Tuis

rugby

Lewer kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

‘n Mens kan amper nie glo dat die Rugby Wêreldbeker alweer een van die dae gaan begin nie.  Hiermee dan so ‘n paar idees om met die kleingoed te deel.

As jy ‘n bietjie meer oor die Springbokke wil leer, kan jy na die Bokke se webtuiste gaan.  SA Rugby verduidelik daar hoe die rugby reëls werk. Dalk kan die klas hul eie “bok-reëls” opstel en toekennings kry vir goeie gedrag, hulpvaardigheid en dies meer.

Die Wêreldbeker bied die geleentheid om aan aspekte soos sportmansgees, nasietrots en spangees te werk.  Bokkie is ‘n oulike karakter om by sulke lesse te betrek en leer jou selfs hoe om die spel te speel.

Kyk na die verskillende lande wat deelneem en hoe hulle in elke afdeling vorder.  Suid-Afrika speel in afdeling B. Druk die kleurvolle kaartjies uit en maak julle eie muurkaart om die punte aan te dui en te sien wie gaan wen. Speel ‘n speletjie waar die deelnemende lande se vlae en name gepas kan word. As jy twee stelle vlae druk, kan julle snap of ‘n geheuespel daarmee speel.  Leer meer oor die Wêreldbeker-gasheer, Engeland.

Dan is daar pragtige inkleurprente oor rugby (vir meisies en seuns) beskikbaar.  Daar is natuurlik meer ingewikkelde werksvelle en aktiwiteitspakkies oor rugby beskikbaar.  Julle kan julle eie rugbyballe of -hemde ontwerp.  Hou ‘n vasvra of ‘n kompetisie waar die wenner ‘n Springbokserp of Bokkie-beddegoed wen.  Ek is seker die manne sal woeker vir so ‘n prys.

Maak julle eie serpe of musse uit viltlap.  Trek die buite lyne van ‘n springbok of die landsvlag op karton of ‘n x-straalplaat af om as patrone te gebruik.  Trek die patrone op die vilt af en knip uit.  Gom of werk die stukkies vas.

Loer ook na inskrywings oor die sokker– en krieket-wêreldbekers vir nog idees (of tik “Suid-Afrika” by die bruin soekblokkie in).

groen

burt books

Lewer kommentaar


Coreen Burt het ‘n splinternuwe webtuiste vir onderwysers en ouers begin.  Sy is ‘n oud-Suid-Afrikaner wat in Engeland woon en is al jare lank ‘n opvoeder.  Sy het verskeie boeke geskryf – wat syferkundigheid en taal in sluit.  Dit bevat baie oulike lesmateriaal en werksvelle.  Dit is ideaal vir outjies wat Engels moet leer skryf, lees en spel.  Gaan loer gerus in.

werkswinkel

2 Kommentaar


Making Sense of Senses in the Classroom:

‘n Werkswinkel vir opvoeders, ouers en betrokkenes.  Die dag sal fokus op sensoriese integrasie en sensoriese probleemareas.  Die opvoeder sal idees kry om die “out of sync” leerder te akkomodeer in die klas.  As jy met Grondslagfase-kinders werk – sal hierdie inligting beslis handig te pas kom.

Aangebied deur arbeidsterapeute van die ET AL Terapie- en Leersentrum

Datum:  20 Augustus 2011 (08:00 – 13:00)

Waar?  Somerset-Wes

Koste:  R150 (sluit uitdeelstukke en ‘n eetdingetjie in)

Kontak ASAP: 021 852 0845 / etal@webafrica.co.za

weer en seisoene

6 Kommentaar


Daaglikse weerkaartwerk

Ek het reeds ‘n paar inskrywings oor die seisoene gemaak, maar nog nie oor die weer nie.  Hiermee dan ‘n paar idees vir weerkaarte.

Die meeste Grondslagfaseklasse het ‘n kalender- en weerbord iewers waar die dag, datum en weerstoestande aangedui word. ‘n Weerkaart is iets wat nie slegs by die skool gevolg word nie.  Jy kan dit ook by die huis volg.  Dit help ons almal om na die weerstoestande te kyk en om die regte klere vir die dag te kies.  ‘n Bewustheid van die weer en die verandering daarvan, skep ook ‘n bewustheid vir seisoene en tydsverandering…

  • Druk ‘n kalender uit en afhangende van die outjies se ouderdom, kan hulle beskrywende naamwoorde (sonnig, bewolk, reën, wind…) inskryf of die prente teken.
  • As die outjies nog klein is sal ek nie te veel prente of beskrywings betrek nie.  Kies slegs ‘n paar prentjies om te gebruik.
  • Om die keuses makliker te maak, kan jy die verskillende weerstoestande met prente en bewoording eenkant op plak. Die outjie besluit dan op die mees geskikte beskrywing om te kopieer.
  • Vir klasse met ‘n rekenaar en groot (witbord) skerm: As jy self mooi foto’s kan neem, kan jy die kinders met die dag se lugruim in die agtergrond afneem. Digitale foto’s laai maklik af en dus sal jy elke dag se weerstoestand kan “noteer” in dagboekvorm. Aan die einde van die week of maand kan julle deur die foto’s kyk om die veranderinge te bestudeer.
  • In plaas van ‘n kalenderformaat, kan jy ‘n sirkeldiagram maak – met prentjies – sodat jy ‘n pyltjie na die gepaste weerstoestande kan draai.
  • Vir ouer outjies (Graad 2 en ouer) sal ek ‘n eenvoudige boekie saamstel waarin hulle elke dag ‘n beskrywende sin of twee kan skryf.  Bv.  Dit is vandag koud en winderig.  Dit is sonnig en warm.  Die wind waai sterk en dit kan dalk later reën.  Dit kan dalk aanvullend tot die daaglikse of weeklikse “nuus” wees.  As jy ‘n tipe dagboek het vir die nuuswaardighede, kan jy ‘n aanvullende weerblad invoeg. (weer) (maande met prente: kalender)
  • Kleurvolle weer-banier.
  • Kleurvolle seisoen-prente.
  • Interaktiewe weerspeletjie.
  • Daily Calendar Work Daaglikse Kalenderwerk

As julle die weersvoorspelling vir die streek benodig, kan julle na foreca gaan.  Tik jou naaste stad of dorp se naam in en dit behoort vir jou ‘n oulike uiteensetting te gee. iWeather bied ‘n oulike uitleg en het selfs beeldmateriaal by sommige weerstasies.

Watter ander idees is daar om die weerstoestande te noteer?  Stuur gerus nog inligting…

Tik soekterme soos die onderskeie seisoene se name, asook “kalender” en “Hoe laat is dit?” (dae) by die soekblokkie in of gaan na drukbare bladsye vir aanvullende bladsye (bv. dae van die week).

somer, herfs, winter, lente

Weerkaart, Kalender en Seisoene Pakket

seasons seisoene kalender weerkaart

wintersomer

lente insekte goggas

HerfsAutumn

Oupa John vertel oulike stories

4 Kommentaar


Hier is ‘n CD met lekker luisterstories vir die jongspan.  Oupa John het verskeie oulike stories saam gestel – wat beslis ‘n aanwins vir die kleingoed se CD-versamelings sal wees.

“Die Afrikaanse stories is skoon, avontuurlik, sonder allerlei feetjies en drake of enige demoniese invloede. Dis vermaaklik maar met ‘n ietsie opvoedkundigs en geestelik. Ons wil stories aanbied waarmee die kind kan identifiseer, maar wat verseker met die werklikheid verband hou.”

Die cd’s kos R50 stuk plus dan die bietjie posgeld. Dit kan direk by ons bestel word by Telefoon 082 811 0669 of 072 132 0074. Ons e pos adres: leonie.goosen3@gmail.com

Loer ook hier.

karnivore

3 Kommentaar


Anna het genoem dat sy ‘n kritles moet gee oor Karnivore.  Hiermee dan so ‘n paar idees om dalk te gebruik.

Wat is ‘n Karnivoor?  Dit is ‘n dier wat jag vir sy prooi, dit dood maak en dan eet.  ‘n Mens kry karnivore wat mak is en ander wat wild is.  Hulle het slagtande wat ideaal is vir hierdie jagproses. Daar is gewoonlik twee in die bo- en twee in die onderkaak.  Anders as planteters (herbivore), het karnivore skerp tande om vleis mee te skeur en te eet.  Kan jy die karnivore van die herbivore onderskei in hierdie prente?

Watter ander eienskappe sal ‘n karnivoor nodig hê om sy prooi te vang?

Hulle is dikwels goed gekamoefleer – met kolle, strepe of pelse wat spesifiek by hul omgewings pas. Waar woon die wilde karnivore?  Hierdie unieke pelse help die diere om lank genoeg weg te kruip of hulself weg te steek, sodat hulle die prooi kan bekruip.  Die karnivoor sal spesifieke bewegings hê om die prooi uit te oorlê – spring, sterk, besonderse vinnige atleet, sluip…’n Karnivoor het ook dikwels skerp kloue om die prooi mee te vang en vas te hou.

Ek sou graag wou hê dat so ‘n les ‘n opvoedkundige uitstappie moes volg of inlei, sodat die outjies met die ware jakob kan kennis maak.  Kies een spesifieke karnivoor as voorbeeld en bou die les dan rondom die spesifieke dier.  As jy byvoorbeeld toegang tot ‘n jagluiperd het en ‘n kuiertjie kan reël, sal die outjies die tande, die pels, kloue en atletiese bou kan aanskou.  As jy dalk ‘n kort video kan maak van ‘n kuiertjie by so ‘n dier, kan jy dit dalk aan die klas wys.  As jy regtig nie by ‘n wilde karnivoor kan uit kom nie, kan jy selfs makker outjies soos ‘n huiskat inroep en na die kleiner outjie kyk.

Bou dalk ‘n karnivoor uit pottebakkersklei of teken en verf die spesifieke dier as deel van ‘n kunsles.  Hersien die terminologie verbonde aan die dier as deel van Natuurwetenskappe en Huistaal (pote, kloue, slagtande, welpie, leeuwyfie, leeumannetjie, pels).  Kies ‘n paar karnivore, soek sketse van hul tande of kake en betrek dit by tel oefeninge en wiskunde somme (Watter karnivoor het die meeste / minste tande?  Hoeveel tande het die __ meer as die __?).

Kyk ook na die skrywe oor wilde diere en die volgende oulike skrywes elders.

rots reeks

2 Kommentaar


Die Rots Reeks is ‘n program wat julle tuis kan volg om aandag aan lees en wiskunde te gee.  Besoek gerus hulle webtuiste vir meer inligting.

hersiening van klanke

8 Kommentaar


klanke

Môre! Vir dié wat graag die dubbel-, twee- en drieklanke wil vaslê of ‘n muurkaart wil maak het ek so ‘n paar voorbeelde geplaas…(loer onder drukbare bladsye)

  • Knip elke blok apart uit en plaas dit op ‘n A4-karton sodat julle nog woorde met die klanke daarin kan byvoeg…Steek dit teen ‘n kennisgewingbord vas of liaseer dit in ‘n lêer of selfs ‘n ou skoolboek.
  • (c) tuis gebruik...nie vir verkope nie...Gebruik die woorde in beskrywende sinne of om dit selfs lekkerder te maak, kan julle ‘n dobbelsteen gooi en daardie aantal woorde aftel om ‘n woord vir die sin te kies.  Die dobbelsteen werk goed vir outjies wat regtig nie van sinne hou nie.
  • ‘n Ander opsie is om deur ou tydskrifte te blaai en om woorde met hierdie klanke uit te sny.  Kies woorde uit opskrifte om op die onderskeie blaaie te plak (natuurlik kan die kleingoed die knip en plak werk doen as jy die bladsy uit geskeur het).
  • Kies ‘n woord (bv. met behulp van die dobbelsteen) en kyk hoeveel rymwoorde julle kan vind.  Kan julle jul eie rympies vir elke klank maak?
  • Druk die dokument genaamd “Tweeklanke woordsoeke” wat ek tydens die Sokker Wêreldbeker opgestel het uit. Gebruik verskillende kleure om die onderskeie woorde te kry.
  • Kyk ook na die legkaarte onder “drukbare bladsye” en die verskillende idees of aktiwiteite om volgens kalenderdae te doen.

Lekker speel en lekker leer 😉

2012

Lewer kommentaar


Het jy al jou kind by die nuwe skool gaan inskryf vir 2012?  Opskud!  Tyd vlieg, die skole raak vol en die derde kwartaal is alweer hier.

 

 

‘n oulike perspektief

Lewer kommentaar


kleur

Lewer kommentaar


kleurScreen Shot 2015-09-02 at 8.49.07

Hiermee ‘n paar feite oor kleure-en-die-kleurwiel; asook kleur-en-beskrywende-sinne (die hersiening en toepassing van kleurwoorde in beskrywende sinne).  Dit word dikwels benodig vir kunslesse, maar is sommer handig vir algemene kennis.  Hersien die name van kleure in Engels en doen ‘n paar eksperimente met voedselkleursel.

kleurwoorde (skryf in kleur)

colour trace

kleur flitswoorde

colour wheel

Hoezit artikels:  Kleur 1, Kleur 2, Kleur 3

Kleur

dokter

Lewer kommentaar


T het gevra vir buitespel idees met die tema dokter.

Dokter is ‘n bietjie moeilik as ‘n mens die veiligheids-aspek in ag moet neem. ‘n Mens kon seker lekker spuitwerk met verskillende (naaldlose) inspuitings gedoen het by die waterspelbak, maar dalk gee dit die outjies die verkeerde idee.

Wat van fantasiespel? Gee eenvoudige stetoskope en repe materiaal vir verbande. Gee ‘n matrassie vir die ondersoektafel, handskoene en maskers vir die “kieme”. Jy kan dalk iets soos ‘n botteltjie seep eenkant neersit en dan die belangrikheid van higiëne en higiëniese omstandighede in bring. As die skoolgrond ‘n voertuig of klimraam in die vorm van ‘n voertuig het, kan jy dit met ‘n laken en ‘n rooi kruis in ‘n ambulans omskep.

Wat van ‘n hindernisbaan? Die outjies trek dan doktersjassie aan of sit ‘n stetoskoop om die nek. Dan moet hulle jou getekende aanwysings volg om deur die skool se speelgrond te beweeg tot by die noodsituasie – soos ‘n pop wat seer gekry het. Teken ‘n roetekaart wat byvoorbeeld aandui dat hulle na die swaai moet gaan. Daar moet hulle ‘n uitdaging of ‘n taak verrig soos om hulle hande te was met ‘n higiëniese sepie of om ‘n pop se koors te neem. Daarna kry hulle nog aanwysings tot by die volgende punt – soos in The Amazing Race.

Dink aan dinge wat in ‘n hospitaal te vinde is soos ‘n x-straal masjien. Gryp sommer ‘n ou raam of sny een uit karton – spuit of verf dit met swart verf en span ‘n swart sak in die gat. Siedaar! ‘n X-straal masjien waar agter die outjies moet staan. As jy genoeg tyd het, kan jy ‘n gleuf teen die kant in sny. Verf dan deel van ‘n geraamte (ribbekas, bene…) op verskillende kartonne wat in die raam sal pas. Die outjies skuif dan kamma die gepaste x-straalplaat by die skerm in om te kyk wat fout is. Dalk ken jy iemand wat ou plate kan afstaan vir die doel. Dalk kan jy ‘n uitdaging hê waar die outjies liggaamsdele moet benoem…

Ek hoop dit kan dalk ‘n bietjie help.

deling

5 Kommentaar


Iemand het onlangs gevra dat ons ‘n bietjie na deling kyk. Deling is die teenpool van vermenigvuldiging (inversie) soos minus teenoor plus. Waar vermenigvuldiging kyk hoeveel keer jy iets kan optel tot by die antwoord, kyk deling na die hoeveelheid kere waar jy kan aftrek (uit deel).

Daar is verskillende vorme van deling: Verdeling en groepering. Só werk dit:

Verdeling:
Jana en Kira moet ‘n sak vol uitveërs uit deel totdat daar niks oorbly nie. Daar is 12 uitveërs. Verdeel die uitveërs gelykop tussen die twee dogters.
Tel 12 tellers (bv. doppies, knope…) af. Verdeel die “uitveërs” dan fisies volgens “een vir jou, een vir my, een vir jou…” uit. Vra dan: Hoeveel het jy gekry? Hoeveel het ek gekry? Is dit ewe veel? Ja! Elkeen kry 6 uitveërs. Jana kry 6 en Kira kry 6. Is daar ‘n makliker manier om dit te sê? 12 gedeel deur 2 is 6. (Skryf die som)

Verdeel 12 lekkers gelykop tussen 4 kinders. Hoeveel lekkers sal elke kind kry? (Deel dan uit.) Hoeveel lekkers kry elkeen? 12 lekkers gedeel deur 4 kinders is 3. As ek 12 in 4 gelyke dele opdeel is dit 3.

Groeping:
(Maak groepies)
Doen tafeldek-oefeninge…
Daar is 16 wortels. Gee 4 wortels vir elke bord. Hoeveel borde moet jy uit haal? (Oefen eers met herhaalde aftrekking: 16 – 4 – 4 – 4 – 4 = 0…is dieselfde as 16 gedeel deur 4)

Verdeel 12 sjokoladeblokkies gelykop in twee hopies. Hoeveel hopies gaan jy maak?
12 – 2 – 2 – 2 – 2 – 2 – 2 = 0…12 gedeel deur 2 = 6

Belangrik:
Toets die som. As 12 gedeel deur 2 = 6, vermenigvuldig jy die twee klein getalle (6 en 2) om die groot getal te kry. Kry jy die regte getal?

Deling met ‘n 1:
As jy 4 lekkers aan 1 mens uitdeel, kry die persoon alles. Dus sal 4 gedeel deur 1 gelyk wees aan 4.

Deling met ‘n nul:
0 word nie verdeel nie. Bv. 0 gedeel deur 1 = 0 (Daar is niks om te verdeel nie.)

😉 As die bogenoemde steeds verwarring skep, kan jy ook die deelsom ‘n bietjie verdraai…Bv. 14 gedeel deur 2:  Hoeveel keer tel jy in 2 om by 14 te kom?

deelsomme-toets-jouself

deelsomme-in-woordvorm

‘n Video verduideliking

langdeling oefen

long division langdeling

langdeling

Tik “woordsom” en “wiskunde huiswerk” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog somme.

spreker

Lewer kommentaar


Renee Lighton gaan weer by verskillende geleenthede optree. Dit is regtig die moeite werd en ‘n inspirasie vir enige mamma of juffrou van Graad R – 3-outjies.

1. Gallagher Estate Baba Indaba (Môre al!)

2. Milnerton (Maandag, 30 Mei)

3. George

Vadersdag

4 Kommentaar


Dis weer eersdaags Vadersdag en ons moet solank begin werk aan geskenkidees…

Plekmatjies: As pagoed graag ‘n koue glasie of verversing geniet, kan ‘n mens klein, ronde pierinkies by ‘n plastiekware-winkel koop en met ‘n sterk gom en kleurryke krale versier. Die gom dien as kleefmiddel, maak die geskenkie waterdig en seël dit vir ‘n skitter effek.

“To do”: Maak ‘n herinneringsbordjie. Trek die raamwerk van ‘n gereedskapstuk op ‘n eenvoudige blokkie hout af. Verf die buitekant / agtergrond met een kleur en die binnekant van die gereedskapstuk met swart bordverf. Skryf dan ‘n boodskap soos “onthou” of “moet doen” in wit bordkryt op die stukkie. Draai ‘n hakie onder en een aan die bokant van die blokkie in, sodat jy dit kan op hang en ‘n boodskap onderaan kan haak. As jy verkies om ‘n wasgoedpennetjie daarop vas te plak, kan die boodskappies in die pennetjie vas geknyp word.

Gewigtige saak: Maak ‘n papiergewiggie uit soutklei en pak ‘n boodskappie daarin uit met spoelklippies of effekleurige (dalk hout) krale. As jy die woord op ‘n voorbeeld pak of op die bord skryf, maak dit die na-apery makliker.  (Soutklei resep hier.)

Emmer skop: Hierdie geskenk is meer persoonlik. Dink aan stringe dinge waarvan pagoed hou en waarvan hy droom. Tik dit netjies en groot uit. Knip in stroke en plak aan die buitekant van ‘n blikkie vas. Versier en vernis dit om as ‘n pennehouertjie te dien.

Gekleurde pennetjies: Verf ‘n klomp gholfpennetjies in verskillende kleure vir die gholfsak.

Boekmerkies:

As die outjies baie klein is, kan jy vir hulle ‘n basiese reghoek uit gekleurde karton laat sny.  Gee bewerige ogies om bo-aan te plak en sny self die diep keep om soos ‘n skuifspeld oor die blaaie te gly.  As julle lus het, kan die outjies self die karton met patroon-, plak- of verfspatwerk versier voor die knippery.  Jy kan hierdie konsep ook op roomysstokkies probeer.

Ouer kinders kan ‘n handgeskrewe sin op ‘n eenkleurige vel papier skryf en saam met ‘n foto van hulself op ‘n boekmerk rangskik.  As jy klein individuele foto’s van die kinders het (soos vir die skoolprofiele benodig word) kan jy dit op ‘n roomkleurige papier afrol.  Gebruik ‘n karteltandskêr om ‘n raampie om elke foto te sny, plak op ‘n kartonvel soortgelyk aan die binnewand van geskenkpapier, versier met ‘n sinnetjie en rond af met ‘n stukkie tou of ‘n leerriempie.

Engels boekmerkies:   ‘n stel.

‘n Boekmerk met ‘n fynmotoriese kinkel:  Vou ‘n pypskoonmaker spiraal en gom aan ‘n breë lint sodat die pypskoonmaker by die boek sal uit hang.

Druk netjies kraaghempies in kleur of met swart ink op gekleurde karton (wat van scrap book papier?!). Sny die eenvoudige buitelyne uit, vou en plak magnete aan die binnekante van die hempspanele. So klou die hemp die boek vas. As Pa die boek klaar gelees het, kan hy die die boekmerk teen ‘n spieël of metaalkas stoor.

ma se dag

6 Kommentaar


Dis weer amper Moedersdag (hierdie Sondag).  Hiermee dan ‘n paar idees vir geskenke:

  1. Maak oulike hartjie- of skoenlapperdosies uit karton.  Rol die buitelyne op gekleurde karton of selfs “scrap book” papier af voordat julle begin knip en vou.  Rond die hartjie of skoenlapper met gom en blinkertjies af.
  2. Versier ‘n basiese ligskakelaarplaatjie met swart veselpen en verf (vra vir die skool se opsigter om ‘n paar oorskietblikke te leen :wink:).  Verf die plaatjie wit en wag tot droog.  Kies ‘n paar oulike prente om as voorbeeld te dien.  Vra die outjies om een te kies en na te teken met ‘n potlood.  As hulle tevrede is, kan hulle met die veselpen oor die lyne teken.  Daarna kan hulle die prente inkleur met dun kwassies / oorstokkies en verf.  Meng die kleure vooraf soos jy die verkies.  Ma of Ouma kan dit in die gunstelingvertrek gebruik.
  3. As jy weet hoe om decopagewerk te doen, kan jy selfs die bogenoemde plaatjie met velle mooi servette oortrek.
  4. Versier ‘n ou kosblikkie met verf nadat jy ‘n onderlaag van byvoorbeeld wit of room geverf het.  Laat die outjies eers met potlood teken en beplan en dan verder verf.  Vul die blikkie sommer met vrugbare grond en kruie soos pietersielie.
  5. Pak oulike boodskappies met klanke wat uit tydskryfopskrifte gesny is of gebruik Scrabbleblokkies (bv. Mamma is die beste.  Lief vir mamma….).  Neem dan foto’s daarvan en vra die outjies om ‘n foto te kies (gee opsies). Laat druk dit in swart en wit of kleur (met ‘n wit randjie om).  Gebruik dit as die voorblad vir ‘n kaartjie of plak ‘n breë strook magneet agter-op – vir die yskas of ‘n spieël.  Die foto gee ‘n netjies afwerking, maar die fisiese knip- en plak-werk sal net so oulik wees.
  6. Versier hout wasgoedpennetjies met decopagewerk, gewone mooi papier of verf en blinkertjies.  Heg magneetjies agter-aan en gee dit saam met een van die metaalgeskenke.  Dit kan dan gebruik word om boodskappies en belangrike nota’s vas te knyp.


  Lekker werskaf!

Lees: motivering en aanmoediging

8 Kommentaar


maakleeslekker

Iemand het idees gevra om luierige lesers te motiveer om meer te lees.  Vir lui lesers kan ‘n mens ‘n beloningskaart maak – ‘n basiese almanak-uitleg met groterige blokke (tik “kalender” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in).  Op Grondslagfasevlak kan boekies redelik vinnig gelees word.  Maak ‘n kolletjie vir elke boek wat klaar gelees is – nadat julle ‘n paar begripsvragies gevra het – en besluit op ‘n prys.  As die outjie byvoorbeeld 10 boekies gelees het, kry hy / sy ‘n plakkerboekie, ‘n mooi skryfblok of kan julle ‘n DVD huur.

  • Skryf kort notatjies vir die kosblik.
  • Plaas ‘n bestelling vir ‘n toebroodjie en skryf die bestanddele neer (as dit iets soos ham en tamatie bevat, kan jy die snye vooraf in bakkies bêre om die proses makliker te maak).
  • Webwerwe soos TwistyNoodle het inkleurprente waarby jy jou eie sinne en woorde kan tik en druk.  Maak ‘n inkleurboekie vol sinne om “toevallig” te lees.  As ‘n paar vriendinne sulke boeke saam stel, kan ‘n mens weekliks ‘n ander boekie maak en uitruil.
  • Bak en brou saam of besluit op ‘n ete.  Gaan dan saam deur die koskaste en stel ‘n inkopielys saam.  By die winkel kan die outjie die benodigdhede lees en tuis kan hy / sy die resep ‘n paar maal nagaan om seker te maak dat julle alles gebruik het en dat die stappe reg gevolg is.
  • Soek telefoonnommers in ‘n telefoongids op.  Maak dit op die regte bladsy oop en vra vir hom / haar om ‘n oom of tannie se nommer op te soek.  Julle kan dalk ‘n paar nommers in die huis se eie telefoonboekie nagaan – om “seker te maak dat alles nog reg is”.
  • Blaai deur foto-albums en lees sommer so saam-saam die byskrifte.  Die inligting is relevant tot die outjie se familielewe en behoort hom / haar te interesseer.
  • ‘n Koppie koffie of “hot chocolate” kan ‘n lekker verskoning wees om te lees terwyl die beker afkoel.
  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet waarin daar gelees word. As die outjie regtig teësinnig is, kan julle die wekker stel en saam lees.  Maak beurte – een bladsy vir jou en een vir my.
  • Soek gerus na ou luister- en leesboekies in die biblioteek.  Ladybird het soms sulke kombinasies Storieman is selfs nou op Storierak beskikbaar.
  • Maak julle eie storiekassette.  Neem stories of gediggies op bandjies, die rekenaar of ‘n selfoon op.  (Stuur gerus vir my.  Ek luister graag!)
  • Gebruik selfs die lirieke van liedjies en neem die outjie op terwyl hy / sy sing – so op ‘n kamma Idols-manier.
  • Maak ‘n klein, spesiale leeshoekie met ‘n sagte kussing, ‘n leeslig en ‘n houer vir boeke.  Die beste opsie sal altyd natuurlike lig (na aan ‘n venster) wees.

Sterkte met die res van die kwartaal!

Geniet die lang naweek

2 Kommentaar


“Rest is not idleness, and to lie sometimes on the grass under the trees on a summer’s day, listening to the murmur of water, or watching the clouds float across the sky, is by no means a waste of time”
– John Lubbock

“Rest when you’re weary. Refresh and renew yourself, your body, your mind, your spirit. Then get back to work.”
– Ralph Marston

voor en na

Lewer kommentaar


voornaC het idees gevra om “voor” en “na” vas te lê.  Betrek voorbeelde soos kinders wat in ‘n ry loop.  Nommer 1 is altyd voor en die groter getal altyd agter (1 = eerste).  Dit maak nie saak of die ry na links of regs loop nie – die kleinste getal is altyd voor die groter een.

  • Pak die speelgoed agter mekaar in ‘n ry.  Wie staan voor?  Wie staan voor die beertjie? Wie staan agter die robot?
  • Betrek die honderdblok of ‘n slangetjies en leertjies speletjie.  As jy die speletjie speel, tel jy altyd aan en skuif NA die volgende of groter getal – tensy die slang jou in sluk 😉
  • Knip strokiesprente uit ‘n ou tydskrif (bv. Liewe Heksie).  Lees dit, sny die blokke op en skommel dit.  Vra dat die outjie dit in die korrekte volgorde pak. (Wat het eerste gebeur?  Wat gebeur daarNA, NA dit?…en toe?  Wat het gebeur VOOR… en …?)
  • Trek die almanak nader.  Vra vragies soos “Wat kom na Februarie? Wat kom voor April?”
  • Vee getalle uit ‘n honderdblok en vra die outjie om dit in te vul.  (Sien honderdblok onder die drukbare bladsye)

voor en na (werksvel)

voorna500

posisie eerste

kinderwerf

10 Kommentaar


Kinderwerf is ‘n webwerf wat fokus op taalontwikkeling by kleingoed en is reeds welbekend vir hul oulike pakkette om klanke en lees bekend te stel.  Die program verskaf elke maand ‘n pakket aan hul lede – wat opvoedkundige aspekte aanspreek. Kinderwerf het nou ook ‘n Engelse program ontwikkel om lewensvaardigheidslesse aan te vul en om die aanleer van phonics te ondersteun.  Die programme is ideaal om die aanleer van ‘n huistaal én ‘n tweede taal te ondersteun. Gaan loer gerus by die Clever Kids Club in vir verdere inligting.

Older Entries Newer Entries