Tuis

1 – 6 Oktober: ‘n mooi gebaar

Lewer kommentaar


Bestudeer die alfabet en kyk of jy ‘n paar dinge kan sê.

Bandanadag

Lewer kommentaar



Dit is weer een van die dae BANDANA-dag ter ondersteuning van die Sonneblomfonds se navorsing oor leukemie. Die bandana’s begin nou by die winkels instroom en met elke kopie word geld bewillig vir die stryd teen kanker. Dit is die 10de jaar dat ons bandana’s koop en hierdie jaar het hulle die vriendelike Mickey Mouse daarop aangebring. Dit is nou kindervriendelik en verskyn in pragtige kleure. Koop ‘n Bandana teen R20 elk om jou ondersteuning aan leukemie-navorsing te bied.  DJ FRESH doen dit…jy kan dit doen deur ‘n My School-kaart aan te skaf.  Dit is daardie kaarte wat geld aan ‘n organisasie of skool skenk met elke kopie by ‘n Woolworths-winkel.

Wat kan jy vir dié dag doen? (Buiten die belangrike ondersteuning soos op The Sunflower Foundation se webtuiste uitgestip.)

  • As die dag verby is kan jy haarrekkies maak.  Sny die lap in stroke, vou in die lengte en werk ‘n stuk rek binne in vas.
  • Werk ‘n paar bandanas aan mekaar vas en gebruik dit as ‘n tafeldoek.
  • Maak somerhempies.
  • Maak strooikussings.
  • Maak ‘n potloodsakkie.

…en al wil jy niks juis met die bandanalappie doen nie, sal die skenking beslis help.

nog idees sal volg

Boek Buddies Opvoedkundige Teater

Lewer kommentaar


Lizé Crouse van Boek Buddies het vir my die volgende inligting gestuur.  Lees dit gerus en kontak haar direk indien jy of jou skool belangstel. (lizecrous@hotmail.com)

Boek Buddies Produksie is geskep n.a.v die behoefte om lees in Afrikaans te bevorder. Die feit dat kinders minder lees is egter ‘n groot kommer vir talle ouers en onderwysers.

Hoe kan ons dan weer die belangstelling vir lees by kinders kweek? Boek Buddies beeld boeke fisies uit deur middel van drama!

Boek Buddies bestaan uit ‘n groepie professionele akteurs wat kinders d.m.v. drama aanmoedig om meer te lees. Ons neem uittreksels uit verskillende ATKV-kinderboektoekennings boeke en voer dit in ‘n  interessante en energieke manier op wat die leerlinge se belangstelling sal prikkel. Ons voer egter nie die hele boek op nie, want ons wil die leerlinge aanspoor om self die boeke klaar te lees. Boek Buddies laat die karakters in die boeke lewendig word en die leerders kan met die karakters identifiseer wanneer hulle die boeke weer op hul eie lees. Ons wil ook graag die leerlinge en skole aanmoedige om aan die ATKV-Kinderboektoekennings deel te neem. So bemark ons nie net die Afrikaanse taal nie, maar ons wys vir kinders dat lees lekker kan wees!

Boomplantweek: 1 – 7 September

Lewer kommentaar


elders

Dit het my skielik vanmiddag getref – dit is Boomplantweek!  Ek kan nie glo dat die kwartaal so met my weg gehardloop het dat ‘n mens so ‘n belangrike tyd kan vergeet nie…en hoekom is die media so stil oor ‘n tydperk wat in my kinderdae hoë aansien geniet het?

Dalk moet ons hierdie week bome vier en versier soos die mense in Indië met olifante maak. Bome is immers gerespekteerde lugsuiweraars, asemskenkers en tuiste van menigte verbeeldingsvlugte, kabouterdorpies en goedkoop klimrame! Dalk moet ons hierdie week behoorlik bossies raak en koorsbome optooi in vrolike kinderversierings…Hang voëlvoerdertjies uit die bome, bou boomhuise (op die grond) uit ou kartondose, skaf kompos aan vir die wortels, hou ‘n donasieblikkie op die lessenaar vir die aankoop van bome of die versorging van bestaande bome…
Praat oor die gebruike van bome, waar papier vandaan kom, hoekom boeke so kosbaar is en waarom ons bome as lugsuiweraars moet koester.  Hang sigwoorde uit takke of raaisels en rympies.  Terloops…is dit nie dalk tyd vir ‘n nuwe boekhoekie nie?

(boomplantweek)

Lentedag!

5 Kommentaar


Screen Shot 2015-08-23 at 17.43.43

Woensdag is dit Lentedag!  Die tyd vlieg behoorlik hierdie jaar…As jy ‘n paar idees benodig om Lentedag in jou klas of skool te verwelkom, probeer gerus die volgende:

  • Vensterversierings:  Die kleingoed kleur die blomme met vetkryt (verkieslik die ou betroubare uitdraaikryte) in, knip die sirkel uit en verf dit met voedselkleursel.  Eiergeel hoef nie veel verdun te word nie (hou maar die produkte mooi dop – aangesien sommige eiergeel kleursels meer na ‘n neon geel lyk), maar rooi, groen en blou kan ‘n titseltjie water kry.  Sodra die prente droog is, kan jy die helder blomme om die rand van jou venster of klasdeur plak om die Lente en gaste te verwelkom.
  • Maak jou eie “colour by numbers” werkvelle.  Gee vir die outjies ‘n inkleurprent met somme daarop.  Die antwoorde word dan met kodes vergelyk om die prent in te kleur.  Jy kan hierdie aktiwiteit ook in die tale gebruik en byvoorbeeld woorde met spesifieke klanke, sigwoorde en spelwoorde vaslê.
  • Trek ‘n reuse kartondoos oor met helder blomme-papier en sny ‘n posbusgleuf daarin.  Ruil die onderskeie klasse se klaslyste uit en gee vir elke kind ‘n “spookmaatjie” om ‘n kaartjie voor te maak.  Die briefies word dan in die doos gepos en op Lentedag word die briefies deur ‘n “Lente kabouter of feëtjie” afgelewer.
  • Laat die outjies enorme blomme (tulpe werk goed) uit ou kartondose sny, versier dit met patrone of verf dit en “plant” dit al om die skoolheining.  Heg dit aan die heining vas (met skuifspelde) of steek dit in die grond vas met sosatiestokkies.  Dit behoort nogal ‘n vrolike impak te maak op die oggendverkeer.
  • Maak groot bewers as deel van groepwerk.  Elke groepie in die klas werk saam om bewers uit blomme, kabouters, ensovoorts te maak. Gebruik helder pastelle, verf, kleursel en vetkryt en hang die bewers uit die dak – in die gange of in die voorportaal.  Steek ‘n blinkerige of klingel-item daarin werk sodat dit die oor of oog kan vang. (Stukkies foelie, spieëlteeltjies of kristal-agtige krale behoort ideaal te wees.)
  • Buig blommetjies uit soldeerdraad (of enige dun en sagte draad) om ruikers te maak.
  • Engelse gediggies vir leestyd
  • Vra die kinders om boeke oor Lente, bloeisels, baba diere, kabouters, feëtjies, ensovoorts uit te neem vir leestyd.  Hulle kan vir mekaar lees of Juffrou kan ‘n oulike boek kies en vir die klas lees.
  • Inkleurprente
  • Inkleurprente2
  • Skoenlapper-flitskaarte
  • Blom buitelyne
  • Gemorsposkuns:  Sny skoenlappers en blomme uit gemorspos.  Verf dit met muurpapiergom (vir beskerming en glans) en gebruik dit in die bewers of as vensterversierings.  Dit behoort ook oulik te lyk op ‘n eenkleurige kaartjie.
  • Eenders en anders werkvel
  • Maak ‘n muur collage van ‘n Lentetuin propvol goggas. Soek ‘n paar oulike prente as voorbeeld en vra dat die kinders die onderskeie insekte of blomme sal teken (waarvan jy die meeste hou). Weereens kan hulle dit met kleursel verf, uitknip en op ‘n kennisgewingbord of voorbereide agtergrond plak.
  • Maak jou eie papawerblomme.  Smeer ‘n dun lagie muurpapiergom bo-oor om dit af te rond en om glans te verskaf.  Net voor die gom heeltemal droog is, kan jy regte papawersade in die middelste swart deel strooi.  As die blomme jou nie meer aanstaan nie, kan julle dit plant!
  • Druk blomme met die onderkante van koeldrankbottels (bv. plastiek gaskoeldrankbottels).
  • Doen dit ook met sonneblomme.
  • Nog blomme.
  • Maak ‘n spesiale blom CD-kassie om ‘n CD vol foto’s aan ‘n ouma of oupa te gee.
  • Voer voëltjies deur middel van herwinning. Gebruik ‘n ou houtlepel en ‘n botteltjie vol saadjies.

gemorspos - elders geleen

dubbelklanke

15 Kommentaar


dubbelklanke

Screen Shot 2014-12-28 at 8.48.43 R het vir my gevra om idees vir dubbelklanke te plaas. Ek het so ‘n tydjie gelede iets oor die vaslegging van klanke geskryf en gaan daarom slegs ‘n paar ekstra idees gee.

Maak groepe prente-kaartjies wat jy kan inkleur, oortrek en hou. Gebruik byvoorbeeld beet (ee-woorde), ‘n haas (aa-woorde), vuur (uu-woorde) en bome (oo-woorde). As jy die kaartjies permanent wil gebruik, kan jy die bostaande flitswoorde op die kaartjies plak en dit dan lamineer en uitknip. Vertel ‘n storie van die ‘n hasie wat graag beet eet voor hy langs ‘n vuurtjie – in die skadu van ‘n boom – aan die slaap raak. Verdeel die klas in vier groepe – een vir elke klankgroep. Elke groepie lees hul kaartjies en moet die woorde in sinne kan gebruik. Hulle skryf die sinne op ‘n groot vel ongedrukte koerantpapier – sodat die ander maats dit kan lees. Indien die outjies nog nie gereed is vir sinne nie, kan jy ‘n A4-vel papier in 8 groot blokke verdeel.  Plaas die onderskeie woorde op aparte dele van die skryfbord of teen verskillende mure op.  Die outjies moet dan elkeen 8 woorde kies, ‘n woord per blok skryf en probeer om ‘n gepaste prentjie te teken.

Graad 2- en 3-leerders kan egter al sinne skryf en moet probeer om skitter-sinne te skryf.  Graad 2’s kan so 5 of 6 woorde per sin probeer, terwyl Graad 3’s 7 tot 9 woorde kan gebruik.

Die belangrikste deel van sinne is dat hulle daaraan herinner moet word dat ‘n sin met ‘n hoofletter begin en eindig met ‘n punt.  Vra altyd dat die sin eers aan jou gesê moet word, sodat jy die sinsbou en -konstruksie kan korregeer indien nodig.  Indien jy genoeg tyd het vir prentjies teken, kan jy vra dat die outjies 3 – 5 sinne skryf en een prentjie daarby teken.  Maak selfs ‘n groot prent van elke klankkaart (‘n beet, ‘n haas, vuur en ‘n boom), vra dat die outjies die woorde self op elke prent oorskryf, verf met kleursel (rooipienk, geel, oranje en groen), knip uit en plak in die boeke.  Dit is sommer ‘n alles-in-een takie en behoort ‘n lekker leer-hulpmiddel te wees vir die week se speltoets.  (“Dink aan die woorde op die bloedrooi beet…”)

Indien jy die flitskaartjies apart van die prente gelamineer het (of oorgetrek het met breë kleeflint), kan jy dit skommel en vir die outjies flits.  Jy kan selfs ‘n tweede vel van elke bladsy druk en vra dat die kleingoed die woorde bo-op hul maats pas…of lamineer die groot vel en sny dit in diagonale en krom lyne op sodat die kleingoed die “legkaarte” moet bou.  Grawe gerus ook op kleuters.co.za rond vir lyste met klanke – indien jy nog woorde benodig. Onthou om altyd jou apparaat so te maak dat jy dit kan hou en hergebruik… Jy sal dit beslis vir dekades lank kan inspan!

dubbelklanke

Take:  aa, oo, ee, uu

Sien ook “Drukbare Bladsye” heel bo of tik “flits” by die soekblokkie in.

Slide1

Slide2

Slide3

Slide4aaeewoordeooflitspakket

TAAL- én Boekedag, 14 Augustus

6 Kommentaar


Die 14de is Koop-‘n-boek-dag.  Doen asseblief iets om ‘n liefde vir lees en vir tale aan te moedig.

Screen Shot 2015-07-29 at 9.22.35

  • Hou ‘n leesuur.  Laat almal toe om ‘n kussing of kombers te bring en lees die kleingoed se gunstelingboeke voor…of
  • kry iemand uit die gemeenskap om die boeke te lees.
  • Laat die kleingoed kreatiewe stories skryf en bind dit in groot boeke.  Maak ‘n paar afskrifte, versier met kleurvolle kinderkuns en skenk dit aan gemeenskapsentrums (wagkamers, ouetehuise…).  Tydskrifte is mos tog te vervelig! 😉
  • Laat die kleingoed ekstra oulike stories skryf, versier die blaaie en plak dit in die gang op sodat ander maats dit in die verbygang kan lees.
  • Vra die opvoeders om stories te skryf en bind dit in ‘n klein boekie (‘n A4-vel voor en agter , wat in ‘n A5-grootte gevou word is voldoende).
  • Vra die Intersen personeel om vir die kleintjies te lees en die Grondslagfasepersoneel om vir die ouer kinders te lees.  Die groottes verlang mos na die juffrouens en die kleintjies sal “groot” en “belangrik” voel as meneer so-en-so vir hulle kom lees.
  • Kies ‘n tema per klas, skryf kreatiewe stories daaroor, versier die klas volgens die tema en trek daarvolgens aan.  Kies een storie per klas om vir die ander klasse voor te lees.  Volg dan die Vrydag, die 13de, ‘n leesprogram waar die klasse vir mekaar lees – binne die graad of fase.  Die “gehoor” luister na ‘n leser terwyl die hele klasse op die verhoog is vir ondersteuning.
  • Hou ‘n muntlegging vir nuwe biblioteekboeke…of
  • verkoop Milo by die leesuur.
  • Besoek ‘n literêre instelling soos die Taalmuseum.
  • Kry ‘n spreker soos ‘n skrywer van kinderboeke om te gesels oor die lekkerte van lees.

 

Madibadag

2 Kommentaar


Oudpresident Nelson Mandela verjaar Sondag, 18 Julie.  Baie organisasies vra dat mense 67 minute van hul dag aan goeie dade van welwillendheid sal wy om Madiba se 67 jaar van naaste diens te vier.  Wat kan jy doen? Vertel ons wat jy, jou gesin of jou klas gaan doen om Madiba se 91ste verjaarsdag te vier om ook ander lesers te inspireer.

Kom kuier gerus

Lewer kommentaar


In plaas daarvan om te beplan vir volgende week is ek besig met allerhande ander dinge.  Laai die prentjie af en stuur vir ‘n vriendin, ‘n skool of ‘n opvoeder…en dan mag ons vir oulaas vuvuzelas blaas en die malligheid gate uit geniet…

een gemeenskaplike doel

Lewer kommentaar


“A child born to a mother who can read is 50% more likely to survive past the age of five.”

Het jy al jou stem by die ondersteuningslys gevoeg?  Dit kos niks…en jy sal deel word van sowat 12 miljoen mense wat onderwys wêreldwyd ondersteun en bevorder…

Leer speel-speel

2 Kommentaar


 

Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry.  Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies.  Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie.  Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.

Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer.  Is daar ‘n parkie naby?

  • Probeer gerus die wipplank.  Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
  • Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm.  Laat Poplap daarop loop.  Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans.  Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
  • Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop.  Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
  • Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…

Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.

  • Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak.  Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
  • Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is).  Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal).  Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai!  ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
  • Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
  • Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas.  Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak.  ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.

Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.

  • Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
  • Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het.  Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
  • Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val.  Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
  • Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant.  Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie.  Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
  • Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies.  Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas.  Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies.  Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel.  Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne.  Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken.  Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
  • Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek.  Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs.  ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
  • Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet.  Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies.  Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi.  Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi.  As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel.  ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen.  Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9.  Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken.  Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4).  Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord.  Ons moet die breinratte darem geolie hou… 😉

Bal vang…Begin eers met ander items.

  • Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar.  Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie.  Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm.  Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie.  ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels.  Dit is sag en gryp maklik vas.
  • Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang.  Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref.  Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
  • Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan.  Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak.  Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.

“Skolerige / Akademiese dinge”

Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed.  Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed.  Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek.  As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis.  Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees.  Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker).  Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand.  Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik.  ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel.  As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken.  Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou.  Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by.  Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”.  Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.

Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…

Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan.  Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.

Hou inventaris of sensus.  Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes.  Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense.  Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby.  Drie mensies =  3.  ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit.  Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6.  Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam.  Hoeveel messe is op die tafel?  Hoeveel blompotte is in die son?  Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…

Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).

Lekker speel!

Trots Suid-Afrikaans

2 Kommentaar


Suid-Afrika

Met die oog op die Wêreldbeker en verwante sake, kan ‘n mens seker ‘n bietjie patrioties raak.  Gebruik die laaste paar dae voor die vakansie om vlae te maak.  Plak dit in die ruite op of stuur dit huis toe vir die motorruite.

Vlytige vingers:  Skeur en plak die korrekte kleure (uit ou tydskrifte) om die vlag te versier…of laat die kleingoed in groepe werk om ander landsvlae ook te versier.  Maak ‘n collage (in ‘n venster) wat sigbaar van die pad af is.  Onthou dat die rooi gedeelte altyd bo is of as die vertikaal vlag hang, is die rooi deel aan die linkerkant.

 

  • Kyk na Kaarte om te lamineer.  Knip ‘n duplikaat uit en laat die outjies die kontinente op ‘n wêreldkaartpas of vir jonger outjies kan ‘n mens ‘n kaart van Suid-Afrika en dele van die oseane gee.  Hulle pas dan die los stukke bo-op die volledige weergawe.
  • Gee Kaarte om in te kleur of vul dit met skeur- en plakwerk.  Gee ‘n topografiese kaart om “na te plak”.  Die outjies gebruik skakerings van blou, geel, bruin en groen om dus die berge, plantegroei en see aan te dui.  Dit kan nogal mooi lyk as die kaart uit geknip word en bo-op die agtergrond geplak word vir ‘n bietjie meer diepte of dimensie.
  • Kleur die vlag in of verf die kleur in.
  • Maak ‘n groot klasvlag.  Trek die buitelyne op ‘n lap af en gee vir die outjies die verskillende kleure in lapverf om met die kwas of handafdrukke te versier.

Ander Suid-Afrikaanse embleme:

 

RSA

Vadersdag

2 Kommentaar


pappa

Dis alweer binnekort Vadersdag (tyd vlieg!) en ‘n mens behoort darem vroegtydig aan idees te dink…

  • Laat sny hout in reghoekige stukke, verf dit met vrolike kleure, voeg hakies by en siedaar! ‘n Nommerpas hangplek vir sleutels en “flash drive”-toutjies.
  • Sjokolade happies:  Koop kook-sjokolade (donker of wit), smelt dit bietjies-bietjies (pas op vir brand) en meng neute daarby in.  Vorm eetlepelgrootte balletjies of vries die mengsel in vormpies.
  • Fotoraam: Plekke soos Shoprite verkoop fotorame in gewone dennehout.  Verf dit en bring ‘n oulike prentjie soos ‘n rugbybal, krieketkolf of ‘n visstok en vis daarop aan.
  • Peuselpotjie:  Verf ‘n klein glasflessie vol prentjies en vul met lekkers of neute.
  • Slaan die spyker: Koop ‘n hamer en verf vol oulike patrone.  Onthou om verskeie spykers en ‘n stukkie biltong by te voeg.
  • Slaaptyd: Koop ‘n gewone, eenkleur t-hemp en bedek met oulike lapverf woorde…of hand afdrukke…
  • Fotostaander: Maak ‘n balvorm uit klei wat kan verhard (vra by kunsvlyt-winkels). Besluit waarvan pagoed hou en vorm die klei in die bal van keuse – rugby, krieket, sokker of gholf…verf dit dan in daardie kleure en maak seker dat die bal se onderkant plat is – vir die staanslag. Heg krokodilknypers of enige klampie aan die punt van ‘n stewige draad, druk by die klei in en jou staander is klaar!
  • Sakpas sakdoek: In die geval van ‘n baba kan ‘n mens ‘n voet of hand met lapverf op ‘n sakdoek afdruk (en op die verkeerde kant vas stryk as dit droog is)…net reg vir die winterseisoen!…’n kussingsloop werk net so lekker…
  • Magneetrame: Indien jy met kleintjies werk, kan jy vooraf ‘n klomp beertjieraampies druk en uitsny.  Laat die kleintjies dit dan met vingerverf versier of bedek met kleursel. Neem foto’s van die kleingoed en plaas dit in die vensterruimte. Daarna kan jy dit lamineer of sommer net dun magneetstrokies agterop plak.  Dit behoort teen metaalrakke en -kaste vas te sit – net reg vir die motorhuis!

Ek las weer mettertyd nog idees by. vadersdagpavaders

Speel ‘n bietjie

Lewer kommentaar


speeldag228 Mei is Wêreld Speeldag.  Ander mense noem dit wêreld speelgoeddag.  Wat jy ookal verkies, maak seker dat jy ‘n bietjie pret vir die dag beplan…

  • Pak die speelgoed- of apparaatstoor uit en stel verskeie stasies op waar kinders verskillende aktiwiteite kan probeer. (Balgooi, dribbel, balanseer, kruip, klim, hang, “monkey bars”…)
  • Bou ‘n hindernisbaan.
  • Bou ‘n skattejag (bou ‘n bietjie leeswerk in).
  • Verskaf stasies vir “houtwerk”, waterspel, fantasiespel…’n tipiese Graad R buitespelles.
  • Grawe in die argiewe vir oulike opvoedkundige speletjies.  Skuif die tafels in rye sodat elke speletjie apart gespeel kan word.  (‘n Goeie verskoning vir legkaart-bou is om seker te maak dat al die stukke daar is.)
  • Vra die kinders om self bordspeletjies te beplan vir klanke of wiskunde.
  • Klop aan by ‘n oulike kleuterskool en ruil speletjies met hulle uit.
  • Hou ‘n speletjiesmiddag.
  • Verleng die pouse…
  • Besoek ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Begin ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Skenk aan ‘n speelgoedbiblioteek.
  • Reël ‘n spreker (soos ‘n arbeidsterapeut) om die ouers in te lig oor oulike opvoedkundige speletjies en speelgoed.
  • Reël ‘n ouma of oupa om oor speelgoed uit hul jeug te praat.

Kinder Beskermingsweek

Lewer kommentaar


Daar is  min dinge wat my so grief soos ‘n verwaarloosde kind…en daar vergeet ek toe byna dat dit Kinder Beskermingsweek is.  Ek heg ‘n paar skakels na webtuistes aan waar u kan inligting kry oor kinderregte en –veiligheid.

Dis ‘n onderwerp waaroor ‘n mens moeilik praat, want ons wil veiligheid en versorging van kinders as vanselfsprekend aanvaar.  Ongelukkig is daar kinders in elke klas wat dalk wees gelaat is, mishandel word, honger ly…noem maar op.  Die maatskaplike probleme en uitvalle vorm ‘n belangrike kwelpunt in die versorging van kinders.  Daarom is dit een van die eerste dinge waarna ons as opvoeders moet kyk…Sukkel die kind dalk akademies of op sosiale vlak weens huislike probleme?  Gebeur daar dinge tuis (of elders) wat die kind se psige kan afbreek?  Is daar iemand in die skool wat sal kan help indien ‘n kind mishandeling of verwaarlosing aanmeld? Waar meld ek die kwessies en probleme aan?

In ons skool praat ons weekliks in graad-verband – die sogenoemde leerderbesprekings.  Probleme word dan skriftelik in ‘n boek genoteer en aan die Opvoeder Ondersteuningspan (OOS / EST / ILST / Hulpspan) gerapporteer.  Indien daar aspekte soos maatskaplike probleme genoem word, word dit met die hoof van die Hulpspan (in ons geval die skoolhoof) bespreek en ‘n plan van aksie word bedink.  Ongereelde skoolbywoning tel ook onder hierdie afdeling.  Die situasie word gemonitor en die opvoeder gaan voort om kontak met die ouers te probeer maak om die saak aan te roer.  Teen die einde van die kwartaal sit die Hulpspan met elke opvoeder en word elke leerder op die klaslys bespreek (± ‘n periode per klas / opvoeder).  Ons probeer dan om saam aan oplossings te dink.  Bv. ‘n geleentheid skool toe saam met ‘n buurman of die beskikbaar stelling van ‘n klas vir die voltooiing van huiswerk…Dit maak nie saak hoe eenvoudig of hoe ingewikkeld die probleem is nie – dit word aangeraak. Indien ons nie seker is of die probleem by maatskaplike dienste aangemeld moet / kan word nie, skakel ons die maatskaplike werkers om uit te vind. Weet eerder waar die grense lê as om die kind verwese te laat. Hou altyd die nommers van die plaaslike ACVV of Kindersorg sigbaar in die klas en verduidelik aan kinders dat hulle die reg het om oor hul probleme te praat.

Loer gerus hier indien jy graag betrokke sou wou raak by kindersorg organisasies in jou omgewing…
ACVV
PATCH
Child welfare
Lifeline national counselling line:  0861 322 322
Childline toll free counselling number: 0800 055 555
National AIDS Helpline:  0800 012 322

Laat weet ons asseblief indien jy van ander organisasie weet…

DAAR IS GERUGTE WAT DIE RONDTE DOEN DAT MENSE TANS VERSKEIE SKOOLGRONDE DOP HOU…

stempels

11 Kommentaar


‘n Tydjie gelede het iemand gevra waar hulle stempels kan koop.  Ek het as student ‘n stelletjie stempels by die klasjuffrou gekry na sowat ‘n maand se proeftyd.  Dit was 4 gesiggies – van een met ‘n oopmond glimlag tot by so ‘n bedroefde wriemelmondjie.  Dit was en is steeds baie geskik en ideaal om vir die kleingoed aan te dui hoe tevrede ek met hulle werk is…en dis goedkoper as plakkers!

Baie jare later gebruik ek steeds die stempels en het ek dit met van die ander in die reeks aangevul.  Onlangs het ek en ‘n kollega vir ons “personalised” stempels laat maak en dit is ideaal vir al die koeverte en administrasiewerk.  Die mense het ‘n verskriklike groot verskeidenheid kindervriendelike stempels met die oulikste boodskappies.  Ek plaas die spesiale aanbod vir Mei-maand hier, sodat julle ‘n ordentlike pryslysie en katalogus kan aanvra.  Die bladsy is in werklikheid ‘n kwart van ‘n A4-papier en die stempels is minstens dubbeld die grootte.

Kontak Alta Scholtz om vir jouself, jou kollegas of vir jou kind se juffrou ‘n oulike verrassing te koop. (skimp-skimp) Druk op die papiertjie om te vergroot.  scholtzal@telkomsa.net

2014 Pg 01 (1) (Hoe om te bestel.)

2014 Pg 02 (1) (bestelvorm)

2014 Pg 04

2014 Pg 05

2014 Pg 06

2014 Pg 07

2014 Pg 08

Engelse werk

Lewer kommentaar


English Additional Language

Ek is onlangs gevra om inligting oor Engelse takies te plaas. Hiermee dan ‘n paar skakels na oulike webwerwe:

  1. genki
  2. mes-english
  3. mes-english (grawe veral onder hul funfonix boeke)
  4. tlsbooks
  5. Phonics
  6. Itsy Bitsy Books
  7. abcteach
  8. superteacher
  9. Bob Books
  10. starfall werksvelle
  11. Mini Nursery Rhyme books (inkleurprente)
  12. Boekies
  13. Eenvoudige leesboekies
  14. Frozen sigwoorde
  15. Fantastic phonics early readers
  16. Verskillende vasleggingspeletjies en -werk
  17. CAPS gids (Engels Tweede / Addisionele Taal)
  18. Leesstukkies
  19. Boeke in PDF-formaat
  20. Teacha
  21. Werkboek 1 (300+ bladsye)
  22. Werkboek 2
  23. Jolly Phonics Gids (met aksies/muurprente) (200+ bladsye)
  24. Baie eenvoudige boekies.

Kyk gerus ook na die skakels aan die regterkant en die “drukbares“-bladsy.

a-possible-phonics-programme-for-the-foundation-phase

moedersdag

8 Kommentaar


Dit is Sondag Moedersdag. Hiermee ‘n paar idees vir ‘n ietsie vir Ouma, Mamma of ‘n spesiale tannie.

This slideshow requires JavaScript.

Trek die sjablone of raamwerkies af op stewige karton (soos ‘n papboks) of ‘n ou x-straal plaat.  Help die kinders om dan die vorm na te trek op ‘n kleurvolle papier.

Julle kan byvoorbeeld ‘n gedig soos “Ma” deur Antjie Krog op ‘n A4-vel skryf.  Gebruik skerpgemaakte uitdraaikryte en verf kleursel bo-oor om die papier ekstra spesiaal te maak.  Selfs spatsels van verskillende kleure suiwer voedselkleursel (oorheersend eiergeel met rooi, groen en blou spatsels) kan ‘n interessante effek gee.  Oefen vooraf en gebruik jou eie oordeel.  As die papier droog is, kan jy die patroon natrek, laat uitknip en vou. Vul die houer met lekkertjies (“pienk pilletjies”, smarties, jelly beans, love sweets, malvalekkers) of jul gebak en heg ‘n kaartjie daaraan.

Indien jy die hartjieboekie soos hierbo wil vou, kan jy die sjabloon tussen hakkies probeer.  (Ek het die oorspronklike sjabloon probeer vergroot.)  Skryf dan “byvoeglike naamwoorde” soos “mooi, liefdevol, spesiaal” daarin en rond dit af met ‘n spesiale laplint.

‘n Tipe papier wat goed werk, is die bruin dosie-karton wat net ‘n bietjie dikker as gewone papier, maar dunner as ‘n papboks is.  Dit het sulke spikkels in en is relatief goedkoop.  Indien jy ‘n laplint of verpakkingstou gebruik, gee dit ‘n “rustieke” gevoel.  Uitdraaikryte sal steeds pragtig daarop vertoon.

moeder2

senteacher.orgmoeder

sokker

2 Kommentaar


Die Wêreldbeker sokkertoernooi is een van die dae hier en ‘n mens kan verskeie dinge doen om die kleingoed geïnteresseerd te maak.  Ek het so ‘n paar werkvelle en “inspirasies” opgespoor oor sokker en oor verskeie Wêreldlande. “Lande van die wêreld” val seker nog nie heeltemal in hierdie kwartaal se beplanning nie, maar die terloopse inligting behoort voorbrand te maak vir die latere tema’s. Sonder ‘n hoekie, muur of gang af waar die outjies meer oor die deelnemende lande en die sokkertoernooi kan leer. Gebruik die idees om dalk Engels as tweede taal aan te bied of om nuwe woorde aan te leer. Hou ‘n paar velle inkleurprente of aktiwiteite een kant vir die verveelde outjies. Natuurlik kry ‘n mens ekstra spesiale plakkers vir jou ekstra werk :wink:.
Bespreek die vorms van die blokke op die bal. Dit het vyf sye en word ‘n pentagoon genoem. Hoeveel van hierdie blokke sien jy op ‘n sokkerbal. Hoeveel is wit? Hoeveel is swart? Verdubbel die aantal blokke. Hoeveel kry jy? Wat gebeur as ek die wit blokke met die aantal swart blokke vermenigvuldig? Hoeveel sye het 3 blokkies?…en al die blokke altesaam?
Het jy geweet dat daar geboue in hierdie vorm bestaan? Die Pentagon in Amerika en die Kasteel in Kaapstad is twee voorbeelde van so ‘n vorm.

Maak ‘n prentjie met ‘n paar vyfhoeke. Maak sjablone uit x-straalplate, sodat die kinders dit kan aftrek. Laat die outjies dit uitknip en op die rug van ‘n dinosourus plak.Vou vyfhoeke en maak ‘n klas vol sterre daarvan. Dit behoort die kleingoed ure lank besig te hou. Het jy geweet dat as jy die bene of punte van ‘n sterretjie omvou – jy ook ‘n vyfhoek kry?! Doen dit sommer met plakkers.

…Daar is ook blokke met seshoeke!  (Duidelik is Juffer nie ‘n sokker kenner nie.)  Nou het ek weer ‘n ding raak gesien! Wat daarvan as elke kind ‘n seshoek uit ‘n stukkie lap knip en met lapverf verf.  ‘n Knap juffrou of mamma kan dan ‘n klaskombers maak.  Ek wens ek kon self so ‘n deken maak! Dit lyk altyd so mooi en snoesig 😉

Gee vir elke outjie ‘n seshoek om uit te knip en ‘n spelwoord om daarin te skryf.  Bou ‘n heuningkoek teen die muur en siedaar! ‘n Spelles, vormles én fynmotoriese ontwikkeling in een!  Ek sou op eu-woorde gefokus het om by die heuningkoek aan te sluit, maar enige iets sal werk.

Neem ‘n bladsy vol vorms en vra die outjies om slegs die vyfhoeke of seshoeke te omkring vir visuele diskriminasie oefeninge.  Maak patrone op lang strokies en gee los vorms. Vra dat die kleingoed die patrone napak of dat hulle dit nateken.  Jy kan die vorms in verskillende kleure maak – sodat die patroon die volgorde van kleure ook insluit. (vyf-en-seshoeke)

Verskaf bladsye met verskillende groottes seshoeke, vyfhoeke en sirkels.  Gee die kinders die vryheid om hul eie prentjies met die vorms te pou (knip en plak).

Wat weet ons van ‘n bal? Wat is die vorm se naam? ‘n Sfeer.  Dis ‘n opgeblaasde sirkel…Waar kry ons sfere? Noem maar op: planete, die son, die maan, balle, gloeilampies, krale…

Blaas borrels met seep (buig ‘n draadjie in ‘n sirkel en maak lekker seepwater aan – vir buite spel).  Blaas borrels in ‘n seperige oplossing…gebruik strooitjies en drup ‘n paar druppels voedselkleursel in die seepsous.  As die outjies hard genoeg blaas, borrel die glas oor en kan ‘n mens ‘n papier bo-op druk.  Die borrels gee ‘n oulike tekstuur op die bladsy.

Speel met balle – groot, klein, grof, swaar, lig, wollerig (tennisbal)…ryg sfeervormige krale in om halsnoere te maak…Het iemand dalk ook oulike idees?

(sokker-soektog en tweeklanke-woordsoeke)

(doolhof en sokkerbal-inkleur)

Zakumi (Laat maak jou eie Zakumi)

Inkleurprente van die sokker – insluitend Soccer City en Tafelberg (oulik)

herfs

12 Kommentaar


herfs

Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie.  Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was!  Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy.  (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)

Uitstallings:

As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen.  Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop.  Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers.  Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud.  Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak.  Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.

Collage:

‘n Collage word nie in een dag voltooi nie.  Dit bou op.  Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees.  Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.

  • Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak.  Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word.  Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig.  Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”.  Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees.  Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees.  Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
  • Maak ‘n krimpvarkie.  Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol.  Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry.  Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik.  In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur.  Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water.  Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
  • Maak ook ‘n eekhoring.  Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af.  Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor.  Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding.  ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage.  Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny.  Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!).  Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
  • Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi.  Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek.  Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
  • Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton.  Sny dit uit.  Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood.  Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie.  Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki).  Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
  • Maak herfsblaarbrille.  Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?).  Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons.  Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
  • Maak herfslanterns.  Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase.  Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas.  Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak.  As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom.  Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas.  Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
  • Maak ‘n groot boom.  Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier.  Teken duidelike graslyne.  Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit…  Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk).  Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word.  Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond.  Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word.  Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak.  Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer.  Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal.  Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom.  Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans.  Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
  • Doen “afvryf” werk.  Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het).  Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor.  Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk.  Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel.  Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek.  Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit.  Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe.  Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf.  Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
  • Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels.  Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
  • Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel.  Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!

Ander:

Herfsstorie en werksvelle

Gedigte

Simmetrie

Verskeie

Tel

Takies

Voorskools

Inkleurwerk

Engelse stories

Tik ook soekterme soos somer, winter, lente en weer by die bruin soekblokkie in.

HerfsAutumn

Older Entries Newer Entries