Die tweede werkboek is nou aanlyn beskikbaar. Klik gerus op die onderskeie skakels om die boeke af te laai indien die skool nie ‘n eksemplaar beskikbaar het nie. Die boeke mag nie verkoop word nie en word GRATIS deur die onderwysdepartement verskaf.
Ou EAT-boeke is hier beskikbaar en verskeie ander jare se (interaktiewe) werkboeke is hierte vinde. Laasgenoemde sluit ‘n skakel na wiskunde antwoorde in. Die eerste werkboeke van 2020 kan jy hier aflaai.
18 Julie is Madibadag – ‘n dag waarop ons minstens 67 minute aan gemeenskapsdiens kan wy. Hoe kan jy onbaatsugtige hulp aan ander bied of aanmoedig? Dit sal vanjaar ietwat moeiliker wees om uit te reik, maar wat kan jy onder die huidige omstandighede doen?
Tik gerus ook soekterme soos higiëne by die soekblokkie aan die regterkant in. Iemand het ‘n idee gehad dat jy soggens ‘n stempel op elkeen se hande druk en kyk of dit nog daar is teen die middag – as almal gereeld hande (korrek) gewas het.
Kontak ‘n dokter om meer inligting te bekom. Mediese personeel sal kliniese inligting kan deel.
Dis een van die dae Onbaatsugtigheidsdag – ‘n dag waarop ‘n mens ekstra deernis teenoor jou medemens kan toon sonder om ‘n teenreaksie te verwag.
‘n Mens sal vanjaar baie vindingryk moet wees, maar dink aan maniere om jou medemens te help sonder om die insluitings- of grendeltydreëls te oortree.
Skakel gerus organisasies of instansies wat dalk van behoeftes in jou area sal weet en hoor wat die riglyne tans is. Is daar mense wat eensaam is en ‘n oproep sal waardeer? Maak kontak met kennis en hoor hoe dit gaan.
Elders versier mense die vensters wat aan die straat grens ter ondersteuning en bemoediging van noodpersoneel en ander. Probeer gerus ‘n paar van hierdie idees:
Plak maskeerband om verskillende geometriese blokke te maak en verf die blokke met ‘n mengsel wasbare akrielverf en skottelgoedwasmiddel. Wissel die kleure af en verwyder die maskeerband sodra die verf droog is. ‘n Mens kan natuurlik ander boodskappe en prenteook verf.
Teken kleurvolle prente met bordkryt op sementtrappe of die inrit.
Sny kleurvolle harte uit en rangskik dit in die venster – in ‘n raampie of in ‘n boog.
Verf ou koerantvelle – elkeen in ‘n aparte helder kleur. Sny elke vel in eenderse stroke op en maak papierkettingsom in julle ruit te hang.
Versier die motordeur indien dit binne die grenslyne van die erf is.
Loer gerus na moontlikhede wat aanlyn beskikbaar is of wat ‘n mens tydens die grendeltydperk kan begin om na die tyd te volbring.
Vanjaar val Aarde Dag so in die middel van die grendeltydperk. Hoe gaan ‘n mens dan nou in jou huis op hierdie dag fokus?
Kyk na gebruike in die huis en moontlike vermorsings. Kan ‘n mens sekere items dalk eerder herwin, herverbruik of in ‘n komposhoop begrawe?
Sny ou papbokse as legkaarte op, gebruik blikke as stelte of gebruik ou telefoongidse om skrif op te oefen (lekker groot letters dwars-oor die kolomme).
Plant sade of plantjies in ou blikkies en maak steggies in glasflesse groei. Jy kan jou eie groentetuintjie begin.
Gebruik flesse en herbruikbare bakke om kos te bêre – eerder as om herhaaldelik sakkies te koop. Het ‘n mens telkens ‘n servet nodig of kan ‘n natlappie werk?
Waarheen loop die gryswater in julle huis? Is daar omgewingsvriendelikermaniere om die huis skoon te maak eerder as om sterk chemikalieë te gebruik?
Hou vir ‘n paar dae dop hoeveel goed in die vullisdrom beland en beraam dan ‘n plan 🙂
Google Classroom en SeeSaw werk tans goed vir my outjies. Die skool het seker gemaak dat al die InterSen leerders ‘n e-pos adres het waarmee hulle by Google Classrooms kan aansluit. Elkeen van my ouer graadgroepe het ‘n eie Google klaskamer en ons maak afsprake om in die groep se GoogleMeet-funksie te gesels. Jy kan hierdie funksie in jou instellings aanskakel. Sodoende sal die outjies op die skakel in die klaskamer se hofie kan klik om kontak te maak.
Indien jou skool die Google-pakket gebruik, kan jy ook Google Meet-gesprekke in die e-pos afdeling begin of ‘n vinnige boodskap deur Google Hangouts stuur – ‘n meer informele klets opsie.
SeeSaw laat my toe om opdragte aan sekere kinders te stuur of om inligting met sekere graadgroepe te deel soos nodig. Ek neem videos op en laai op waar nodig of deel dokumente om tuis uit te druk.
Zoom is ‘n ander platform waarmee jy groepe of individue kan nooi om by ‘n gesprek aan te sluit. Gesprekke kan met ‘n wagwoord beskerm word. Haak ‘n Osmo-spieëltjie oor jou skootrekenaar se kamera en deel só werk wat jy op ‘n witbordjie of papier verduidelik.
Meer GRATIS idees is hier in MyKlaskamer.com beskikbaar. Loer na die inhoudsopgawe aan die regterkant en tik gerus soekterme soos die volgende by die soekblokkie aan die regterkant vir verskeie idees in:
Die Onderwysdepartement het verskeie Grootboeke en Leesboeke in Afrikaans en Engels – 11 tale in totaal – op hul webbladgeplaas. Loer gerus hier na spesifieke voorbeelde. Die dokumente is baie groot. Laai die boeke (dalk verkieslik in ‘n WiFi-area) af om herhaaldelik te lees en om data te spaar.
Die departementele werkboeke is GRATIS en mag nie verkoop word nie. Nie al die boeke is tans op die Onderwysdepartement se blad beskikbaar nie. Loer gerus hier en hier na ouer werkboeke.
Letterland (Gratis toegang tot aktiwiteite en stories.)
Sny ‘n bladsy uit ‘n ou tydskrif of ‘n artikel uit ‘n ou koerant.
Hoeveel woorde met drie letters/klanke kan julle omkring?
Hoeveel woorde met die volgende klanke onderskeidelik – kan julle omkring?: aa, ee, oo, uu, ie, ei, ou, eu, ui, oe, aai, ooi, eeu, oei...? (In ‘n Engelse tydskrif of koerant: oo, ee, ea, ai, ay, oi, oy, oa, ow, oe, ou, ew, aw, au, ui, ue, igh, ie, ei…)
Lys die woorde op verskillende bladsye in ‘n boek en kyk of die outjie elkeen kan illustreer. Kan julle ‘n beskrywende sin vir sommige woorde skryf?
Magneetletters of Scrabble-letters: Bou 4 woorde uit elke lys – een-vir-een. As jy Scrabble-letters gebruik, tel elke woord se punte op. Watter woord tel die meeste in elke lysie?
As jy nie Scrabble– of magneetletters het nie, sny groot letters uit dosies soos papbokse en hou dit gereed vir woordbou takies.
Druk ‘n gratis 2020-Kalender uit. Dui die dag se weerstoestande en temperatuur in die onderskeie blokkies aan en skryf daaroor.
Tel die voëls in die tuin. Hoeveel hop? Hoeveel eet?
Sny herwinbare papier in stroke en maak ‘n ketting. Kan die outjie die ringe self kram of met kleeflint bind?
Teken ‘n prent of skryf ‘n brief vir ‘n maat, familielid of onderwyser. Vra ‘n ouer om ‘n foto elektronies te stuur – aangesien ons nie tans seëls of koeverte wil lek nie.
Gebruik verskillende Lego-stukke om in dikkerige verf of ink te doop. Druk dit soos stempels om prente te bou. Soek sommer allerhande proppies, doppies of speelgoed om te betrek.
Het jy verf oor? Druk verskillende kleure in verskillende bakkies van ‘n ysbakkie, steek ‘n stokkie (oorstokkie, roomysstokkie, takkie) in elke bakkie en vul met water. Vries tot hard. Plaas ‘n vel papier op ‘n skinkbord of ‘n bakplaat en verf met die blokkies daarop.
Plaas ‘n vel papier onder-in ‘n diep, plastiese houer of ‘n vlak dosie. Spuit dikkerige verf in lyne of kringe bo-oor die papier. Plaas ‘n albaster in die houer en beweeg die houer deur die kante heen en weer te swaai of te kantel. Laat die velle droog word en hou dit vir geskenkpapier later.
Loer gerus na Gratis opsies hier en tik gerus ook soekterme soos “klanke, hersien, flitskaarte, sigwoorde, syfers, sinne en paragrawe, stories, liedjies, rympies, leestekens, knip, lees, leeslys, leesreekse, biblioteek, boekmerk, e-boek…, app… herfs, Paasfees…tuis idees, studietegnieke, vraestelle, ATP, CAPS…Engels” by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir verskeie idees en skrywes.
Pi Dag is op die 14de Maart. Die jonger grade weet nog nie wat dit is nie. Probeer gerus om tydens die komende week op allerlei ander wiskundige aspekte te fokus. Loer gerus dié week na toeps (Android, iPad, ‘n bietjie van beide) en webwerwe soos A+ Click, Math Seeds en IXL. Die volgende skakels dek vorige inskrywings hier in My Klaskamer.
Praat gerus oor waterbesparing, die gebruike van water, die belangrikheid van water en waarom skoon water so belangrik is. Waar en wanneer gebruik ons dit? Wie gebruik water en kan ons daarsonder?
Plant ‘n Spekboom of twee. Wat van ‘n heining of ‘n rytjie al langs die skool se grensdrade langs? Is daar waterbronne om skoon te maak (bv. spruite, rivierwalle, ‘n strandgebied)?
Bepaal dalk ‘n tydperk waar ‘n mens by die dag by die skool kan vier. Skakel die ligte af, skakel die elektronika af en raai die outjies aan om lanterns, kopligte of flitsligte te bring. Gebruik die uur om boeke te lees, bordspeletjies te speel of om tyd aan kuns en kunsvlyt te spandeer.
Hoe maklik of moeilik is dit om sonder elektroniese toebehore of elektrisiteit te wees?
Wêreld Boekedagis vanjaar op die 5de Maart en die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek sal van die 16de tot die 22ste duur.
Dink aan ‘n tema vir Biblioteekweek, bv. Skatte, Sprokies, ens. Stal al die boeke wat by die tema inpas uit en lees soggens ‘n stukkie uit ‘n boek voor vir ‘n reg-raai kompetisie.
Vra opvoeders om hul gunstelingsprokies, ens. te noem en hou ‘n kompetisie om te kyk of die kinders die opvoeder en boeke bymekaar kan pas.
Versier die gange en klasdeure volgens die tema.
Hou ‘n leesmiddag en trek volgens die tema aan.
Nooi gaste (bekendes, ouers, besigheidsmense…uit die gemeenskap) om boeke aan die kinders voor te lees.
Besoek naburige tehuise om boeke aan die inwoners voor te lees.
Maak kontak met buurskole om boeke daar voor te lees of skryf briewe vir mekaar. Hou julle van dieselfde boeke? Watter karakters is jul gunstelinge?
Biblioteke verskil van plek-tot-plek. Hoe verskil die dorp se biblioteek van die skoolbiblioteek? Gaan lê besoek af en loer gerus 🙂
Is daar outjies in jou skool wat soms aanvallekry? Verseker dat die personeel opgelei is in maniere om te help en vra gerus ook die ouers om idees te deel.
Neem foto’s van kinders wat ander help deur bv. ‘n maat se veters vas te maak of ‘n tas op te tel wat om geval het. Raam die foto’s of voeg dit in die raamwerk van groot letters of die agtergrond vir ‘n slagspreuk. Elders word die letters K…ND gebruik – met ‘n die slagspreuk “Be the I in Kind”. Kinders poseer dan in die gaping.
In Afrikaans, kan ‘n mens groot letters gebruik om Ons is gaaf uit die beeld. Plak weereens foto’s binne die lyne of skryf kortliks wat gebeur het. Hou dit sigbaar en verwys gereeld na elke poging – al is dit klein of min. Só kan ons mekaar inspireer.
Woorde