September is die herdenkingsmaand van My Klaskamer – ‘n webjoernaal (blog) vir ouers, onderwysers en onderwysstudente. Vanjaar bestaan Juffer en My Klaskamer reeds 10 jaar en daarom is dit tyd vir ‘n paar gedagtes rondom die getal 10.
Jonger leerders leer vinnig om tot by 10 te tel, maar hoe kan ‘n mens so ‘n bietjie meer op die getalle tussen 0 en 10 fokus of met 10 werk?
Tel die vingers of tone afsonderlik. Hoeveel tone het twee maats…en die klas?
Ryg ‘n pypskoonmaker deur 10 krale en gebruik dit as ‘n armband of vou dit plat as ‘n mini-telraam. Die kleiner outjies kan nou hul kombinasiesomme oefen deur byvoorbeeld somme soos 3 + _ = 10 te toets.
Anker ‘n spaghetti- of sosatiestokkie in wondergom op die tafel en gebruik ringvormige pap of krale om hoeveelhede tot by 10 oor te glip. Gebruik die syferkaarte in ‘n pak kaarte om verskillende hoeveelhede te maak (7 krale, 9 krale, ens.).
Trek twee syferkaarte (bv. 10 en 2) en doen ‘n aftrekkingsom deur 2 krale weg te neem. Hoeveel bly agter? Maak meer en minder en gebruik die fisiese aktiwiteit om sommer fynspier oefeninge en oog-hand koördinasie by te werk.
Trek ‘n kaart uit ‘n pak speelkaarte (haal eers die koninklike stel uit). Hoeveel het ek nodig om ‘n 10 vol te maak (dus 5 + _ = 10)? As ek 10 het en dié getal wegneem, hoeveel bly oor (bv. 10 – 3 = _)?
Trek beide hande op ‘n vel papier (bv. koerantpapier, telefoonboekblaaie…) af en knip uit…of maak twee afskrifte van een hand (hou die een hand byvoorbeeld as ‘n linkerhand en dop die ander een om as dit klaar uit geknip is – om as die regterkant te gebruik. Plak die handpalms langs mekaar op ‘n karton (grawe deur die herwinningsdosies), sodat die vingers kan omknak of beweeg. Gebruik die handjies as jy somme op “vingers” wil bereken.
Meet stroke papierlint (streamers) en knip dit in 10cm-lange dele op. Meet ‘n strookpapier om die kop (soos ‘n kroon) en plak die papierlinte al langs die lengte van die kroon. Versier dit met voorstellings van 10 (verskeie versamelings, syfers, getalname).
Hoe ver kan julle in tiene tel? 100? 200? 1 000?
Kleur die kolomme op ‘n honderdblok in 10 verskillende kleure in. (Bv. al die getalle wat op 3 eindig – blou.) Watter getal is 10 meer of minder as ‘n gegewe getal. Kies ‘n kleur en tel van bo na onder. Sny sommer die blok in dwars stroke en bou die legkaart. Waar hoort die getalle?
Meet vorms (vierkante, reghoeke, driehoeke) met ‘n 10cm-sy af. Knip dit uit en pons 10 gate langs ‘n sy af of reg rondom. Ryg wol of tou om die rand en gebruik die vorms as versierings of boekmerke.
Deel September in tiene in: Ruil elke 10 dae sitplekke in die klas, staanplekke in die ry of die volgorde van lesse/periodes.
Vou ‘n vel papier in die helfte (in die lengte) en weer in die helfte om lang stroke of lyne te vorm. Gee verf en proppies of ink en stempels om patrone te druk. Hoeveel patrone kan jy in 10 drukke skep? (Kleure, herhaalde items, ens.)
Betrek die ouers deur te vra dat hulle saam op die getal fokus. Vra dat hulle byvoorbeeld 10 los happies (bv. druiwe korrels, blokkies kaas, springmielies…) in pak. As julle lus het, kan ‘n mens op spesifieke getalle fokus (bv. 5, 8…).
Hou ‘n pannekoekdag en vul ‘n sousbottel met die beslag. Maak dan klein pannekoekies deur tiene (10) in die pan te spuit. Oefen vooraf of maak dit as ‘n koue bederfhappie.
Hoe kan die outjies ‘n vinnige 10-happie maak? ‘n Lang wafer en ‘n ronde koekie?
Ryg 10 items op ‘n sosatiestokkie (bv. worsie, hamblokkie, kaas, vrugte…).
Maak ‘n lys van die leesboeke of stories wat julle as ‘n klas gelees het. Gee ‘n 10-minuut breuk per elke 10 boeke. Speel dan opvoedkundige speletjies of doen iets prettig en buitengewoon.
Deel 10 minute iewers deur die dag by die rooster in om te lees. Stel spesifieke reëls en riglyne in, sodat almal kan saamwerk (bv. ons lees flitskaarte, ons leesboekies, ‘n Engelse boek…). As 10 minute te lank is, deel dit in twee “rustye” van 5 minute elk.
Hoeveel woorde kan julle lys wat 10 letters bevat? Wat beteken hierdie woorde?
Hoeveel syfers is daar in ‘n selfoonnommer? Kies ‘n bekende nommer (‘n ouer s’n) en tel die onderskeie syfers bymekaar. Bv. 0821111111: 0 + 8 + 2 + 1…= 17. Wie se antwoord is die meeste of die minste?
Skryf verskeie selfoon- of telefoonnommers op lootjies neer, trek ‘n kaartjie en kyk hoeveel kombinasies van 10 uit die onderskeie getalle gebou kan word.
13 Augustus vier ons Linkshandigheidsdag. Hoeveel kinders in die klas is linkshandig? Watter aanpassings maak julle? Dink byvoorbeeld aan die volgende:
‘n Skêr vir linkshandiges
Plasing in die klas: Verseker dat outjie nie elmboë met ‘n regshandige outjie hoef te stamp nie.
Demonstreer skriflesse van aangesig-tot-aangesig, sodat jy onderstebo skryf – eerder as om langs die outjie te sit.
Besoedelingis ‘n nare deel van ons samelewing wat ons algar moet beveg. Luister gerus na die storie en liedjies en dink aan idees om jou omgewing op te pas.
Mnr. Nelson Mandela sou vanjaar 100 jaar oud geword het. Ons spandeer jaarliks 67 minute aan gemeenskapsdiens op sy verjaarsdag – 18 Julie. Vanjaar kan ons dit sommer ‘n ronde 100 minute maak!
Hoe lyk ‘n 100? Dis ‘n groot getal. Vir die jonger outjies kan ‘n mens byvoorbeeld…
‘n 100 botteldoppies of -proppies in ‘n lang ry uitpak en hulle vra om die getalle daarop te skryf. Maak ‘n ellelange slootjiekaart waarin julle die doppies kan pak en steek dit teen ‘n kennisgewingsbord vas vir herhaaldelike gebruik. Kan julle patrone pak of dalk elke 10 in ‘n spesifieke kleurgroep rangskik?
‘n 100 wasgoedpennetjies gee om aan ‘n lang lint te knyp.
‘n 100 genommerde roomysstokkies gee om te orden.
‘n 100 skuifspelde gee om ‘n ketting te maak.
‘n bak vol ringvormige pap gee (bv. Fruit Loops) om in tiene te groepeer. Verskaf ‘n toutjie en laat hulle die pap ryg om ‘n halsnoer te maak. Eet dit later droog of met ‘n bietjie melk.
‘n houer met honderde krale sodat die outjies kan oefen om ‘n 100 krale te ryg.
‘n enorme skaap op ‘n A3-vel teken sodat die outjies ‘n 100 wattepluisies kan plak. Werk in groepe om ‘n bietjie te bespaar.
100 saadjies in ‘n tuintjie saai.
100 pakkies groente en kruie saad verpak en aan die gemeenskap uitdeel. Skryf ‘n mooi boodskappie daarby of dui aan wat in jou pakkie is.
deur die buurt stap en opgewekte liedjies sing.
‘n enorme 100 op ‘n groot vel papier of plastiek doek trek (groot genoeg om die klasdeur te vul. Sny die syfers uit en klim heeldag deur die getal om in en uit te gaan. ‘n Plastiekerige doek sal dalk langer hou.
‘n strook karton met die syfer daarop gee. Knip die binnekante van die nulle uit en maak ‘n bril deur ‘n stuk broekrek agterom die kop te meet en aan die karton vas te kram.
drukwerk op t-hempies laat doen. Plaas ‘n stuk plastiek binne-in ‘n hempie en gee ‘n bakkie met lapverf daarin. Druk 10 rytjies van 10 duimafdrukke, stempeltjies of selfs kurkproppies. Gebruik ‘n spesiale lapveselpen en omskep die propkolle later in ogies of gesiggies.
drukwerk op ‘n groot A3-vel laat doen. Gee byvoorbeeld skakerings van helderrooi en donker rooi verf om lieweheersbesies te maak sodra die verf droog is. Gebruik skakerings van bruin om later gesiggies te maak. ‘n Mens kan ook slakkies maak of kolle teen mekaar druk om ‘n wurm te vorm. Wat van geel kolle wat later bytjie sal word? Lamineer die velle en stuur dit huis toe as plek- of skinkbordmatjies.
‘n uitdagingsperiode instel. Kyk of julle 100 flitskaarte (bv. sigwoorde) kan lees. Kan julle gesamentlik 100 storieboekies lees? Probeer om 100 somme te doen 🙂
10 keer gedurende die dag stop om gesamentlik 10 sterspronge te doen, 10 treë te marsjeer of die hande te klap.
spelenderwys hulself met ‘n toep soos AgingBooth verouder tot 100 jaar. Stuur die foto’s per e-pos of met ‘n toep soos SeeSaw aan die ouers.
vra dat elkeen 100 sent bring as ‘n donasie aan ‘n omgee-projek in julle stad of dorp. ‘n Mens kan selfs mik om as ‘n klas R100 in te samel.
‘n groot 100-blok elk gee sodat hulle oor ‘n tydperk klein muntstukke (snoepie kleingeld) in die onderskeie blokkies kan plak. Is daar ‘n nood in jul skool of klas? Het iemand skoene, skryfbehoeftes, ‘n trui, ens. nodig? Kyk hoe dié bietjies iemand kan help. [100 Madiba Spaar A3]
vra dat elkeen ‘n donasie vir ‘n dierebeskermingsgroep bring. Dink aan maniere om 100 vol te maak – 100g kos elk, ‘n 100kg kos altesaam, ens.
vra dat elkeen broodsakkiekaartjies (ten bate van rolstoele) bring. Mik vir ‘n 100 kaartjies as ‘n skool of ‘n klas.
vra dat elkeen ‘n item met ‘n gewig of inhoud van 100 sal bring ten bate van ‘n welsynsorganisasie (bv. 100ml, 100g).
woorde van hoop en gelukwensing op die bord skryf sodat hulle dit rond en bont op ‘n groot vel papier kan oorskryf. Sodra hulle tevrede is, kan hulle dit met swart veselpen natrek. Verklein dit in die vorm van kaartjies (op verskeie kleure karton) en gee dit in mini-pakkies van 5 aan die ouers om te gebruik.
vra om hul name 100 keer op ‘n A4-vel neer te skryf. Gebruik dit aan die einde van die jaar om ‘n klein onthou-geskenkie in toe te draai.
‘n honderdblok gee, sodat hulle die syfers kan natrek.
‘n honderdblok gee, sodat hulle die afsonderlike blokkies kan inkleur met verskillende kleure.
‘n meterstok gee om die millimeters te tel.
in die sportstoor loer vir meetinstrumente om die rugbyveld te meet. Hoe ver is dit van een doelpaal na die volgende?
wys hoe lyk 100ml. Kan julle 100 liter water insamel vir areas in nood?
‘n 100 keer met ‘n gatjiepons pons om konfetti vir die klas te maak.
‘n boekmerk gee om 100 snitte al om die rand te maak.
help om papierlinte (streamers) in stroke van 100cm te meet en te sny. Hang dit in ‘n kleurvolle mengelmoes aan die bokant van die deurkosyn.
help om mini-kolwyntjies te bak. Pak ‘n wafer en twee kolwyntjies op die bordjie om 100 te bou en sprinkel “hundreds and thousands” bo-oor die kolwyntjies se versiersel.
2 ronde koekies en ‘n wafer gee om 100 te bou.
‘n digitale kamera of ou selfone (met kamera’s) gee om ‘n 100 goue oomblikke af te neem. Plaas dit op die klasblad of SeeSaw.
Vadersdag is op die 17de Junie. Loer gerus na hierdie idees indien jy nog nie iets beplan het nie. Knip die geskenkkaartjie of etiketuit om aan die geskenk te hang of daarop te plak.
Lekker is net ‘n vinger lank, maar ek het dit sommer maande lank laat duur. My winkelrakpryse was in sommige gevalle vir meer as ‘n jaar lank verlaag, maar sal vandeesweek begin terug keer na die markverwante pryse.
Kom loer gerus die naweek weer in, want ek sal van 25 – 31 Mei aan Teacha se uitverkoping deel neem ter viering van hul 3de verjaarsdag. Weens die volgende paar dae se ekstra uitverkopings, sal die pryslys teen 1 Junie verander word.
Wêreld Speeldag kan gebruik word om die kennis van speletjies uit te brei, om vaardighede op te skerp en om aspekte soos wen en verloor aan te spreek. Hou die spelery goedkoop en genotvol…
Verf* spring- of speelblokke met duursame padverf op die speelgrond (dink aan “Hop Scotch”, honderdblokke, groot skrifpatrone om oor te stap).
Verf* ‘n rybaan vir fietse, skopfietse of speelgoedkarretjies.
Druk prettige foto’s van klasmaats op A5- of A4-grootte uit en sny dit in stukke op om as legkaarte te gebruik.
Nooi die klas om elkeen ‘n gunstelingspeelding te bring. Verduidelik mooi wat jy verwag (bv. geen tablette of TV-speletjies nie) en laat hulle dan in klein groepies daaroor praat. Bv. Dit is my pop. Sy is my grootste pop en haar naam is Lana. Wat wil julle graag weet? Die maats kan dan elkeen ‘n vraag vra soos “Waar het jy haar gekry? Hoe lank het jy al jou pop?”
Maak handpoppe: Vorm die koppe en hande met koerantpapier en styselpap**. Sny hemde of rokke uit ou lap en gom die nate. Verf die kop en hande. Sodra dit droog is, kan ‘n mens dit aan die klere vas gom. Hou ‘n poppekas.
Maak poppe: Volg dieselfde idee as met die handpoppe, maar stop die klere op en voeg bene of voete by. Dink aan verskeie storiekarakters of superhelde om na te boots.
Maak motortjies uit herwinbare materiale. Gebruik botteldoppies, draad, blokkies, dosies, ens. Wie se karretjie kan ‘n entjie op sy eie reis (stoot en laat los)?
Maak bootjies uit herwinbare materiale. Wie se bootjie kan die langste dopper of dryf?
Ouer kinders kan selfs ‘n stel dominoes ontwerp.
Gebruik ‘n gewone stel speelkaarte: Speel “snap” of ‘n geheuespel met die syfers. Maak twee hopies, trek ‘n kaart van elke hopie om ‘n optel- of ‘n aftrekkingsom te maak. Ouer kinders kan hul maaltafels oefen. Indien iemand ‘n Joker optel, moet die tweede getal verdubbel word. ‘n Prins beteken dat die outjie in 3 veelvoude van die tweede getal moet tel. ‘n Koningin beteken dat die tweede getal af gerond word tot die naaste 10. ‘n Koning beteken dat die som van die twee getalle verdubbel moet word.
Gebruik ‘n dobbelsteen: Rol en tel in 5 tot 10 veelvoude van daardie getal.
Vra ouers om ou lakens, kussings, ens. te skenk/stuur om ‘n fort in die klas te bou. Doen matwerk in die fort of hou dit as ‘n leeshoekie. Verras die outjies met ou klere of speelgoed vir ‘n beloningstyd. Versierings (soos liggies) kan dit ekstra spesiaal maak.
Deel leerders uit Intermediêre of Senior Fase klasse by die Grondslagfase in om speletjies en spesifieke vaardighede aan te leer (bv. touspring, bal vang, Aan-Aan, ens.). Wys dele van die veld of saal vir die onderskeie groepe aan en ruil stasies.
Nooi onderwysers uit die InterSen Fase om een pouse speletjies saam met die Grondslagfase klasse te speel. Ruil dalk die speelareas en laat die InterSen kinders aan die Grondslagfasekant speel.
Vra ouer kinders om ‘n bordspeletjie te ontwerp – as ‘n klas, in groepe of as individue. Hou ‘n speletjiesmiddag met ‘n jonger graad of by ‘n skool wat min geleenthede het.
Ontwerp speelkaarte op herwonne karton (gebruik byvoorbeeld ou papbokse, ens.).
Verskaf ‘n groot houer bottelproppies en vra dat die outjies patrone vorm en nateken. Hou die ontwerpe as voorbeelde vir later.
Sny ou “pool noodles” in kort stukkies op. Gee besemstokke of stukkie tou sodat die outjies kleurvolle patrone kan ontwerp en ryg.
Vra donasies van groot verpakkingsdose (vir stowe, yskaste, ens.). Ontwerp en maak eenvoudige huise of geboue vir ‘n speelhoekie.
Trek teikens met bordkryt op ‘n muur en gooi boontjiesakkies.
Halveer “pool noodles” in die lengte om albasterresies te hou.
Gom lang kartonbuise, pype, gesnyde plastiekbottels, toiletrolletjies, ens. teen ‘n karton sy sye vas. Plaas dit in die sandput (met bekertjies en glasies).
Nooi ouers of personeel om saam te speel. Haal die blokkies, rygwerk, “looms“, vingerbreiwerk, skaakbord, ens. uit.
*Gebruik bordkryt indien permanente verf nie wenslik is nie.
**Los poeier muurpapiergom in louwarm water op. Die proses neem ‘n dag of drie.
Lyk die teks bewerig of is dit moeilik om die oorsaak van leerprobleme te peil? Min inligting is tans oor Irlensindroom bekend of beskikbaar. Vir heelwat mense help gekleurde lense, kleurvelle bo-oor die teks of kleurvelle bo-oor die rekenaarskerm beslis. Dit mag dalk outjies in jou klas help.
28 April is Pay it Forward Dag en is geskoei op die fliek met die gelyksoortige naam. Die gedagte is om ‘nonbaatsugtige taakte verrig en te vra dat ander dit ook probeer om die beweging “aansteeklik” te maak.
Is daar iets wat julle as ‘n klas kan doen? Kan julle iemand in die skoolgemeenskap help? Loer gerus hier na vorige inskrywings en idees.
Earth Hour is ‘n gulde geleentheid om as ‘n gesin die elektriese toebehore af te skakel en om tyd saam te spandeer. Dink aan idees om “skermtyd” (tyd op die rekenaar, selfoon, television, ens.) te verminder of beter te beplan sodat julle projekte in en om die huis kan begin om herwinning aan te moedig of om daaroor te leer. Het julle ou tydskrifte met relevante artikels? Knip dit uit en steek dit teen die yskas vas.
Wat verbruik julle baie vinnig? Is daar ander opsies? Het julle houers om herwinbare items te sorteer? Maak dalk ‘n etiket of twee en dink aan eenvoudige, haalbare idees. Elke probeerslag – al is dit hoe klein, is ‘n tree in die regte rigting.
Wat maak julle gelukkig? Is dit ‘n lekker broodjie, ‘n mooi boek, ‘n geselsie met ‘n oupa of ‘n ouma of selfs ‘n vinnige koeldrank saam met ‘n ouer of maat?
Hoe kan jy ander in het kleine help om ‘n gelukkiger dag te hê? Is dit bloot om iemand met ‘n glimlag te groet, ‘n potlood op te tel, ‘n swaar tas te help dra of om aan die klasreëls te voldoen? Dink aan ‘n paar idees wat nommerpas vir jou dag sal wees. 😉
Woorde