Dit is amper Kersfees en die kleingoed sal een van die dae kla dat hulle verveeld is. Hier is dan ‘n paar idees om die outjies mee besig te hou en om gereed te maak vir die Feestyd.
Maak “bunting” deur sterre op verskillende kleure papier te druk, uit te sny en met tou of linte in te ryg. ‘n Mens kan die sterre ook vas stik.
Maak sneeuvlokkie kersversierings: Spuit gewone wit lym (gom) in ‘n stervorm (asterisk *) op waspapier en sprinkel fyn blinkertjies daaroor. Sodra dit droog is behoort dit skitterende sneeuvlokkies te maak. Indien jy dit nie aan die boom wil hang nie, kan ‘n mens die etenstafel of geskenke daarmee versier.
Gebruik dieselfde wit lym om drie sirkels vir ‘n sneeuman op waspapier te maak. Knip ‘n hoedjie uit swart papier en pons gate uit die swart papier om knope mee te vorm.
Maak sneeumanne uit twee verskillende grootte knope en vilt.
Maak ‘n kersversiering met die gesinslede se vingerafdrukke (soutklei, vingers en spuitverf). ‘n Mens kan elke jaar ‘n nuwe stelletjie maak – met die datum in die middel.
Kies plantmateriaal (soos varingblare) of doilies om bo-op die soutklei te plaas voordat julle dit heeltemal uit rol. Rol liggies totdat die blaar ‘n patroon gedruk het, verwyder en druk dan jou vorms (koekiedrukkers) uit. Onthou om ‘n gat vir die toutjie te pons voordat jy die versierings bak.
Smelt kleurvolle kraletjies in ‘n metaal koekiedrukker. Versier geskenke daarmee of hang dit aan die kersboom.
Smelt kleurvolle kraletjies en maak sonvangers daarmee.
Draai sjokolade (slabs) in spesiale geskenkpapier toe. Druk kleurvolle engele, kersvaders, rendiere, en dies meer vir spesiale verrassings.
Maak naamkaartjies vir geskenke deur verskillende stroke oorskiet papier (soos “scrap book” papier) van lank na kort in ‘n kersboom-/driehoekvorm te rangskik. Die kleingoed behoort dit self te kan maak. (Gebruik selfs stukkies lint as jy het.)
‘n Ander gedagte is om ‘n kersvader te bou deur vorms soos ‘n ovaal en driehoek uit te knip. Laat die kleingoed dan repies papier styf om sosatiestokkies of potlode krul om die baard te vorm.
Versamel al die legkaartstukkies van halwe legkaarte. Spuitverf dit met groen, silwer of goue verf en maak kersboompies vir kerskaartjies.
Maak kersversierings uit die rugkante van legkaartstukkies, bv. hartjies.
Laat die kleingoed broodsakkiekaartjies in sneeumannetjies omskep om geskenksakkies mee toe te bind.
Op 2012-12-12 sal dit die laaste keer wees dat ‘n getal so in drievoud in ‘n datum kan verskyn (in hierdie eeu). Hiermee sommer ‘n paar besigbly idees vir die vakansiegangers.
Dis die einde van die jaar en die begin van ons sonskyn vakansie. Indien jy van nuuskierige navorsertjies weet, kan hierdie tydskrif dalk net die regte leesstof bied.
Supernovais ‘n engelse tydskrif – gemik op kinders van sowat 9 tot 14 jaar oud. Dit is ‘n kleurvolle tydskrif – gedruk op papier wat nie sommer sal frommel nie en behoort in leeshoekies en skoolbiblioteke te hou. Die twee uitgawes wat ek onder oë gehad het, bevat oulike inligtingstukkies oor omgewingsake (soos herwinning en klimaatsveranderinge), artikels oor die ruimte, strokiesprente, die kunste (bv. ballet en kunsbewegings) en biologie (bv. parasiete, simbiose). Dan is daar verskeie “maak jou eie” en “hoe om ‘n … te maak” inskrywings vir outjies wat graag dinge wil maak en boonop kan skole én leerders pryse in die kompetisieswen.
Gaan loer gerus na Supernova se webtuiste vir verdere besonderhede.
Die 16 dae van aktivisme teen geweld (teen vroue en kinders) het gister begin. Hersien die gesin se belangrike noodnommers deur dit in netjiese “Graad 1 skrif” te skryf sodat die kleingoed dit kan natrek. Verkleinde weergawes kan met breë, deursigtige kleeflint beskerm word of gelamineer word. Plak dit in die kamer, langs die telefoon, in die tas of in die huiswerkboekie vas.
Klik op die onderstreepte woorde of op die prente onderaan die skrywe.
Tel elke dag: As die outjie sukkel met telling – met begrip – tel eers net in ene. Gebruik tellers (soos knope of doppies) en skuif dit weg soos julle aftel. Later skuif ‘n mens twee-twee as jy in tweë tel en drie-drie as jy in drieë tel. Skuif eers vir die kind en laat die outjie dan self skuif as hy/sy genoeg selfvertroue het. Dis belangrik dat julle nie te ver tel nie – eers net tot by tien, dan 20, dan 30. As julle genoeg in veelvoude en ene vorentoe getel het, kan julle ook terug tel (Kom ons tel terug vanaf 30. Mooi! Kan jy in tweë terug tel?) Prys elke poging en motiveer met ‘n Steers-roomys aan die einde van die week.
Speel ook speletjies soos Slangetjies en Leertjies. Dit help die outjie om die volgorde (of posisie) van getalle spelenderwys aan te leer. Wanneer jy aan- of terugskuif, is dit in werklikheid aantel en terugtel.
Bespreek die getal: Gee ‘n getal in jou kind se getalgebied (bv. 23). Vra nou vrae soos: Pak vir my 23 krale in die bakkie. Hoe sal jy dit groepeer? (bv. 10, 10 en 3 of 5 en 5 en 5 en 5 en 3…). Hoe skryf ‘n mens die syfer / getal? Skryf vir my die getalnaam. Tussen watter getalle staan 23 as ek tel? (Tel hardop van 1 af as die outjie sukkel of sleep vlugtig die 100-blok nader.) Ontbind die getal – skryf die tiene en ene apart: 20 + 3 en dan 20 + 3 = 23! Praat en bespreek voortdurend. Dit help nogal as jy gemaak “onkundig” voorkom (Haai, kyk hoe slim dink jy. Jy het nou ‘n slim manier gekry om die getal op te breek!) Ontbinding is maklik met flard-/spreikaarte (plaas die regtersye van die kaarte op mekaar om die syfer te vorm en skuif uit mekaar om die tiene en ene apart te sien). Hoe lyk die getal as ek die honderde, tiene, ene apart teken? Wat is * meer en * minder?
Kombinasies: Trek ‘n “hoofletter T” en skryf 23 bo-op die boonste lyn. Skryf bv. 20 aan die linkerkant van die streep en vra vir die outjie wat hy/sy moet by tel om 23 te kry. Sy skryf dan die antwoord regs van die lyn. Skryf verskeie getalle (23 en kleiner) onder mekaar en vra dat die outjie die res van die getal aan die anderkant sal skryf. Hou na die tyd ‘n liniaal onder elke lyn en skryf die somme op ‘n bladsy neer: bv. 15 + 8 = 23, 16 + 7 = 23. Hierdie webtuiste laat jou toe om jou eie getalle te kies en gee dan verskeie kombinasiesomme om te oefen.
Woordprobleme: Nou kan julle die woordprobleem aanpak. Begin aanvanklik slegs met plussomme (antwoorde kan dan toevallig 23 wees).
Jan het 16 sokkies en Johan het 7 sokkies. Hoeveel het hulle altesaam?
Minus bv.: Jana het 23 rekkies gehad. Sy het 4 verloor. Hoeveel rekkies het Jana oor?
Halveer: Neem ‘n vel papier en vou dit in die helfte. Vou oop. Wys nou dat die een heel papier presies in die helfte gedeel is. Die twee dele is presies ewe groot. Dit beteken dat die kleiner blokkies die helfte van die grootte is. Deel ook “slab” sjokolade op. Tel dan die blokkies – bv. 12. Werk nou uit hoeveel elkeen sal kry as julle die sjokoladeblokkies tussen net julle twee gaan verdeel. (Een vir jou en een vir my…) Hoeveel kry jy? Hoeveel kry ek? Dis dieselfde hoeveelheid. Die groot sjokolade is presies in die helfte verdeel. Doen hierdie tipe aftellery gereeld.
Tik gerus ook soekterme soos verdubbel, halveer, woordsom, deling, uitdeel, geld, hoe laat is dit, breuke, vorms, syfer, maaltafels en bewerking by die “soekblokkie” aan die regterkant in of loer na die lysie skakels onder die hofie “wiskunde” én die drukbare bladsye. Klik op die prente in hierdie skrywe vir meer beskrywende inligting.
Maak ‘n tandmuissakkie: Sny twee tande uit wit viltlap en werk die kante toe. Los die bokant (kroon) van die tand oop en verbind dié kante met ‘n mooi stukkie lint (soos ‘n handvatsel). As die kinders dit self gaan maak, kan ‘n mens sterk gom gebruik om die nate toe te werk en ‘n gesiggie met swart veselpen (dun koki) te teken. Gebruik beweegbare ogies om dit ekstra oulik te maak. Nou kan die tand op ‘n spesiale plek vir die tandmuis gehang word.
Gebruik wit vetkryt om ‘n stel tande (druk hard) en rooi om die lippe in te kleur. Verf dit met effens verdunde voedselkleursel en sny uit sodra dit droog is of hou die bladsy in die A4-formaat. Hang die monde aan ‘n tou of vislyne op vir ‘n gangversiering.
Maak gipstande deur die onderkant van ‘n 500ml-koeldrankbottel daarmee te vul en te laat stol. Die holtes van die bottel vorm dus ‘n kiestand as dit om gedraai word. As dit droog is, kan ‘n mens dit wit verf en op ‘n dik karton monteer/plak. Die holte in die middel van die tand kan as ‘n bêreplek gebruik word, totdat die tandmuis die tand kom haal.
Teken (of druk) lippe (en miskien ‘n snor) en verf dit rooi. Knip dit uit en plak op ‘n roomys- of sosatiestokkie. Dit kan gebruik word vir oulike, verspotte foto’s.
Maak lipdiertjies: Maak ‘n lipstiffie-afdruk of doen drukwerk met ‘n lipstempel (sny uit ‘n halwe aartappel of uitveër) en voeg die res van die lyfie by.
Tong:
Maak ‘n masker met ‘n opening in die mond vir die tong. As julle lus het, kan ‘n mens ‘n gleufie in die mond sny en ‘n tong daardeur steek. (Die tong kan uit rooi of pienk vilt gesny word.)
Sny ‘n mond uit die kant van ‘n groot doos. Verf lippe rondom en siedaar! ‘n Teiken vir gooiwerk (gebruik boontjiesakkies).
Tandeborsel: Ouer kinders kan die dae van die week op ewe groot reghoeke skryf en dit in die korrekte volgorde rangskik. Plak die kaartjies soos die hare van ‘n tandeborsel aan die agterkant van die tandeborselraampie. Gebruik ‘n wasgoedpennetjie om die dag aan te dui waarop die outjie sy tande borsel. As mens klein pennetjies (verkrygbaar by kunsvlytwinkels) gebruik, kan jy een vir die oggend- en een vir die aandborsel gebruik. [dae]
Tik gerus ook soekterme soos “higiëne, liggaam, skelet, tandmuis” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in vir meer idees.
Dit is hierdie week Boomplantweek (1 – 7 September) en die boom van die jaar is ‘n waterbessieboom. Dit kan in ‘n groot pot of in die grond geplant word en kan tot ‘n groot skaduboom groei. Soos die naam voorstel, hou die waterbessie van water en groei dit dikwels naby rivierstrome van KwaZulu-Natal tot by Mosambiek.
Watter kunswerke kan ‘n mens maak om bome te vier?
Verf die voorarm en hand bruin en druk dik af op die growwe kant van ‘n vel bruinpapier. Sodra dit droog is kan ‘n mens die buitelyne uitknip om die boomstam en -takke te vorm. Verskaf verskillende skakerings verf sodat elke boom uniek is. Druk groen hande los van mekaar op ‘n aparte vel. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit uitknip en met die vingers uitwaarts op die takke rangskik.
Voeg vrugte by deur die pinkiekant van die vuis in die gekose kleur te verf of daarin te doop (bv. rooi vir appels, oranje vir nartjies, appelkose of perskes). Druk dit op ‘n aparte vel of in die oop dele van die blare-bladsy. Sny uit en plak dit bo-op die blaredos. Indien jy groen stukkies oor het, kan ‘n mens blaartjies by die vrugte voeg.
Kurkproppe: Indien jy nie te veel met die hande wil druk nie, kan jy verskillende kurkproppe in verskillende kleure (dikkerige) verf doop en druk. Die boom sal egter reeds geplak/geteken moet wees – aangesien jy nie die propvrugte sal kan skuif nie. As jy verskillende skakerings gebruik, kan dit die rypwordingsproses voor stel (groen tot rooi of groen tot oranje).
Stel die verskillende fases van ‘n boom voor: ‘n winterboom hoef nie blare te hê nie. As julle in ‘n area woon waar sneeu wel op boom val, kan ‘n mens watte pluis en dunnerig op die takke plak. ‘n Ander idees is om ‘n dun lagie gom aan die bokante van die takke te verf. Sprinkel dan self-gemaakte papier confetti of poeier daaroor.
Bak-en-brou:
Maak soetkoekiedeeg aan en gee vir die outjies sirkels, reghoekige en driehoekige vorms. Die reghoek vorm die stam en die sirkel of driehoek kan die takke en boomtoppe vorm. Meng groen, bruin en rooi kleursel (met versiersuiker) in aparte bakkies. die outjies smeer dan die bruin en groen kleursels op die koekies of verf dit al langs die buiterand. Doop ‘n vingerpunt in die rooi versiersuiker en druk vruggies hier en daar. [‘n Mens kan natuurlik die deeg vooraf kleur.]
Gesonde bord: Gee ‘n stomp plastiese mens om ‘n piesang in skyfies te sny (kan heel hou) en verskaf halfmaanvormige vrugte soos nartjie-, lemoen of appelskywe. Siedaar! ‘n Palmboompie.
Eiergereg: Plaas geklitsde eier in muffinpannetjies (of selfs in ‘n gewone pan) en sprinkel groenigheid soos fyn gekapte pietersielie in ‘n boomvormpie daarop.
Kolwyntjies: Kleur klapper groen. Bak bruin kolwyntjies (laat die outjies dalk help met die beslag) en verskaf die versiering. Druk ‘n pretzelstokkie in ‘n malvalekker. Doop dit malvalekker in water, skud en rol in die klapper. Plant jou boompie in die kolwyntjie.
Die maan draai om die aarde en is ‘n koue massa. Dit het nie ‘n aantrekkingskrag – soos die aarde nie. Ruimtevaarders dra spesiale pakke as hulle op die maan wil loop. Dié pakke gee vir hulle suurstof en die skoene is swaar genoeg, sodat hulle nie kan weg sweef nie. Die ruimtevaarders is meestal wetenskaplikes en vlieëniers wat die maan bestudeer. Niemand loop meer op die maan nie, maar hulle het oorspronklik daarop geloop om sand en klippe te versamel. Dit is later op aarde ontleed. Daar het slegs 12 mense op die maan geloop.
Die eerste ruimtetuig wat op die maan geland het was die Apollo 11. Drie mans was aanboord toe dit geland het: Buzz Aldrin (sy ma se nooiensvan was Moon), Neil Armstrong en Michael Collins. Neil Armstrong was in beheer en was ook die eerste mens ooit wat op die aarde geloop het. Dit het op die 21ste Julie 1969 gebeur en is op die eerste televisies uit gesaai. Hy is onlangs in die ouderdom van 82 oorlede.
Vrydag, 31 Augustus, is dit Blou Maan (of Blue Moon), omdat dit die tweede volmaan binne ‘n kalendermaan sal wees. Dra blou of betrek iets lafs soos dat almal met onpaar sokkies skool toe kom…Maak ‘n ruimtepak of dele van ‘n ruimtepak. Wees versigtig vir ‘n helm (versmoring) en verduidelik aan die kinders dat die ruimtevaarders die helm slegs op die maan kan dra.
Maak ‘n helm deur ‘n getekende gesig onderste-bo, binne-in ‘n glasflessie te plaas. As julle lus het, kan ‘n mens twee derdes van die helm met wit emaljeverf bedek en die gesig (selfs ‘n foto) aan die binnekant van die opening plaas. As julle foto’s of gelamineerde prentjies gebruik, kan julle nou silwer blinkers en water byvoeg.
Ondersoek verskillende klippe en sand in ‘n laboratorium. Sny die bo- en onderkante van ‘n doos af en sny twee gate uit ‘n sy. Plak ou rubberhandskoene in die onderskeie gate en laat die outjies verskillende voorwerpe, vorms, klippe (rivierklippe en ander) ens. voel en bestudeer.
Ruimtetuig: Spat wit of neon verf met ‘n ou tandeborsel op swart papier (sterre). Verf ‘n voetsool met blinkerige of wit verf en trap in die middel van die bladsy as die spatsels droog is. Verseker dat die tone na onder wys. Dit is die middel van die ruimtetuig. Voeg ‘n keëlvormige of driehoekige rooi punt aan die bokant by en vlamme tussen die tone.
Maanstewels: Sny dik stukke polistireen in die vorm van ‘n waterstewel se sool uit en plak vas of draai dit met kleeflint vas . Jy kan verskillende patrone in die sool vorm deur dit uit te krap. Die outjies kan dan op hul sandputmaan gaan loop en patroontjies trap.
Nog maanstewels: Gebruik ou koffieblikke en sterk tou.
Suurstoftenks: Draai twee leë plastiese koeldrankbottels onderste-bo en plak aan mekaar vas met sterk kleeflint of maskeerband. Voeg twee skouerbande by sodat dit soos ‘n rugsak gedra kan word (ou linte of stroke materiaal behoort voldoende te wees). Jy kan dit nou met blink foeliepapier vul of spuitverf. Knip lang stroke oranje, geel en rooi linte, “crinkle paper” of snesiepapier. Druk die punte by die bottels se bekke in en draai die proppe vas. Dit behoort lekker tydens fantansiespel te werk.
Versier die boekrak met groot rooi driehoeke sodat dit soos ‘n groot ruimtetuig lyk. Pak dit vol ruimtestories.
Doen die bogenoemde ook sommer met die klas se deur.
Maak ‘n ruimte-kamer: Bou ‘n fort met ou lakens, gebruik ‘n klein tent of ‘n groot kartondoos. Voer dit uit met “glow in the dark” sterre en verf. Dit kan ‘n lekker stilleeshoekie maak.
Maak maansand om mee te speel. Die resep lyk heel maklik en die kleingoed sal vir ure lank besig bly. Pak verskillende koppies en vormpies uit, sodat hulle kraters in hul mane kan vorm.
Pak ballonne (effens pap) van verskillende groottes uit. Stel stroke ou koerant, growwe papier en selfs bubble wrap beskikbaar. Gee dan vir die outjies gips waarmee hulle die koerantpapier om die ballonne kan plak om ‘n growwe tekstuur te vorm. Sodra dit droog is kan ‘n mens die mane op hang en ‘n blou gloeilamp daarop laat skyn.
Verf papierborde met dikkerige verf (soos pasta) en druk kraters daarop met bubble wrap of verskillende lepels (ronde lepels se agterkante werk goed). Iemand het ‘n verfmengsel soos volg voor gestel: 1/2 koppie wit gom & 1 en ‘n 1/2 koppie skeerroom gemeng.
Maak maan confetti met ‘n gewone gaatjiepons of ‘n spesiale een. Dit behoort die handspiertjies lekker sterk te maak. As julle wit papier en foelie gebruik, kan ‘n mens dit bo-op ‘n papierbord of ‘n ronde ballon plak.
Maan borsspelde: Spuitverf vooraf ou blikbotteldoppies met ligblou of wit verf. Gee dan vir die outjies ‘n haakspeld of borsspeldplaatjie om daarop vas te plak. Vul die doppie met gips en sodra dit droog is, kan ‘n mens dit wit (of blou) verf en silwer blinkertjies in die nat verf laat val.
Druk die rond uitveër agter-aan ‘n ou potlood in wit verf en doen drukwerk op swart papier. ‘n Mens kan spelwoorde of name met die drukwerk skryf.
Die Olimpiese Spele is om die draai en daar is lekker baie om te beplan. Hiermee so ‘n paar voorlopige gedagtes…
Die ringe
Vir die kleintjies kan ‘n mens by die embleem begin en aan hulle verduidelik wat die vyf ringe beteken. Dié kleure is gekies, omdat dit die meeste op wêreldvlae voor kom en die ringe verteenwoordig die vyf hoof kontinente: Asië, Afrika, Europa, Amerika en Australië.
Daar is vyf ringe. Wie kan tot by vyf tel? Wie kan in vywe tot by ‘n gegewe getal tel? Watter vorm is die ringe?
Gebruik verf en iets sirkelvormigs (soos plastiekglasies) om die ringe met drukwerk na te boots. Maak ‘n raam reg rondom die rand van ‘n papier om later vir ‘n uitstalling of kreatiewe skryfwerk te gebruik.
Verf papierborde in die onderskeie kleure, knip die middelste deel uit en skakel dit aan mekaar.
Maak medaljes uit soutklei en verf dit in goud, brons en silwer. Elke outjie kan sy eie medaljes maak of dit kan vir goeie gedrag, behulpsaamheid, en dies meer gebruik word.
Draai ‘n rolletjie lekkers soos ‘n aflosstokkie toe. Dit behoort ‘n lekker beloning vir goeie werk te wees.
Dink aan verskillende belonings – nie net akademies van aard nie. Hou dan ‘n klein seremonie om die belonings te oorhandig. Gebruik bankies van verskillende hoogtes as jy wil.
Die simboliek van die wennerspodium kan lekker ingespan word om trappe van vergelyking te verduidelik (vinnig, vinniger, vinnigste).
Buitespel /Liggaamlike oefeninge
Maak julle eie ritmiese gimnastiekstokkies. Kap ‘n metaal ogie aan die een kant van ‘n ronde stokkie (dowel) in, haak ‘n ogie (swivel) daarin en buig toe. Knoop ‘n lang, breë lint daaraan vas en gee vir die kleingoed om mee te speel. Onthou om spesifieke reëls daar te stel soos beperkte getalle, afgebakende “dans”-ruimte en veiligheidsmaatreëls.
Grawe in die LO-stoor en gebruik al die vergete toerusting. Is daar dalk iets soos gimnastiekringe wat ‘n mens buite aan die klimraam kan hang?
Betrek toerusting soos die groot matte vir bollemakiesie, klein trampoliens, balle (vir gimnastiek) en lae bankies vir balansering.
Bied ‘n demonstrasieles aan om vir die outjies meer oor sporte soos Gimnastiek te leer.
Gooi balle of boontjiesakke na teikens.
Watter ander sportsoorte se vaardighede kan op geskerp word?
Wiskunde
Watter vorm is ‘n gimnastiekmat? ‘n Hokkiebal? Watter vorms kruip op ‘n sokkerbal weg? Watter vorm is ‘n atletiekbaan? ‘n Atletiekbaan se is bane ewewydig. Wat is dit?
Watter item is die langste op ‘n atletiekbaan? Die kortste? Wat is die verskil in lengte tussen hierdie twee items?
Hoe hoog word die hekkies vir mans en vir dames gestel? Wat is die verskil?
Hoeveel atlete kan op ‘n slag wegspring? Dus hoeveel bane is daar?
Hoeveel atlete is in die onderskeie items se spanne (bv. sokker, hokkie, swem)?
Hoe lank is ‘n minuut (meet dit af met ‘n “aftel-wekker”) of ‘n uur?
Doen somme in verband met tyd. Bv. Elana neem 10 minute en 20 sekondes om die wedloop te voltooi en dit neem Jana 12 minute en 20 sekondes. Wat is die verskil in tyd?
Trappe van vergelyking gaan redelik baie voor kom. Bv. langste afstand, vinnigste tyd, vinniger, hoër..Hou rekord van al hierdie woorde deur dit op die bord aan te bring. Dit kan in skryfwerk of ‘n taalleerles (Graad 3+) gebruik word.
Skryf opstelle uit die oogpunt van ‘n atleet – nie noodwendig ‘n “wen”-verhaal nie, maar oor ervaring (bv. wat jy sien, hoor, voel, ruik…).
Tydens skriflesse kan die kleintjies die Olimpiese ringe natrek – antikloksgewys. Dit kan ‘n voorganger wees vir lesse in verband met klanke a, d, g, s, f.
Ander
Maak ‘n interessante, kleurvolle muurversiering – wat ‘n wêreldkaart insluit. Dui Londen daarop aan en dalk die lande wat deelneem of die spesifieke atlete se lande van herkoms rondom aan. Loer hier na Suid-Afrika se atlete.
Wanneer was die eerste Olimpiese Spele en wat het die Grieke daarmee te doen gehad? Weet julle watter sportsoorte aan die Spele deelneem en wat die onderskeie name in Engels is?
Lees meer oor die Antieke Spele en verbreed jou kennis.
Iemand het onlangs vir lesidees oor grond gevra. Hiermee dan so ‘n paar idees…
Eerstens kan ‘n mens vrae vra soos “Wat is grond?” “Waar kry ‘n mens grond?” “Wat is die verskil tussen grond en sand?” (‘n Mens kan seker vooraf ‘n saadjie in grond en een in sand plant om te kyk watter een die plantjie sal help groei.) “Hoe lyk grond?” Vrugbare grond is donkerig en vol klipperigheid. Plante, bome en selfs diere soos molle lewe daarin. Grond het verskillende lae – van ‘n rotsbank diep onder die oppervlak tot die bolae wat sag en los genoeg is vir die wortels van plante. (Dalk kan ‘n mens ‘n “blok” grond iewers uitspit en vir die outjies die lae daarin wys.) Maak ‘n groot muurcollage om die verskillende lae in gond aan te dui. Teken vooraf die buiteraam en gee vir verskillende groepe die opdrag om ‘n spesifieke laag te bestudeer (gee boeke, prente of voorbeelde). Die groep kleur dan die bladsy in met groot klippe en donker grond, klein klippies en ligter grond, ‘n laag met boomwortels en later ‘n laag met gras. As jy wil kan ‘n mens die lae vooraf teken, laat inkleur en die kinders gesamentlik laat besluit watter laag onder, bo, ens. sal wees.
As dit moontlik is, kan ‘n mens klei-, leem- en sandgrond onderskeidelik vir hulle wys. Gee vir hulle ‘n paar geskrewe vrae, ‘n sif en ‘n vergrootglas. Hoe lyk die grond in die blou bak? Hoe voel dit? Strooi ‘n koppie vol grond deur die sif. Wat bly op/in die sif agter? Hoe groot is die stukkies? Watter kleur is dit? Kan jy ‘n modderkoekie daarmee vorm? Val dit uitmekaar? Hoe ruik die grond in jou bak as dit droog is en as dit nat is? ‘n Mens kan stasies opstel met verskillende klanke (letters), syfers, vorms en patrone teen die muur geplak. Die kinders kan dan hul skrif in die verskillende tipes grond “skryf”. Dit is sommer ‘n lekker sensoriese aktiwiteit én kan dien as deel van intervensie.
Vrugbare grond is belangrik om plante en bome gesond te hou. Wat maak grond swak? Dink aan erosie, sterk wind en verspoeling. Hoe sal ons die grond bymekaar hou? Demonstreer erosie deur ‘n gieter water oor ‘n skuins geligde bak sand te giet. Daarna kan ‘n mens water oor ‘n blok gras giet.
Sny plastiekbakke of groot, 5 liter-waterbottels in die helfte, maar behou die tuit. Gebruik dieselfde grond om die onderskeie bottels te vul. Kry ‘n sooi gras (blokkie by die skoolopsigter) wat jy bo-op ‘n lagie gruis “plant”, strooi vir ‘n tweede bottel en los die derde bottel net so. Hang bakkies onderkant die tuite en laat die outjies help om dieselfde hoeveelheid water in elke bottel te gooi. Kyk hoe vinnig die hangende bakke vul en hoe helder die water is. Vergelyk. NB: Deursigtige houers verseker dat meer kinders kan sien wat gebeur…andersins moet die klas in klein groepies verdeel word.
Hoe hou ‘n mens die grond gesond? Hier kan ‘n mens ‘n bietjie oor kompos en komposhope gesels. Dalk kan ‘n mens ‘n kwekery besoek of iemand van ‘n kwekery nader om die prosesse te verduidelik. As julle in ‘n boerderygemeenskap woon, kan ‘n mens ‘n boer of plaaswerker as spreker gebruik en selfs ‘n plaas besoek.
Dink kan die belangrikheid van erdwurms, kompos en bemesting. Vul ‘n deursigtige houer (bv. ‘n koeldrankbottel met dreineringsgate – of selfs ‘n geseëlde CD-omhulsel) met verskillende lae klippies en potgrond (potting soil). Saai saad wat vinnig opslaan of plant ‘n plantjie. Laat die kinders ‘n paar erdwurms saam bring skool toe en voeg dit by die houer. Die erdwurms behoort elke nou en dan sigbaar te wees – veral as dit ‘n dunnerige of nou houer is. Indien julle eerder ‘n wurmhouer wil maak, kan julle ‘n geskikte plekkie buite soek om die wurms en komposhoop aan te hou. Onthou om die houer toe te hou – met die Hadeda’s in gedagte. Dalk kan die klas met die wurms, wurmtee of vrugbare grond woeker of ‘n bydrae lewer tot Boomplantdag!
[Maak julle eie jellie erdwurms deur rooi jellie in strooitjies te laat stol.]
Ek het gevind dat die meerderheid kinders worstel met omkerings (spieëlskrif) en lettergreepverdeling. Dit is natuurlik ‘n veralgemening, maar as ‘n mens so deur hul boeke blaai…word die veralgemening ‘n werklikheid.
Die volgende omkerings vind baie plaas:
b / d / p / 9 (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
u / n (verwarring van rigting wanneer die simbool uit geken word)
t / j
Dan kry ons ook die volgende vervangings of verwarrings:
h / j
m / n
f / v
In uitsonderlike gevalle verwar kinders ook b en w. Hierdie is egter (soos h / j) ‘n ouditiewe diskriminasie uitval.
b / d (ook van toepassing op b / d/ p / 9)
Vir hierdie verwarring is ‘n groot hoeveelheid visuele diskriminasieoefeninge nodig. Byvoorbeeld:
soek die b of d in die ry langsaan
watter prentjie begin met ‘n b of d?
watter prentjie begin nie met ‘n b / d nie?
omkring die woord wat met ‘n b / d begin
soek die b / d in die koerant artikel, tydskrif opskrif, ensovoorts
Taktiel (voel):
maak ‘n lang, dun, opgestopte skrifslang en buig dit in die vorm van die klanke
vorm die klank met klei
skryf die klank in sand – met die vinger
skryf die b met jou vinger teen ‘n boom se stam
skryf die d met jou vinger op die deur
doop jou vinger in water en skryf die klanke op sement of teen die bord
voel oor die klanke op ‘n robotkaart
maak dus ‘n vergroting van die klank
plak ‘n groen kol waar die klank begin en ‘n rooi kol waar dit eindig
b begin bo en d begin in die draai
lê op die mat en probeer om die letter met die lyf te vorm
staan en vorm die letters met die liggaam
Ouditief (gehoor):
noem drie woorde en vra “wat hoor jy eerste?”…bos, bak, buk…of…das, dek, dit
noem ‘n paar woorde op en vra aan die kind om ‘n spesifieke gebaar te maak as die woord met b of d begin (steek hand op, snap vingers, knip oë, ens.)
f en v
Hierdie is een van die “gewildste” verwarrings. Dit is egter makliker om te remedieer as baie van die ander verwarrings. Na aanleiding van ‘n paar opgemaakte reëls, oorkom heelwat kinders die uitval.
f
flaminkis die enigste voël (waaraan ons kan dink) wat met ‘n “f” begin. Ons teken gewoonlik ‘n strepie in sy nek en siedaar! Sy kop en nek vorm sommer ‘n “f”.
Dinge wat stukkend of verniel beteken soos fyn, flenters, fraaiings, frommel…(*)
Dinge waaraan ‘n mens kan vat of wat ‘n mens kan sien – mensgemaak – soos fabriek, fiets, flits…(*)
Dinge wat ‘n mens kan wees soos fraai, flou, fier, familie…(*)
Aan die begin, einde of in die middel van woorde
v
Dinge wat vlieg of vinnig is soos vlieg, vlerk, vuurpyl, vuur (brand vinning), vlam, vlooi, viool (speel vinnig anders slaap ek)
Dinge wat met my lyf te make het soos vel, vingers, voete, vryf
Dinge wat met diere – veral plaasdiere – te doen het: soos vark, vul, vee, vos, vleis, volstruis, voer, vreet
As ‘n woord met “ver” begin, skryf ek altyd v-e-r.
Maak plekmatjies uit ou padkaarte, scrap book papier of uit papier wat julle self met patroon- en verfwerk versier het. As jy die papier op vilt of kurk wil plak moet jy sorg dat die hele oppervlakte met gom gesmeer word. Kies jou eie vorms – sirkels, hande, vierkante – en seël dit met ‘n lamineerplastiek of modge podge (verkrygbaar by kunsvlyt winkels).
Jy kan ook foto’s van die kinders neem en met die rekenaar se drukker (swart op wit) druk.
Kies ‘n keramiekblompot en druk dan motiewe met stempels daarop. ‘n Mens kry hierdie potte in verskillende groottes – selfs baie klein. ‘n Kruiesteggie (soos tiemie) kan die geskenk sommer prakties ook maak.
Kleur hout wasgoedpennetjies in neutrale kleure, pastelle of selfs helder kleure (met voedselkleursel of verf). Knyp ‘n menigte aan ‘n dik stuk draad vas en gebruik dit as ‘n potstaander in die kombuis…
…of knyp die pennetjies aan gordyndraad vas en hang dit aan ‘n ou fotoraam. Knyp so ‘n paar foto’s hier en daar vas en siedaar! ‘n Memento van ‘n spesiale geleentheid of mensie.
As ‘n mens so iets in ‘n klas wil doen, kan jy eers ‘n agtergrond skep met gras en blou lug op dik karton. Plak die pennetjies in ‘n kurwe vas en sorteer die kleure in ‘n patroon (bv. pienk, pers, wit, pienk, pers, wit). Knyp dan sê-goed in van die pennetjies vas of selfs ‘n foto. In plaas van ‘n draad, kan die pennetjies met ‘n mooi lap lint verbind word.
As jou skool slinger-naaimasjiene het, kan die ouer outjies eenvoudige vorms uit lap sny. Stop dit met roosblare of laventel en stik toe. As daar kommer oor allergieë heers kan ‘n mens die sakke met watte stop en laventel olie daarop druk. Dit behoort vir ‘n wyle lekker te ruik.
Hierdie een het ‘n bietjie meer voorbereiding nodig… Grawe in die store, op afvalhope of in die ou houtwerkklas vir afval hout, skroewe, deurknoppe en skaf goedkoop blik eetgerei aan. Kap ‘n gat deur die lepel en buig dit. Die kinders kan die blokkies verf, kleur en op ‘n kreatiewe wyse versier. Skroef die lepel of knop vas en daar het jy ‘n haak vir ‘n handdoek of ‘n jas.
Gebruik die idee van stikwerk en sny minstens twee tot drie ewe groot blare uit verskillende skakerings vilt (oranje, rooi, bruin, geel). Steek of plak dit aan mekaar vas en stik dan al om die rand en deur die middel om ‘n blaar-effek te skep. Dit behoort ‘n hand teen warm borde te beskerm.
Ek het ‘n paar navrae in verband met Bybellesse en Sondagskool ontvang. Ek plaas hiermee skakels na baie oulike webtuistes wat idees bied om die lesse vas te lê. Dit is nie ‘n kurrikulum nie en dien slegs as aanvullende hulpmiddels vir die jongspan.
Grondslagfase Gediggies en Versies 1: Grond, Geld, Hemelruim, Vervoer, Water, Familie, Vrugte, Tyd, Skool, Diere (troetel-/plaas), Donderweer, Dae, Seisoen, Gogga, Herwin, Was, Telrympie, Warm en Koud…
Grondslagfase Gediggies en Versies 2: Sirkel, Driehoek, Reghoek, Sfeer, Kubus, Keël, Wurm, Mier, Muskiet, Grondspel, Ons vlag, Suid van die ewenaar, Einde van die jaar, Oupa, Ouma…
Grondslagfase Gediggies en Versies 3: Atletiek, ‘n Nuwe Uniform, Juffrou, Die tannie in die kantoor, Groet, Ons klas, Kleure, Veilig, Krag, Skerp, Water, Deur, Venster, Vuur, Sintuie, My Liggaam, Vlinder, Slakkie, Vlooi, Ons hond, Kat, Miere, Die foon, Kommunikasie, Trekker, Ballon, Reise, Kos, Ouma se ete, Tante Getruida se trui, Soet, Koei, Kraai, Ooi, Meeu, Tradisie (in ons land)…Klinkerrympies
Dit is Paasfees en die kleingoed soek moontlik na lekker besigbly idees om hierdie spesiale naweek te vier. Hierdie idees fokus op versierings en kunsvlyt:
Sny groot kruise uit ou koerantpapier. As jy ‘n lekker dik veselpen (koki) gebruik, kan die kleingoed dit self doen. Laat hulle die kruise met dik verf en koekiedrukkers (of selfs hande) versier of verf dit met verskillende kleure voedselkleursel. Dit kan die kamerdeur of ‘n buitemuur versier. Indien die outjies oud genoeg is, kan hulle gepaste Bybelverse op die kruise skryf.
Plak ‘n kruis vol munte om in ‘n kollektebordjie te plaas.
Maak items vir ‘n Opstandingstoneel. Dit behoort ‘n oulike uitstalling te vorm of kan ‘n vertelling vergemaklik.
Doen ‘n bietjie patroonwerk met iets soos jellie beans (ovaalvormig) of ringvormige lekkers (life savers). Die ringvormige lekkers sal maklik geryg kan word, maar ‘n volwassene sal beslis met die jellie beans moet help. Maak dan armbande as ‘n Paasgeskenk.
Sny ovaalvormige sjablone of stensils uit harde karton of ou x-straalplate. Trek dit af op “scrapbook”-papier en verdeel jou ovale tussen eiers en hasies. Die vorms is lekker eenvoudig vir klein handjies om uit te knip.
Maak ‘n “kringetjies en kruisies” raamwerk (op papier/met stokkies of linte) en speel julle eie speletjie.
Pak verskillende patrone met die vorms.
Hang dit aan droë takke as versiering.
As jy verskillende papier gebruik, kan jy dalk twee vorms van elk maak. Die outjies moet dan soortgelyke papier bymekaar pas of selfs ‘n eier en ‘n hasie van dieselfde papier pas.
As jy ‘n dekoratiewe pons het – een wat ‘n oulike prentjies maak of selfs net ronde gate – kan julle verskillende kleure papier vol gate druk. Versamel die confetti en plak dit op ovaalvorms of tuisgekleurde eiers. Hierdie drukwerk is sommer ‘n lekker oefening vir die handspiere (fynspiere). Julle kan natuurlik ook ou koerante met verskillende kleure voedselkleursel verf, laat droog word en dus julle eie papier maak of herwin.
Sny hasies uit verskillende tipes papier (gekleurde koerantpapier, bruinpapier, bont papier, afval geskenkpapier). Gebruik die hasies op kaartjies of plak/stik hulle op ‘n lang stuk lint vas. Dit kan ‘n pragtige vensterversiering maak.
Sonvangers: Trek ‘n groot eiervorm op witpapier. Laat die outjies dan vetkryt skerp maak en strooi die skaafsels rond-en-bont op die eier. Plaas ‘n vel bruinpapier of waspapier bo-oor en smelt die kryt met ‘n strykyster. Die strykyster kan natuurlik met ‘n lekker warm oondpan vervang word (soos ‘n pers). As die kryt gesmelt het en jy tevrede is met die kleurverspreiding, kan julle die eier met verdunde voedselkleursel verf of net so gebruik. Knip die eiervorm uit en hang dit iewers voor ‘n ruit of bo die etenstafel op.
Laat die kleingoed confetti uit bont papier druk en strooi dit oor ‘n ovaalvorm.
Versier lepels met sjokolade – om ‘n sjokoladedrankie mee te roer.
Kuikens: Gebruik ovaalvormige vorms om drukwerk te doen. Gebruik geel verf vir die ovaalvorms en wanneer dit droog is, kan julle oranje driehoekbekkies daarop plak of druk.
Kuiken in ‘n eier: Trek ‘n sigsaglyn deur ‘n eier en knip dit deur. Plak die helftes op die afsonderlike bene van ‘n wasgoedpennetjie. Maak ‘n kuikentjie om agter (“in”) die onderste helfte te plak. Nou kan die kuiken vir jou loer met elke knyp.
Woorde