Hierdie insetsels was Dinsdag, 15 Januarie 2013, in DIE BURGER. Dit bevat baie oulike inligting. Ongelukkig kon ek nie die aanlynskakel op gespoor het nie.
eerste dag
9 Januarie 2013
afrikaans by, dagprogram, eerste dag, Graad 1, Graad R, juffrou, kaartjies, klas, naamkaartjie, prente, skool, uil, volstruis 6 Kommentaar
Die eerste dag van Graad 1 is baie spesiaal, want hierdie jaar gaan die outjies leer lees en dus is daar groot opgewondenheid. Wat kan ‘n juffrou doen om die outjies te verwelkom?
- Stel ‘n pakkie met inligting saam (oor die skool se geskiedenis, akademie, sport, kulturele bedrywighede, gemeenskapswerk en reëls) om aan die ouers te oorhandig. Só kan hulle na afloop van die eerste dag reeds bewus wees van belangrike reëlings voordat jy dit by die eerste oueraand kan oordra.
- Besluit hoe geld (bv. snoepie, fooie) hanteer sal word. Gebruik die outjies beursies of gemerkte banksakkies? Word dit in die tasse gehou of het die klas ‘n kluis?
- Wat gebeur met verlore items? Word daar ekstra skryfbehoeftes by die skool gestoor indien ‘n potlood sou breek of iets aan gevul moet word?
- Maak inligtingstukkies vir die kennisgewingsbord met goeie gewoontes vir die skooljaar. Bv. foto’s van gesonde kosblikke (“Lekkers slegs op Vrydae”), netjiese potloodblikkies (“My skryfbehoeftes is gemerk”), netjiese skooltasse (“My tas is gereed”), boodskapboekies en die skooldrag (ook foto’s van die sportdrag). Dít kan in die gang geplak word, sodat die ouers en kinders dit kan raak sien oppad klas toe. Herhaal dit in die inligtingstuk.
- ‘n Ander gedagte is om elke klasdeur met ‘n spesifieke kleur te verf. (Bv. Juffrou D se deur is pers.) Verf dan baksteengrootte stippellyne (of ‘n soliede lyn) in die gang en merk dit met pyle en klein fototjies van die klasjuffrou. As die outjie dan verdwaal, volg hy net die lyn en foto’s tot by sy juffrou. ‘n Mens kan ‘n rigtingbordjie buite kernklasse (of die badkamers) aan bring om hiermee te help. As jy later kinders na ander juffrouens wil stuur, kan jy bloot aandui dat die outjie bv. “die groen lyn” moet volg.
- Dit is belangrik om vir die outjies te gaan wys waar al die belangrikste plekkies is en ook hoe om daar te kom (bv. die badkamer en sekretaresse).
- Indien daar ‘n goeie fotograaf in die skool is, kan dié persoon van elke kind ‘n foto neem vir die skool se webtuiste of vir die koerant. Dit kan nogal baie tyd in beslag neem en daarom sal hierdie fotosessies vroeg reeds moet begin.
- Stel ‘n fotohoekie of twee op waar ouers en kinders “eerste dag van skool” foto’s kan neem:
- ‘n versierde muur of swartbord
- ‘n gang
- die klimrame behoort oulike agtergronde te bied
- Leen ‘n poppekasraam om deur te loer.
- Groot, ou rame
- Skryf ‘n boodskap op ‘n klein swartbordjie wat die outjies kan vas hou.
- Stapel ou boeke op en plaas ‘n rooi appel daarop.
- Gee groot, los letters of syfers (bv. R, 1, 2, 3) om vas te hou.
- Boublokkies met letters (bou byvoorbeeld abc, Graad 1, groot skool…)
- Verseker dat elke kind ‘n spesifieke staanplek vir sy tas het. ‘n Tydsame, maar effektiewe manier om alles uniek te merk (naamkaartjie, sitplek, stoel, tasrak…) is om ‘n unieke prent aan elke leerder toe te ken. Bv. Jana Louw het ‘n krimpvarkie en Jayda Van Wyk het ‘n flamink. As ‘n mens dit lamineer, kan jy die kaartjies later rond skuif en behoort dit heel jaar te hou. [kaartjies met prente]
- Kies ‘n tema vir die klas en gebruik dit in boodskapbriefies, naamkaartjies en versierings. Versier die klasdeur met kindervriendelike prente of gebruik selfs ‘n toegangslengte/-maatstok om “slegs kinders” toe te laat (amper soos by pretparkritte).
- Dit is baie spesiaal om by ‘n klas in te stap waar die juffrou verrassings op die tafels gepak het. Soek storieboekie oor die eerste dag van skool, sodat die ouers en kinders dit kan lees terwyl jy ander kinders by die deur ontvang. Verskaf groot velle papier waarop die outjies kan teken of inkleurprente. Wat van ‘n lekkernytjie en snesies?
- Plaas ‘n unieke naamkaartjie op elke tafel – waarop die ouers hul nuutste kontakbesonderhede kan skryf en voorsien ‘n blik of “posbus” daarvoor by die deur. Indien daar ‘n noodsituasie sou op duik, kan jy die kaartjie vinnig trek en die ouers kontak.
- Jy kan die kinders betrek om saam met jou die klas te versier. Gee byvoorbeeld vir elkeen ‘n groot vorm (nie net driehoeke nie) om te versier en uit te knip. Jy kan karton, scrapbook papier, tafeldoek plastiek of selfs lap gebruik (as jy self wil sny). ‘n Eenvormige kleur, verf en ‘n groot stempel (soos potlode of appels) kan baie effektief wees op hierdie tipe “bunting” of vlaggies.
- Met groepwerk kan jy kunsdoeke voorberei en vir die outjies haardroëers gee om vetkryte daarop te laat smelt. Gebruik dit as deurversiering (fotoraam met ‘n lawwe, eerste dag klasfoto) of hang verskeie kunsdoeke in die gang op. As jy lang stroke lap só (of met spatsels onverdunde voedselkleursel) kan versier, kan ‘n mens rame vir die aansteekbord maak. Onthou om voorskote te dra!
- Boekmerk: Gee roomys- of tongstokkies met ‘n “inkleurprent” wat die outjies met veselpenne of verf kan versier. Hoe groter die stokkie, hoe netjieser kan hulle werk. Elkeen kan sy eie naam agterop skryf en die boekmerkies huis toe neem of in die klas gebruik.
- Maak ‘n spesiale bak-en-brou happie om huis toe te neem of voorsien dit aan die einde van die dag.
[dagprogram] [uiltjies-dagprogram] [bytjie-dagprogram]
[volstruis-dagprogram] [liewenheersbesie-dagprogram]
[olifant-dagprogram]
Vir hulpmiddels, tik gerus soekterme soos “muurprent, abc, klanke, syfer, engels, hulpmiddels, flits…” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in.
Bybelverhale en Sondagskool
28 April 2012
afrikaans, inkleur + aktiwiteite bid, Bybel, Christelik, gebed, gebede, Graad 1, Graad 2, Graad 3, Graad R, liedjies, Sondagskool 10 Kommentaar
Ek het ‘n paar navrae in verband met Bybellesse en Sondagskool ontvang. Ek plaas hiermee skakels na baie oulike webtuistes wat idees bied om die lesse vas te lê. Dit is nie ‘n kurrikulum nie en dien slegs as aanvullende hulpmiddels vir die jongspan.
Afrikaans
1. Bybelklub
3. Webwoord
4. Gebede
6. Werksvelle
9. Die Here is my herder (trek na of gebruik as muurkaart)
10. Die liefde (trek na of gebruik as muurkaart)
11. Psalm 16
12. Die man wat blind gebore is.
14. My Bybel doen en leer boek. (3 Boeke)
16. Jesaja 9 vers 5
17. Johannes 3:16
18. Lesse
19. Stories in inkleurprentvorm
20. Bybel inkleur
21. Graad 4 – 6 Lesse wat leef (Ander)
Engels
4. DLTK (Sluit kunsvlyt idees in)
6. Christian Preschool Printables
8. Bible Kids
9. File Folder Fun (skryf in – gratis)
10. My Bible do and learn book (3 Books)
12. Stories in inkleurprentvorm
Doen en Leer boeke in ander tale
Inkleur 1. Coloring-pages 2. Bible coloring pages 3. Christian Coloring pages
Soekie Krog se saamsing liedjies.
tuis idees in beeld
14 November 2011
afrikaans fyn motoriek, fynspier, Graad 1, Graad R, klanke, klei, knip, naam skryf, oog-hand koördinasie, skrif, skryf, syfers, voorskool, vorms 12 Kommentaar

Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help. Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…
- Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk. Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word. Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
- Druk die naam groot uit en skryf bo-oor die letters met ‘n gomstiffie. Strooi of sprinkel blinkertjies, sand of poeier bo-oor. Sodra dit droog is, kan ‘n mens met die vinger bo-oor voel.
- Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël. (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf). Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop. Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
- Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf. Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen. Dan het ons sommer ook in sand geskryf. Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf. Ons hou die skrif egter groot.
- Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak. ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter. As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
- Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi. Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word. ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
- Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat. Skryf en teken daarin. Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê. Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf. As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
- Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur. Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken. Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning. Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
- Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi. Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed. Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif. Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
- Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk. As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
- Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi. Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk. ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie. Kurkproppe en knope werk net so goed.
- Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene. Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip. Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.
Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog. Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in. Lekker oefen!
hersiening van klanke
5 Julie 2011
afrikaans aa, aai, drieklank, dubbelklank, ee, eeu, ei, eu, FAL, Graad 1, Graad 2, Graad 3, ie, intervensie, klanke, oë, oei, oo, ooi, ou, tweeklank, ui, uu, vakansie 8 Kommentaar
Môre! Vir dié wat graag die dubbel-, twee- en drieklanke wil vaslê of ‘n muurkaart wil maak het ek so ‘n paar voorbeelde geplaas…(loer onder drukbare bladsye)
- Knip elke blok apart uit en plaas dit op ‘n A4-karton sodat julle nog woorde met die klanke daarin kan byvoeg…Steek dit teen ‘n kennisgewingbord vas of liaseer dit in ‘n lêer of selfs ‘n ou skoolboek.
Gebruik die woorde in beskrywende sinne of om dit selfs lekkerder te maak, kan julle ‘n dobbelsteen gooi en daardie aantal woorde aftel om ‘n woord vir die sin te kies. Die dobbelsteen werk goed vir outjies wat regtig nie van sinne hou nie.- ‘n Ander opsie is om deur ou tydskrifte te blaai en om woorde met hierdie klanke uit te sny. Kies woorde uit opskrifte om op die onderskeie blaaie te plak (natuurlik kan die kleingoed die knip en plak werk doen as jy die bladsy uit geskeur het).
- Kies ‘n woord (bv. met behulp van die dobbelsteen) en kyk hoeveel rymwoorde julle kan vind. Kan julle jul eie rympies vir elke klank maak?
- Druk die dokument genaamd “Tweeklanke woordsoeke” wat ek tydens die Sokker Wêreldbeker opgestel het uit. Gebruik verskillende kleure om die onderskeie woorde te kry.
- Kyk ook na die legkaarte onder “drukbare bladsye” en die verskillende idees of aktiwiteite om volgens kalenderdae te doen.
Lekker speel en lekker leer 😉
meer en minder
7 Maart 2011
afrikaans Graad 1, meer as, minder as, somme, syferkundigheid, wiskunde 10 Kommentaar
F het gevra hoe ‘n mens wiskundige konsepte soos meer as en minder as aan ‘n Graad 1’tjie kan verduidelik. Die maklikste is seker met behulp van lekkergoed. Trek ‘n pakkie Smarties nader vir hierdie een en druk die onderstaande werksvelle uit…
- Begin eers deur ‘n getalgebied vas te stel. Bv. Ons somme strek van 1 tot 10.
- Tel 10 lekkers uit. Tel hulle van 1 tot 10 en dan van 10 af terug tot by 1. Vir die laaste deel kan jy die lekkers byvoorbeeld op ‘n bordjie pak.
- Kyk na die werksvel. Begin eers met een minder en meer as. Tel 8 lekkers uit. Wat is 1 minder? (Pak 1 lekker terug op die bordjie.) 7! Goed…en as ons 8 het en ons dit 1 meer maak beteken dit ons moet een meer by sit. Dit is 9.
- Gaan deur die getalle en hou die proses telkens dieselfde. Druk op die prentjie met die min of met die meer lekkergoed – ter herinnering.
- As die bewoording lol, kan jy drie hopies lekkers uittel. Bv. 2, 4 en 5. Gee die 2 aan die kleinding, gee die 4 aan pappa of ‘n boetie en hou die groepie van 5. Vra vrae soos “Wie het die meeste?”, “Wie het die minste?”, “Wie het meer as jy?”, “Hoeveel is dit meer as joune?”…Hier kan jy die groepies dan uittel en afpaar…Jy het 1. Jannie het 1. Jy het ‘n 2de lekker. Jannie het ‘n 2de lekker. Jy het niks meer nie, maar Jannie het ‘n 3de en ‘n 4de lekker. Hy het 2 meer as jy. Jy het 2 minder.
- Goedkoop speletjies soos Slangetjies en Leertjies sal ook verdere vaslegging kan aanhelp, want die outjie moet ‘n sekere aantal plekke aanskuif of terug skuif (i.e. meer maak of minder maak).
Dit gaan baie herhaling en konkrete werk verg, maar sodra die outjie die konsep begryp, is daar ‘n vuis vol lekkergoed as beloning! 😉 Baie sterkte!
minder as meer as (werkvel)

lê i en u vas
13 Februarie 2011
afrikaans Graad 1, klanke, klinkers Lewer kommentaar

Iemand (E 😉 ) het onlangs gevra hoe ‘n mens die i en u klanke kan vas lê. Dalk kan ander mammas ook hierdie idees nuttig vind…(Gemik op Graad 1-vlak.)
In die meeste gevalle hanteer ons die klanke wat verwar word apart van mekaar. “i” en “u” veroorsaak verwarring omdat beide klinkers is en dus net “uit die keel uit spring”. Ek verduidelik vir die kleintjies dat i ‘n skraal outjie is wat liggies gesê word (sê dus i in ‘n hoë stem). Die u lyk sommer moeg soos ‘n ou wat baie hard gewerk het. Hy laat my dink aan iemand wat sommer so ‘n diep duik op ‘n bank maak as hy lê. Hy sug en lê op sy rug.
Spandeer so tien minute aan die i en u afsonderlik. Gee vir die outjie die buitelyne van ‘n i en vra dat hy dit met wit papiertjies moet skeur en plak. (Daar is mos ‘n i in wit.) Hy moet dan prente rondom die klankie teken wat met ‘n i begin of waarin ‘n mens i kan hoor (in ‘n houer, ink, vis, bid, sit). ‘n Mens kry nie sommer ‘n i alleen aan die einde van ‘n woord nie (uitsonderings sluit “ski” in).
As julle die u moet inkleur kan julle ‘n donkerige kleur gebruik. As julle donker vingerverf het kan julle met ‘n vinger vol verf die u (in die skryfrigting) begin bedruk. Met elke druk kan julle “u” lekker diep sê. ‘n Mens voel maar lekker laf met hierdie dinge, maar hoe meer dramaties ‘n mens raak hoe makliker onthou die outjies dit. u is nooit alleen aan die begin van ‘n woord nie en klink ook nie soos ‘n u aan die einde van ‘n woord nie (eers later sal hulle aan woorde soos slu bloot gestel word). Dit staan meestal in die middel rond (rug, brug, sug, druk)
As julle prente uitknip en plak kan jy die i of u woord daarby skryf. Maak ook ‘n kolletjie weergawe sodat die outjie dit kan natrek. As jy die i woorde behandel kan jy flitskaarte maak en prentjies by teken om dit te illustreer (in, ink…)…Doen dieselfde met die u woorde. Julle kan dit afsonderlik flits, later ‘n tweede stel maak om snap te speel of om ‘n memory game te speel. Indien die outjie ander sigwoorde ken, kan julle sinne met die flitskaarte maak. Kyk na senteacher.org se literacy printables om ‘n basiese uitleg vir flitskaarte te kry. Jy tik die woorde, kies ‘n letterformaat en druk.
Ek hoop die idees kan dalk vir julle ook help. Kyk ook na hierdie skakels:
links en regs
10 Januarie 2011
afrikaans Graad 1, Graad R, linkerhand, links, omkeer, omkering, regs, regterhand, rigting, verwarring 2 Kommentaar
Oorspronklik vir ‘n Engelse vriendin geskep.
Understanding and developing a sense of left and right is a struggle for many children. When they struggle to discern between the two sides of the bodies, they also tend to have trouble distinguishing between visual symbols such as b / d and p / q. A first step at helping them is to put visual reminders up against the wall.
Print the right hand on red paper and place it in the right-hand corner of the writing board. All the “r”-sounds should help to remember the association of right hand with red. The left hand can be printed on yellow or a colour like light green. These colours and visual prompts can be repeated on a smaller scale on the desks. It can be laminated or simply covered in a colourless, see-through sticky tape (cellotape). Also add the hand with the L near it to show that when you hold your left hand up, it actually forms a capital L in the web space between the thumb and forefinger. If the child is right handed, you can play on alliteration: “You write with your right hand.”
Pages to hand out, to put up against the wall or to stick on desks (resize)…
linkerhand-en-regterhand
left-and-right-hand
Skoolgereed
11 Oktober 2010
afrikaans arbeidsterapeut, Graad 1, Graad R, groot skool, kleuterskool, kurrikulum, laerskool, skool, skoolgereed 6 Kommentaar
Het jy jou Graad R-kind al by ‘n laerskool in geskryf? Is jou kind skoolgereed en het hy of sy genoegsaam ontwikkel om Graad 1 met selfvertroue aan te durf? Kyk gerus na die volgende skakels vir ‘n paar idees om op te volg:
Vra gerus indien jy spesifieke kwelpunte het en indien jy oor jou eie kind of ‘n kind in jou klas wonder. Dalk kan ons saam aan idees en oplossings dink.
Tik gerus ook soekterme soos “skoolgereed, Graad R, Graad 1” by die bruin soekblokkie regs bo-aan my blog in vir nog idees…
Leer speel-speel
20 Junie 2010
afrikaans balans, gesyferdheid, Graad 1, Graad R, huiswerk, klanke, ogies, oog-hand koördinasie, oogbewegings, perseptueel, perseptuele, spierbeheer, spiertonus, syfers, vaslegging, voorskools 2 Kommentaar
Ek het onlangs ‘n navraag oor die volgende aspekte gekry. Die antwoorde en idees is gemik op Graad R- en 1-outjies. Dit kan daagliks in gespan word en is nie noodwendig harde werk nie. Loer asseblief ook na die lysie aan die regterkant (blogroll) vir skakels na oulike werwe.
Vir spiertonus en balans is daar ‘n paar speletjies wat julle kan probeer. Is daar ‘n parkie naby?
- Probeer gerus die wipplank. Dit forseer die kleintjie om regop te sit en om die lyfie te balanseer vir die hop-aksies.
- Sommige parkies het sulke half-begraafde motorbande wat ‘n heininkie vorm. Laat Poplap daarop loop. Die bande gee gewoonlik effens mee en forseer die lyfie om te konsentreer op balans. Gee ook raad dat die arms parallel met die skouers moet wees en die koppie regop moet bly…
- Gaan stap en speel “follow the leader” deur op ‘n randsteen of ‘n lae muurtjie te loop. Indien die hoogte ‘n bietjie ongemaklik is, kan ‘n mens sommer ‘n springtou in verskillende vorms (driehoek, sirkel, vierkant…) drapeer en daarop loop…
- Gebruik ou koffieblikke: dop dit om, trek ‘n tou deur gate aan weerskante en gebruik dit as handvatsels om mee te loop…
Oogbewegings is nogal belangrik en ‘n mens moet verseker dat die ogies egalig oor die bladsy kan beweeg.
- Lê langs mekaar op die mat en speel met ‘n flitslig teen die dak. Lê stil met die kop en hou die liggie dop…hersien vorms, syfers, klanke…(maak die simbool en laat die kleinding raai wat dit was)…
- Neem ‘n bal saam parkie toe (sommer die gewone plastiekballe wat in die meeste supermarkte verkrygbaar is). Vra vir Poplap om loodreg teenoor die swaai te sit (op die bal). Sy moet so ‘n bietjie fokus op haar postuur deur op die bal te bly, haar kop stil te hou en vir Mamma te volg – wat swaai! ‘n Mens maak natuurlik beurte om te kyk of die ou op die swaai “dit reg doen”…Indien Ma nie wil swaai nie, kan julle ‘n pop of ‘n kussing op die swaai stoot.
- Doolhoftakies (mazes) in aktiwiteitsboeke forseer ook die ogies om egalig en sistematies te beweeg.
- Indien daar ‘n stuk deursigtige pyp of halwe geut in die motorhuis is, kan ‘n mens die kante toeplak en ‘n tennisbal of ‘n albaster daarin plaas. Kyk hoeveel keer Poplap die bal heen en weer kan rol sonder om die kante te raak. ‘n Kort stukkie pyp (so 40 – 50cm) is oorgenoeg.
Oog-hand koördinasie gaan dikwels gepaard met balspeletjies.
- Indien jy iets soos “swing bat” het, kan Poplap vir ure oefen om die bal dop te hou en raak te slaan.
- Soek ook vir die klein ping-pong spane wat ‘n balletjie en ‘n rekkie het. Dit is minder frustrerend as ‘n bal wat meters ver spat en rol.
- Nog ‘n gedagte in die “oog-stal”, is speelgoed waar jy ‘n kraletjie of ‘n balletjie moet beheer om in ‘n teiken of ‘n gatjie te val. Dink maar aan iets soos “pinball”, “bowling” en daardie klein plastiek-outjies wat ons ook kleindag gebruik het.
- Teken groot doolhowe, motorbane of paaie op ‘n oop gevoude vel koerant. Hou ‘n yskasmagneet onder die vel en heg ‘n metaal skyfspeldjie aan ‘n getekende motortjie. Volg die roete deur die magneet onder die vel papier te skuif.
- Grawe in die kombuislaaie vir stewige strooitjies of ou sosatiestokkies. Heg ‘n stuk wol of tou met ‘n magneetjie daaraan vas. Teken ‘n paar visse, knip uit en skuif skuifspelde oor die bekkies. Vir die heel kleintjies bestaan die speletjie bloot uit hengel. Vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n kleeflintlagie agter-op die visse plak en woorde daarop skryf met witbord veselpenne. Hulle kan bloot die visse vang en eenvoudige woorde (wat van vakansie lekkertes?) lees na elke vangs of hulle moet ‘n som bereken. Indien jy lus het, kan jy ‘n sinnetjie of ‘n geheime boodskap beplan en na afloop van die vangste help om die sin te skommel.
- Neem ‘n ou eierdoospalet (tray) en plaas ‘n kraletjie in die linker boonste hoek. Kleinding moet dat probeer om die kraletjie (of albaster) te laat rol van bakkie tot bakkie en van links na regs. ‘n Vlakkerige, leë ysbakkie behoort ook te werk.
- Gebruik ‘n leë ysbakkie of ‘n eierdoospalet. Skryf klanke op stukkies papier en plaas rond en bont in die holtes of skryf dit met ‘n witbordpen in die plastiekbakkies. Gebruik ‘n klein lekkertjie of enige tipe skuiwertjie om gegewe klanke raak te gooi. Kies ‘n klank en kyk of julle die skuiwertjie in daardie bakkie kan gooi. As julle goed op dreef is, kan julle kort woordjies probeer spel. ‘n Mens kan natuurlik ook besluit om getalle te skryf en kan dan sommetjies doen. Ma gooi byvoorbeeld ‘n 4 en ‘n 5…en Kleinding bereken dat 4 en 5 gelyk is aan 9. Vir Graad 1’s sou ek ‘n bakkie tellers (soos knopies) byderhand wou hou om die somme te bereken. Op ‘n ander dag kan julle aftrekking aandurf (7 en 3…7 neem weg 3 is gelyk aan 4….7 minus 3 is gelyk aan 4). Onthou om al die juffrou se bewerkingswoorde te gebruik en om die bewerking op ten minste twee verskillende wyses te verwoord. Ons moet die breinratte darem geolie hou… 😉
Bal vang…Begin eers met ander items.
- Sit kruisbeen teenoor mekaar en gooi ‘n boontjiesakkie – of ‘n sagte speelding – vir mekaar. Die idee is om gemaklik te raak met die dophou en vang-aksie. Baie kinders is bang vir die enorme missiel wat op hulle afstorm. Dus moet die vang-item nie vrees ontlok nie. ‘n Mens kry dikwels rubberballe met sulke stekeltjies in baba- of in speelgoedwinkels. Dit is sag en gryp maklik vas.
- Indien Mamma nie ‘n los hand het nie, kan Poplap die bal teen ‘n buitemuur gooi en vang. Merk die plekke (maskeerband) waar die voete moet wees en waar die bal moet tref. Aanvanklik staan die kleintjies nogal na-aan die muur (1 tot 1,5 m)…(Maak asseblief net seker dat die bal skoon is en dat daar geen merke teen die muur sal oorbly nie!) Later kan julle opgradeer na ‘n goedkoop plastiekbal – nie tennis-, krieket- of netbalballe nie.
- Leen of skaf ‘n verskeidenheid balle aan. Die gedagte is dat wanneer ‘n verskeidenheid balle beskikbaar is vir eksperimentering, sal die kleinding meer gemaklik daarmee raak. Rubber hopballetjies, groot Mamma-se-tuis-oefeningballe, Pappa se ou rugbybal, Oupa se vergete gholfbal, Ouma se tennisbal…Stel ‘n ou hoepel of ‘n wasgoedmandjie iewers op as teiken en probeer self eksperimenteer met die gooie en krag wat benodig word om die balle in te skiet.
“Skolerige / Akademiese dinge”
Beginklanke is ‘n tameletjie vir baie kleingoed. Speletjies soos “ek sien met my klein ogie…” werk goed. Begin eers deur items op die lyfie te “sien”, dan op die bed of bank en later in die wyer vertrek. As julle stories lees kan jy eers iets ooglopends in die prent “sien” – soos ‘n boom of ‘n huis. Om sukses te verseker, kan jy die prent bespreek voordat jy die meegaande teks lees. Wanneer julle die items benoem kan jy die beginklanke met ekstra mening en woema uitspreek (harder en duideliker). Baie skole vra dat die outjies die klanke visueel kan identifiseer, skryf dus sommer die klankie wat julle hoor met ‘n vinger in die palm van die hand. Maak seker dat jy op die regte plekke begin en kleinletters gebruik. ‘n Plaaslike mamma het ‘n blanko-bladsy boek gebruik om die klankies te ontwikkel. As ‘n klankie uitgesonder is, het hulle na die storietyd die klank op ‘n bladsy geskryf en die betrokke prent geteken. Indien die klank later weer na vore gekom het, het hulle ‘n prent bygevoeg en sodoende ‘n prentewoordeboek gebou. Begin maar eers met die kleinletters en voeg later die hoofletters by. Die heel kleintjies praat dikwels van die “Grootmensletters”. Hulle word aanvanklik slegs vir die begin van name gebruik.
Gesyferdheid of ‘n begripvolle omgang met syfers…
Skaf ‘n goedkoop, eenvoudige slangetjies-en-leertjies-bord aan. Speletjies waar ‘n mens besef dat die kolle getel word en ‘n sekere uitwerking (skuiwe) teweeg bring, demonstreer die “hoeveelgevoel” verbonde aan die nommers of aantal kolle.
Hou inventaris of sensus. Vou ‘n groot vel koerantpapier in kwarte of selfs agstes. Besluit op iets wat van toepassing is op julle huishouding…mense. Teken die hoeveelheid mense in die huis en skryf die syfer daarby. Drie mensies = 3. ‘n Ander blok verteenwoordig waslappe – teken dit. Vier waslappe = 4…Borde…Ses borde = 6. Plak julle plakaat teen ‘n deur of muur op en vertel vir ‘n ouma of pappa wat daar aangaan en tel elke keer lekker hardop saam. Hoeveel messe is op die tafel? Hoeveel blompotte is in die son? Hoeveel blompotte staan in die skadu? (Raak aan die items terwyl julle tel sodat die afmeting en aftellery akkuraat gedemonstreer word.)…
Die belangrikste aspekte van hierdie ekstra vakansiewerkies is om alles lekker te hou, klein beloninkies in te werk, te wys dat selfs groot mense soms foutjies oorkom (as ons foute maak, kan ons weer probeer) en om met die harde werk te spog (selfs al is dit luidrugtig teenoor die hond).
Lekker speel!
herfs
28 Maart 2010
afrikaans, herwinning, inkleur + aktiwiteite, kinders, klaskamer, ouers, skool blaar, blare, collage, eekhoring, Graad 1, Graad 2, Graad 3, herfs, inkleur, krimpvark, kuns, seisoen, teken 12 Kommentaar
Dit is eintlik alreeds Herfs en ek het nog niks daaromtrent gesê nie. Dis seker omdat dit nog onlangs 40° C in my klas was! Kom ons dink aan ‘n paar gedagtes om die kleurvolle seisoen in te wy. (Dalk meer op Graad R en 1 gefokus.)
Uitstallings:
As juffrou moeite doen en die uitstalling aanloklik maak, sal die werk sommer ekstra lekker wees om te doen. Gebruik ‘n herfstafeldoek of gebruik groot velle bruinpapier – met herfskleur drukwerk daarop. Plaas houers met blare en sade in afsonderlike houers. Die outjies kan hieraan voel, ruik en skud. Dink net aan al die geluide wat sade en peule kan maak. Gebruik dié natuurlike musiekinstrumente sommer tydens sanglessies.
Collage:
‘n Collage word nie in een dag voltooi nie. Dit bou op. Elke takie wat jy elke dag doen, kan op die ou einde ‘n stukkie van die finale kunswerke wees. Jy kan ‘n klassikale werk maak of individuele prente.
- Berei ‘n groot vel papier voor (las dalk so twee A1-velle ongedrukte koerantpapier vir die klas of ‘n A3-vel vir ‘n individu) deur drie tot vier verskillende mengsels verf dikkerig aan te maak. Dit moet soos “tandepasta” wees en kan in kleure soos ‘n gelerige oranje, rooierige oranje en ‘n roesbruin gemeng word. Moet nooit die poeierverf net so uit die potjie gebruik nie – dis vervelig. Plaas ‘n paar sponsies (sommer dié in pillehouertjies en ou kombuissponsies) by elke kleur neer en laat die outjies die verf op die groot vel “spons”. Verduidelik vir hulle dat die sponsies nie moet drup van die verf nie en amper droog moet wees. Hou maar ‘n ogie oor die takie, want die kleur kan dalk op een kol gekonsentreer wees. Versprei die kleure in ‘n lekker bont “blare bed”.
- Maak ‘n krimpvarkie. Jy sal die sjablone moet verskaf of die buitelyne vooraf moet afrol. Verf die verskillende dele met vingerverf, plak bewegende ogies (soos die plastieksoort wat jy in materiaalwinkels se knope-afdeling kry. Onthou dat die buitelyne dik en donker moet wees om die knippery te vergemaklik. In Graad R kan jy dalk die “pelsies” uit watte laat maak en dit met voedselkleursel kleur. Groen en rooi kleursel behoort bruine te maak – voeg geel by en maak dit ligter met water. Die krimpvarkie sal later op die gesponsde agtergrond verskyn.
- Maak ook ‘n eekhoring. Koop A4-velle bruinpapier (die soort waarmee boeke oorgetrek word) en rol die sjabloon daarop af. Die kleingoed knip die eekhoring uit en rol verskillende skakerings bruin verf met ‘n droërige rollertjie daaroor. Hou stukkies bruin gekleurde pypskoonmakers byderhand vir snorbaarde, ‘n swart knopie of bewegende ogie en selfs regte akkers vir die afronding. ‘n Mens moet altyd aan iets dink wat diepte sal gee aan ‘n collage. Indien jy lus het, kan jy ou stukkies lap (monsters) by ‘n mat- of gordynwinkel vra en die lappies in klein blokkies opsny. Dit sal oulike teksture vir die lyfie gee…of ou snippers hare by ‘n haarsalon (siesa!). Wees kreatief en maak die aktiwiteit prettig..
- Plak nou die diere bo-op die agtergrond en gee ekstra stukkies akkerdoppe of boombas om om die voetjies te strooi. Indien jy lus het, kan julle stukkies gom of alkant-kleefkant sponsstrokies onder die diere plak vir ‘n 3D-effek. Stal die prente in die gang uit – op die kinders se ooghoogte.
- Maak eenvoudige sjablone van eikeblare uit x-strale of dik karton. Sny dit uit. Die kleingoed teken dit af met ‘n vetkryt of ‘n dik potlood. Onthou dat die vorm nie te vol detail moet wees vir die kleinste outjies nie. Elkeen kan oor die getekende lyn gaan met ‘n platpunt veselpen (swart koki). Kleur in met vet, Jumbo pastelle (druk hard…oranjes, rooie, bruine) en gebruik die helder blare in ‘n raam vir jou uitstalborde, vir die klas se deur, die vensterrame, ens.
- Maak herfsblaarbrille. Gee ‘n paar bril sjablone, laat dit aftrek op dik karton, knip uit en versier met herfsblare (wat van wingerdblare?). Julle kan ook die pastelblare hiervoor gebruik of die brilletjies in herfskleure spons. Knip die skrefies of kykgleuwe vir die kleingoed uit.
- Maak herfslanterns. Gebruik ou glasflesse (vra vir Puritybottels by dagmoeders) of goedkoop glase. Smeer styselpap of (my gunsteling) muurpapiergom aan beidekante van lekker bont herfsblare EN aan die binnekant van die skoon glas. Plak die blare aan die binnekant van glas en spasieer die blare sodat dit net een lagie maak. As dit relatief droog is, kan die outjies bo-oor verf met nog gom. Was maar die glas buite-om skoon met ‘n bietjie opwasmiddel en skryf die outjies se name onder-aan die klas. Nou kort hulle net ‘n teeligkersie en siedaar! ‘n Oulike geskenk vir Moedersdag.
- Maak ‘n groot boom. Teken die boom se buitelyne op koerantpapier of selfs ‘n oop gerolde vel bruinpapier. Teken duidelike graslyne. Hierdie is ‘n “ekstra tafel” aktiwiteit… Die outjies kry skakering van blou en witterige verwe om die lug mee te verf…of sê bv. dat elkeen 5 drukke met ‘n sponsie mag maak (tel word ook by gewerk). Die gras-deel kan weer met bruine en oranjes bedruk word of met gom en strooiwerk versier word. Gebruik sommer budjiesaad en droë blare vir die grond. Die boom kan met growwe bas en fyn gedukte (“crushed”) akkerdoppe bestrooi word. Sodra dit droog is, kan jy dit agter ‘n deur of op ‘n fokusarea in die gang opplak. Vir ouer leerders kan jy BITTER versigtig wys hoe om herfsblare met was te preserveer. Smelt kerse, knyp die blaarstingels in ‘n pennetjie was en doop dit in die was – 2 tot drie maal. Hang die blare op om droog te word (dit gebeur gou) en plak die blare op die boom. Die blare is veronderstel om die kleur te behou – met ‘n oulike glans. Dalk kan ‘n mens die draadwerkies vir tuisgemaakte oorbelle koop en sulke blare as oorbelle inspan (vir Moedersdag natuurlik).
- Doen “afvryf” werk. Gee vetkryte, houtskool en conté kryte (as julle het). Die kleingoed gaan soek dan oulike teksture, plaas die papier daarop en “vryf” met die lengte van die kryt daaroor. Growwe boombas en blare met prominente are sal goed werk. Laat hulle die bladsy lekker vol maak en gaan bo-oor met ‘n bietjie verdunde voedselkleursel. Eiergeel kleursel gee ‘n warm effek. Jy kan egter flou rooi en geel mengsels met ‘n spuitjie oor die “vryfwerk” spuit. Klad dit met sneesdoekies, handdoekrol of ou lappe. Wees versigtig, want ‘n nat bladsy kan frommel as jy hard vryf. Hierdie blaaie kan as voorblaaie, agtergronde, versierings, ens. ingespan word…of gebruik dit vir skeur-en-plak werk op ‘n volgende Collage.
- Drukwerk…dink aan verskillende kleure…teksture soos bas, sade, blare (dik are!) en selfs halwe appels. Gebruik dik verf (pastarig), kerswas (ouer kinders…smelt afval stukkies) wat met voedselkleursel gekleur is…kleursel in muurpapiergom gemeng – vir glans…wees kreatief.
- Vir Graad 1’s (en ander outjies wat dalk intervensie en ekstra oefening benodig) kan jy selfs letters / klankies met blare en sade laat bou…of strooi dit bo-oor gomletters…Laat die outjie spelwoorde met gom skryf en gee dan budjiesaad of krummelbare droë blare om te sprinkel. Lekker vaslegging en dit ontwikkel sommer die fynspiere ook!
Ander:
Tik ook soekterme soos somer, winter, lente en weer by die bruin soekblokkie in.
skool kruip nader
9 Januarie 2010
afrikaans, inkleur + aktiwiteite, kinders, skool agtergrond, Graad 1, Graad 2, Graad 3, inkleur, skool, terug skool toe 7 Kommentaar
Die nuwe skooljaar begin binnekort. Hiermee so ‘n paar inkleurprente en gedagtes vir ouers en die jongspan.
- Kry vandag nog al die skryfbehoeftes, kosblik–items en die uniform gereed.
- Onthou dat die aanvangs van die nuwe skooljaar dikwels gepaard gaan met ‘n bekendstellingsproses. Daar sal moontlik van julle verwag word om foto’s van die gesin of familie skool toe te stuur. Loer solank vir gepaste foto’s…
- Verseker dat jou kleinding julle telefoonnommers en adres ken (agtergrondbladsy vir ‘n klaswerk- of huiswerkboek).
- Indien die skool nie skryfbehoeftes (boeke, oortrekpapier en plastiek) verskaf nie, kan jy solank seker maak dat die benodigdhede gereed lê vir die eerste skoolnaweek (alias “oortrek naweek“). Ek het ‘n paar voorbeelde van basiese voorblaaie onder “drukbares” gestoor. Gebruik dit gerus indien die skool nie voorblaaie verskaf nie.
- Merk vandag nog ALLE skryfbehoeftes en kry die skooltas gereed. Dit is altyd beter om die roetine so ‘n paar dae voor die tyd te begin as om dit op nommer 99 te probeer toepas (persoonlike ervaring het my geleer 😉 )…
Begin solank met die opgewondenheid…
Elizabeth Dulemba het ‘n hele paar oulike inkleurprente wat sy gratis aan die publiek bekend stel en Friends Accross America s’n is net so kreatief. Kaboose se prente het oulike lyne en hier kan jy leer hoe om die letters van die alfabet met jou lyf te vorm (Graad 2 en ouer). Dan is daar ook verskeie skoolgaande diere kinders!amper in die groot skool
31 Oktober 2009
afrikaans, huiswerk, kind, klaskamer, skool, terapie fonemiese bewustheid, Graad 1, Graad R, groot skool, kyk, luister, ouditief, ouditiewe, persepsie, ruimtelik, ruimtelike, sien, visueel, visuele 14 Kommentaar
Dit is amper tyd vir die groot skool. Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp. Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen. Hou alle “skool” aktiwiteite of speletjies lekker en informeel. Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders. Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…
Ouditiewe Persepsie
(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)
- Watter klankie hoor jy aan die begin? Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit. “Oordoen” dit.)
bal
lap
hap
toon
sit
man
nek
rok
-
Watter klankie hoor jy in die middel?
(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)
mot
kat
sit
rek
bus
Later…(Graad 1, 2 en 3)
(Dubbelklanke)
toon, room, foon…
naam, gaap, laat…
vuur, suur, muur, nuut…
meel, veer, neem…
Nog later…(Graad 1, 2 en 3)
(Tweeklanke)
vuil (met ‘n diep stem)
seil (met “plat” lippe)
boek
koud
deur
-
Watter klankie hoor jy laaste? Watter klank hoor jy aan die einde?
(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)
kat
man
bos
bal
stof…
-
Noem vier woorde – waarvan drie identies is. Watter een pas nie?
Bv. nek, man, nek, nek.
Skuif die “ander” woord rond. Bv. buk, buk, buk, dak. hak, hak, tak, hak.
-
Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is. Bv. seep/seep, doek/boek. Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is. (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)
Geheue
- Noem 2 KVK-woorde. Die kind herhaal. Bv. mat, pen.
- Noem 3 KVK-woorde. Die kind herhaal. Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
- Gee ‘n opdrag met een aksie. Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd). Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.
VISUELE PERSEPSIE
Gebruik ‘n besige prent of foto.
- Soek sekere items. Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme. Omkring al die driehoeke. Omkring al die groot bome.
- Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
- Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer. Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
- Soek takies soos:
- Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
- Watter prentjie pas nie?
- Soek die maats.
- Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).
Geheue
- Pak drie speelgoed langs mekaar. Wys aan die kind. Bedek na 5 tellings. Die kind moet opnoem wat hy gesien het. Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
- Kyk na 3 tot 5 prente. Bedek. Wat het jy gesien? Was jy reg?
- Kyk na ‘n besige prent. Bedek. Wat het jy alles gesien? Wys nou vir my waar is die …? (Wys die genoemde items uit.)
- Wys ‘n eenvoudige lynskets. Neem weg. Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
- Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry. Bedek. Die kind met dit skryf.
Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte
- Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
- Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
- Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
- Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
- Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by. Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop. Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
- Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit. Watter speelding staan eerste? Laaste? In die middel?
- Drie tot vyf prente in ‘n ry: Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel? Watter prent kom na die …? …voor die …?
- Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
- Deel items uit. Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders. Hoeveel kry elkeen? Hoeveel bly oor?
- Kyk na versamelings (3 to 4 groepies). Watter groupie het die meeste / minste items?
- Tel voorwerpe. Skryf die syfer (tot 10). [Gebruik die regte skrif.]
- Volg die stippellyn. (bv. van die kat tot by die muis)
- Volg die doolhoof.
- Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
- “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
- Bou legkaarte.
- Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…
Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in. ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf 😉 Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!
posisie in die ruimte
10 Maart 2009
afrikaans, kind, kinders, klaskamer, mamma, ouers, pappa, skool af, agter, bo, Graad 1, Graad R, langs, links, onder, op, perseptueel, posisie, posisie in die ruimte, program, regs, rigting, ruimtelik, skoolgereed, voor 8 Kommentaar
Dit is die verhouding van die voorwerp tot die waarnemer (eie liggaam). Die kind neem voorwerpe waar as agter, voor, bo, onder en aan sy kante. Wanneer ‘n kind probleme ondervind met posisie in die ruimte is sy wêreld verwronge, hy is lomp en huiwering om bewegings uit te voer. Hy vind dit moeilik om die woorde in, uit, op, af, voor, agter, links en regs te verstaan.
So kan ons dié persepsie ontwikkel…Onthou dat ons eers in die laer rat wegtrek (Konkreet) en dan die outjies ontwikkel om die semi-konkrete en abstrakte “ratte” te probeer. Dis ‘n geleidelike proses.
Konkreet:
- Opdragte: staan in die sirkel, op die sirkel, langs die sirkel…gebruik ‘n hoepel of teken ‘n sirkel met bordkryt op sement.
- Boontjiesakkies: Sit die boontjiesakkie bo-op jou kop/onder jou voet, ens. (Gooi sommer boontjies in ‘n plastieksakkieen knoop toe.)
- Simon sê: Staan in die blok, langs die kas, ens. Beweeg slegs as “Simon sê”.
- Opdragte: Sit die voorwerp langs/ op/ in die sirkel.
- “Simon sê” m.b.v. ‘n voorwerp. Simon sê: Sit die boontjiesakkie links van jou tas neer.
- “Simon sê” m.b.v. ‘n voorwerp én liggaamsdele. Simon sê: Sit die boontjiesakkie links van jou tas neer – met jou tone!
- Uitwys: Waar is jou ken / regterhak, ens?
- Bou ‘n toring: Plaas die blokkie regs voor jou. Sit die uitveër bo-op die blokkie.
- Opdragte: Sit die bal bo-op, langs die tafel met jou regter-/linkerhand.
- Sorteer voorwerpe: Blou blokkies* voor, rooi regs en geel links van kind. (*Spuitverf sommer wynproppe of gebruik sapbottelproppe.)
- Volg rigtings wat fasiliteerder wys met ledemate. (Swaai die arms en bene in rigtings. Kind volg.)
Semi-konkreet:
- Volg rigting met ledemate wat die pyltjiekaart aandui. (wys groot pyltjiekaart)
- Skattejag: Gee kaarte met leidrade tot by die “skat”. (Teken byvoorbeeld ‘n stoel met die woord “onder” daarby. Die volgende raaisel lê dan onder die stoel…op die ou einde wen ons ‘n storietyd of ander lekkertes.)
- Bou ‘n legkaart van mense, diere, ens. Vra vrae oor posisies van figure, ens. (Waar is die hond?)
- Bo- en sy-aansig. Sit los voorwerp langs/bo-op, ens. van voorwerp neer. Gebruik ‘n skoendoos en bou ‘n vertrek daarin. Waar gaan ons die pop sit? Sit die tafel langs die stoel. Pak die kussings regs van die bank.
- Kind geteken op papier. Plaas skyfie/plakker voor/onder/bo-op,ens. v/d kind.
- Bou ‘n legkaart van ‘n toneel. Vra vrae oor die posisies van figure tot mekaar.
- Skaakbord. Skuif skuiwer telkens een blokkie in gegewe rigting. Een blokkie links, een blokkie op…
- Brainyblocks: Bou prentkaart na.
- Penbord: Pak die geel pennetjie regs van die bloue en die rooi pen bo die gele. Plekke soos die Crazy Store het soms baie goedkoop penborde.
Abstrak:
- Papier met ± 3 letters. Identifiseer (ID) die posisie van gekleurde letter (bo/voor,ens.). Vra waar die letter staan en die kind antwoord “in die middel, eerste, laaste”…
- Opdragte: Skryf jou naam regs onder op die bordjie/in die middel, ens.
- Skryf die alfabetletters volgens opdragte op papier (a – in die middel en onder-aan jou bladsy, ens.).
- ID posisie van die figure tot mekaar (2D) in ‘n prent. (Kyk sommer in ‘n inkleur- of storieboek vir idees.)
- Teken voorwerpe in ‘n 9-blok rooster na aanleiding van opdragte. Teken ‘n sirkel in die middelste blok. Teken ‘n ster links van die sirkel. Teken ‘n driehoek bo die ster. Skryf jou naam onder die sirkel.
- Teken voorwerpe in verhouding tot bv. ‘n boom op ‘n papier.
- Omkring die item links van die stoel, bo-op die tafel, ens.
- Soek ‘n item op die besige prent en omkring. Benoem posisie. (beskryf waar). Gebruik “Where is Waldo?”-tipe boeke.
Waar is die feetjie en die kabouter?
*ruimtelike oriëntasie
Vaardighede om te ontwikkel met die oog op Graad 1
30 Januarie 2009
afrikaans, kind, mamma, ouers, pappa Graad 1, Graad R, ouditiewe persepsie, perseptueel, skoolgereed, visuele persepsie 14 Kommentaar
Hierdie vaardighede is belangrik in die gereedmaking vir die GROOT SKOOL. Dis ook dinge waarna die Graad 1-juffrou spesifiek kyk tydens die eerste paar weke van die jaar. Veral mamma’s van Graad R-kinders kan hierdie doelwitte in gedagte hou vir die einde van die jaar. Vra gerus vir Juffrou vir ‘n paar oefeninge om die vaardighede te verbeter.
OUDITIEWE ONTWIKKELING
• Kan geluide herken (wat raas so? watter geluid maak die koei? )
• Kan tussen geluide onderskei (Is dit ‘n motor of ‘n lorrie wat so dreun? )
• Kan ooreenkomste herken (Sannie sê sy sal…al die woorde begin met ‘n “s”)
• Kan instruksies uitvoer (Tel op jou sak, hang dit op en was jou hande.)
• Ouditiewe geheue (onthou wat gehoor is – bv. telefoonnommer)
• Kan rympies en stories memoriseer (Oorvertel)
VISUELE ONTWIKKELING
• Kan verskille raaksien (Soek die verskille tussen twee eenderse prente)
• Kan ooreenkomste raaksien
• Kan legkaarte voltooi (bou sommer baie! 24, 50, 80, 100 stukke)
• Kan kleure identifiseer (swart, wit, bruin, primêr en sekondêr)
• Kan vorms herken (sirkel, vierkante, reghoek, driehoek)
• Visuele geheue: Kan eie naam herken
• Herken ander se name
• Herken logo’s, handelsname en advertensies (Checkers, Dettol, Edgars, Kellogs)
GROOT EN KLEINSPIERVAARDIGHEDE
• Kan groot voorwerpe hanteer – gooi van bal
• Voet-oog koördinasie – skop van bal
• Hand-oog koördinasie
• Ritme en beweging (aksies)
• Kan ‘n verfkwas hanteer
• Kan kryte hanteer
• Kan prente teken
• Kan prente voltooi
• Kan ‘n skêr hanteer (Knip)
• Kan ‘n potlood hanteer
• Kan kolletjies volg (dot-to-dot)
• Kan ‘n eenvoudige prentjie inkleur
GELETTERDHEID
• Kan sy/haar eie naam sê
• Kan sy/haar naam skryf (eerste letter is ‘n hoofletter en die res is kleinletters)
• Gebruik voldoende woordeskat (geen “babataal” meer nie)
• Gebruik logiese woordorde
• Kommunikeer vrylik
• Ken woorde van liedjies en rympies
• Vertel stories
• Kan prente interpreteer
• Kan liggaamstaal interpreteer
• Kan liggaamsdele benoem
• Links na regs oogbeweging
• Praat duidelik
• Kan uitdrukking gee aan opinies en idees
• Kommunikeer in volsinne
• Kan boeke, tydskrifte hanteer
SYFERKUNDIGHEID
• Kan rympietel 1 – 10
• Herken syfers 1 – 5
• Konsepte: tyd (vandag, gister), grootte, lengte, massa, kapasiteit, geld, posisie (voor, agter, eerste)
LEWENSVAARDIGHEDE
• Ken ouderdom
• Ken telefoonnommer
• Ken adres
• Kan saamwerk met ‘n maat
• Kan onafhanklik werk
• Goeie aandagspan
• Kan probleme oplos
• Leierskap
• Selfvertroue
• Respekteer ander
Beginner-juffer idees (Graad R en 1)
15 Januarie 2009
afrikaans, klaskamer, onderwys, skool Graad 1, Graad R, hulpmiddel, juffrou, klaskamer, nuwe juffrou, organisasie, reëlings, skool 22 Kommentaar
Onderwysers is amper soos die “hunter gatherers” van ouds. Ons is altyd opsoek na nuwe dinge en inligting en gooi min goed weg. Dis eintlik noodsaaklik om idees en hope papier te hou. Daarom is dit wenslik om dik ringlêers byderhand te hê waarin jy jou “oulike takies” en planne kan liaseer – volgens temas of kronologies vir die jaar. Op die ou einde kan jy twee tot drie lêers per kwartaal opbou. Indien die lêers (weens ‘n tekort aan spasie) nie werk nie, kan ‘n tweedehandse liaseerkabinet ingespan word. Soms verkoop winkels soos Game helderkleurige, plastiese trommels met liaseervakkies én ‘n deksel vir die stof. Wat jy ookal doen, sorg dat jy vir jou so ‘n mini-argief van idees opbou. Dis altyd handig – selfs al verander die kurrikulum.
Moet nooit ophou soek na nuwe inligting nie! Klop by kollega’s aan en loer in hul “argiewe”, deel jou eie idees met ander, gaan kuier by ander skole en fynkam die internet. Stoor die skakels van webwerwe wat jou interesseer en gaan weer terug.
Hou die klas georganiseerd en netjies. Sorg dat daar kapteine aangestel word om elke “stasie” of hoekie reg te pak en beloon hulle vir die werk. Dis egter onmoontlik om skoon en netjies te maak as daar nie pakplek of dinge soos lappe en besems is nie. Knip ‘n ou handdoek op in kleiner vierkante en stik dit om. Dan is daar genoeg stoflappe. Verdun skoonmaakmiddels en maak maar weekliks so ‘n Sunlight Liquid sousie in ‘n kleinerige botteltjie aan. Iets soos ‘n keelsproeibotteltjie het ‘n fyn spuitbuisie (nozzle) en mors dus nie te veel nie. Graad R en 1 dames is geneig om vreeslik aan die kant te maak en verbruik dus al juffrou se seep en dinge baie vinniger as wat jou beursie kan hanteer. Terloops, vra sommer of die ouers nie ‘n bottel Windowlene of Sunlight Liquid kan borg vir die jaar nie – al is dit ‘n kleintjie. Dan kan ‘n mens ordentlik skoon maak! (Die groot maat middels wat skole soms aanskaf is maar flou.)
Gee ‘n inligtingsbrief vir die ouers. Spesifiseer die skool se beleid en reëls rodom alles waaraan jy kan dink. Dit mag dalk oorbodig klink, maar is nie. Dinge wat jy in gedagte kan hou is goed soos
- Skooltye
- Waar en hoe kinders ontvang word (by die deur, in die klas, buite…)
- Reëlings indien iemand anders die kind oplaai.
- Verversings / Kosblik – Wat is vir jou aanvaarbaar? Mag die kosblik elke dag lekkers bevat?
- Snoepgeld – elke dag of net een maal per week
- Verduidelik hoe die dagprogram of rooster werk.
- Kleredrag – verduidelik spesifikasies en dring aan op ‘n ekstra stelletjie “noodklere”. Veral aan die begin van die jaar is daar nog redelik angs oor al die nuwe dinge en gebeur glipsies gereeld.
- Spesifiseer alle skryfbehoeftes en benodigdhede soos snesies (‘n doos per kind vir die klas se gebruik) of verskaf die bedrag wat dit sal kos as jy dit self wil bestel.
- Vereis dat klere en persoonlike items gemerk word.
- Speelgoed moet maar eerder tuis bly. Uit ondervinding werk dit beter as almal met die skool se speelgoed speel.
- Verjaarsdae en partytjies. Wanneer, hoe…Koek? Geskenke? Gaste?
- Verslaggewing: Hoe jy dit doen sodat daar nie verwarring ontstaan nie. Vra ook dat ouers (asseblief ) die skool op hoogte sal hou van eksterne ondersoeke, toetsings en terapie. Kopieë word in die kind se persoonlike lêer in die kluis bewaar.
- Kunsuitstalling of uitstallings van die werk: Reël ‘n skemerkelkie later in die jaar en hou ‘n propperse geselligheid om die kleingoed se werke ten toon te stel. Maak kreatiewe rame (die kinders kan) en monteer die prente self.
Reël ‘n inligtingsaand en verduidelik al hierdie dinge aan die ouers (in Januarie nog!), sodat daar nie later onsmaaklikhede opduik nie. Moet egter nie militaristies wees nie en hou die trant van jou skrywe lig en vrolik.
Dis nou sommer so ‘n paar idees vir eers. Ek sal nog ‘n paar probeer onthou sodra die vakansieluim afval…
Loer sommer ook by hierdie skakels in vir ‘n paar oulike idees of tik soekterme soos “eerste dag” en “ken mekaar” by die bruin soekblokkie aan die regterkant in:
Juffrou se kiekies
21 Oktober 2008
afrikaans, lees, mamma, onderwys, ouers, pappa, skool begripslees, Graad 1, klanke, klas, lees, taktiel, woordbou 6 Kommentaar
Jong lesers en nuwe boekies
1 Oktober 2008
afrikaans, lees, mamma, onderwys, ouers, pappa, skool, storie abc, aktiwiteit, begin lees, blaai, Graad 1, klank, klanke, lees, nuwe boek, soeklees, woord, woorde 2 Kommentaar
Ek het gevind dat daar heelwat leerders is wat sukkel om woorde te klank en dan weer as ‘n woord te lees. Hulle kan die woord klank, maar haak vas by k-a-t. ‘n Idee wat nogal vrugte afwerp, is om die woord uit te rek – soos ‘n stadige “replay” aksie op televisie. Byvoorbeeld: k…a…t. Die woord word dan weer en weer gesê – elke keer ‘n bietjie vinniger. As die woord op hierdie manier herhaal word, kry die kind die geleentheid om die woord te hoor en om dit in sy / haar gedagtes saam te voeg. SCRABBLE (Junior Scrabble) teëls of los klank kaartjies kan gebruik word om die woorde te pak. Pak die klanke apart en skuif hulle nader terwyl die woord op die “uit rek manier” gelees word. Dit klink vreemd, maar die kinders sal dit geniet.
As u kind ‘n nuwe boek huis toe bring:
- Blaai saam met u kind deur die boek. Wat sien julle alles?
- Vra hom / haar oor die storie. Wat kan jy onthou van die storie wat jy in die klas gehoor het?
- Lees die storie saam met u kind en praat oor interessante of nuwe woorde. Bv. klein het ‘n “ei” in. Watter ander woorde het so ‘n klankie in?
- Speel “soek die woord”. Noem ‘n woord uit die boek en vra u kind om die woord te soek. Hoeveel keer verskyn die woord in die boek?
- Skryf julle eie stories deur woorde uit die boek en ander bekende boeke te gebruik.
- Maak woordmure deur nuwe woorde teen die muur aan te bring – voeg prentjies by indien moontlik. Hou die woorde sigbaar en oefen dit sommer terloops.
Nuttige skakels vir huiswerkhulp
19 September 2008
afrikaans, education, mamma, onderwys, ouers, pappa, school, skool geletterdheid, Graad 1, Graad 2, Graad 3, huiswerk, idees, Skakels, spelling, syferkundig, webwerf, wiskunde 4 Kommentaar
Ekstra werk en idees:
7. Speltake: Maak jou eie “word search” of “skommeltakie”
9. Voorstelle deur die WKOD (Graad R – 6)
10. Geletterdheid/Taal riglyne (Graad 3)
11. Wiskunde/Syferkundigheid/Gesyferdheid (Graad 3)
12. Huiswerk: Hoe om te help/beplan
14. Wiskunde Werkboek (Graad 7)
15. Mental Maths/Wiskunde met Telrympies
Kyk asseblief ook onder die lysie skakels aan die regterkant of tik spesifieke soekterme by die bruin soekblokkie in.





























































Woorde