Ek het voorheen ‘n paar Moedersdag idees geplaas en het nog een of twee om by te voeg:
Verklein ‘n Bybelvers op A5-karton (kaartjie formaat) of hou dit op ‘n A4-grootte. Laat die kinders die woorde natrek en versier. (knap vrouens – veelvuldige opsies)
Plekmatjies: Druk glasmatjies of bordmatjies uit om in te kleur en te versier. Kleur dit in met uitdraaikryte (druk hard) en verf met ‘n lagie effens verdunde voedselkleursel. Lamineer die matjies apart en bind ‘n lintjie daarom.
Die plekmatjie en versies kan ook tot magneetgrootte verklein word. Plak ‘n dun yskasmagneet agterop en siedaar. [Moedersdagkleurvol, Mother’s Day]
‘n Ander idee vir ‘n magneet is om ‘n kleurfoto van elke outjie te neem en dan op ‘n magneet te plak. ‘n Mens kan die foto’s ook in klein sleutelhouers skuif, maar moet dan verseker dat dit perfek sal pas.
Versier teeligkersies met ‘n smal strokie washi tape. Sny ‘n vierkantige strokie deursigtige (of gewone) materiaal en bind die kers daarin toe. Die maklikste sou wees om vir elkeen ‘n “loom”-rekkie te gee om die lap se punte bymekaar te bind. Daarna kan ‘n mens ‘n bypassende lintjie om die rekkie bind. Voeg ‘n lekkertjie of twee as ‘n verrassing by.
Indien die kinders hul eie epos adresse by die skool het, kan julle die kleurvolle Moedersdagboodskappe as ‘n dokument aan elke mamma stuur.
Watter oulike idees het julle al gebruik?
Vir nog idees en drukbare hulpmiddels, tik die soekterme “moeder” of “moedersdag” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
raam oulike leesprente of aanhalings vir die leeshoekie,
lees vir mekaar,
maak opnames van voorlesings en luister daarna wanneer julle ‘n aftydjie het en
neem ‘n “selfie” met jou gunstelingboek. Druk die foto’s uit maak ‘n muurcollage. Indien jy dit in jou klas se leeshoekie wil begin, neem maandeliks foto’s en inspireer mekaar.
Indien julle boeke het om te skenk, plaas ‘n boodskappie voor-in.
Lekker lees!
Tik ook soekterme soos “boek, biblioteek, taaldag, lees, eboek, leeslys, leesreeks” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.
Robotkaarte werk soos ‘n verkeerslig. Jy kan ‘n groen kol by die beginpunt van syfers of letters plaas en ‘n rooi kol by die eindpunt. Sodoende weet die kleingoed waar om te begin en te eindig.
Gebruik dit as muurkaarte (voorbeelde of herinnering). Gebruik dit net so of druk op helderkleurige karton.
Liaseer dit in lêersakkie. Skryf daarop met witbord veselpenne.
Oefen skrif deur met elke kleur in die krytpakkie daarop te skryf (reënboogskrif). Verf met effens verdunde voedselkleursel.
Skeur en plak fyn stukkies gekleurde papier (bv. uit ‘n tydskrif) daarop.
Skryf die letter en oefen die letter op die wit agtergrond.
Skryf die syfer en plak soveel soortgelyke prente rondom. Bv. 6 eiers, 2 skoene.
Plak prente wat met die letter begin, op die wit agtergrond. Versigtig: Die klinkers moet soos ‘n klinker (a vir appel, e vir emmer, i vir in, o vir op, u in die middel van bus) en nie soos ‘n dubbelklank (aa, ee, oo, uu) klink nie.
Hou die kaarte in lêersakkies of lamineer. Rol klei in lang wurms en vorm die letters of syfers daarmee bo-op die sakkies.
Smeer gom binne-in die simbole om sand, sout, poeier, blinkertjies, ens. bo-oor te strooi.
Vir soortgelyke idees, tik gerus soekterme soos “abc, skrif, skryf, alfabet, syfer, klanke, fynspier, handspier… tuis idees” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in en loer na die “Drukbare Bladsye”-hofie.
Hiermee so ‘n paar kunsvlyt idees om as gesin te probeer…
‘n Paas-sonvanger: ‘n Eenvoudige, maar effektiewe ruit-versiering is om ‘n son uit snesie-papier (tissue paper) te sny. Plaas ‘n paar lae (oranje en geel) bo-op mekaar en plaas dan ‘n groot sirkelvormige voorwerp bo-op. ‘n Stukkie van die bak kan oor die rand skuif om die horison te maak. Trek af en sny uit. Hou die res van die papier steeds op mekaar en sny die strale uit. Doop ‘n sponsie of watte in kookolie en smeer dit bo-oor. Die papier absorbeer die olie en laat die lae aanmekaar kleef. Dit laat die son ook aan die ruit kleef (lekker morsig, maar mooi). Jy kan die strale se lae afsonderlik (of in die pakkie) om die son versprei en dan kruise, woorde of selfs ‘n versie om of op die son plak. ‘n Mens sal net die letters afsonderlik moet uitknip en plak. Die mooiste deel van hierdie versiering is dat hierdie son gloei wanneer die sonstrale daarop val.
Kleur eiers met mooi patrone: Gebruik ‘n stukkie sylap (bv. gesnyde ou serpe of dasse) – groot genoeg om styf om die eier te bind – en ‘n stukkie katoen (bv. gesnyde, ou t-hemp). Plaas die sylappie bo-op die katoen en die eier bo-op die materiaal. Vou die lap so glad en styf as moontlik oor die eier en bind die punt met ‘n rekkie vas. Bedek die eier(s) met water en drie eetlepels asyn. Kook vir sowat 20 – 30 minute en haal die eiers uit om af te koel. Die patrone behoort dan netjies agter te bly en die eiers kan as versierings op die tafel dien.
‘n Mens kan ook oulike, wasbare tatoeërmerke koop en op eiers afets.
Los ‘n bietjie muurpapiergom (beskikbaar in klein koevertjies) op en verf die eier daarmee (of houtlym). Rol die eier in blinkertjies om ‘n dik lagie te maak en laat dit op ‘n ou borsel, naelborsel of ‘n speldekussing stelasie* droog word. (*Steek spelde in rytjies of blokkies op ‘n stuk spons of oase in.)
Verf die eiers met swartbordverf en laat op die speldekussing stelasie droog word. Skryf die gaste se name op elkeen.
Prik ‘n eierdop met ‘n speld en hang dit aan ‘n effens oop gebuigde skuifspeld. Gebruik verskeie kleure ou naellak en drup dit bo-op water in ‘n klein weggooibare glasie totdat die hele oppervlakte met naellak bedek is. Trek ‘n tandestokkie daardeur om patrone te maak en doop die eier daarin. ‘n Mens sal die eier dalk meer as een keer moet doop en die proses moet herhaal. Hang die skuifspelde aan die wasgoedlyn op totdat die eier droog is.
Vir nog Paasfees of Bybelles idees, kan julle soekterme soos “Paasfees” en “Sondagskool” by die bruin soekblokkie regs-bo in tik.
2 April is Outisme Bewustheidsdag. Die statistieke wissel, maar tans is die skatting dat ongeveer 1 uit 86 kinders deur die Outisme Spektrum geraak word. Dit kom vier keer meer in seuns as in dogters voor en in ander wêrelddele is dit meer algemeen. Wat sê die kundiges?
Indien julle blou gloeilampe het, verlig die skool of voorhuis daarmee en om die dag te ondersteun, dra gerus blou. Kontak ook een van die spesialis skole om meer oor ondersteuningsgeleenthede in jul area te wete te kom.
Vir nog idees, tik gerus “outisme”, “toeps” of “inklusiewe onderwys” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in of loer na die skakels onder die hofie “Aandagafleibaarheid, Aspergersindroom, Outisme”.
Tik ook soekterme soos “aarde”, “grond”, “water” en “herwin” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in. Loer hier na ‘n oulike herwinnings- en gemeenskapsdiens projek.
16 – 22 Maart
Vanjaar is daar sommer ‘n hele paar wêreld en nasionale dae of weke in dieselfde week. Waterweek het amper verby geglip. Dis nooit te laat om met goeie gewoontes te begin nie.
Vrydag, 20 Maart, is ‘n Internasionale Dag van Geluk. Hoeveel dinge kan jy lys wat jou gelukkig maak? Vertel ander daarvan om hulle te inspireer. Skryf dit op ‘n taai notatjie (post it) of plak boodskappe op die leerders se boeke of tasse. Elkeen kort ‘n positiewe boodskap so nou en dan. [gelukkig]
Iemand het onlangs gevra wat ‘n mens kan doen met ‘n see-tema. Laat ek sien…
Berei groot velle wit of koerantpapier vir ‘n seetoneel voor. Indien jy ‘n rol papier het, kan jy die papier sowat ‘n muurlengte lank maak. Meng muurpapiergom/styselpap met voedselkleursel (‘n emmer met groen, ‘n emmer met blou en dalk ‘n emmer met ‘n geel mengsel) en gee vir die outjies sponse (of gebruik die hande) om die kleure oor die papier heen te versprei. Begin met die ligste kleur en laat blertse toe. Ouer kinders kan die papier teen ‘n muur monteer en smeer. Terwyl die verf nog nat is, kan hulle die branderpatroon dwars oor die papier trek. Vee net die vingers kort-kort af om die effek beter te maak. [Dit gaan lekker morsig wees.]
‘n Mens kan ook die groot papier met ‘n olie mengsel voorberei indien jy dit voor vensters wil hang. Meng verf of voedselkleursel met gewone sonneblom olie om die papier ‘n deursigtigheid te gee. Die kleur hoef weereens nie egalig te wees nie. Hierdie metode gaan ‘n sonvanger-effek teweeg bring.
Vir die heel kleintjies, kan ‘n mens visprente (op papier of karton – vir versterking) afrol en gee om in te kleur met vetkryte of uitdraaikryte. Hoe harder hulle druk, hoe beter. Knip dan die prente uit en gee effens verdunde voedselkleursel om bo-oor die visse te verf. Hoe meer kleure daar beskikbaar is, hoe meer kleure sal jy in jou see sien. Plak nou die visse rond en bont in die see op en gebruik selfs ou groente-bordjies (foamalite) om die visse van die papier af te lig – vir meer dimensie.
Indien jy individuele prente wil maak, meng kleursel of verf met ‘n lekker seperige oplossing. Gooi dit in vlak bakke (bv. 2 liter roomys bakke) of ou yoghurt-houers (500ml) en verskaf strooitjies sodat hulle kan blaas dat die biesies bewe. As die borrels oor die rand begin klim, druk jy die A3-bladsy daarop. Herhaal totdat die bladsy vol borrels is en plak visse daarop sodra dit droog is. ‘n Goedkoop badskuim of skottelgoed wasmiddel behoort goed te werk.
Graad R- en 1-kinders kan hul letterformasies oefen deur die groot vel in lyne te vou (dubbeld en dubbeld totdat die lynspasie ‘n wenslike breedte het). Gebruik dan wit vetkryt om lugborrels te teken. Dit gaan sommer deel van ‘n skrifles oor o (klank) of 0 (syfer) wees. Die outjies moet weereens hard druk en net-net aan die lyne raak. Verf die bladsy met ‘n olie-en-kleursel of water-en-kleursel mengsel.
Trek die buitelyn van ‘n vis op harde karton of ou x-straalplate af en knip uit. Gee dit vir die kinders om twee op ‘n stuk karton of wit papier af te trek (plak vas met maskeerband of wondergom). Die idee is om een vis te hê wat na regs kyk en ‘n ander een wat na links kyk. Versier die visse met patroonwerk (druk met pasta-dikte verf en proppies of teken met vetkryt) en kleur die ogies en bekkies in. Knip uit en verf met ‘n kleurselmengsel – indien julle vetkryt gebruik het. Kram of plak die twee dele dan rug-teen-rug vas, sodat die gomstreep om die buiterand is en julle die vis met watte of sagte papier kan op stop. Plak die laaste stukkie toe en hang die vis met vislyn uit die dak of of voor jou see muur.
Gebruik ‘n papierbord met ‘n lekker hol binnekant. ‘n Mens kry dikwels ‘n “foamalite” of plastiek bord wat lekker diep is en effens weg staan. Sny die middelste deel uit. Verf, teken en plak nou ‘n gewone seetoneel op ‘n gewone papierbord en dop die gesnyde een bo-oor die versierde een om om ‘n kajuitvenster te skep. Indien julle lus het, kan ‘n mens die geknipte ring/vensterraam met foelie oor trek, voordat jy dit op die seetoneel plak of kram.
Teken visse lekker groot op A3-blaaie, maar los die stertvin uit. Kleur die vis in of verf die lyf met voedselkleursel. Gebruik nou medisyne druppers om effens verdunde voedselkleursel op die vis se vinne te drup en blaas dit met strooitjies na buite. ‘n Mens kan vooraf die hele bladsy met die drup-en-blaas metode kleur en ‘n vis teken sodra die papier droog is.
Vir krappe en krewe, kan julle die handpalm of kant van die vuis in oranje en rooi verf doop en dan op ‘n bladsy druk. Sodra die papier droog is, kan ‘n mens die ogies in teken. Knip die krappe en krewe uit en voeg dit by jou seetoneel by, versier ‘n venster of ‘n gang.
Dop ‘n papierbord om en verf met oranje-rooi verf. Indien jy wit papier onder die bord gehad het, kan jy sommer die stukke wat uit steek met die verf by kom as die bord klaar is. Sny dan later die pote uit hierdie stukke en plak dit weerskante van die krap. Voeg wikkel ogies by en siedaar.
Doen dieselfde om ‘n jellievis te maak, maar gebruik dik, gekleurde styselpap (sagte bloue, perse) en langer, dunner tentakels. ‘n Mens kan ook stroke snesiepapier en linte vir die tentakels inspan.
Seekatte: Verf dikkerige verf op die voetsool en trap op wit papier. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uit knip en onderste-bo gebruik. Die tone vorm die tentakels.
Jy kan blasieplastiek (bubble wrap) verf en ‘n bladsy bo-op druk om die suiers te maak. Knip ag arms uit en plak dit teen jou seekat vas. Hoe meer gekrul die arms se punte is, hoe meer karakter het die seekat.
‘n Blink idee is om die seekat se suiers met sequence te maak. Plak die tentakels vol.
Gebruik twee papierborde om ‘n orca (moordwalvis) te maak. Verf die een wit en die ander swart. Trek ‘n kurwe in die vorm van ‘n heuweltjie oor die breedte van die swart bord en sny uit (sowat ongeveer ‘n kwart na ‘n derde kan af gesny word). Plak die swart deel bo-op die wit bord en plak twee wikkel ogies aan die kante. Gebruik die stuk wat jy af gesny het om twee vinne weerskante van die lyf die plak en ‘n driehoekige stukkie vir die dorsale vin.
As jy die orca groter wil maak, gebruik ‘n hoepel om die vorm af te trek.
Maak ‘n drywende walvis uit ‘n plastiek melkbottel (2 liter) deur dit op die sy te draai. Die opening dien as die stert gedeelte en die handvatsel is die bokant. Sny ‘n bek in die onderkant van die bottel – ‘n glimlaggende keep. Verf gaan vinnig afskilfer of af was. Teken dus die oë aan die kante en hou die doppie toe as julle die walvis bo-op water laat dryf.
Indien julle lus het, kan ‘n mens eerder die bek in teken en ‘n gat bo-in die bottel kap vir waterspel. Plaas ‘n waterpyp in die bottel se opening en maak dit met rekkies of insulasieband vas. Hou om hierdie hegtingsdeel vas en draai die kraan wyd oop.
Trek twee seeperdjies aan weerskante van ‘n papierbord af. Sny die bord in die helfte en gee vir twee kinders afsonderlik ‘n seeperdjie. Verf en sny dit uit. Versier met ‘n dik laag verf en blinkers of “sequence“.
Julle kan die seeperdjies op die muurcollage plak…of versier beide kante van die seeperdjie en hang dit voor ‘n venster.
Pi Dag is op 14 Maartweens die syferwaarde 3,14…Dit is ‘n irrasionale getal en kan nie eintlik as ‘n breuk geskryf word nie. Jy kry π wanneer jy die omtrek van enige sirkel deur sy deursnee deel.
Ek het heelwat navrae oor stambome en families gekry. ‘n Mens kan natuurlik pragtige, kleurvolle bome verf – met die unieke besonderhede van die familie daarby. ‘n Ander opsie is om dit op ‘n bladsy te druk met ‘n eenvoudige diagram. Hiermee dan so ‘n paar riglyne.
Maak ‘n PowerPoint bladsy oop. Gaan na SmartArt en dan na Hierarchy. Dit sal vir jou opsies vir die uitleg bied. Daarvolgens kan jy ekstra takke en persone invoeg. Indien jy ‘n foto in ‘n sirkel of blokkie wil plaas, gaan jy daarop regs-klik. Gaan na “Format Shape” en “Fill”. Kies dan “Picture or Texture” en kies ‘n ID-tipe foto.
Van die simbole wat ‘n mens kan gebruik is:
* (voor die geboortedatum)
~ (voor die doopdatum)
† (voor die datum van afsterwe)
x (dui op huwelik/datum van troue)
xx (dui op ‘n tweede huwelik)
÷ (datum van egskeiding)
Die van word in hoofletters getik en ‘n nooiensvan word tussen hakkies getik (neé …).
Vir nog leesboeke, tik gerus soekterme soos “leeslys, leesreeks, iPad, Android, boeke” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in. Sien ook die skakels onder “Hulpmiddels” en “Geletterdheid/Taal“.
Die volgende iPad Apps (en meer) is ook aan die regterkant onder “Hulpmiddels” gelys. Die eerste groep is meestal Afrikaanse Apps (Big Bug Books en Via Afrika Wiskunde is in Engels en Afrikaans beskikbaar) en die tweede groep is Engelse Apps. Die hele Letterland storiereeks is aan die regterkant gelys – asook Biebie en Kalla se Engelse reeks: Biff, Chip, Kipper. Klik op die prentjie om verdere besonderhede te sien.
* Op TinyTap kan jy die musiek verdoof deur op die note te klik. Maak seker dat “smart play” aan is.
Hierdie is enkele Android Apps – wat ook aan die regterkant onder “Hulpmiddels” gelys is. Die eerste gedeelte se Apps is meestal in Afrikaans en die tweede helfte is Engelse Apps. Big Bug Books en Via Afrika se Apps is tweetalig.
*Op TinyTap kan jy die musiek verdoof deur op die note te klik. Maak seker dat “smart play” aan is.
Op 21 Februarie vier ons Internasionale Moedertaaldag. Kyk of jy inligting oor die moedertale in jou omgewing kan in win. [moedertaal opname] Watter taal word die meeste of die minste in jou woonbuurt gepraat?
Ek het verskeie navrae in verband met Menseregtedag gekry. Vir jong kinders, sou ek dit eenvoudig gehou het.
Elke klas kan een van die regte kies om in ‘n muurkaart te gebruik. Werk as ‘n klas saam aan ‘n versiering van die klasdeur – waarin een van die menseregte verskyn.
Maak papierkettings om in reënboogkleure te versier en dan in die gange op te hang.
Trek elkeen se voorarm en hand af. Verf, versier en knip uit. Skryf dan een van die regte op die hand en plak die hand só dat dit lyk asof hulle hand skud. Daar sal dus baie linker- en regterhande moet wees.
Woorde