
Lente is hier! Maak gerus blomkrone en kranse. Maak groot blomme om die ingang of die gange te versier. Plak ‘n raam met saadpakkies (al om die koesyn) en saai of skenk die sade. Hoeveel saadpakkies kan julle insamel vir hierdie projek? Snuffel gerus deur vorige jare se idees vir werskvelle en aktiwiteite.
Vir Boomplantweek, kan ‘n mens die skool se bome bemesting of kompos gee of bome plant. Vanjaar se bome is die witmelk- of melkbessie- en die tambotiebome. Sou hierdie bome in julle omgewing aard?

My Klaskamer word 17 jaar oud! Baie dankie vir elkeen se inloer, geselsies en ondersteuning. Dit is altyd lekker om ander te kan help.
September fokus op Gehoorverlies of die bewustheid van Doofheid. Hoe kan ‘n mens ander help? Is daar iemand in die skool wat hul ervaring kan deel? ‘n Goeie begin is om te verseker dat daar goeie beligting is en dat ‘n mens na die persoon draai wanneer jy praat. Is die gehoorstukkies se batterye voldoende en aan die FM-stelsel gekoppel (indien van toepassing)? Hoe dra ‘n mens die FM-sisteem se mikrofoon en watter goeie gewoontes kan ‘n mens kweek om outjies met gehoorverlies altyd in te sluit?
Ons vier Sekretaressedag op die derde September. ‘n Lekker bederfdag is ideaal. Wat doen jul skool om dankie te sê? Dink aan ‘n geskenkbewys of ‘n spesiale geskenk en bederfies (bv. eetgoed, rome, ens.).
Loslitdag word op die 5de gevier. Trek volgens ‘n kleur, ‘n tema of ‘n konsep aan of hou ‘n muntlegging. Is daar ‘n langer pouse vir die klas wat die meeste insamel? (Onthou om jou plakker te dra.)

Internasionale Geletterdheidsdag word wêreldwyd op die 8ste gevier. Lees gerus ‘n verskeidenheid boeke, rympies, lirieke, berigte, opskrifte en elektronies boeke. Nasionale Boekweek duur van die 5de tot die 11de. Roald Dahl se verjaarsdag word op die 13de gevier. Hoeveel van sy boeke is daar en hoeveel het julle gelees? Skryf gerus ‘n paragraaf om ander van die boeke te vertel.
Op die 15de September, vier ons Spikkeldag na aanleiding van Peter H Reynold se book: The Dot. Hoe kan julle spikkels of kolle by verskillende lesse betrek? Tel byvoorbeeld verskillende versamelings kolle, skep prente met behulp van dotjies (pointillisme) of kyk hoeveel kolleplakkers teen die lengte en breedte van ‘n boek of bladsy sou in pas…
Dra ‘n bandana of ‘n kopdoek en ‘n oogklap op die 19de. Kan jy soos ‘n seerower praat? Dis ‘n goeie geleentheid om jul Engels te oefen.
Versier papier met ‘n vredestema (bv. duiwe) en maak waaiers om uit te deel of in die gras te steek.
Waarom moet renosters beskerm word en hoe word dit gedoen? Wat maak hierdie diere so spesiaal?
Aan die einde van September fokus ons op oogsorg tydens Oogsorgmaand. Nooi gerus ‘n spreker of reël ‘n uitstappie na ‘n oogkundige praktyk. Deel artikels met die ouergemeenskap en vind gerus uit watter oogkundiges gratis oogtoetse doen (vir kinders).

Leer gerus meer oor die nasionale simbole vir Erfenisdag. Druk groot simbole uit, kleur dit in of teken jul eie en knip die prente uit. Versier die lengte van die gang in patroonformaat (bv. bloukraanvoël, protea, galjoen…) of maak rame om die deurkoesyne en vensterrame.

Ek het onlangs kinders met ‘n skaars tipe spierdistrofie (LGMD) leer ken. Die outjies ervaar pyn in die bo-arms en bene. Hierdie spiere word stelselmatig swakker soos hulle ouer word en kan hul beweeglikheid aansienlik verminder wanneer hulle in hul 20s is.
In die laerskool, probeer ons om daagliks strek oefeninge te doen en om versigtig te wees met die tipe oefeninge wat hulle tydens liggaams opvoedingsklasse doen. Strawwe oefening kan skade veroorsaak. Skryfwerk, kan tot uitputting lei. Ons leer hulle tans om soms hulle skryfwerk te dikteer en help ook met die skryfwerk.
Dra gerus lemmetjie groen klere of linte op die 30ste ter bewusmaking van een van die vele skaars diagnoses.











































































































Woorde