Ek het al vergeet van die GOUE REEKS totdat iemand my weer daaraan herinner het. Die boeke is aanlyn beskikbaar.
Boet en Saartjie
12 Oktober 2010
afrikaans Boet en Saartjie, Goue Reeks, lees, leesreeks, Nasou, Nasou via Afrika 28 Kommentaar
Skoolgereed
11 Oktober 2010
afrikaans arbeidsterapeut, Graad 1, Graad R, groot skool, kleuterskool, kurrikulum, laerskool, skool, skoolgereed 6 Kommentaar
Het jy jou Graad R-kind al by ‘n laerskool in geskryf? Is jou kind skoolgereed en het hy of sy genoegsaam ontwikkel om Graad 1 met selfvertroue aan te durf? Kyk gerus na die volgende skakels vir ‘n paar idees om op te volg:
Vra gerus indien jy spesifieke kwelpunte het en indien jy oor jou eie kind of ‘n kind in jou klas wonder. Dalk kan ons saam aan idees en oplossings dink.
Tik gerus ook soekterme soos “skoolgereed, Graad R, Graad 1” by die bruin soekblokkie regs bo-aan my blog in vir nog idees…
onderwysersdag
3 Oktober 2010
afrikaans juffrou, meneer, onderwyser, onderwysersdag, skool 2 Kommentaar
Die tema vir hierdie jaar se Onderwysersdag is min of meer “Die pad na herstel begin by onderwysers”. Dit val so reg in die kraal van remediërende opvoeding en ondersteuning. Indien jy dalk opgelei is in spraak- en taalterapie, opvoedkundige sielkunde, arbeidsterapie of skoolverwante hulp kan bied sal ‘n bietjie hulp per week BAIE waardeer word.
Ons is pas klaar met ‘n bietjie vakansie, maar ‘n rowwe kwartaal lê voor. Om jou juffrou (of jou kind se juffrou) ‘n bietjie woema te gee, kan die volgende oorweeg word…
- ‘n self geplukte blom
- ‘n kaartjie
- oulike plakkers (vir oulike boekwerk)
- ‘n skoon klas…Dit sal ‘n heerlike verrassing wees om by ‘n skoon klas in te stap…’n Alles-in-een skoonmaak-pakkie sal ook werk. (Lappe, sponse, skoonmaak produkte…)
- ‘n aandjie sonder verantwoordelikhede…
- ‘n klein rukkie se hulp soggens…al kom lees ‘n ouma ‘n storie vir die klas of ‘n kundige kom bied ‘n handwerk- of kunsles aan.
Elke bietjie help en sal die pad na herstel (veral na die lang vakansie, baie administratiewe werk, staking-steurnisse…) vergemaklik. Baie voorspoed aan alle mamma’s, pappa’s, juffrouens, oupa’s, ouma’s en oppas-tannies. Mag die laaste kwartaal ‘n gelukkige een wees.
1 – 6 Oktober: ‘n mooi gebaar
1 Oktober 2010
Bandanadag
26 September 2010
afrikaans bandana, bewusmaking, kanker, sonneblom, Sunflower foundation Lewer kommentaar
Dit is weer een van die dae BANDANA-dag ter ondersteuning van die Sonneblomfonds se navorsing oor leukemie. Die bandana’s begin nou by die winkels instroom en met elke kopie word geld bewillig vir die stryd teen kanker. Dit is die 10de jaar dat ons bandana’s koop en hierdie jaar het hulle die vriendelike Mickey Mouse daarop aangebring. Dit is nou kindervriendelik en verskyn in pragtige kleure. Koop ‘n Bandana teen R20 elk om jou ondersteuning aan leukemie-navorsing te bied. DJ FRESH doen dit…jy kan dit doen deur ‘n My School-kaart aan te skaf. Dit is daardie kaarte wat geld aan ‘n organisasie of skool skenk met elke kopie by ‘n Woolworths-winkel.
Wat kan jy vir dié dag doen? (Buiten die belangrike ondersteuning soos op The Sunflower Foundation se webtuiste uitgestip.)
- As die dag verby is kan jy haarrekkies maak. Sny die lap in stroke, vou in die lengte en werk ‘n stuk rek binne in vas.
- Werk ‘n paar bandanas aan mekaar vas en gebruik dit as ‘n tafeldoek.
- Maak somerhempies.
- Maak strooikussings.
- Maak ‘n potloodsakkie.
…en al wil jy niks juis met die bandanalappie doen nie, sal die skenking beslis help.
nog idees sal volg
Boek Buddies Opvoedkundige Teater
17 September 2010
afrikaans Ander, Boek Buddies, drama, lees, opvoedkundige teater Lewer kommentaar
Lizé Crouse van Boek Buddies het vir my die volgende inligting gestuur. Lees dit gerus en kontak haar direk indien jy of jou skool belangstel. (lizecrous@hotmail.com)
Boek Buddies Produksie is geskep n.a.v die behoefte om lees in Afrikaans te bevorder. Die feit dat kinders minder lees is egter ‘n groot kommer vir talle ouers en onderwysers.
Hoe kan ons dan weer die belangstelling vir lees by kinders kweek? Boek Buddies beeld boeke fisies uit deur middel van drama!
Boek Buddies bestaan uit ‘n groepie professionele akteurs wat kinders d.m.v. drama aanmoedig om meer te lees. Ons neem uittreksels uit verskillende ATKV-kinderboektoekennings boeke en voer dit in ‘n interessante en energieke manier op wat die leerlinge se belangstelling sal prikkel. Ons voer egter nie die hele boek op nie, want ons wil die leerlinge aanspoor om self die boeke klaar te lees. Boek Buddies laat die karakters in die boeke lewendig word en die leerders kan met die karakters identifiseer wanneer hulle die boeke weer op hul eie lees. Ons wil ook graag die leerlinge en skole aanmoedige om aan die ATKV-Kinderboektoekennings deel te neem. So bemark ons nie net die Afrikaanse taal nie, maar ons wys vir kinders dat lees lekker kan wees!
Boomplantweek: 1 – 7 September
5 September 2010
afrikaans bome, boom, boomplant dag, boomplantweek Lewer kommentaar
Dit het my skielik vanmiddag getref – dit is Boomplantweek! Ek kan nie glo dat die kwartaal so met my weg gehardloop het dat ‘n mens so ‘n belangrike tyd kan vergeet nie…en hoekom is die media so stil oor ‘n tydperk wat in my kinderdae hoë aansien geniet het?
Dalk moet ons hierdie week bome vier en versier soos die mense in Indië met olifante maak. Bome is immers gerespekteerde lugsuiweraars, asemskenkers en tuiste van menigte verbeeldingsvlugte, kabouterdorpies en goedkoop klimrame! Dalk moet ons hierdie week behoorlik bossies raak en koorsbome optooi in vrolike kinderversierings…Hang voëlvoerdertjies uit die bome, bou boomhuise (op die grond) uit ou kartondose, skaf kompos aan vir die wortels, hou ‘n donasieblikkie op die lessenaar vir die aankoop van bome of die versorging van bestaande bome…
Praat oor die gebruike van bome, waar papier vandaan kom, hoekom boeke so kosbaar is en waarom ons bome as lugsuiweraars moet koester. Hang sigwoorde uit takke of raaisels en rympies. Terloops…is dit nie dalk tyd vir ‘n nuwe boekhoekie nie?
Lentedag!
28 Augustus 2010
afrikaans blomme, feëtjies, goggas, inkleur, kabouters, Lente, lentedag, skoenlappers, versierings, voëltjies, werkvelle 5 Kommentaar
Woensdag is dit Lentedag! Die tyd vlieg behoorlik hierdie jaar…As jy ‘n paar idees benodig om Lentedag in jou klas of skool te verwelkom, probeer gerus die volgende:
- Vensterversierings: Die kleingoed kleur die blomme met vetkryt (verkieslik die ou betroubare uitdraaikryte) in, knip die sirkel uit en verf dit met voedselkleursel. Eiergeel hoef nie veel verdun te word nie (hou maar die produkte mooi dop – aangesien sommige eiergeel kleursels meer na ‘n neon geel lyk), maar rooi, groen en blou kan ‘n titseltjie water kry. Sodra die prente droog is, kan jy die helder blomme om die rand van jou venster of klasdeur plak om die Lente en gaste te verwelkom.
- Maak jou eie “colour by numbers” werkvelle. Gee vir die outjies ‘n inkleurprent met somme daarop. Die antwoorde word dan met kodes vergelyk om die prent in te kleur. Jy kan hierdie aktiwiteit ook in die tale gebruik en byvoorbeeld woorde met spesifieke klanke, sigwoorde en spelwoorde vaslê.
- Trek ‘n reuse kartondoos oor met helder blomme-papier en sny ‘n posbusgleuf daarin. Ruil die onderskeie klasse se klaslyste uit en gee vir elke kind ‘n “spookmaatjie” om ‘n kaartjie voor te maak. Die briefies word dan in die doos gepos en op Lentedag word die briefies deur ‘n “Lente kabouter of feëtjie” afgelewer.
- Laat die outjies enorme blomme (tulpe werk goed) uit ou kartondose sny, versier dit met patrone of verf dit en “plant” dit al om die skoolheining. Heg dit aan die heining vas (met skuifspelde) of steek dit in die grond vas met sosatiestokkies. Dit behoort nogal ‘n vrolike impak te maak op die oggendverkeer.
- Maak groot bewers as deel van groepwerk. Elke groepie in die klas werk saam om bewers uit blomme, kabouters, ensovoorts te maak. Gebruik helder pastelle, verf, kleursel en vetkryt en hang die bewers uit die dak – in die gange of in die voorportaal. Steek ‘n blinkerige of klingel-item daarin werk sodat dit die oor of oog kan vang. (Stukkies foelie, spieëlteeltjies of kristal-agtige krale behoort ideaal te wees.)
- Buig blommetjies uit soldeerdraad (of enige dun en sagte draad) om ruikers te maak.
- Engelse gediggies vir leestyd…
- Vra die kinders om boeke oor Lente, bloeisels, baba diere, kabouters, feëtjies, ensovoorts uit te neem vir leestyd. Hulle kan vir mekaar lees of Juffrou kan ‘n oulike boek kies en vir die klas lees.
- Inkleurprente
- Inkleurprente2
- Skoenlapper-flitskaarte
- Blom buitelyne
- Gemorsposkuns: Sny skoenlappers en blomme uit gemorspos. Verf dit met muurpapiergom (vir beskerming en glans) en gebruik dit in die bewers of as vensterversierings. Dit behoort ook oulik te lyk op ‘n eenkleurige kaartjie.
- Eenders en anders werkvel
- Maak ‘n muur collage van ‘n Lentetuin propvol goggas. Soek ‘n paar oulike prente as voorbeeld en vra dat die kinders die onderskeie insekte of blomme sal teken (waarvan jy die meeste hou). Weereens kan hulle dit met kleursel verf, uitknip en op ‘n kennisgewingbord of voorbereide agtergrond plak.
- Maak jou eie papawerblomme. Smeer ‘n dun lagie muurpapiergom bo-oor om dit af te rond en om glans te verskaf. Net voor die gom heeltemal droog is, kan jy regte papawersade in die middelste swart deel strooi. As die blomme jou nie meer aanstaan nie, kan julle dit plant!
- Druk blomme met die onderkante van koeldrankbottels (bv. plastiek gaskoeldrankbottels).
- Doen dit ook met sonneblomme.
- Nog blomme.
- Maak ‘n spesiale blom CD-kassie om ‘n CD vol foto’s aan ‘n ouma of oupa te gee.
- Voer voëltjies deur middel van herwinning. Gebruik ‘n ou houtlepel en ‘n botteltjie vol saadjies.

dubbelklanke
18 Augustus 2010
afrikaans, Graad 1, Graad 2 aa, didakties, dubbelklanke, ee, ekstra, intervensie, klanke, ondersteuning, oo, uu, vaslegging 15 Kommentaar

R het vir my gevra om idees vir dubbelklanke te plaas. Ek het so ‘n tydjie gelede iets oor die vaslegging van klanke geskryf en gaan daarom slegs ‘n paar ekstra idees gee.
Maak groepe prente-kaartjies wat jy kan inkleur, oortrek en hou. Gebruik byvoorbeeld beet (ee-woorde), ‘n haas (aa-woorde), vuur (uu-woorde) en bome (oo-woorde). As jy die kaartjies permanent wil gebruik, kan jy die bostaande flitswoorde op die kaartjies plak en dit dan lamineer en uitknip. Vertel ‘n storie van die ‘n hasie wat graag beet eet voor hy langs ‘n vuurtjie – in die skadu van ‘n boom – aan die slaap raak. Verdeel die klas in vier groepe – een vir elke klankgroep. Elke groepie lees hul kaartjies en moet die woorde in sinne kan gebruik. Hulle skryf die sinne op ‘n groot vel ongedrukte koerantpapier – sodat die ander maats dit kan lees. Indien die outjies nog nie gereed is vir sinne nie, kan jy ‘n A4-vel papier in 8 groot blokke verdeel. Plaas die onderskeie woorde op aparte dele van die skryfbord of teen verskillende mure op. Die outjies moet dan elkeen 8 woorde kies, ‘n woord per blok skryf en probeer om ‘n gepaste prentjie te teken.
Graad 2- en 3-leerders kan egter al sinne skryf en moet probeer om skitter-sinne te skryf. Graad 2’s kan so 5 of 6 woorde per sin probeer, terwyl Graad 3’s 7 tot 9 woorde kan gebruik.
Die belangrikste deel van sinne is dat hulle daaraan herinner moet word dat ‘n sin met ‘n hoofletter begin en eindig met ‘n punt. Vra altyd dat die sin eers aan jou gesê moet word, sodat jy die sinsbou en -konstruksie kan korregeer indien nodig. Indien jy genoeg tyd het vir prentjies teken, kan jy vra dat die outjies 3 – 5 sinne skryf en een prentjie daarby teken. Maak selfs ‘n groot prent van elke klankkaart (‘n beet, ‘n haas, vuur en ‘n boom), vra dat die outjies die woorde self op elke prent oorskryf, verf met kleursel (rooipienk, geel, oranje en groen), knip uit en plak in die boeke. Dit is sommer ‘n alles-in-een takie en behoort ‘n lekker leer-hulpmiddel te wees vir die week se speltoets. (“Dink aan die woorde op die bloedrooi beet…”)
Indien jy die flitskaartjies apart van die prente gelamineer het (of oorgetrek het met breë kleeflint), kan jy dit skommel en vir die outjies flits. Jy kan selfs ‘n tweede vel van elke bladsy druk en vra dat die kleingoed die woorde bo-op hul maats pas…of lamineer die groot vel en sny dit in diagonale en krom lyne op sodat die kleingoed die “legkaarte” moet bou. Grawe gerus ook op kleuters.co.za rond vir lyste met klanke – indien jy nog woorde benodig. Onthou om altyd jou apparaat so te maak dat jy dit kan hou en hergebruik… Jy sal dit beslis vir dekades lank kan inspan!
Sien ook “Drukbare Bladsye” heel bo of tik “flits” by die soekblokkie in.
TAAL- én Boekedag, 14 Augustus
5 Augustus 2010
afrikaans afrikaans, boeke, Boekedag, lees, onderrig, onderrigmedium, onderrigtaal, taal, taaldag 6 Kommentaar
Die 14de is Koop-‘n-boek-dag. Doen asseblief iets om ‘n liefde vir lees en vir tale aan te moedig.
- Hou ‘n leesuur. Laat almal toe om ‘n kussing of kombers te bring en lees die kleingoed se gunstelingboeke voor…of
- kry iemand uit die gemeenskap om die boeke te lees.
- Laat die kleingoed kreatiewe stories skryf en bind dit in groot boeke. Maak ‘n paar afskrifte, versier met kleurvolle kinderkuns en skenk dit aan gemeenskapsentrums (wagkamers, ouetehuise…). Tydskrifte is mos tog te vervelig! 😉
- Laat die kleingoed ekstra oulike stories skryf, versier die blaaie en plak dit in die gang op sodat ander maats dit in die verbygang kan lees.
- Vra die opvoeders om stories te skryf en bind dit in ‘n klein boekie (‘n A4-vel voor en agter , wat in ‘n A5-grootte gevou word is voldoende).
- Vra die Intersen personeel om vir die kleintjies te lees en die Grondslagfasepersoneel om vir die ouer kinders te lees. Die groottes verlang mos na die juffrouens en die kleintjies sal “groot” en “belangrik” voel as meneer so-en-so vir hulle kom lees.
- Kies ‘n tema per klas, skryf kreatiewe stories daaroor, versier die klas volgens die tema en trek daarvolgens aan. Kies een storie per klas om vir die ander klasse voor te lees. Volg dan die Vrydag, die 13de, ‘n leesprogram waar die klasse vir mekaar lees – binne die graad of fase. Die “gehoor” luister na ‘n leser terwyl die hele klasse op die verhoog is vir ondersteuning.
- Hou ‘n muntlegging vir nuwe biblioteekboeke…of
- verkoop Milo by die leesuur.
- Besoek ‘n literêre instelling soos die Taalmuseum.
- Kry ‘n spreker soos ‘n skrywer van kinderboeke om te gesels oor die lekkerte van lees.
Madibadag
13 Julie 2010
afrikaans inkleur, Madiba, Nelson Mandela 2 Kommentaar
Oudpresident Nelson Mandela verjaar Sondag, 18 Julie. Baie organisasies vra dat mense 67 minute van hul dag aan goeie dade van welwillendheid sal wy om Madiba se 67 jaar van naaste diens te vier. Wat kan jy doen? Vertel ons wat jy, jou gesin of jou klas gaan doen om Madiba se 91ste verjaarsdag te vier om ook ander lesers te inspireer.
Kom kuier gerus
9 Julie 2010
een gemeenskaplike doel
8 Julie 2010
afrikaans 1 goal Lewer kommentaar
“A child born to a mother who can read is 50% more likely to survive past the age of five.”
Het jy al jou stem by die ondersteuningslys gevoeg? Dit kos niks…en jy sal deel word van sowat 12 miljoen mense wat onderwys wêreldwyd ondersteun en bevorder…
Leer speel-speel
20 Junie 2010
afrikaans balans, gesyferdheid, Graad 1, Graad R, huiswerk, klanke, ogies, oog-hand koördinasie, oogbewegings, perseptueel, perseptuele, spierbeheer, spiertonus, syfers, vaslegging, voorskools 2 Kommentaar
Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry. Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies. Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie. Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.
Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer. Is daar ‘n parkie naby?
- Probeer gerus die wipplank. Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
- Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm. Laat Poplap daarop loop. Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans. Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
- Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop. Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
- Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…
Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.
- Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak. Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
- Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is). Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal). Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai! ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
- Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
- Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas. Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak. ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.
Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.
- Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
- Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het. Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
- Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val. Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
- Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant. Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie. Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
- Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies. Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas. Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies. Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel. Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne. Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken. Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
- Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek. Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs. ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
- Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet. Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies. Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi. Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi. As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel. ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen. Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9. Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken. Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4). Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord. Ons moet die breinratte darem geolie hou… 😉
Bal vang…Begin eers met ander items.
- Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar. Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie. Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm. Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie. ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels. Dit is sag en gryp maklik vas.
- Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang. Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref. Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
- Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan. Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak. Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.
“Skolerige / Akademiese dinge”
Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed. Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed. Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek. As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis. Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees. Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker). Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand. Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik. ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel. As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken. Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou. Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by. Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”. Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.
Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…
Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan. Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.
Hou inventaris of sensus. Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes. Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense. Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby. Drie mensies = 3. ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit. Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6. Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam. Hoeveel messe is op die tafel? Hoeveel blompotte is in die son? Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…
Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).
Lekker speel!
Trots Suid-Afrikaans
5 Junie 2010
afrikaans inkleur, land, nasionale, patrioties, simbole, Suid-Afrika, vlag, volkslied, wilde diere 2 Kommentaar

Met die oog op die Wêreldbeker en verwante sake, kan ‘n mens seker ‘n bietjie patrioties raak. Gebruik die laaste paar dae voor die vakansie om vlae te maak. Plak dit in die ruite op of stuur dit huis toe vir die motorruite.
Vlytige vingers: Skeur en plak die korrekte kleure (uit ou tydskrifte) om die vlag te versier…of laat die kleingoed in groepe werk om ander landsvlae ook te versier. Maak ‘n collage (in ‘n venster) wat sigbaar van die pad af is. Onthou dat die rooi gedeelte altyd bo is of as die vertikaal vlag hang, is die rooi deel aan die linkerkant.
- Kyk na Kaarte om te lamineer. Knip ‘n duplikaat uit en laat die outjies die kontinente op ‘n wêreldkaartpas of vir jonger outjies kan ‘n mens ‘n kaart van Suid-Afrika en dele van die oseane gee. Hulle pas dan die los stukke bo-op die volledige weergawe.
- Gee Kaarte om in te kleur of vul dit met skeur- en plakwerk. Gee ‘n topografiese kaart om “na te plak”. Die outjies gebruik skakerings van blou, geel, bruin en groen om dus die berge, plantegroei en see aan te dui. Dit kan nogal mooi lyk as die kaart uit geknip word en bo-op die agtergrond geplak word vir ‘n bietjie meer diepte of dimensie.
- Kleur die vlag in of verf die kleur in.
- Maak ‘n groot klasvlag. Trek die buitelyne op ‘n lap af en gee vir die outjies die verskillende kleure in lapverf om met die kwas of handafdrukke te versier.
Ander Suid-Afrikaanse embleme:
- Vlag en Protea (inkleur)
- Diere van Afrika (Engels, maar die prente is steeds oulik en bruikbaar. Knip uit en voeg jou eie Afrikaanse benaminge by.)
- …nog diere-idees (vir ander “diere” temas kan jy soekterme soos troeteldier, karnivore, wilde diere aan die regterkant in tik)
- Nasionale simbole en verklarings (Afrikaans).
- Werkboek
- Geskiedenis
- Inligtingstuk
- Kaart
- Die Volkslied (koor)
- Die volkslied
- This land is my land-liedjie (iTunes, Amazon)
- Dis ‘n land-liedjie (iTunes, Amazon)
- Waving flag
- Suid-Afrika (Engelse banier)
- Suid-Afrikaanse helde en ikone
- Drukbare drupmatjies en versnapperinghorinkies
- Engelse skyfievertoning
Vadersdag
30 Mei 2010
afrikaans, inkleur + aktiwiteite, Inklusiewe Onderwys, kind, kinders, pappa pa, pappa, vader, vadersdag 2 Kommentaar
Dis alweer binnekort Vadersdag (tyd vlieg!) en ‘n mens behoort darem vroegtydig aan idees te dink…
- Laat sny hout in reghoekige stukke, verf dit met vrolike kleure, voeg hakies by en siedaar! ‘n Nommerpas hangplek vir sleutels en “flash drive”-toutjies.
- Sjokolade happies: Koop kook-sjokolade (donker of wit), smelt dit bietjies-bietjies (pas op vir brand) en meng neute daarby in. Vorm eetlepelgrootte balletjies of vries die mengsel in vormpies.
- Fotoraam: Plekke soos Shoprite verkoop fotorame in gewone dennehout. Verf dit en bring ‘n oulike prentjie soos ‘n rugbybal, krieketkolf of ‘n visstok en vis daarop aan.
- Peuselpotjie: Verf ‘n klein glasflessie vol prentjies en vul met lekkers of neute.
- Slaan die spyker: Koop ‘n hamer en verf vol oulike patrone. Onthou om verskeie spykers en ‘n stukkie biltong by te voeg.
- Slaaptyd: Koop ‘n gewone, eenkleur t-hemp en bedek met oulike lapverf woorde…of hand afdrukke…
- Fotostaander: Maak ‘n balvorm uit klei wat kan verhard (vra by kunsvlyt-winkels). Besluit waarvan pagoed hou en vorm die klei in die bal van keuse – rugby, krieket, sokker of gholf…verf dit dan in daardie kleure en maak seker dat die bal se onderkant plat is – vir die staanslag. Heg krokodilknypers of enige klampie aan die punt van ‘n stewige draad, druk by die klei in en jou staander is klaar!
- Sakpas sakdoek: In die geval van ‘n baba kan ‘n mens ‘n voet of hand met lapverf op ‘n sakdoek afdruk (en op die verkeerde kant vas stryk as dit droog is)…net reg vir die winterseisoen!…’n kussingsloop werk net so lekker…
- Magneetrame: Indien jy met kleintjies werk, kan jy vooraf ‘n klomp beertjieraampies druk en uitsny. Laat die kleintjies dit dan met vingerverf versier of bedek met kleursel. Neem foto’s van die kleingoed en plaas dit in die vensterruimte. Daarna kan jy dit lamineer of sommer net dun magneetstrokies agterop plak. Dit behoort teen metaalrakke en -kaste vas te sit – net reg vir die motorhuis!
Speel ‘n bietjie
25 Mei 2010
afrikaans, kind, kinders, skool, speeltyd play, play day, speel, speelgoed, speelgoeddag, toy day, toy library Lewer kommentaar
28 Mei is Wêreld Speeldag. Ander mense noem dit wêreld speelgoeddag. Wat jy ookal verkies, maak seker dat jy ‘n bietjie pret vir die dag beplan…
- Pak die speelgoed- of apparaatstoor uit en stel verskeie stasies op waar kinders verskillende aktiwiteite kan probeer. (Balgooi, dribbel, balanseer, kruip, klim, hang, “monkey bars”…)
- Bou ‘n hindernisbaan.
- Bou ‘n skattejag (bou ‘n bietjie leeswerk in).
- Verskaf stasies vir “houtwerk”, waterspel, fantasiespel…’n tipiese Graad R buitespelles.
- Grawe in die argiewe vir oulike opvoedkundige speletjies. Skuif die tafels in rye sodat elke speletjie apart gespeel kan word. (‘n Goeie verskoning vir legkaart-bou is om seker te maak dat al die stukke daar is.)
- Vra die kinders om self bordspeletjies te beplan vir klanke of wiskunde.
- Klop aan by ‘n oulike kleuterskool en ruil speletjies met hulle uit.
- Hou ‘n speletjiesmiddag.
- Verleng die pouse…
- Besoek ‘n speelgoedbiblioteek.
- Begin ‘n speelgoedbiblioteek.
- Skenk aan ‘n speelgoedbiblioteek.
- Reël ‘n spreker (soos ‘n arbeidsterapeut) om die ouers in te lig oor oulike opvoedkundige speletjies en speelgoed.
- Reël ‘n ouma of oupa om oor speelgoed uit hul jeug te praat.
Kinder Beskermingsweek
24 Mei 2010
afrikaans, kind, kinders, probleem, skool acvv, kinderregte, kindersorg, maatskaplik, mishandeling Lewer kommentaar
Daar is min dinge wat my so grief soos ‘n verwaarloosde kind…en daar vergeet ek toe byna dat dit Kinder Beskermingsweek is. Ek heg ‘n paar skakels na webtuistes aan waar u kan inligting kry oor kinderregte en –veiligheid.
Dis ‘n onderwerp waaroor ‘n mens moeilik praat, want ons wil veiligheid en versorging van kinders as vanselfsprekend aanvaar. Ongelukkig is daar kinders in elke klas wat dalk wees gelaat is, mishandel word, honger ly…noem maar op. Die maatskaplike probleme en uitvalle vorm ‘n belangrike kwelpunt in die versorging van kinders. Daarom is dit een van die eerste dinge waarna ons as opvoeders moet kyk…Sukkel die kind dalk akademies of op sosiale vlak weens huislike probleme? Gebeur daar dinge tuis (of elders) wat die kind se psige kan afbreek? Is daar iemand in die skool wat sal kan help indien ‘n kind mishandeling of verwaarlosing aanmeld? Waar meld ek die kwessies en probleme aan?
In ons skool praat ons weekliks in graad-verband – die sogenoemde leerderbesprekings. Probleme word dan skriftelik in ‘n boek genoteer en aan die Opvoeder Ondersteuningspan (OOS / EST / ILST / Hulpspan) gerapporteer. Indien daar aspekte soos maatskaplike probleme genoem word, word dit met die hoof van die Hulpspan (in ons geval die skoolhoof) bespreek en ‘n plan van aksie word bedink. Ongereelde skoolbywoning tel ook onder hierdie afdeling. Die situasie word gemonitor en die opvoeder gaan voort om kontak met die ouers te probeer maak om die saak aan te roer. Teen die einde van die kwartaal sit die Hulpspan met elke opvoeder en word elke leerder op die klaslys bespreek (± ‘n periode per klas / opvoeder). Ons probeer dan om saam aan oplossings te dink. Bv. ‘n geleentheid skool toe saam met ‘n buurman of die beskikbaar stelling van ‘n klas vir die voltooiing van huiswerk…Dit maak nie saak hoe eenvoudig of hoe ingewikkeld die probleem is nie – dit word aangeraak. Indien ons nie seker is of die probleem by maatskaplike dienste aangemeld moet / kan word nie, skakel ons die maatskaplike werkers om uit te vind. Weet eerder waar die grense lê as om die kind verwese te laat. Hou altyd die nommers van die plaaslike ACVV of Kindersorg sigbaar in die klas en verduidelik aan kinders dat hulle die reg het om oor hul probleme te praat.
Loer gerus hier indien jy graag betrokke sou wou raak by kindersorg organisasies in jou omgewing…
ACVV
PATCH
Child welfare
Lifeline national counselling line: 0861 322 322
Childline toll free counselling number: 0800 055 555
National AIDS Helpline: 0800 012 322
Laat weet ons asseblief indien jy van ander organisasie weet…
DAAR IS GERUGTE WAT DIE RONDTE DOEN DAT MENSE TANS VERSKEIE SKOOLGRONDE DOP HOU…
stempels
21 Mei 2010
afrikaans, klaskamer, skool geskenk, stempels 11 Kommentaar
‘n Tydjie gelede het iemand gevra waar hulle stempels kan koop. Ek het as student ‘n stelletjie stempels by die klasjuffrou gekry na sowat ‘n maand se proeftyd. Dit was 4 gesiggies – van een met ‘n oopmond glimlag tot by so ‘n bedroefde wriemelmondjie. Dit was en is steeds baie geskik en ideaal om vir die kleingoed aan te dui hoe tevrede ek met hulle werk is…en dis goedkoper as plakkers!
Baie jare later gebruik ek steeds die stempels en het ek dit met van die ander in die reeks aangevul. Onlangs het ek en ‘n kollega vir ons “personalised” stempels laat maak en dit is ideaal vir al die koeverte en administrasiewerk. Die mense het ‘n verskriklike groot verskeidenheid kindervriendelike stempels met die oulikste boodskappies. Ek plaas die spesiale aanbod vir Mei-maand hier, sodat julle ‘n ordentlike pryslysie en katalogus kan aanvra. Die bladsy is in werklikheid ‘n kwart van ‘n A4-papier en die stempels is minstens dubbeld die grootte.
Kontak Alta Scholtz om vir jouself, jou kollegas of vir jou kind se juffrou ‘n oulike verrassing te koop. (skimp-skimp) Druk op die papiertjie om te vergroot. scholtzal@telkomsa.net
2014 Pg 01 (1) (Hoe om te bestel.)
2014 Pg 02 (1) (bestelvorm)
Engelse werk
16 Mei 2010
afrikaans, engels, English CAPS, EAL, engels, ESL, gratis, werksvelle Lewer kommentaar
Ek is onlangs gevra om inligting oor Engelse takies te plaas. Hiermee dan ‘n paar skakels na oulike webwerwe:
- genki
- mes-english
- mes-english (grawe veral onder hul funfonix boeke)
- tlsbooks
- Phonics
- Itsy Bitsy Books
- abcteach
- superteacher
- Bob Books
- starfall werksvelle
- Mini Nursery Rhyme books (inkleurprente)
- Boekies
- Eenvoudige leesboekies
- Frozen sigwoorde
- Fantastic phonics early readers
- Verskillende vasleggingspeletjies en -werk
- CAPS gids (Engels Tweede / Addisionele Taal)
- Leesstukkies
- Boeke in PDF-formaat
- Teacha
- Werkboek 1 (300+ bladsye)
- Werkboek 2
- Jolly Phonics Gids (met aksies/muurprente) (200+ bladsye)
- Baie eenvoudige boekies.
Kyk gerus ook na die skakels aan die regterkant en die “drukbares“-bladsy.
a-possible-phonics-programme-for-the-foundation-phase



























































Woorde