Tuis

plaasdiere

8 Kommentaar


Screen Shot 2015-07-24 at 17.13.09

Op die plaas is daar baie diere, maar vir die kleinspan moet ‘n mens die getal verminder.  Ek fokus eers net op hoenders, perde, beeste / koeie, varke… ‘n Idee om die tema bekend te stel is om van die diere se geluide te speel sodat die leerders dit moet identifiseer (Wat maak so?).  Die kleintjies kan raai, maar vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n geheime koevert gee.  In Graad 1 is die koevert gevul met prentekaartjies (met die dier se naam daarby), maar in Graad 2 is die koevert gevul met prentekaarte en los klanke.  Die outjies moet in Graad 1 die prent wys en die naam lees, maar in Graad 2 bou hulle self die name en pas dit by die prente.  Die outjies kan in groepies of pare werk vir ‘n bietjie spangees.  Soos hulle die diere reg raai, kan jy die vergrootte prente teen die bord aanbring.  Smile het ‘n oulike legkaartstel (met ‘n kasset of CD vol dieregeluide) gehad.  Ek is seker dat hulle dit steeds verkoop. As jy die diere gaan bespreek, kan jy die onderskeie produkte op die plakkate aanbring of uit stal.

  • Koeie verskaf leer, vleis en melk…
  • Hoenders gee vleis en eiers…
  • Perde is ‘n vervoermiddel en is soms trekdiere weens hul brute krag…
  • Varke gee vleis…

Wat eet die onderskeie diere? Waar woon elkeen? Wat noem ‘n mens die mannetjie, die wyfie en die kleintjie?  Watter aksies voer hulle uit (wei, skrop, kekkel, snork, rol, gallop…)? Vir dialoog- of fantasiespel kan die outjies in groepe verdeel word en maskers gebruik om plaassake te bespreek.

Maak dalk julle eie maskers tydens die kunsles.  Vir varkmaskers kan ‘n mens mediese maskers pienk kleur (flou, rooi voedselkleursel) en ‘n snoet bo-op plak of met drukwerk aanbring.  Jy kan ook ‘n papiermasker maak vir die dialoog gedeelte. Koeie kan met swart kolle versier word en perde kan in bruin vingerverf getooi word. ‘n Skaap kan ‘n lagie wol uit wit watte kry. ‘n Hoender kan ‘n parmantige haan of ‘n sagte hen wees. As jy regte vere kan kry, plak dit bo-op die kop en verf die bel en kam bloedrooi. As jy reeds die maskers gemaak het, kan julle ‘n luisterspeletjie speel deur die onderskeie diere geluide te speel. As die outjie sy dier hoor, moet hy opstaan. Dit kan ‘n lekker uitvangspeletjie word.  Afhangende van die ouderdomsgroep kan die outjies wat opstaan die dieregeluide benoem, bv. runnik, loei, blêr, kekkel…

Vir oulike Engelse diere geluide en gedigte kan jy hier gaan loer. Hulle dek ‘n verskeidenheid diere en gedigte.

Tel die diere of leer om die dierename in Engels te skryf.

As julle ‘n muur collage wil maak met plaasdiere, skep eers die agtergrond. Verf ‘n groot vel papier in twee dele – blou lug en groen gras of selfs koringlande. Bring ‘n skuur aan en rig ‘n windpomp op. As julle tyd het kan die kinders die agtergrond met sponswerk bedruk voordat julle die skuur en die windpomp plak. Maak die diere van papierborde, die hoenders van uitgeknipte handafdrukke of uit papier. Knyp ingekleurde of geverfde diere in wasgoedpennetjies vas sodat dit sommer as bene dien of maak vingerpoppe of handpoppe van papiersakke.

Maak ‘n varkie deur kurkproppe as bene te plak en papier maché bo-oor ‘n ballon te doen. Dit neem lank om droog te word, maar sodra dit hard en droog is, kan jy die varkie verf en versier. Lekker speel en leer!

halveer

21 Kommentaar


 

J en H het onlangs navrae gerig oor die verduideliking van halvering vir ‘n Graad 1-outjie.  Hiermee dan my manier van verduidelik…

Die maklikste manier om halvering te verduidelik is met ‘n paar lekkers (of kamma-lekkers).  Bespreek die term “helfte” – iets word in twee ewe groot stukke verdeelHalveer is net die “doen-woord” en beteken dat jy iets in twee stukke gaan deel.  As ons na somme of getalle kyk, deel jy gewoonlik iets tussen twee mense uit sodat elkeen dieselfde hoeveelheid kry.

Aanvanklik leer die outjies net om ewe getalle te verdeel.  Neem ‘n paar lekkers of tellers en verdeel dit gelykop tussen twee mense.  Volg die speletjie van “een vir jou, een vir my” totdat alles uit gedeel is.  Vra dan vrae soos hoeveel het jy? Hoeveel het ek?  Is dit dieselfde hoeveelheid? Speel met ‘n paar getalle tussen 1 en 10. Verdeel sommer ‘n papier om aan te teken watter getalle verdeel kon word en watter nie.  Alle skole leer nie dieselfde tipe terme vir die outjies aan nie, maar dit sal seker nie te voor op die wa wees om te wys na die ewe getalle en te noem dat hierdie getalle in “ewe veel vir jou en vir my” verdeel kon word nie.  Hulle is EWE getalle en die ander is ONEWE getalle. AS die outjies ‘n “res” moet verdeel, kan die lekkergoed in koekies verander.  Dan verdeel julle dus ‘n onewe getal tussen twee maats (maak sommer ‘n paar stories op) en as een koekie oorbly – deel hulle dit.  As jy 5 verdeel is dit dus 2 en ‘n half (of 2 en ‘n halwe koekie).

Alle wiskunde verduidelikings begin met fisiese of konkrete items, sodat die outjies dit kan skuif en manipuleer (by pak, weg neem, verdeel…).  Later teken hulle prentjies om die konkrete tellers voor te stel en heelwat later werk hulle net met syfers en simbole.  Dit is egter baie voordelig om maar altyd ‘n houer met tellers naby te hê om met die somme te help. Skryf so 3 tot 4 woordprobleme op ‘n bladsy neer en werk dit saam uit…(lees hardop saam in Graad 1)  bv.:

  • Pappa koop 4 stukke droëwors.  Hy verdeel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke kry elkeen?

Pappa: ___ Johan:  ___

  • Mamma koop 6 weense worsies.  Sy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel worsies kry elkeen?

Mamma:  ___ Johan:  ___

  • Pappa koop ‘n pizza.  Daar is 8 skywe.  Hy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke pizza kry elkeen?

Pappa:  ___ Johan: ___

Laat weet gerus watter metodes vir jou werk…

Halveer

Halveer Semi-Konkreet

Halveer 0 – 10

Halveer dekades

Halveer 0 – 50 

Halveer 40 – 100

Verskeie blaaie met verklarende flitskaart.

vheo

Halvering in die groot getalgebiede:

Bv. 64.  Breek die getal op of trek die flardkaarte nader.  Is dit ‘n ewe of ‘n onewe getal?  Onthou dat ewe getalle op 0, 2, 4, 6 en 8 eindig.  ‘n Ewe getal sal gelykop tussen twee mense verdeel kan word en netjies kan halveer.

Bou die getal (4 op 60 en pas teen die regtersy) en trek dit uitmekaar.  Dit is nou 60 en 4.  Wat is die helfte van 4? 2.  Wat is die helfte van 60?  Hoe kan ek maklik tot by 60 tel?  Gebruik groepies of veelvoude van 10.  Daar is 6 groepies.  Wat is die helfte van 6 groepies? 3 groepies.  3 groepies van 10 maak 30.  Ons het dus ‘n 30 en ‘n 2.  Bou dit met die kaarte – 32.

Halvering met ‘n breuk:

Bv. 25.  Is dit ‘n ewe of ‘n onewe getal?  Onewe.  Trek die flardkaarte nader.  Hoe lyk 25?  Dit bestaan uit ‘n 20 en ‘n 5.  Kan ek 5 blokkies kaas gelykop tussen 2 mense verdeel? Amper.  Elkeen kry 2 en dan is daar 1 oor.  Ons kan daardie blokkie presies in die helfte sny, sodat elkeen ‘n halwe een kan kry.

Die helfte van 20…20 bestaan uit twee tiene.  ‘n Tien vir jou en ‘n tien vir my.  Die helfte van 25 is dus 12 en ‘n half (12 1/2).

Sien ook die stukkie oor deling en breuke.

 

boom

Lewer kommentaar


Dit is weer Boomplantweek en indien jy daarvan vergeet het, is ek seker dat jy heelwat kwekerye vandag sal oop vang!  Die Boom van die Jaar is die Pappea Capensis (doppruim) – wat rooi kersie-agtige vrugte dra.  As ek reg lees behoort dit heelwat voëls te lok en sal dit ook skadu bied.

As jy nie van die doppruim hou nie, kan jy ook ‘n ander boom koop. Wat van bome wat iets tot die gemeenskap kan bydra? ‘n Suurlemoenboom vir die kostafels, ‘n moerbeibos vir die sywurmseisoen, roosmarynbosse vir kleur en geur…Kruiebosse lyk nie net mooi nie – dit ruik heerlik en verg dikwels min sorg. Dink aan ‘n kolletjie in die skooltuin of op die rand van die skoolheining waar julle so iets kan plant.  Lekker spit!

rugby

Lewer kommentaar


This slideshow requires JavaScript.

‘n Mens kan amper nie glo dat die Rugby Wêreldbeker alweer een van die dae gaan begin nie.  Hiermee dan so ‘n paar idees om met die kleingoed te deel.

As jy ‘n bietjie meer oor die Springbokke wil leer, kan jy na die Bokke se webtuiste gaan.  SA Rugby verduidelik daar hoe die rugby reëls werk. Dalk kan die klas hul eie “bok-reëls” opstel en toekennings kry vir goeie gedrag, hulpvaardigheid en dies meer.

Die Wêreldbeker bied die geleentheid om aan aspekte soos sportmansgees, nasietrots en spangees te werk.  Bokkie is ‘n oulike karakter om by sulke lesse te betrek en leer jou selfs hoe om die spel te speel.

Kyk na die verskillende lande wat deelneem en hoe hulle in elke afdeling vorder.  Suid-Afrika speel in afdeling B. Druk die kleurvolle kaartjies uit en maak julle eie muurkaart om die punte aan te dui en te sien wie gaan wen. Speel ‘n speletjie waar die deelnemende lande se vlae en name gepas kan word. As jy twee stelle vlae druk, kan julle snap of ‘n geheuespel daarmee speel.  Leer meer oor die Wêreldbeker-gasheer, Engeland.

Dan is daar pragtige inkleurprente oor rugby (vir meisies en seuns) beskikbaar.  Daar is natuurlik meer ingewikkelde werksvelle en aktiwiteitspakkies oor rugby beskikbaar.  Julle kan julle eie rugbyballe of -hemde ontwerp.  Hou ‘n vasvra of ‘n kompetisie waar die wenner ‘n Springbokserp of Bokkie-beddegoed wen.  Ek is seker die manne sal woeker vir so ‘n prys.

Maak julle eie serpe of musse uit viltlap.  Trek die buite lyne van ‘n springbok of die landsvlag op karton of ‘n x-straalplaat af om as patrone te gebruik.  Trek die patrone op die vilt af en knip uit.  Gom of werk die stukkies vas.

Loer ook na inskrywings oor die sokker– en krieket-wêreldbekers vir nog idees (of tik “Suid-Afrika” by die bruin soekblokkie in).

groen

burt books

Lewer kommentaar


Coreen Burt het ‘n splinternuwe webtuiste vir onderwysers en ouers begin.  Sy is ‘n oud-Suid-Afrikaner wat in Engeland woon en is al jare lank ‘n opvoeder.  Sy het verskeie boeke geskryf – wat syferkundigheid en taal in sluit.  Dit bevat baie oulike lesmateriaal en werksvelle.  Dit is ideaal vir outjies wat Engels moet leer skryf, lees en spel.  Gaan loer gerus in.

werkswinkel

2 Kommentaar


Making Sense of Senses in the Classroom:

‘n Werkswinkel vir opvoeders, ouers en betrokkenes.  Die dag sal fokus op sensoriese integrasie en sensoriese probleemareas.  Die opvoeder sal idees kry om die “out of sync” leerder te akkomodeer in die klas.  As jy met Grondslagfase-kinders werk – sal hierdie inligting beslis handig te pas kom.

Aangebied deur arbeidsterapeute van die ET AL Terapie- en Leersentrum

Datum:  20 Augustus 2011 (08:00 – 13:00)

Waar?  Somerset-Wes

Koste:  R150 (sluit uitdeelstukke en ‘n eetdingetjie in)

Kontak ASAP: 021 852 0845 / etal@webafrica.co.za

weer en seisoene

6 Kommentaar


Daaglikse weerkaartwerk

Ek het reeds ‘n paar inskrywings oor die seisoene gemaak, maar nog nie oor die weer nie.  Hiermee dan ‘n paar idees vir weerkaarte.

Die meeste Grondslagfaseklasse het ‘n kalender- en weerbord iewers waar die dag, datum en weerstoestande aangedui word. ‘n Weerkaart is iets wat nie slegs by die skool gevolg word nie.  Jy kan dit ook by die huis volg.  Dit help ons almal om na die weerstoestande te kyk en om die regte klere vir die dag te kies.  ‘n Bewustheid van die weer en die verandering daarvan, skep ook ‘n bewustheid vir seisoene en tydsverandering…

  • Druk ‘n kalender uit en afhangende van die outjies se ouderdom, kan hulle beskrywende naamwoorde (sonnig, bewolk, reën, wind…) inskryf of die prente teken.
  • As die outjies nog klein is sal ek nie te veel prente of beskrywings betrek nie.  Kies slegs ‘n paar prentjies om te gebruik.
  • Om die keuses makliker te maak, kan jy die verskillende weerstoestande met prente en bewoording eenkant op plak. Die outjie besluit dan op die mees geskikte beskrywing om te kopieer.
  • Vir klasse met ‘n rekenaar en groot (witbord) skerm: As jy self mooi foto’s kan neem, kan jy die kinders met die dag se lugruim in die agtergrond afneem. Digitale foto’s laai maklik af en dus sal jy elke dag se weerstoestand kan “noteer” in dagboekvorm. Aan die einde van die week of maand kan julle deur die foto’s kyk om die veranderinge te bestudeer.
  • In plaas van ‘n kalenderformaat, kan jy ‘n sirkeldiagram maak – met prentjies – sodat jy ‘n pyltjie na die gepaste weerstoestande kan draai.
  • Vir ouer outjies (Graad 2 en ouer) sal ek ‘n eenvoudige boekie saamstel waarin hulle elke dag ‘n beskrywende sin of twee kan skryf.  Bv.  Dit is vandag koud en winderig.  Dit is sonnig en warm.  Die wind waai sterk en dit kan dalk later reën.  Dit kan dalk aanvullend tot die daaglikse of weeklikse “nuus” wees.  As jy ‘n tipe dagboek het vir die nuuswaardighede, kan jy ‘n aanvullende weerblad invoeg. (weer) (maande met prente: kalender)
  • Kleurvolle weer-banier.
  • Kleurvolle seisoen-prente.
  • Interaktiewe weerspeletjie.
  • Daily Calendar Work Daaglikse Kalenderwerk

As julle die weersvoorspelling vir die streek benodig, kan julle na foreca gaan.  Tik jou naaste stad of dorp se naam in en dit behoort vir jou ‘n oulike uiteensetting te gee. iWeather bied ‘n oulike uitleg en het selfs beeldmateriaal by sommige weerstasies.

Watter ander idees is daar om die weerstoestande te noteer?  Stuur gerus nog inligting…

Tik soekterme soos die onderskeie seisoene se name, asook “kalender” en “Hoe laat is dit?” (dae) by die soekblokkie in of gaan na drukbare bladsye vir aanvullende bladsye (bv. dae van die week).

somer, herfs, winter, lente

Weerkaart, Kalender en Seisoene Pakket

seasons seisoene kalender weerkaart

wintersomer

lente insekte goggas

HerfsAutumn

Oupa John vertel oulike stories

4 Kommentaar


Hier is ‘n CD met lekker luisterstories vir die jongspan.  Oupa John het verskeie oulike stories saam gestel – wat beslis ‘n aanwins vir die kleingoed se CD-versamelings sal wees.

“Die Afrikaanse stories is skoon, avontuurlik, sonder allerlei feetjies en drake of enige demoniese invloede. Dis vermaaklik maar met ‘n ietsie opvoedkundigs en geestelik. Ons wil stories aanbied waarmee die kind kan identifiseer, maar wat verseker met die werklikheid verband hou.”

Die cd’s kos R50 stuk plus dan die bietjie posgeld. Dit kan direk by ons bestel word by Telefoon 082 811 0669 of 072 132 0074. Ons e pos adres: leonie.goosen3@gmail.com

Loer ook hier.

karnivore

3 Kommentaar


Anna het genoem dat sy ‘n kritles moet gee oor Karnivore.  Hiermee dan so ‘n paar idees om dalk te gebruik.

Wat is ‘n Karnivoor?  Dit is ‘n dier wat jag vir sy prooi, dit dood maak en dan eet.  ‘n Mens kry karnivore wat mak is en ander wat wild is.  Hulle het slagtande wat ideaal is vir hierdie jagproses. Daar is gewoonlik twee in die bo- en twee in die onderkaak.  Anders as planteters (herbivore), het karnivore skerp tande om vleis mee te skeur en te eet.  Kan jy die karnivore van die herbivore onderskei in hierdie prente?

Watter ander eienskappe sal ‘n karnivoor nodig hê om sy prooi te vang?

Hulle is dikwels goed gekamoefleer – met kolle, strepe of pelse wat spesifiek by hul omgewings pas. Waar woon die wilde karnivore?  Hierdie unieke pelse help die diere om lank genoeg weg te kruip of hulself weg te steek, sodat hulle die prooi kan bekruip.  Die karnivoor sal spesifieke bewegings hê om die prooi uit te oorlê – spring, sterk, besonderse vinnige atleet, sluip…’n Karnivoor het ook dikwels skerp kloue om die prooi mee te vang en vas te hou.

Ek sou graag wou hê dat so ‘n les ‘n opvoedkundige uitstappie moes volg of inlei, sodat die outjies met die ware jakob kan kennis maak.  Kies een spesifieke karnivoor as voorbeeld en bou die les dan rondom die spesifieke dier.  As jy byvoorbeeld toegang tot ‘n jagluiperd het en ‘n kuiertjie kan reël, sal die outjies die tande, die pels, kloue en atletiese bou kan aanskou.  As jy dalk ‘n kort video kan maak van ‘n kuiertjie by so ‘n dier, kan jy dit dalk aan die klas wys.  As jy regtig nie by ‘n wilde karnivoor kan uit kom nie, kan jy selfs makker outjies soos ‘n huiskat inroep en na die kleiner outjie kyk.

Bou dalk ‘n karnivoor uit pottebakkersklei of teken en verf die spesifieke dier as deel van ‘n kunsles.  Hersien die terminologie verbonde aan die dier as deel van Natuurwetenskappe en Huistaal (pote, kloue, slagtande, welpie, leeuwyfie, leeumannetjie, pels).  Kies ‘n paar karnivore, soek sketse van hul tande of kake en betrek dit by tel oefeninge en wiskunde somme (Watter karnivoor het die meeste / minste tande?  Hoeveel tande het die __ meer as die __?).

Kyk ook na die skrywe oor wilde diere en die volgende oulike skrywes elders.

rots reeks

2 Kommentaar


Die Rots Reeks is ‘n program wat julle tuis kan volg om aandag aan lees en wiskunde te gee.  Besoek gerus hulle webtuiste vir meer inligting.

hersiening van klanke

8 Kommentaar


klanke

Môre! Vir dié wat graag die dubbel-, twee- en drieklanke wil vaslê of ‘n muurkaart wil maak het ek so ‘n paar voorbeelde geplaas…(loer onder drukbare bladsye)

  • Knip elke blok apart uit en plaas dit op ‘n A4-karton sodat julle nog woorde met die klanke daarin kan byvoeg…Steek dit teen ‘n kennisgewingbord vas of liaseer dit in ‘n lêer of selfs ‘n ou skoolboek.
  • (c) tuis gebruik...nie vir verkope nie...Gebruik die woorde in beskrywende sinne of om dit selfs lekkerder te maak, kan julle ‘n dobbelsteen gooi en daardie aantal woorde aftel om ‘n woord vir die sin te kies.  Die dobbelsteen werk goed vir outjies wat regtig nie van sinne hou nie.
  • ‘n Ander opsie is om deur ou tydskrifte te blaai en om woorde met hierdie klanke uit te sny.  Kies woorde uit opskrifte om op die onderskeie blaaie te plak (natuurlik kan die kleingoed die knip en plak werk doen as jy die bladsy uit geskeur het).
  • Kies ‘n woord (bv. met behulp van die dobbelsteen) en kyk hoeveel rymwoorde julle kan vind.  Kan julle jul eie rympies vir elke klank maak?
  • Druk die dokument genaamd “Tweeklanke woordsoeke” wat ek tydens die Sokker Wêreldbeker opgestel het uit. Gebruik verskillende kleure om die onderskeie woorde te kry.
  • Kyk ook na die legkaarte onder “drukbare bladsye” en die verskillende idees of aktiwiteite om volgens kalenderdae te doen.

Lekker speel en lekker leer 😉

2012

Lewer kommentaar


Het jy al jou kind by die nuwe skool gaan inskryf vir 2012?  Opskud!  Tyd vlieg, die skole raak vol en die derde kwartaal is alweer hier.

 

 

‘n oulike perspektief

Lewer kommentaar


kleur

Lewer kommentaar


kleurScreen Shot 2015-09-02 at 8.49.07

Hiermee ‘n paar feite oor kleure-en-die-kleurwiel; asook kleur-en-beskrywende-sinne (die hersiening en toepassing van kleurwoorde in beskrywende sinne).  Dit word dikwels benodig vir kunslesse, maar is sommer handig vir algemene kennis.  Hersien die name van kleure in Engels en doen ‘n paar eksperimente met voedselkleursel.

kleurwoorde (skryf in kleur)

colour trace

kleur flitswoorde

colour wheel

Hoezit artikels:  Kleur 1, Kleur 2, Kleur 3

Kleur

dokter

Lewer kommentaar


T het gevra vir buitespel idees met die tema dokter.

Dokter is ‘n bietjie moeilik as ‘n mens die veiligheids-aspek in ag moet neem. ‘n Mens kon seker lekker spuitwerk met verskillende (naaldlose) inspuitings gedoen het by die waterspelbak, maar dalk gee dit die outjies die verkeerde idee.

Wat van fantasiespel? Gee eenvoudige stetoskope en repe materiaal vir verbande. Gee ‘n matrassie vir die ondersoektafel, handskoene en maskers vir die “kieme”. Jy kan dalk iets soos ‘n botteltjie seep eenkant neersit en dan die belangrikheid van higiëne en higiëniese omstandighede in bring. As die skoolgrond ‘n voertuig of klimraam in die vorm van ‘n voertuig het, kan jy dit met ‘n laken en ‘n rooi kruis in ‘n ambulans omskep.

Wat van ‘n hindernisbaan? Die outjies trek dan doktersjassie aan of sit ‘n stetoskoop om die nek. Dan moet hulle jou getekende aanwysings volg om deur die skool se speelgrond te beweeg tot by die noodsituasie – soos ‘n pop wat seer gekry het. Teken ‘n roetekaart wat byvoorbeeld aandui dat hulle na die swaai moet gaan. Daar moet hulle ‘n uitdaging of ‘n taak verrig soos om hulle hande te was met ‘n higiëniese sepie of om ‘n pop se koors te neem. Daarna kry hulle nog aanwysings tot by die volgende punt – soos in The Amazing Race.

Dink aan dinge wat in ‘n hospitaal te vinde is soos ‘n x-straal masjien. Gryp sommer ‘n ou raam of sny een uit karton – spuit of verf dit met swart verf en span ‘n swart sak in die gat. Siedaar! ‘n X-straal masjien waar agter die outjies moet staan. As jy genoeg tyd het, kan jy ‘n gleuf teen die kant in sny. Verf dan deel van ‘n geraamte (ribbekas, bene…) op verskillende kartonne wat in die raam sal pas. Die outjies skuif dan kamma die gepaste x-straalplaat by die skerm in om te kyk wat fout is. Dalk ken jy iemand wat ou plate kan afstaan vir die doel. Dalk kan jy ‘n uitdaging hê waar die outjies liggaamsdele moet benoem…

Ek hoop dit kan dalk ‘n bietjie help.

deling

5 Kommentaar


Iemand het onlangs gevra dat ons ‘n bietjie na deling kyk. Deling is die teenpool van vermenigvuldiging (inversie) soos minus teenoor plus. Waar vermenigvuldiging kyk hoeveel keer jy iets kan optel tot by die antwoord, kyk deling na die hoeveelheid kere waar jy kan aftrek (uit deel).

Daar is verskillende vorme van deling: Verdeling en groepering. Só werk dit:

Verdeling:
Jana en Kira moet ‘n sak vol uitveërs uit deel totdat daar niks oorbly nie. Daar is 12 uitveërs. Verdeel die uitveërs gelykop tussen die twee dogters.
Tel 12 tellers (bv. doppies, knope…) af. Verdeel die “uitveërs” dan fisies volgens “een vir jou, een vir my, een vir jou…” uit. Vra dan: Hoeveel het jy gekry? Hoeveel het ek gekry? Is dit ewe veel? Ja! Elkeen kry 6 uitveërs. Jana kry 6 en Kira kry 6. Is daar ‘n makliker manier om dit te sê? 12 gedeel deur 2 is 6. (Skryf die som)

Verdeel 12 lekkers gelykop tussen 4 kinders. Hoeveel lekkers sal elke kind kry? (Deel dan uit.) Hoeveel lekkers kry elkeen? 12 lekkers gedeel deur 4 kinders is 3. As ek 12 in 4 gelyke dele opdeel is dit 3.

Groeping:
(Maak groepies)
Doen tafeldek-oefeninge…
Daar is 16 wortels. Gee 4 wortels vir elke bord. Hoeveel borde moet jy uit haal? (Oefen eers met herhaalde aftrekking: 16 – 4 – 4 – 4 – 4 = 0…is dieselfde as 16 gedeel deur 4)

Verdeel 12 sjokoladeblokkies gelykop in twee hopies. Hoeveel hopies gaan jy maak?
12 – 2 – 2 – 2 – 2 – 2 – 2 = 0…12 gedeel deur 2 = 6

Belangrik:
Toets die som. As 12 gedeel deur 2 = 6, vermenigvuldig jy die twee klein getalle (6 en 2) om die groot getal te kry. Kry jy die regte getal?

Deling met ‘n 1:
As jy 4 lekkers aan 1 mens uitdeel, kry die persoon alles. Dus sal 4 gedeel deur 1 gelyk wees aan 4.

Deling met ‘n nul:
0 word nie verdeel nie. Bv. 0 gedeel deur 1 = 0 (Daar is niks om te verdeel nie.)

😉 As die bogenoemde steeds verwarring skep, kan jy ook die deelsom ‘n bietjie verdraai…Bv. 14 gedeel deur 2:  Hoeveel keer tel jy in 2 om by 14 te kom?

deelsomme-toets-jouself

deelsomme-in-woordvorm

‘n Video verduideliking

langdeling oefen

long division langdeling

langdeling

Tik “woordsom” en “wiskunde huiswerk” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir nog somme.

spreker

Lewer kommentaar


Renee Lighton gaan weer by verskillende geleenthede optree. Dit is regtig die moeite werd en ‘n inspirasie vir enige mamma of juffrou van Graad R – 3-outjies.

1. Gallagher Estate Baba Indaba (Môre al!)

2. Milnerton (Maandag, 30 Mei)

3. George

Vadersdag

4 Kommentaar


Dis weer eersdaags Vadersdag en ons moet solank begin werk aan geskenkidees…

Plekmatjies: As pagoed graag ‘n koue glasie of verversing geniet, kan ‘n mens klein, ronde pierinkies by ‘n plastiekware-winkel koop en met ‘n sterk gom en kleurryke krale versier. Die gom dien as kleefmiddel, maak die geskenkie waterdig en seël dit vir ‘n skitter effek.

“To do”: Maak ‘n herinneringsbordjie. Trek die raamwerk van ‘n gereedskapstuk op ‘n eenvoudige blokkie hout af. Verf die buitekant / agtergrond met een kleur en die binnekant van die gereedskapstuk met swart bordverf. Skryf dan ‘n boodskap soos “onthou” of “moet doen” in wit bordkryt op die stukkie. Draai ‘n hakie onder en een aan die bokant van die blokkie in, sodat jy dit kan op hang en ‘n boodskap onderaan kan haak. As jy verkies om ‘n wasgoedpennetjie daarop vas te plak, kan die boodskappies in die pennetjie vas geknyp word.

Gewigtige saak: Maak ‘n papiergewiggie uit soutklei en pak ‘n boodskappie daarin uit met spoelklippies of effekleurige (dalk hout) krale. As jy die woord op ‘n voorbeeld pak of op die bord skryf, maak dit die na-apery makliker.  (Soutklei resep hier.)

Emmer skop: Hierdie geskenk is meer persoonlik. Dink aan stringe dinge waarvan pagoed hou en waarvan hy droom. Tik dit netjies en groot uit. Knip in stroke en plak aan die buitekant van ‘n blikkie vas. Versier en vernis dit om as ‘n pennehouertjie te dien.

Gekleurde pennetjies: Verf ‘n klomp gholfpennetjies in verskillende kleure vir die gholfsak.

Boekmerkies:

As die outjies baie klein is, kan jy vir hulle ‘n basiese reghoek uit gekleurde karton laat sny.  Gee bewerige ogies om bo-aan te plak en sny self die diep keep om soos ‘n skuifspeld oor die blaaie te gly.  As julle lus het, kan die outjies self die karton met patroon-, plak- of verfspatwerk versier voor die knippery.  Jy kan hierdie konsep ook op roomysstokkies probeer.

Ouer kinders kan ‘n handgeskrewe sin op ‘n eenkleurige vel papier skryf en saam met ‘n foto van hulself op ‘n boekmerk rangskik.  As jy klein individuele foto’s van die kinders het (soos vir die skoolprofiele benodig word) kan jy dit op ‘n roomkleurige papier afrol.  Gebruik ‘n karteltandskêr om ‘n raampie om elke foto te sny, plak op ‘n kartonvel soortgelyk aan die binnewand van geskenkpapier, versier met ‘n sinnetjie en rond af met ‘n stukkie tou of ‘n leerriempie.

Engels boekmerkies:   ‘n stel.

‘n Boekmerk met ‘n fynmotoriese kinkel:  Vou ‘n pypskoonmaker spiraal en gom aan ‘n breë lint sodat die pypskoonmaker by die boek sal uit hang.

Druk netjies kraaghempies in kleur of met swart ink op gekleurde karton (wat van scrap book papier?!). Sny die eenvoudige buitelyne uit, vou en plak magnete aan die binnekante van die hempspanele. So klou die hemp die boek vas. As Pa die boek klaar gelees het, kan hy die die boekmerk teen ‘n spieël of metaalkas stoor.

ma se dag

6 Kommentaar


Dis weer amper Moedersdag (hierdie Sondag).  Hiermee dan ‘n paar idees vir geskenke:

  1. Maak oulike hartjie- of skoenlapperdosies uit karton.  Rol die buitelyne op gekleurde karton of selfs “scrap book” papier af voordat julle begin knip en vou.  Rond die hartjie of skoenlapper met gom en blinkertjies af.
  2. Versier ‘n basiese ligskakelaarplaatjie met swart veselpen en verf (vra vir die skool se opsigter om ‘n paar oorskietblikke te leen :wink:).  Verf die plaatjie wit en wag tot droog.  Kies ‘n paar oulike prente om as voorbeeld te dien.  Vra die outjies om een te kies en na te teken met ‘n potlood.  As hulle tevrede is, kan hulle met die veselpen oor die lyne teken.  Daarna kan hulle die prente inkleur met dun kwassies / oorstokkies en verf.  Meng die kleure vooraf soos jy die verkies.  Ma of Ouma kan dit in die gunstelingvertrek gebruik.
  3. As jy weet hoe om decopagewerk te doen, kan jy selfs die bogenoemde plaatjie met velle mooi servette oortrek.
  4. Versier ‘n ou kosblikkie met verf nadat jy ‘n onderlaag van byvoorbeeld wit of room geverf het.  Laat die outjies eers met potlood teken en beplan en dan verder verf.  Vul die blikkie sommer met vrugbare grond en kruie soos pietersielie.
  5. Pak oulike boodskappies met klanke wat uit tydskryfopskrifte gesny is of gebruik Scrabbleblokkies (bv. Mamma is die beste.  Lief vir mamma….).  Neem dan foto’s daarvan en vra die outjies om ‘n foto te kies (gee opsies). Laat druk dit in swart en wit of kleur (met ‘n wit randjie om).  Gebruik dit as die voorblad vir ‘n kaartjie of plak ‘n breë strook magneet agter-op – vir die yskas of ‘n spieël.  Die foto gee ‘n netjies afwerking, maar die fisiese knip- en plak-werk sal net so oulik wees.
  6. Versier hout wasgoedpennetjies met decopagewerk, gewone mooi papier of verf en blinkertjies.  Heg magneetjies agter-aan en gee dit saam met een van die metaalgeskenke.  Dit kan dan gebruik word om boodskappies en belangrike nota’s vas te knyp.


  Lekker werskaf!

Lees: motivering en aanmoediging

8 Kommentaar


maakleeslekker

Iemand het idees gevra om luierige lesers te motiveer om meer te lees.  Vir lui lesers kan ‘n mens ‘n beloningskaart maak – ‘n basiese almanak-uitleg met groterige blokke (tik “kalender” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in).  Op Grondslagfasevlak kan boekies redelik vinnig gelees word.  Maak ‘n kolletjie vir elke boek wat klaar gelees is – nadat julle ‘n paar begripsvragies gevra het – en besluit op ‘n prys.  As die outjie byvoorbeeld 10 boekies gelees het, kry hy / sy ‘n plakkerboekie, ‘n mooi skryfblok of kan julle ‘n DVD huur.

  • Skryf kort notatjies vir die kosblik.
  • Plaas ‘n bestelling vir ‘n toebroodjie en skryf die bestanddele neer (as dit iets soos ham en tamatie bevat, kan jy die snye vooraf in bakkies bêre om die proses makliker te maak).
  • Webwerwe soos TwistyNoodle het inkleurprente waarby jy jou eie sinne en woorde kan tik en druk.  Maak ‘n inkleurboekie vol sinne om “toevallig” te lees.  As ‘n paar vriendinne sulke boeke saam stel, kan ‘n mens weekliks ‘n ander boekie maak en uitruil.
  • Bak en brou saam of besluit op ‘n ete.  Gaan dan saam deur die koskaste en stel ‘n inkopielys saam.  By die winkel kan die outjie die benodigdhede lees en tuis kan hy / sy die resep ‘n paar maal nagaan om seker te maak dat julle alles gebruik het en dat die stappe reg gevolg is.
  • Soek telefoonnommers in ‘n telefoongids op.  Maak dit op die regte bladsy oop en vra vir hom / haar om ‘n oom of tannie se nommer op te soek.  Julle kan dalk ‘n paar nommers in die huis se eie telefoonboekie nagaan – om “seker te maak dat alles nog reg is”.
  • Blaai deur foto-albums en lees sommer so saam-saam die byskrifte.  Die inligting is relevant tot die outjie se familielewe en behoort hom / haar te interesseer.
  • ‘n Koppie koffie of “hot chocolate” kan ‘n lekker verskoning wees om te lees terwyl die beker afkoel.
  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet waarin daar gelees word. As die outjie regtig teësinnig is, kan julle die wekker stel en saam lees.  Maak beurte – een bladsy vir jou en een vir my.
  • Soek gerus na ou luister- en leesboekies in die biblioteek.  Ladybird het soms sulke kombinasies Storieman is selfs nou op Storierak beskikbaar.
  • Maak julle eie storiekassette.  Neem stories of gediggies op bandjies, die rekenaar of ‘n selfoon op.  (Stuur gerus vir my.  Ek luister graag!)
  • Gebruik selfs die lirieke van liedjies en neem die outjie op terwyl hy / sy sing – so op ‘n kamma Idols-manier.
  • Maak ‘n klein, spesiale leeshoekie met ‘n sagte kussing, ‘n leeslig en ‘n houer vir boeke.  Die beste opsie sal altyd natuurlike lig (na aan ‘n venster) wees.

Sterkte met die res van die kwartaal!

Older Entries Newer Entries