sukses te behaal en om sy / haar volle potensiaal te verwesenlik op skool. ‘n Kind wat besef dat sy taalgebruik nie op dieselfde standaard as sy klasmaats s’n is nie, kan maklik selfbewus en minderwaardig voel en dus ook swakker presteer as sy maats.
As ‘n kind in beide sy moedertaal én tweede taal kan leer, verhoog dit die kind se selfbeeld en voel só ‘n kind trots daarop dat hy twee tale kan praat en in twee verskillende kulture kan funksioneer (i.e. die kultuur eie aan sy moedertaal en ook die kultuur eie aan die tweede taal).
Rodriguez sê ook dat ‘n persoon wat tweetalig is beter kognitiewe vermoëns het, respek by ander kulture afdwing, trots is op die spesiale talent en ook beter toegerus is vir die lewe buite die klaskamer.
Dis sou dus wenslik wees indien ‘n kind aan ‘n tweede taal bloot gestel kon word in ‘n klaskamer waar beide sy / haar moedertaal en tweede taal gebruik word. Só word die kind stelselmatig aan die vreemde taal blootgestel en kry hy / sy die geleentheid om mettertyd genoeg selfvertroue op te doen om die tweede taal te gebruik.
Volgens die NAEYC (National Association for the Education of Young Children) in die VSA, behoort die ouers die kind se moedertaal te ontwikkel tesame met die tweede taal. Die moedertaal word gekoppel aan die kind se kultuur, sosiale agtergrond en identiteit en daarom moet die fasiliteerder ook die kind se moedertaal en kulturele agtergrond in ag neem tydens onderrigtye
Net soos wat leerders teen verskillende tempo’s ontwikkel, beklemtoon die NAEYC dat tweede taal leerders hul tweede taal op dieselfde wyse bemeester volgens die individuele potensiale. Sommige leerders sal vir ‘n ruk lank swyg, ander sal sinsnedes en woorde oefen, ander sal hul moedertaal en die tweede taal meng en ‘n vierde groep kan selfs die taal op ‘n geradbraakte wyse met vertroue gebruik. Al hierdie voorbeelde vorm deel van die individuele ontwikkelingsfases van die onderskeie leerders se tweede taal. Die fasiliteerder moet dit in gedagte hou dat dit normaal is om deur hierdie fases te gaan en die kind met begrip begelei tot die ontwikkeling van goeie taalgebruik.
Watter nadele is daaraan verbonde om ‘n leerder in ‘n tweede taal te onderrig?
Na aanleiding van navorsing het NAEYC bepaal dat jonger kinders groter probleme ondervind om die oorgang vanaf die huis na die skoolomgewing te maak as die taal vreemd is. Die nuwe omstandighede en vreemde taal kan baie intimiderend wees en die kind emosioneel labiel (deurmekaar) laat.
‘n Kind wat uit ‘n vreemde kulturele agtergrond kom, kan soms deur sy klasmaats bespot word en dít kan daartoe lei dat die leerder selfs sy moedertaal kan prysgee om sodoende sosiaal aanvaarbaar te wees. Dít sal weer daartoe lei dat die kind se band met sy / haar kultuur verbrokkel en dat gesinsverhoudinge ook kan skade lei.
Woorde